Met ander woorde. Wilna Adriaanse
se dawerende lag laat ’n paar mense opkyk. “Dream on. Jy moet nog eers die betekenis van die woord commitment gaan leer.”
Ben staan op en Willem volg hom. Nadat hulle betaal het, moet hulle eers opsy staan sodat nuwe lywe kan verbyskuur.
“Hoe gaan dit met Sanet?” wil Willem weet toe hulle op die sypaadjie staan en hulle baadjies toeknoop. “Ons het haar lanklaas gesien.”
“Sover ek weet, gaan dit goed.”
Willem frons. “Gebruik julle nog steeds mekaar se lywe? Jy moet pasop, een van die dae vang sy jou.”
“Weet jy dat jy al meer na jou ouma klink hoe ouer jy word? Moenie jou oor my bekommer nie. Ek en Sanet verstaan mekaar.”
Willem lag spottend. “Solank jy net onthou dat jy, op een en dertig, volgens die mediese wetenskap al gepeak het en letterlik en figuurlik op die afdraande pad is.”
Ben lig sy hand in ’n groet en laat oor sy skouer hoor: “Die feit dat jý op een en dertig oor die muur is, beteken nie ons almal is al daar nie. Sorg jy maar vir jou letter en figuur, en ek sal my oor myne bekommer.” Hy maak sy motordeur oop en gooi die lêer op die passasiersitplek toe hy inklim.
Die motorligte skyn onnatuurlik blink in die mis wat vanaand laag oor die berge hang. Ben skakel die radio aan en moet glimlag toe Valiant Swart van whiskey en reën sing. Hy kan die pad teen die berg uit toe-oë bestuur en gee homself oor aan die ritmiese heen en weer van die draaie. Dit voel of hy en die motor ’n eiland in die wit missee is. Die dorp se ligte sak onder hom weg en toe hy op die kruin wegdraai, voel dit of hy alleen op die aarde is.
Tien minute later sug hy hardop toe hy die motor voor sy huis sien staan. Hy bly sit eers ’n minuut of wat in die motorhuis voordat hy sy motordeur oopmaak en uitklim. Twee goudbruin labradors kom stertswaaiend nader gehardloop en Ben vryf hulle koppe. Hy maak die sydeur oop en sit sy tas en die lêer in die studeerkamer neer.
“Jy kan darem blyer lyk om my te sien!” ’n Skraal blonde vrou kom in die gang afgestap en vou haar arms om sy nek. Haar mond streel speels oor syne. “Waar was jy? Ek was net op pad om te ry, want jy het nie jou selfoon geantwoord nie.”
“Ek was gou dorp toe.”
Sanet tree ’n entjie agteruit terwyl sy hom ondersoekend aankyk. “Waarom het jy my nie gebel nie; jy kon my die rit hierheen gespaar het en ons kon iets gaan doen het.”
“Ek was nie lus om uit te gaan nie.” Hy gooi sy motorsleutels op die tafel in die portaal en stap voor haar uit kombuis toe. Die kombuis is warm en ruik na kos.
“Dis soos jy van jou huis hou as jy saans hier kom, nè: stil en skoon, met ’n bord kos in die oond en geen vrou wat jou aandag opeis of wil gesels nie.”
“Wys my die man wat nie daarvan sal hou nie,” sê Ben terwyl hy ’n bottel wyn begin oopmaak.
“Jy’s ’n bliksem.”
Hy kyk net skrams op. “Het jy al die pad hierheen gekom om dit vir my te sê? Jy kon jouself die moeite gespaar het, dis nie meer nuus nie.”
Sanet kom staan voor hom. “Wil jy hê ek moet huis toe gaan?”
Hy gee ’n kras laggie. “Dis Vrydagaand en ek is moeg, so as jy wil argumenteer, is dit dalk beter dat jy huis toe gaan.” Terwyl hy dit sê, skink hy twee glase wyn in en hou een met geligte wenkbroue na haar uit. Sanet huiwer net ’n oomblik voor sy dit neem.
Terwyl hulle eet, vertel sy hom van ’n nuwe kuierplek in die Kaap waar sy die week saam met vriende was. Ben weet hy moes haar liewer laat gaan het, want hy is nie lus om saam te gesels nie. Selfs om te luister is vanaand moeite.
Na ete gaan maak hy homself op die groot rusbank in die televisiekamer tuis en Sanet kom lê langs hom.
“Kan ek vanaand oorbly? Ek is te lui om huis toe te ry.”
