Kristel Loots-omnibus 1. Kristel Loots
vra jy? Jy’t my dan laat kom.”
“Is nie, man. Ek het nie bedoel jy moet spesiaal hierheen kom nie. Ek wou jou net graag spreek wanneer jy weer akademie toe kom.”
“Maar toe maak jy my so nuuskierig dat ek nie kon wegbly nie.”
“Moet jy nie nou jou plek volstaan in die teater nie? Wat word van jou pasiënte as jy hier rondkerjakker op ’n gewone weeksdag, en dit nog voor middagete?”
“My pasiënte word verpleeg en word hopelik gesond terwyl hulle na my verlang, veral die vroue.”
Hy lag haar sorgeloos toe. Arrogante blikskottel!
Hy buk af en spat haar nat. “Nee!” gil sy. “Dis koud!”
“Kom ons swem eers,” stel hy voor.
Hy pluk summier sy T-hemp uit en gooi dit argeloos van hom af weg sodat dit op die droë sand land. Sy knip haar oë toe sy sien hy het ’n swembroek aan en lek onwillekeurig oor haar lippe toe sy sy bruingebrande borskas sien. Sy sien die spiere op sy boarms bult, sy sien die sespak, sy sien die fyn haartjies laag op sy maag en sy wil huil. Van begeerte, van heimwee na wat was en oor al haar drome wat in Londen in die vullisdrom beland het.
“Kom,” sê hy en gryp haar aan die hand, uitbundig soos ’n skoolseun wat stokkiesdraai.
“Nee, los my, ek het nie swemklere aan nie.”
Hy aarsel net ’n oomblik. “Wil jy kaal swem?” vra hy, sy stem gemaak geskok.
“Nee, man.” Sy rem weg, maar hy is te sterk vir haar, die lewenslus in hom ’n stroom wat haar wil intrek. “Ek word nat!”
“Water ís nat, my lief, het jy dit nie geweet nie?”
Hy skerts, sy weet, maar die troetelwoordjie val soos reëndruppels op dorre aarde in haar hart. As dit maar waar was! As sy maar iemand se “lief” was, veral iemand soos Luca, wat skynbaar die lewe toelag met al die selfvertroue wat saam met sy status kom.
Hoe hard sy ook al terugrem, dit help niks. Hy sleep haar dieper die see in.
“Ek kan nie juis swem nie,” waarsku sy en klou aan hom vas.
Sy is so ’n ou ellendeling, sy weet. Pas nie in ’n gim nie, kan nie eens tennis speel nie, en swem soos ’n onbeholpe hond wat spartel om nie te verdrink nie.
Sommer gou slaan die water haar van haar voete af. Die branders is steeds speels, maar nie meer so lusteloos en vriendelik soos dié wat sy vroeër getrotseer het nie. Tog is die koudheid daarvan verfrissend, en selfs die kere wat haar kop onder die water verdwyn, word sy nie deur die gewone vrees oorval nie.
Luca se lyf is styf teen hare gedruk. Dit hoort nie so nie, sy weet, maar die son op die water verblind haar sodat sy nie verder kan sien as die ligkokon wat hulle insluit nie. Sy wieg in die water, haar bene om sy heupe, haar arms om sy nek geslaan.
Toe sy voel hoe sy manlikheid teen haar du, is dit of ’n weerligstraal haar tref. Sy trek haar asem in en klem hom stywer vas. Dis ’n oomblik in ’n ewigheid van eensaamheid, ’n oomblik so volmaak dat sy dit vir altyd in haar geheue wil koester. Sy is intens bewus van haar vroulikheid, van die begeerte wat soos ’n rivier in vloed deur haar bruis. En van Luca, wat buite die water, daar anderkant op droë grond in die werklike lewe, baie ver van haar af is, maar wat vir hierdie salige, kortstondige oomblikke waarin dit voel asof tyd en ruimte gevries het, deel van haar word. Asof hul liggame saamsmelt en ’n knal veroorsaak. The Big Bang! kom ’n verspotte gedagte by haar op. Dis soos die Big Bang wat die begin van groot dinge ingelei het.
Ek behoort bang te wees, besef sy. Vir die branders wat al meer verwoed om my slaan, vir die diep, diep see wat ’n mens so maklik kan insluk, vir Luca, vir die tekens dat sy lyf ook nie onaangeraak bly teenoor my nie. Maar dis nie vrees wat van haar besit neem nie, dis ’n lewenslustigheid. Nee, eerder ’n lewensgulsigheid, dink sy. Asof sy alles wat sy verloor het met geweld wil teruggryp, alles waarna sy smag hare wil maak en teen haar bors wil druk.
