Kristel Loots-omnibus 1. Kristel Loots
merk haar pa op.
Sy leun op die ingewing van die oomblik oor en soen hom op die voorkop. “Ek moet sê, dis nie maklik nie,” lag sy. “Maar ek het nie juis ’n keuse nie, of hoe?”
Toe hy opkyk na haar, sien sy vir ’n oomblik die pa van haar kindertyd in sy oë.
“Kom ek vertel Pa van hierdie Hart-akademie,” stel sy voor. “Pa hoef nie nou al ’n besluit daaroor te neem nie, luister net na my en dan dink Pa daaroor.”
“Nou goed dan, laat ek tog maar hoor wat jy met my wil aanvang. Waarheen jy my wil stuur om genadebrood te eet vir die res van my lewe, hoe lank of kort dit ook al mag wees. Miskien moet ek dankbaar wees dat jy my dít ten minste nog gun. They shoot horses, don’t they?”
Verbeel sy haar, of is daar ’n glinstering in sy oë?
Sy vertel hom alles wat sy by Luca gehoor het. Van die gesellige samesyn, van die hulp wat altyd beskikbaar is, van die mediese sorg wanneer dit nodig is. Maar ook van die bingo-aande en die rolbalbane.
“Daar was ’n tyd toe Pa mal was oor sport, onthou Pa? Nie net om vanuit ’n leunstoel waar te neem nie, maar om daaraan deel te neem ook.”
“Ja. Dit was toe ek nog nie die gevaar geloop het om enige oomblik dood neer te slaan nie.”
Sy neerslagtigheid val haar toe soos ’n grys tronkkombers, maar net vir ’n oomblik.
“Ek het nou so gedink: as Pa in elk geval nie omgee of Pa lewe en of Pa doodgaan nie, is dit miskien maar beter om dit daar te doen,” gaan sy vasberade voort. “Dalk verras die plek Pa nog. Dalk is dit nog pret om daar te gaan afsaal. Soort van.”
Hy antwoord haar nie dadelik nie.
“Wil jy regtig hê ek moet dit doen, Jenna?” vra hy ná ’n rukkie. Hy kyk na haar met ’n skaars helderheid in die seegroen oë in sy verweerde gesig.
“Ek weet nie, Pa,” antwoord sy eerlik. “Ek weet nie regtig wat om daarvan te verwag nie. Luca ... dokter De Wet, die kardioloog ... het voorgestel dat ek my werk by Koekemoer Internasionaal bedank en daar inval. Dan is ek sommer naby Pa ook.”
“Hoekom sal jy dít wil doen? Jou lewe gaan staan en opmors om by my te wees? Koekemoer Internasionaal betaal jou mos ’n vet salaris. Behandel hulle jou nie meer goed nie of wat?”
Dis so lanklaas dat hy haar oor iets wat haar raak uitgevra het dat sy verras na hom kyk.
“Daar’s nie fout by Koekemoer Internasionaal nie, Pa. Dis net ...” Sy aarsel. “Dis asof die projekte wat ons aanpak nie meer vir my dieselfde uitdaging as vroeër inhou nie. Of ek nie meer soveel plesier daaruit kry nie.”
Sy bly verbaas stil. Dalk is dít wat haar deesdae pla: die knaende onsekerheid of sy regtig weer by Koekemoer Internasionaal wil inval. Eers toe sy dit sê, toe sy die vae gedagte verwoord, besef sy dat dit inderdaad so is.
Sy het aangeneem sy wil teruggaan Koekemoer Internasionaal toe omdat dit al is wat sy ken, al is waarop sy kan terugval noudat haar toekomsdrome daarmee heen is. Maar miskien ... miskien is daar vir haar ’n ander uitweg. Miskien hoef sy nie weer deel van Koos Koekemoer se span te wees nie.
Sy kyk haar pa in die oë. “Ek is nie meer aldag seker of ek nog daar wil werk nie.”
“Vandat jy van Londen af teruggekom het?”
Haar pa verstaan dalk meer as wat hy wys. Sy knik.
“Almal weet daarvan – dat ek sou trou, maar nooit sover gekom het om dit te doen nie. Dis so vernederend.”
“Dink jy nog aan hom, daardie mansmens wat jou voete onder jou uitgeslaan het? Verlang jy nog na hom?” Sy stem is sag, simpatiek.
Sy probeer Frederick se beeld voor haar oproep. Die bonkige gestalte, die sandblonde hare, sy bruin oë agter die brilglase, sy dik nek, sy skouers, borskas, hande ...
