DA of nie?. Eusebius McKaiser
van my kollegas wat al lank by die SABC was. Toe het ek stadig begin besef dat die Phosas van die ANC nie net gewoond was om hulle te gedra asof die kiesers hulle iets skuld nie, maar dat hulle, tragies genoeg, ook gewoond daaraan is dat baie mense in staatskorporasies soos die SABC optree asof dié mense werklik op hul arrogansie geregtig is.
My ontsteltenis het plek gemaak vir woede en vasbeslotenheid en toe die onderhoud uiteindelik begin, het ek hom taai vrae gevra om te sien of hy die ANC se beleid en die regering se verrigting kon regverdig.
Hy het eers sy houding verander toe hy sien dat hy nie met ’n beangste hansie-my-kneg te doen het nie. Teen dié tyd het my kollegas se monde oopgehang. Hulle was duidelik nie gewoond daaraan dat mense by die SABC onderhoude voer soos die BBC se Tim Sebastian nie.
Ek moet Phosa ter ere na gee dat, toe hy eers aanvaar het dat ek my werk doen en daarop aandring om dit eerlik te doen, ons albei die onderhoud baie geniet het. Tydens een van die onderbrekings het hy selfs opgemerk, “Jy het nou pret, nè?” Voordat hy daar weg is, het hy my ’n ferm, vriendelike handdruk gegee.
Phosa se aanvanklike uitbarsting en arrogansie was tipies van die gedrag van baie senior ANC-leiers en staatsamptenare. Te veel van hulle is nie skaam oor hul gebrek aan prestasie en die feit dat hulle hulself afvee aan etiek nie. Selfs jonger leiers, soos die voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, Floyd Shivambu, probeer die hele tyd hul politieke mentors en helde na-aap. Ek het dit self gesien en alte dikwels aan eie lyf gevoel.
Hierdie en ander voorbeelde het daardie oggend van 2011 se plaaslike verkiesing deur my kop gemaal. Ek kon myself eenvoudig nie sover kry om vir ’n party met sulke karakters te stem nie.
Ek het ’n alternatief begin oorweeg: sal ek dalk maar vir die Demokratiese Alliansie stem?
Maar dié idee het my ook nie regtig aangestaan nie. Aan die een kant was daar genoeg bewys dat die DA die munisipaliteite waar hy aan bewind was heel doeltreffend bestuur het. DA-raadslede het blykbaar ’n goeie werksetiek, met ’n opregte begeerte om groot ideologiese en beleidsrusies opsy te skuif en eenvoudig aan te gaan met die werk om gemeenskappe veiliger te maak, slaggate toe te gooi, rekeningprobleme uit te stryk, ensovoorts. Waarom sal jy nie ’n openbare verteenwoordiger wil hê wat jou lewensgehalte in jou deel van die stad sal verbeter nie? Die keuse lyk vanselfsprekend – as jy nie verder daaroor nadink nie.
Net toe ek begin wonder of ek ’n slag moet waag om vir die grootste opposisieparty te stem, het die huurmotor waarin ek was verby ’n gholfbaan iewers in die omgewing van Parktown-Noord gery. Ek het na die weelderige groen gras van die gholfbaan gekyk. Hier was nie sprake van die strome vuil water uit verstopte afvoerslote waarmee die townships te kampe het nie. Wat ek daar in Parktown-Noord gesien het, was ’n fees vir die oog.
Ek het ook gesien dat ’n stuk of vyf mans gholf speel, en met dié dat ek nie kleurblind is nie, het ek opgemerk dat hulle wit, middelklas en geset was. Hulle het duidelik hul spel geniet en gelag en grappies gemaak. Daar was nog vyf mans by hulle, almal swart: die joggies wat swaar gedra het aan die spelers se gholfsakke. Daardie prentjie het my maag laat draai. Dit het my aan die strukturele ongelykhede herinner wat steeds in Suid-Afrika bestaan en wat dit waarskynliker maak dat ’n swart mens vir ewig die handlanger sal wees en die wit mens die baas.
Dit verstaan die DA nie. Die meeste van die party se ondersteuners, en veral sy leiers, sal hierdie siening van die tafel af vee. Sommige sal gou verduidelik dat wit mense eenvoudig meer van gholf hou, soos swart mense sokker verkies. Hulle sou sê dié instinktiewe reaksie van my wys bloot dat ek ’n rasseprobleem het. Sommige van hulle sal daaraan aanstoot neem dat ek in my vertelling selfs net na die velkleur van die twee groepe op die gholfbaan verwys. Hoekom, sal hulle vra, praat ek nie maar net van ryk en arm mense nie? Is gholf nie ’n aktiwiteit wat meer met rykdom as velkleur te make het nie? Baie ryk swart mans speel ook nou gholf, en baie arm wit mans aan die buitewyke van Pretoria sal tog ontuis voel op die gholfbaan? Dis die soort goed-geoefende teenargument wat ek weet ’n tipiese DA-gespreksgenoot sal kwytraak. Of ten minste, so ervaar ek dit.
