DA of nie?. Eusebius McKaiser
vir ellelange bloginskrywings wat verandering in die DA betreur, so belangrik is, al mergel dit jou uit om hulle te lees.
Dis simptomaties van wat gesien word as identiteitsverlies, magsverlies, die verlies van ’n politieke tuiste.
En so, toe Maimane die ANC pak deur in die openbaar te verklaar dat Mthembu die kat aan die stert beet het, dat swart Suid-Afrikaners tot ubuntu en tot ’n diep gemeenskapsin verbind én terselfdertyd lede van die DA kan wees, het Van Onselen sy geesdrif verloor. Hoekom? Omdat wat hy van DA-leier Mmusi Maimane gehoor het nie ’n vernuftige reaksie was wat toon dat Maimane daarvan bewus is dat die meeste van die land se kiesers nie liberaal is nie. Wat hy gehoor het, was ’n bedreiging vir ’n vergange era van ’n DA wat nie kiesers gehad het wat waarde aan “ubuntu” geheg het nie.
Dit bring twee vrae na vore: Is Van Onselen reg om ubuntu so te minag? En, baie belangriker – want erken dit nou maar, ek en jy sal nie besluit vir wie ons gaan stem op grond van wat Van Onselen dink nie – kan die DA bekostig om die waardes van die meerderheid in hierdie land te ignoreer as hy wil hê mense wat nie voorheen vir hom gestem het nie, moet dit nou doen? Kom ons kyk om die beurt na dié twee vrae.
Is dit reg dat van Onselen ubuntu minag?
Van Onselen is in twee opsigte reg.
Maimane was inderdaad skuldig daaraan dat hy ubuntu die essensie van Afrikaan-wees gemaak het. In ’n radio-onderhoud het ek dit basies aan hom gestel dat al verwerp ek ubuntu, ek tog sekerlik nog as ’n lid beskou kan word van die groep wat Afrikane genoem word. Hy kon nie regtig ’n goeie antwoord gee nie.
Hy het toe vinnig ontken dat hy nie vir diversiteit tussen swart mense ruimte maak nie. Hy het ontken dat hy maatstawwe afdwing vir wat dit beteken om Afrikaan te wees. En tog, toe ek hom daarop wys dat dit beteken hy weerspreek ’n sleutelbewering in sy Sunday Times-artikel dat ’n verbintenis tot ubuntu die mees fundamentele uitdrukking van Afrikaan-wees is, het hy ontken dat hy homself weerspreek. Om hom met sy geheueverlies te help, het ek hom direk aangehaal – “Niks kan Afrikaan-wees beter meet as ’n mens se verbintenis tot die gees van ubuntu nie” – maar die meeste politici kan maklik eenvoudige woorde nuwe betekenis gee, eerder as om toe te gee dat hulle tweegatjakkalse is.
Maimane wil die botter dik aan weerskante van sy ubuntu-brood gesmeer hê: hy wil die populêre mening onderskryf dat ubuntu ’n wonderlike Afrika-waarde is waartoe ons as Afrikane ons almal moet verbind, maar terselfdertyd wil hy die tipiese liberaal wees wat waarde heg aan individue se vryheid om hulself te definieer.
Maar as ek daardie algehele vryheid het, waarom word daar dan vir my gesê ek is nie vry om ubuntu as deel van my Afrika-identiteit te verwerp nie? Hier is Van Onselen dus reg: wanneer Maimane ubuntu voorskryf as ’n waarde waarvolgens jy leef, gedra hy hom baie soos ’n ANC-politikus wat dink dat ware swart mense nie met hul honde gaan stap nie, nie met sekere aksente praat nie en nie in die “Blanke” voorstede grootword nie.
In werklikheid het Maimane Mthembu maar net nageaap, al het hy gedink dat hy die ANC-woordvoerder kritiseer.
Tweedens is Van Onselen ook reg met sy klap na ubuntu as konsep, ofskoon sy kritiek nie behoorlik deurdink is nie. Hy verklaar byvoorbeeld eenvoudig, “ideologies en wat liberalisme betref, is daar nie iets soos ubuntu nie.” Dis die ergste intellektuele luiheid wat jy jou kan voorstel, en dit van iemand wat dikwels kinderlike genot daaruit put om selfs op ’n ontbrekende komma te wys in die teks van iemand met wie hy menings wissel.
Eerstens kan jy nie eenvoudig beweer dat dit uit die definisie van een etiese teorie voortvloei dat ’n ander een nie bestaan nie. Dis misleidend. Om dit te doen, is om eenvoudig vol te hou dat ubuntu nie sin maak sonder die een of ander onderliggende argument nie. Dit wys net met watter minagting sommige mense konsepte met wortels in inheemse kennisstelsels beskou. Jy kan net ’n volledige teenargument teen ’n konsep opbou as jy daardie konsep ten minste in sekere mate ernstig opneem. Die subteks is duidelik: “Ubuntu, my broer? Jy is tog nie ernstig nie! Ek sal liewer sit en glas kou as om ’n dag lank oor daai twak te dink!”
