Met ander woorde. Wilna Adriaanse
die gevoel vir my beskryf.”
“Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Ek kan net onthou dat dit te warm gevoel het hier binne en dat ek so gou as moontlik die venster wou oopmaak.”
“Was jy kortasem?”
“Ek dink so.”
Toe Ben haar nie dadelik antwoord nie, kyk sy met verskerpte aandag na hom. “Waarom maak jy so ’n groot ding hiervan? Het niemand nog ooit probeer om ’n venster oop te maak nie?”
“Ek dink wat jy ervaar het, is wat ons losweg ’n angsaanval noem. ’n Mens kan ’n verskeidenheid simptome ervaar, van ’n versnelde hartklop tot ’n gevoel van benoudheid en ’n behoefte om uit of weg te kom. Byna asof ’n mens wil vlug. Waarom het jy nie een van die verpleegsters geroep nie?”
“Ek was nie op soek na geselskap nie.”
“Het dit al vantevore gebeur?”
Kristina kyk venster toe en hy is nie seker of sy die vraag oordink of probeer ontduik nie.
“Ek dink dis die laaste ding wat ek kan onthou voordat ek die middag gaan draf het,” verras sy hom tog met ’n reguit antwoord. “Ek kan onthou ek wou toe ook net uitkom.”
“En voor dit?”
Sy skud haar kop. “Nee. Ek is nie ’n angstige tipe mens nie. Ek is ook nog nie seker of jou diagnose reg is nie. Het jy nog nooit die behoefte gehad om sommer net uit ’n plek weg te kom nie?”
Ben antwoord haar nie en vir ’n oomblik kyk hulle stil na mekaar. Toe sy weer praat, is haar stem amper net ’n fluistering. “Wat is besig om met my te gebeur?” Sy vee oor haar wange, en hierdie keer is dit nie op soek na ’n haar nie. Sy het geluidloos begin huil.
“Wat dink jy is besig om met jou te gebeur?”
Toe hy dit klaar gesê het, skud sy haar kop. “As ek ’n eggo soek, kan ek buite vir die berge gaan skree. Praat asseblief met my.”
Dit voel vir Ben of iemand onverwags ’n bal na hom gooi – ’n bal waarop hy nou al geruime tyd wag, maar noudat hy dit het, weet hy nie meer of hy dit wil hê nie. Hy weet skielik nie of hy kans sien vir die verantwoordelikheid nie.
“Ek kan vir jou ’n hele paar teorieë gee, maar ek weet nie regtig nie. Ons gaan egter ons bes doen om te probeer uitvind, en intussen sal ek iets voorskryf wat hulle jou kan gee as jy weer so voel. Ek weet die gevoel kan vreesaanjaend wees as ’n mens dit nie ken nie. Roep asseblief een van die personeel as jy dit voel aankom. Dis nie lekker om sulke tye alleen te wees nie.”
Sy vee kort-kort haar wange droog, maar die trane bly loop en sy snuif. “Ek het nog nooit gedink ek is ’n Prozac-kandidaat nie.”
“Ek gaan nie nou al vir jou antidepressante voorskryf nie. Ek glo ’n mens moet eers doodseker maak waarmee ons te doen het. Depressie is nie iets wat sommer net oornag sy verskyning maak nie. Dis ’n proses wat oor ’n lang tyd in ’n mens se liggaam aan die gang is. Op dié stadium is daar nog nie genoeg bewyse dat dit jou probleem is nie, maar indien dit wel ons bevinding is, sal ek vir jou ’n antidepressant voorskryf.”
“Wat gebeur as ons nooit die oorsaak van hierdie waansin kry nie?”
“Ek verkies om te glo ons sal die oorsaak kry. Ek hou nie daarvan om te misluk nie.” Toe sy hom nie antwoord nie, staan hy op. “Wil jy hê jou ouers moet terugkom?”
Sy skud haar kop. “Ek kan nie nou hulle paniek hanteer nie.”
“Die suster gaan vir jou iets gee om te slaap. Ek sien jou weer Maandag.”
Sy knik en laat sak haar kop op haar knieë. “Ek is jammer oor die venster,” sê sy toe hy die deur oopmaak.
Ben draai om en stap na haar toe. By die bed laat rus hy sy hand vir ’n oomblik op haar kop. “Dis vervangbaar. Ek is jammer jy het seergekry.”
Kristina knik net en sak laer af teen die kussings toe hy uitstap. Die see om haar is besig om al meer troebel te raak en die flikkerende ligte al meer verleidelik. Dit bly die enigste lig wat sy kan sien, maar tog het die nagdonker water ook ’n aantrekkingskrag. Dit sal soveel makliker wees om net onder te gaan. Dis soveel moeite om die wal te probeer bereik . . . en wie sê dis veilig daar? Sy raak aan die wit verbande om haar hand. Op hierdie stadium verwelkom sy eintlik die fisieke pyn, want dit laat haar vergeet van die naderende storm.
Ben sit sy pen neer en lees weer wat hy in Kristina se lêer geskryf het. Daar is nog te veel vraagtekens na sy sin op die bladsy, maar vir die eerste keer het hy ook ’n uitroepteken gemaak. Hy was ernstig toe hy gesê het hy hou nie daarvan om te misluk nie. Sy pa was nie ’n godvresende Calvinistiese man nie, maar hy het nie mislukking geduld nie. Jy kan jou vrou verneuk en jy kan God speel, maar jy misluk nie. Hy is nie seker wat sy pa se definisie van mislukking was nie, maar hy het altyd baie daaroor te sê gehad.
Ben staan styf agter sy lessenaar op. Dis eers toe hy Sanet se motor langs die huis gewaar dat hy weer aan haar dink. Hy kyk op sy horlosie en sien dis al oor tien.
Die eetkamertafel is vir twee gedek, met kerse en blomme. In die kombuis staan ’n bak uitgedroogde kos. Hy stap met die trappe op en in sy kamerdeur kyk hy skuldig na die slapende figuur in sy bed. ’n Halfgedrinkte glas wyn staan op die bedkassie en langs haar op die bed lê ’n tydskrif.
Hy trek uit en toe hy uit die stort kom, skuif hy agter haar rug in. Sy draai om en wil met ’n dik slaapstem weet: “Waar was jy? Ek het kos gemaak.”
Hy soen haar warm mond en fluister. “Ek is jammer, ek was by ’n pasiënt. Slaap nou maar.” Hy trek haar warm lyf nader aan sy koue een, maar sy draai in sy arms om en begin hom soen. Sy lyf reageer voordat hy tyd het om daaroor te dink, en toe sy hande oor haar kaal lyf streel, maak hy sy oë toe. Soos ’n mens ’n televisiestel sal afskakel en hoop dat die beelde en klanke van die dag sal verdwyn. Hy wil nie verder dink nie. Hy wil nou net sy lyf aan hierdie basiese plesier oorgee.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.