En in ’n eng akademiese sin is dit redelike argumente. (Ek antwoord nie hier daarop nie, want reaksies is nie waaroor dit in hierdie storie gaan nie.) Die probleem is dat al hierdie slim argumentjies ’n heel ander toets druip wanneer dit by die politiek kom: verstaan jy as politikus die hart van die kiesers? Het jy ’n gevoel vir hulle? Herken jy die geskiedkundige agtergrond wat verklaar hoekom hulle die wêreld sien soos hulle dit sien? Wat dit betref, verstaan te veel DA-politici – veral wittes, wit liberale inkluis – eenvoudig nie die swart meerderheid nie. Vanaf hul a-historiese, kleurblinde platform vee hulle ons rasse-identiteite en die realiteite van ons lewens weg.
Kan ek regtig vir ’n party stem wat die politieke lewe reduseer tot ’n akademiese oefening in rasionele keuseteorie? Kan ek hierdie party vertrou om te verstaan dat my susters nie selfgemaakte verloorders is nie, maar twee volwassenes, vasgevang in ’n bose kringloop van tussengenerasiegeweld, armoede en verwaarlosing? Ek kan nie die DA vertrou om dit te verstaan nie. Vir die DA se beleidmakers sal my susters bloot “objekte van maatskaplike beleid” wees, soos die Engelse filosoof PF Strawson by geleentheid oor geestesongestelde mense gesê het.
Ek het ongemaklik gevoel by die gedagte van ’n stem vir ’n party wat, in die styl van die ryk Engelse elite van ouds, die emosionele bande wat ek met my land se geskiedenis het, minag. Daardie geskiedenis strek tot ver voor die koms van die demokrasie in ons land. Ek sou ongemaklik wees om vir ’n party te stem wat meen ek is belaglik omdat ek weier om die stemproses te reduseer tot ’n berekening op ’n spreadsheet vol data. Dus: hoe sou ek vir die DA kon stem?
Teen dié tyd het ek al tougestaan by Sandton se brandweerstasie. Ek het al nader aan die voorpunt geskuifel en steeds het ek geen idee gehad vir wie om te stem nie. Wat ’n aaklige keuse: ’n regerende politieke party met ’n ordentlike visie, maar met vreeslike leiers- en etiese krisisse? Of ’n opposisieparty met soveel goeie bedoelings en goedgeskoolde, hardwerkende raadslede, maar met ’n tragies misplaaste stel oortuigings oor die impak van die verlede op die hede, oor waar ons tans is en waarheen ons behoort te mik? Suid-Afrika, het ek besef, is ’n aaklige plek vir ’n kieser met ’n kritiese ingesteldheid en ’n diep historiese sin.
’n Kritiese ingesteldheid beteken ek moet ’n onderpresterende ANC veroordeel. Terselfdertyd laat ’n sterk historiese sin my teleurgesteld voel oor die gebrek aan historiese begrip van te veel DA-leiers. Moes ek dalk my stem verdeel – vir een party op die proporsionele lys stem en vir die kandidaat van ’n ander op die wykslys? Ek het eers geweet wat die antwoord is nadat my vingers die dinkwerk gedoen en my deur die stemproses gekry het. Miskien het ek uiteindelik lukraak gekies. Politieke ontleders is nie immuun teen menslike giere nie.
Ek hou vol my gebrek aan beheer oor daardie besluit by die stembus was nie my skuld nie. Ek verkwalik ons twee grootste politieke partye vir my verwarring.
* * *
Wat nietemin sedert daardie verkiesing vir my duidelik geword het, is dat, ongeag watter party aan bewind is, ons net ’n volhoubare en stabiele demokrasie sal hê as ons ’n mededingende politieke stelsel het. Dit beteken dat die party aan bewind ideaal gesproke diep binne-in tog die vrees behoort te koester dat hy ’n verkiesing kan verloor. So ’n vrees sal die kanse op deelnemende en verantwoordbare regering vergroot. En, in ag genome hoe ’n groot sny van die verkiesingskoek die ANC steeds kry, is dit die taak van die DA om te verseker dat ons politieke stelsel mededingend raak deur ’n onweerstaanbare alternatief vir die ANC te bied.
Dis hoekom die DA se moontlikhede my so boei. Dit lyk of baie min politieke joernaliste en ontleders ’n lewendige belangstelling in die party het. Terwyl dit begryplik, selfs verkieslik, is dat ons die meeste van ons energie gebruik om die regering van die dag fyn dop te hou, is dit ook belangrik om onder die vel te kom van die politieke partye wat nie in die regering is nie. Dikwels word die DA ’n onguns bewys, want selfs wanneer hy goeie mediadekking kry, is die gehalte van die ontleding van die party se leierstryde en interne verskille oor groot nasionale kwessies gebrekkig.
Tog is dit noodsaaklik vir die gesondheid van ons demokrasie dat ons die amptelike opposisie van naderby beskou. Die DA is veral interessant omdat hy baie onnodige politieke foute maak wat keer dat hy beter