Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
kalm, maan sy haarself. Fokus en bly gemotiveerd. Tel stadig tot by vyftig. Of sing, enige liedjie wat sy ken, net om haar gedagtes besig te hou. Dit gebeur gereeld, en die krag sal gou weer aankom, het die man gesê. Dit klink of hy weet waarvan hy praat; hy bly seker gereeld in die hotel oor. Gou beteken nóú-nóú. Binne vyf tellings. Of tien. Of twaalf. Nie meer as vyftien nie . . .
Op twintig skop ’n flou noodlig teen die plafon in. Die blouerige, spookagtige skynsel help teen die donker, maar nie vir Cecilia se kloustrofobie nie. Sy kyk om haar rond: na die plafon bokant haar kop, wat lyk asof dit al laer afsak, en na die vier mure wat voel asof hulle binnetoe leun, oor haar gaan vou en haar versmoor. Haar oë soek na ’n gleuf, ’n rooster, ’n skrefie of iets waarop sy kan konsentreer en haarself wysmaak dis ’n opening wat na buite lei.
“Met moderne tegnologie is daar ’n noodrem as veiligheidsmeganisme ingebou,” sê die man langs haar, asof hy haar vrees kan aanvoel.
Sy is dankbaar sy is nie alleen in hierdie beklemmende hokkie vasgekeer nie. Alleen sou erger gewees het. Hoe hoog hang hulle in hierdie skag? En wat gebeur as die noodrem nie werk nie?
Die kabel ruk weer. Cecilia druk ’n vuis teen haar mond, haar oë paniekbevange. Sy het altyd in haar agterkop geweet dat so iets eendag met haar gaan gebeur . . . Onbewustelik het sy ’n voorgevoel gehad, dis waarom sy hysbakke sover moontlik vermy.
“Is daar nie ’n noodknoppie wat ons kan druk nie? Of kan ’n mens dalk hulp ontbied met ’n selfoon?” vra sy.
“Ek het reeds die alarm geaktiveer. Ons moet maar net geduldig wees.”
Hoekom moes dit juis vandag gebeur het? wonder sy moedeloos. Terwyl sy ’n nuwe begin gemaak het en ’n gunstige eerste indruk wou maak op ’n toekomstige werkgewer? Terwyl haar weerstand laag is en sy na Steve verlang? Steve sou geweet het hoe om haar te kalmeer en van haar kloustrofobie te laat vergeet. Hy sou haar vasgehou en getroos het, of ’n grap gemaak het om haar te paai. Hy kon haar altyd laat lag, selfs al was sy depressief, dood op haar voete of lus om te huil. Steve sou geterg het dat sy mos nog altyd saam met ’n sexy hunk alleen op ’n verlate eiland gestrand wou wees. ’n Hysbak is nou nie heeltemal ’n tropiese eiland met wuiwende palms en uitgestrekte strande nie, maar tweedebeste is darem beter as niks . . .
Maar Steve is nie hier nie en hy het haar nie meer lief nie. Sy is op haar eie.
Toe die noodlig ook flikker en uitdoof en die donkerte soos ’n versmorende kombers oor haar spoel, verloor sy kop. Sy kan nie logies dink nie en tas om haar rond asof sy die duisternis kan besweer – ruimte kan skep en ’n opening na buite vind.
“Engtevrees?” vra die stem langs haar.
Sy kou aan haar onderlip. “Ja.”
“Konsentreer op iets anders. Probeer om nie daaraan te dink nie, dan sal dit verdwyn,” gee hy raad.
Al wat verdwyn, is die reling waarteen sy haar netnou gestut het. Dis opeens nie meer agter teen haar rug nie . . .
In haar paniek soek Cecilia desperaat na ’n stukkie realiteit – na iets om haarself te oriënteer. Eers voel haar vingers net die satynafwerking teen die hysbak se wand, dan ’n growwer soort materiaal, met riffels en ’n wollerige grein. Sonder dat sy registreer wat dit is, het die aardsheid daarvan ’n kalmerende uitwerking op haar.
“Dis nie so erg nie, jy sal dit oorkom,” gesels hy. “Dink aan lekker dinge: nartjies gooi by ’n rugbywedstryd, gesmelte sjokolade van jou vingers aflek, jou kêrel vashou tydens ’n rillerfliek . . .”
Sy hoor die klanke sonder om die woorde in te neem. Koue rillings trek deur haar en sy klou aan die growwigheid vas, aan die substansie daaragter, die gerusstellende warmte daarvan. Die sensasie van veiligheid verskerp toe ’n hand kalmerend oor haar skouer vryf. Sy voel ’n wollerigheid wat teen haar kaal boarm skuur – ’n baadjiemou?