“Ek verlang nog, Pa. Na dit wat ons gehad het – of eerder, wat ek gedink het ons gehad het. Maar na Frederick?” Sy skud haar kop ontkennend. “Nee, ek kan nie sê dat ek na hom verlang nie.”
“En die kind?”
Sy draai haar kop weg. “Die kind is elke oomblik van die dag in my gedagtes, Pa,” antwoord sy skor. “Die verlange na hom is soos ’n messteek in my bors. Soms voel dit vir my of my arms lam word, nutteloos langs my sye hang omdat die hunkering om hom teen my vas te druk nooit weer bevredig sal word nie.”
“En hy dan, Jenna? As jý so verlang, wat van hom?”
Die woorde kom soos glasskerwe oor haar lippe. “Ek kan nie myself toelaat om daaraan te dink nie, Pa. Asseblief, ek is nie sterk genoeg daarvoor nie. Dis te seer.”
“Maar dan moet jy dit gaan regmaak, my kind.”
“Hoe, Pa? Hoe kan ek dit regmaak? Daar is nie ’n manier nie. Ek sal vir die res van my lewe met hierdie skadu oor my gedagtes leef. Daar is niks wat dit kan beter maak nie.”
“Hulle sê tyd heel alle wonde.”
“Húlle sê baie dinge, Pa.”
“Is so,” stem hy saam. “Maar nie alles is waar nie.”
Sy spring op. “Nee, o blikskottel, Pa. Hier sit ons al twee nou in ’n put van depressie en kerm. Dit bring ons nêrens nie.”
“Wil jy hê ons moet gaan kyk wat gaan by daardie huis vir verflenterde harte aan?” vra hy met ’n klein glimlaggie.
Sy trek haar skouers op. “Ons kan netsowel. Ek sal bel en reël dat daar iemand sal wees om ons rond te wys. Hoe klink Sondagmiddag vir Pa?”
“Nee, dis maar goed so. Sover ek weet, het ek nie ’n ander afspraak nie.”
Weer kyk sy verras na hom. En ja! Sy verbeel haar nie. Daar is iets van sy ou humorsin te sien in die glimlag wat aan sy mondhoeke pluk.
Sy wil sommer tjank. Omdat sy na haar pa verlang, die pa van haar kindertyd, die pa wat nog diep binne-in hierdie afgetakelde man voor haar skuil.
“Ek gaan kyk gou of daar vir Pa ’n skoon hemp in die kas is,” sê sy voordat ’n tranedal haar oorval. “Pa moenie te gehawend lyk as ons daar aankom nie. Hulle moet dink ons het geld in die bank sodat hulle Pa ordentlik kan behandel.”
My pa het werklik iemand nodig om vir hom te sorg, besef sy toe sy voor sy kas staan. Daar’s ’n muwwe reuk aan al sy klere. Asof dit lanklaas lug gekry het, lanklaas gedra is omdat hy dag na dag dieselfde bruin broek en uitgerafelde trui met die paisleypatrone aantrek en daarmee in die huis rondslof. Van oggend tot aand, sewe dae ’n week.
Miskien is dít die rede waarom my trouplanne op so ’n volslae fiasko moes uitloop, dink sy. Sodat ek terug Suid-Afrika toe moes kom en meer aandag aan my pa moes gee, my verantwoordelikheid teenoor hom moes nakom. Wat ek met Kareltjie verbrou het, kan ek dalk met hom probeer regmaak. Dalk sal dit in ’n mate vergoed vir my skande, my sonde en die verskriklike onreg wat ek teenoor ’n onskuldige kind gepleeg het.
“Kareltjie ...” prewel sy sag.
Net die noem van sy naam is genoeg om die trane opnuut in haar oë te laat opwel.
7
Adam val haar behoorlik om die hals toe sy uiteindelik die moed het om kantoor toe te gaan en eers by hom ’n draai gaan maak voordat sy vir Koos opsoek.
“Well, well, well,” groet hy. “It’s about time. At last wys jy jou mooi gesiggie weer hier by Koekemoer Internasionaal. Ons het al begin dink jy het greener pastures gaan soek.”
“Dalk het ek ...”
“Moenie eens joke daaroor nie, doll. Koos is boos! Hy wag al dae lank vir jou. Hy kan nie sy A-team in die veld stoot nie, want die kaptein is somewhere out there trying to find herself.” Hy frons, staan ’n aks nader. “What gives? Is dit die hunk wat jou so in ’n flat spin het?”
“Die hunk?”