Met ander woorde. Wilna Adriaanse

Met ander woorde - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
vreeslik moeg.”

      Ben kyk na die horlosie bo die deur. “Ons is amper klaar, dan kan jy gaan rus.”

      “Ek was kwaad, toe het ek gehuil, daarna getreur oor die verlies en toe op ’n dag weer ’n rooi rok aangetrek. Is dit nie min of meer die nodige stadia van rou nie? Of het ek dalk iets gemis?”

      Hy besluit om haar nie te antwoord nie. Nie omdat hy niks het om te sê nie, maar omdat hy ook nou moeg is, en op die ingewing van die oomblik besluit hy om haar te laat gaan. Daarom staan hy net op en maak vir haar die deur oop. “Ek sien jou môre. Totsiens.”

      Lisa het eendag gesê sy voel jammer vir sy pasiënte, want hulle het beskerming teen hom nodig. Hy was ook al soms vir ’n pasiënt jammer, want dis sy werk om te krap tot al die ou rowe waarskynlik weer bloei. Hy hou die spieël vas. Hy is die een wat sê: kyk, dis soos jy werklik lyk en dit is jou lewe, en noudat jy dit gesien het, gaan ek jou leer hoe om daardie lewe te hanteer. Wie sê hulle moet daardie lewe kan hanteer? Dis waarskynlik baie makliker om ’n pil te sluk of soggens voor tien ’n bottel oop te maak. Albei handelinge behoort net genoeg van die skerpheid uit elke dag te haal om te kan oorleef. Dit sal waarskynlik ook die rowe lekker korserig maak – en wie gee werklik om? Rowe pyn ten minste nie. Maar hy is nog nie oortuig Kristina Lazarus het beskerming teen hom nodig nie. Op die oomblik is hy nog nie eens seker sy hét rowe nie. Miskien is dit hierdie keer hy wat versigtig moet wees. Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son. Versigtig wees dat die spieël nie breek nie . . .

      Hoofstuk 6

      “Ek hou nie van hom nie.” Dawid Maree stoot ergerlik sy stoel agteruit en druk vir hom ’n pad tussen die studentelywe oop. Die lang kroegtoonbank staan op hierdie Vrydagaand volgepak van moeë studente wat lafenis kom soek. Tussen die baie stemme en harde musiek moet almal omtrent skreeu om gehoor te word.

      “Waaroor is hy so moerig?” Cato kyk na die mense om haar by die tafel.

      “Hy het blykbaar vandag ’n afspraak met Kris se kopdokter gehad en die ou het ’n paar persoonlike vrae gehad waaroor Dawid nie te opgewonde was nie.”

      “Waarom het hy nie net nee gesê nie? Niemand kan hom seker verplig om met sy eks se shrink te praat nie,” laat een van die mans hoor en Cato draai ergerlik na hom.

      “Mans is sulke sissies! Julle sal nie oornag borste ontwikkel as julle ’n bietjie soul searching doen nie. Nou nie dat ek dink Dawid het juis veel om te search nie, maar die bietjie wat daar is, kan dalk help. Ek dink hy’s net moerig omdat hy vir ’n slag ’n regte man gesien het. Een met outydse spiere, nie gym-induced pecs en six-packs nie.”

      “Oor wie se lyf praat ons nou?” Dawid sak met ’n vol bierglas langs die tafel neer.

      “Kris se kopdokter,” laat een van die mans hoor.

      “Julle is befok. Hy is te oud om iets te doen en nou kry hy kicks uit ander mense se slaapkamers. Dis siek as jy my vra.”

      “Moenie simpel wees nie, Dawid. Hy is so oud soos Willem en hulle het nog omtrent tot vyf jaar gelede vir die universiteit rugby gespeel. Willem sê hy sou baie ver gekom het as hy nie destyds ná sy studie opgehou het nie,” laat Helen vermakerig hoor.

      “En nou dink julle hy is ’n donnerse helikopter-pilot; spaar my asseblief die voorstedelike mentaliteit.”

      “Excuse me, Davey Boy . . .” Cato se stem styg bo die musiek en stemme uit. “Ons het miskien nie almal met pappa se Porsche in die wêreld gekom nie, maar fok jou, jy het nie die handboek oor styl en class geskryf nie.”

      “Opium vir die massas,” gaan Dawid voort asof hy haar nie gehoor het nie. “Rugby, sonskyn en braaivleis; en ek het gedink julle het iets geleer hier. Net weer ’n bewys dat jy die girl uit die suburbs kan haal, maar nie die suburbs uit die girl nie.”