Sy het laas so veilig in die water gevoel toe sy as ’n klein dogtertjie saam met haar pa in die branders gespeel het, doodgerus omdat sy in sy arms was en omdat sy hom met alles in haar vertrou het.
“Ek voel soos ’n rob!” skree sy uitbundig bo die geraas van die branders uit. “Of ’n dolfyn. Of ’n vis! Dis wonderlik!”
Gelukkig is die strand heeltemal verlate hierdie tyd van die dag, dink sy voordat die volgende brander hulle karnuffel. Almal is besig met hul dagtaak. Ook Amanda. Niemand sal weet van hierdie lawwigheid nie, niemand sal haar en Luca sien hier waar hulle in die branders baljaar nie.
Sy lag hom toe. “Die Kaapse water is ysig koud,” kla sy kamma.
“Jou lippe is blou van die koue,” beaam hy.
“Nou doen iets daaraan!” daag sy hom roekeloos uit.
Toe die volgende brander teen hulle aanspoel, verstewig hy sy houvas op haar. Toe soen hy haar. Jenna snak na asem. Omdat die soutwater in haar gesig is, oor haar kop, orals. En omdat Luca se soen haar van haar voete af sou kry al was sy ook op vaste grond vasgemessel.
Dis ’n oomblik van malligheid, sy weet, maar die malligheid neem ook van haar besit. Sodat sy hom terug soen, met alles in haar. Ons is nie dokter en pasiënt nie, besef sy. Nie baas en klaas nie. Nie Luca en Jenna nie. Ons is twee lywe in die water, twee wesens wat na die stem van die natuur luister sonder om ons aan orde of rede te steur.
Sy mond sluit met versmorende krag oor hare. Die passie waarmee hy haar soen, grens aan barbaarsheid en slaan haar asem weg. Hy kneus haar lippe met syne sodat die koue wat haar mond laat bewe het die wyk neem en met ’n kooltjie vuur vervang word.
“Luca!” roep sy uit toe sy lippe ’n oomblik van hare lig, maar hy smoor haar protes met sy mond wat weer hard op hare neerkom.
“Ek begeer jou, verleidelike meermin van die see,” prewel hy hartstogtelik met sy mond teen hare.
Dis of die see asem ophou, of die branders ’n oomblik terughou, of die verloop van die natuur kortstondig gestuit word. Daar is ’n kalmte om hulle, met branders wat skielik strelend sag strand toe rol sodat hulle net van mekaar bewus is.
Luca verlei haar verder met sy mond. Sy proe die sout seewater op sy lippe en sy snak opnuut na asem. Stadig, onverbiddelik ontlok sy lang en sensuele soene ’n reaksie by haar waarteen sy nie langer kan of wil veg nie. Sy het geen konsep van tyd of ruimte toe ’n verrukking soos die bedwelming van soetwyn oor haar spoel nie. Niks wat sy saam met Frederick ondervind het, kon haar voorberei op die brandende begeerte wat nou in haar brand nie.
Ek sal hierdie man enigiets toelaat, besef sy. As ek na my lyf luister, sal ek hom selfs sméék om my syne te maak. Haar hande is in sy hare verstrengel terwyl sy haar oorgee aan die koorsagtige hunkering, die intense honger na hom.
Sy donker oë staar intens na haar. “Jy is beeldskoon, Jenna Joubert,” hyg hy. Hy vou sy hande om haar gesig. “Gevaarlik mooi. Jy’s ’n meermin wat my dieper die see wil intrek,” verwyt hy laggend. “Sodat ek nooit weer gaan opkom vir lug nie!”
Haar hele wese vra na hom, maar asof van ver af roep iets haar terug na die werklikheid. Wat sy doen, is verkeerd; wat sy bereid is om vir hom te gee, is nie waarop hy geregtig is nie. Waarna sy vra, is ook nie hare om te hê nie.
Dis of sy swart oë verder verdonker. Hy sit sy hande op haar heupe. “Jenna ...” fluister hy.
Met ’n kreuntjie van begeerte trek hy haar weer ru teen hom aan en soen haar nog ’n keer. Hul monde smelt saam asof hulle nie die keuse het om daarteen te besluit nie. Die branders spoel steeds oor hulle, piets haar soms geniepsig, pluk haar van balans af, maar die smagting van haar lyf doof die waarskuwende geroep van haar verstand uit, sodat sy opnuut meegevoer word deur die ekstase wat sy ruwe manlikheid in haar laat opvlam. Wat hier gebeur, is wat van die grondlegging van die aarde af reeds daar is, ’n oerritueel so oud soos die mens self.
“ ’n Man sal nooit genoeg van jou kry nie,” kla hy toe hy haar uiteindelik laat gaan.