Haar verstand is dof. Die bietjie konsentrasievermoë wat oor is, fokus daarop om haar histerie onder bedwang te hou. Soos ’n drenkeling in ’n stormsee reik sy na die arm bokant die hand. Bang dat as sy dit los, verswelg die duisternis haar en sleep haar die dieptes in . . .
Die arm trek haar beskermend nader, teen ’n breë bors vas. “Toe maar, jy is veilig. Niks gaan gebeur nie. Daar is niks om voor bang te wees nie . . .”
Onder haar wang voel sy die sterk, reëlmatige hartklop, dan ’n warm asem naby haar gesig. Daar is ’n fladderende aanraking teen haar voorkop – liggies, soos dié van ’n skoenlapper se vlerke.
Cecilia is ’n enigste kind, wat altyd ’n broer of suster begeer het. Die gewaarwording wat sy ervaar, is dié van ’n ouboet wat sy sussie troos nadat sy van haar fiets afgeval het of haar toon teen ’n klip gestamp het. Sy voel geborge, asof sy ná ’n lang swerftog tuis gekom het. Dis ’n natuurlike reaksie om haar arms om sy nek te sit en hom ’n druk te gee – soos ’n suster, om te wys sy is lief vir hom.
Skielik ontstaan ’n oneweredigheid in die hartritme onder haar wang. ’n Effense pouse, asof die hart ’n klop oorslaan en dan versnel. ’n Tweede arm kom by om haar stywer vas te hou. Die greep om haar rug vervat en verander in ’n omhelsing wat glad nie broederlik voel nie. Sy herken die growwe riffels van die baadjiemou en besef dis sy lyfhitte wat deurslaan deur die materiaal. Terselfdertyd dring dit tot haar deur dat sy soos ’n rankplant vasklou aan ’n man wie se naam sy nie eens ken nie.
Sy weet sy behoort hom weg te stoot. Sy laat nie wildvreemde mans haar sommer gryp en vashou nie. Veral nie in die donker nie . . . Sy is ’n ordentlike, betaamlike meisie, skaam en op haar plek. Almal goeie, logiese redes. Behalwe dat sy nie op hierdie tydstip ordentlik en betaamlik voel nie.
Haar kop duisel en die werklikheid vervaag. Sy vergeet waar sy is, vergeet haar vrese en benoudheid. In haar ore klink die dreuning van branders en die suising van die wind deur die palmbome. Die wêreld om hulle is ver weg en dis net hulle twee, hy en sy, alleen in ’n kokon op ’n verlate tropiese eiland . . .
Die vloer onder haar voete beweeg, maar Cecilia bly droomverlore in sy arms staan. Sy verbeel haar die vloer wat kantel, is ’n bootjie wat heen en weer in die golwe wieg . . .
Toe iemand naby haar oor kug en ’n keer keel skoonmaak, kom sy ru terug aarde toe. Haar oë vlieg oop en sy kyk in twee vreemde, half deurskynende oë vas. Eers frons sy, onseker oor waar sy is en wat gebeur het. Dan, toe sy die hysbak sien, tref die realiteit haar. Die krag het ingeskop; die suising was die buislig teen die dak. Dit was nie branders en ’n bootjie in die deining nie – dit was die hysbak wat begin beweeg het.
Met ’n skok besef sy hulle is op die vyfde verdieping. Die hysbakdeure het oopgeskuif, en buite in die gang staan mense wat haar nuuskierig aanstaar.
Cecilia verstar. Waar was haar kop? Skoon mal en op ’n ander planeet . . . Sy kan dink hoe dit moet lyk: verstrengel in ’n omhelsing soos twee verliefde seekatte – sy en hierdie man wat sy van geen adamskant ken nie!
Sy laat haar arms sak en ruk haar los, pienk van verleentheid.
“Ek is jammer . . .”
“Ek is nie.” Hy knipoog en tik met sy wysvinger op die punt van haar neus. “Dit was baie aangenaam – ons moet eendag weer so maak.”
Hy draai weg, vleg tussen die mense deur en verdwyn.
Cecilia verwens hom. Tipies mansmens om die pad te vat en haar alleen in die gemors te los. Sy wens sy kan die knoppie druk sodat die deure kan toeskuif. Met soveel waardigheid as wat sy bymekaar kan skraap, trek sy haar skouers waterpas, lig haar ken en stap kop omhoog uit in die gang.
Sy glimlag fyntjies vir die kring starende agies. “Jammer, mense, dis al vir vandag! Die vertoning is verby.”
Agter haar giggel iemand, maar Cecilia kyk nie om nie. Sy loop net doelgerig in die gang af op soek na ’n kleedkamer waarin sy kan ontsnap.
2
By die ry wasbakke buk sy om koue water op haar gesig te spat en tot verhaal te kom. Dit was ’n nagmerrie-ervaring wat nog lank by haar sal spook, en tog het sy in ’n mate