      “Dawid, moenie beledigend raak nie.” Helen se stem styg bo die geraas uit. “Ek is bly jy het gegaan en ek hoop jy het alles wat jy weet vir die dokter gesê. Het jy haar gesien?”

      Die blonde kop knik. “Ja, maar net vir ’n paar minute. Sy lyk nie lekker nie.”

      “Het jy haar daardie dag gesien?” wil Cato weet.

      “Wil jy nou weer al die vrae vra wat ek reeds geantwoord het?” Hy skud sy kop. “Nee, ek het haar nie gesien nie, want ek was huis toe. En vir ingeval jy dalk vergeet het, ons spreekwoordelike paadjies het al ’n paar maande gelede geskei. ”

      “Julle is saam in die klas en julle praat tog nog met mekaar. Sy het jou dalk iets vertel.”

      “Ek is nie onnosel nie en ek sou gesê het as ek gedink het sy was besig om loony te word.”

      “Moenie so ’n neerhalende term gebruik nie. Jy is nie nou besig om ’n cartoon te bespreek nie.” Cato bekyk hom ergerlik oor haar glas se rand.

      Dawid gooi die laaste bier in sy keel af en trek sy baadjie aan. “Ek het beter dinge om te doen as om na ’n voorstedelike drama queen te sit en luister. Goeienag.”

      “Waarheen gaan jy?” Cato kan nie help om te vra nie.

      “Dis persoonlik, maar wees verseker ek gaan nie rugby kyk of vleis braai nie.”

      “Dit kan dalk van jou ’n man maak!” roep Cato hom agterna en Helen stamp haar in die ribbes.

      “Los hom.”

      “Ja, en om te dink die helfte van die kampus se meisies raak uitasem oor hom! What a waste of looks and brain power.”

      “Kom ons gaan koop vir ons ’n skyf pizza, ek is nou honger,” ignoreer Helen Cato se woorde.

      Cato keer haar beursie in haar hand uit. “Waarom swot ek so hard, dis nie asof ek ooit ernstig gaan geld maak in hierdie land nie. Miskien moet ek net vir my ’n ryk man soek en sy seksslaaf word. Dit klink aansienlik makliker.”

      Helen staan op. “Kom, ek sal koop. Ek het nog ’n paar rand oor van die geld wat ek verlede Saterdag met die troue gemaak het.”

      “Dis darem jammer bruide soek nie iemand om passasies uit Shakespeare op te voer nie.”

      “Hou moed, jy is dalk Charlize se opvolger en dan kan jy eendag vir ons almal vliegtuigkaartjies stuur om vir jou in Hollywood te gaan kuier.”

      “Met my luck word ek ’n kelnerin in ’n plaaslike sepie.”

      Helen haak by haar vriendin in toe hulle buite kom en hulle stap in stilte die straat af. Dis koud en hulle wikkel hulleself dieper in hulle baadjies in.

      “Moet julle twee nie swot nie?”

      Die stem bring hulle tot stilstand en toe hulle opkyk, staan Willem, Lisa, Ben en Sanet voor hulle by die ingang na die winkelsentrum.

      “Moet julle nie mense red nie?” kap Cato terug in Willem se rigting.

      “Ons het ons kwota reddingswerk vir die dag gedoen.”

      “Waarheen is julle op pad?” wil Lisa by Helen weet.

      “Om ’n skyf pizza te gaan koop. Ons is broke en honger.”

      “Julle is ook net bankrot as julle moet kos koop.” Lisa skud haar kop, maar begin in haar handsak vroetel en haal ’n honderdrandnoot uit. “Dis om kos mee te koop, nie drank nie.”

      Willem sit sy arm om Lisa se skouers. “Jy klink nou nes my ma.” Sy blik verskuif na die twee meisies. “Wil julle nie gou iets gaan drink nie? Ons het ’n paar minute voor die fliek begin.”

      Helen skud haar kop voor Cato kan instem. “Ons het reeds iets gedrink. Kos sal nou meer welkom wees, want ons albei moet nog vanaand gaan werk.”

      Terwyl Helen praat, kyk Cato na Ben en Sanet, wat stil die gesprek volg.

      “Hallo, dokter, gaan dit nog goed?”

      “Goed genoeg, dankie, en met jou?”

      Sy pruil haar mond. “Met my kan dit altyd


Скачать книгу