“Werk jy nie môre nie?”
“Ek sal vroeg opstaan. Ek moet eers nege-uur by die spreekkamer wees.” Sy begin stadig sy hemp oopknoop en vryf met haar hande oor die growwe, donker haartjies. Haar lippe speel liggies oor sy tepels en hy is verbaas toe sy lyf tog reageer. Asof sy lyf en sy kop nie aan dieselfde mens behoort nie. Hy trek haar skuldig nader en lig haar bo-op hom. Sy hande streel oor die bekende kurwes en hy voel hoe haar lyf sag word teen syne.
Tog moet hy homself inhou om nie verlig te lyk toe sy net na twaalf skielik besluit om huis toe te gaan nie.
“Dankie vir die aand. I have seen you in better shape, maar dit was heel aangenaam,” laat sy spottend deur die motorvenster hoor voor sy wegtrek.
Ben lig net sy hand in ’n groet en kyk hoe die rooi liggies agter die bome verdwyn. Na ’n warm stort skink hy vir hom ’n whiskey en gaan sit agteroor met sy voete op die lessenaar. Hy maak Willem se lêer met een hand oop en begin lees:
Naam: Kristina Louisa Lazarus
Ouderdom: 23
Beroep: Student
Adres: . . .
Hy herken die adres as een van die gerestoureerde huisies op die kampus. Daar volg ’n lywige verslag van die gebeure en al die ondersoeke en toetse wat daarna uitgevoer is. Maar dis soos Willem gesê het; al die uitslae is sover negatief. Ook die swangerskaptoets. Hy wonder of Willem haar toestemming daarvoor gehad het.
Die daaglikse observasies bly konstant. Haar bloeddruk is normaal, so ook haar temperatuur. Haar hartklop is by tye effens verhoog, maar dis onbeduidend. Willem meld ook dat sy geen geskiedenis van depressie of angssteurnisse het nie. Hy het haar ’n keer of wat vir griep en ’n sportbesering behandel, maar dis sover haar mediese geskiedenis by hom strek.
Ben maak die lêer toe en glimlag terwyl hy hom uitrek.
“Jou bliksem, Willem Uys, jy het geweet ek sal gaan kyk,” laat hy hardop hoor terwyl hy opstaan en kamer toe loop.
Hoofstuk 2
Die eerste wat Ben opval toe hy Saterdagoggend die hospitaalkamer binnestap, is die kleur van die hare op die wit kussingsloop. Dit lyk soos ragfyn draadjies rooi- en geelkoper wat sorgvuldig opgevryf is. Sy blik gaan oor haar gesig en hy is, soos die eerste keer toe hy haar gesien het, verbaas oor die soel gelaatskleur en die afwesigheid van sproete. Met so ’n haarkleur verwag ’n mens sproete, maar daar is net ’n ligte strooisel bruin vlekkies oor haar reguit neus sigbaar. Haar wimpers is verbasend donker en haar mond is wyd en vol. Sy is een van daardie meisies waarna mans omkyk, sonder dat hulle weet waarom. Asof ’n mens seker wil maak jou oë bedrieg jou nie. Hy sal weet, want die paar keer dat hy haar by Willem-hulle gesien het, het hy homself ook ’n tweede kyk veroorloof.
Hy kyk weer na die naam op die lêer in sy hand. Hy het dit nie herken nie, want as hy reg onthou, noem hulle haar nie Kristina nie, maar iets korters. Willem het van ’n pasiënt gepraat, maar sy ontwykende blik moes hom gewaarsku het dat dit nie sommer net ’n pasiënt is nie.
“Juffrou Lazarus . . . Kristina . . .”
Sy maak haar oë oop en hy onthou dat Lisa eendag gesê het die natuur was in ’n speelse bui toe sy gemaak is. Dis moeilik om te besluit of haar oë groen met bruin vlekkies is, of bruin met groen liggies. Die natuur wyk soms op interessante maniere van die gewone patroon af.
“Ek is Ben Krige, ’n psigiater. Willem het my gevra om by jou in te loer.”
Sy knik ligweg, maar hy sien die herkenning in haar oë.
“Hoe voel jy vandag?”
“Moeg.” Haar blik dwaal na die venster agter hom.
“Ek het Willem se verslag gelees, maar kan jy my vertel wat gebeur het?”
Sy bly staar deur die venster en Ben laat haar begaan.
“Ek het gaan draf en ek het moeg geword.”
“So moeg dat jy nie weer kon terugkom nie?”