Van Onselen se houding beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat die DA ’n manier vind om te voorkom dat diegene wie se waardes nie in die DA se stigtingsdokumente is nie, afgestoot word deur die arrogansie van ’n kulturele minderheid.
Tweedens suggereer Van Onselen dat ubuntu nie bestaan nie, omdat daar beswaarlik praktiese bewys daarvan is. Dis onsin. Dis soos om te sê daar is nie iets soos die Christendom nie omdat Christene soms slegte dinge doen.
Of dit samehangend, bruikbaar of toereikend is as basis waarop ’n gemeenskap gebou kan word, is ’n ander saak. Maar om te sê ubuntu bestaan nie, is óf hokus-pokus oor die aard van teorie óf dis om op ’n bra bisarre manier metafisiese verwagtinge van ubuntu te koester wat jy nie van die liberalisme koester nie.
Dis tog nie asof jy, wanneer jy uit die huis gaan, vir jou vrou sê, “Liefie, gee tog vir my my liberalisme aan” nie. Die feit dat Van Onselen wil hê ubuntu moet “bestaan” (wat dit ook al beteken), spreek van die desperate begeerte van die ou liberale in die DA om oënskynlik vreemde konsepte uit landelike gebiede wat hul geliefde Demokratiese Party van die ou dae binnedring, op ’n afstand te hou.
* * *
Tog deel ek Van Onselen se skeptisisme oor ubuntu, maar hierdie boek is nie ’n filosofiese uiteensetting van ubuntu nie, dus sal ek nie op nadere besonderhede ingaan nie, behalwe om te sê dat my filosofie-kollegas al ’n paar jaar lank hul goed van die taak kwyt om in die tradisie van die analitiese filosofie ernstig na ubuntu te kyk. Twee van hulle moet veral genoem word: Thaddeus Metz, nou die hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van Johannesburg, en Jason van Niekerk, wie se doktorale proefskrif oor ubuntu in die hande van sy promotors was terwyl ek hierdie boek geskryf het.
Ek dink nie daar is enigiets uniek aan die substantiewe definisies van ubuntu – etiese teorieë, eintlik – wat hierdie filosowe ontwikkel nie, maar wat ek gemeen het met Jason en Thadd is dat ek ’n gesprek oor ubuntu baie ernstig opneem. Dis omdat my mede-Suid-Afrikaners ubuntu ernstig opneem en om dit in die tradisie van die Engelse elite sonder meer te verwerp, sal wees om die wêreldbeskouing van diegene wat anders as ek na die heelal kyk, arrogant te verwerp.
Om dié rede beskou ek my kollegas se filosofieprojek ernstig en ek dink Jason verdien waarskynlik die titel “doktor” vir die vlak van sy denke en die analitiese nougesetheid waarmee hy met sy groot vraag omgegaan het: kan ubuntu, in die veeleisende analitiese tradisie van Anglo-Amerikaanse filosofie, as ’n samehangende, selfstandige en betekenisvolle etiese teorie beskou word?
Die feit dat hulle uiteindelik nie by ’n antwoord uitkom nie, is nie filosofies bepalend nie. Hierdie soort kritiese stellings oor teorieë word voortdurend binne die filosofie as ’n tradisie gemaak.
Daar is nogtans ’n haakplek wat my en Van Onselen betref. Ek is seker dit het al met jou gebeur dat jy en iemand anders dieselfde mening oor iets het, maar dat jy in jou niere voel dat die grondslag vir jul menings verskil. Of dat die mening uiteenlopende rolle in jul onderskeie lewens sal speel en dat jy jouself wil distansieer van wat julle gaan doen met die mening wat julle albei huldig.
Dink byvoorbeeld aan ’n ma wat weier dat haar dogter skrapse klere dra wat mans dalk baie opgewonde sal maak oor haar kosbare jong dogter. Baie erg konserwatiewe mans – en vroue – mag dalk saamstem en die ma aanspoor om Johanna te verbied om daardie kort rompie te dra. Maar hul motiewe kan baie verskil. Dis moontlik dat die ma eintlik net die kanse tot die minimum wil beperk dat seksistiese varke haar dogter by die Breëstraat-taxistaanplek aanrand.
En ofskoon ek gewoonlik nie een van dié is wat argumenteer dat mans moet bepaal wat vroue dra nie, kan die feit dat dit haar basiese moederinstink is wat wil voorkom dat sy ’n oproep van die hospitaal oor haar dogter kry, my dalk sover kry om haar aandrang op “veiliger klere” vir Johanna te steun. Maar die buurman wat ook die ma se standpunt steun, kan dalk glo dis heeltemal immoreel vir meisies om ’n bietjie been te wys, dat vroue nooit dele van hul liggaam in die openbaar moet wys nie en dat vroue nie mans moet uitdaag om hulle aan te rand nie.
Dis alles hipoteties, maar die punt is dat dit baie moontlik is dat twee mense dieselfde mening