Met ander woorde. Wilna Adriaanse
dood om elke dag te kom kuier en die kinders te versorg. Ek weet nie waar sy dink hy nog tyd moet kry vir ’n skelm verhouding nie.”
“Jy weet mos teen hierdie tyd ’n mens se gedagtes het dikwels niks met die werklikheid te doen nie. Hy kan hier intrek ook en sy sal hom waarskynlik steeds van ’n verhouding verdink. Dis soos iemand met anorexia wat in die spieël kyk en ’n vet persoon sien.”
Wilmien sug. “Ja, ek weet. Soms voel ek net om hulle aan die skouers te skud en te sê hulle moet hulle nonsens laat staan.”
“Hoe het dit met Kristina Lazarus, die nuwe meisie, gegaan?”
“Sy het soos ’n baba geslaap. Ek het vir haar ’n slaappil geneem, maar sy het reeds geslaap en ek het maar besluit om haar nie wakker te maak nie. Ek was nou net weer by haar, maar sy het nog geslaap.”
Ben vra oor die ander pasiënte uit en nadat hy ’n verslag van elkeen ontvang het, stap hy spreekkamer toe. Hy skakel die koffiemasjien aan en terwyl hy daarvoor wag, pak hy die kaggel en steek dit aan. Die herfs is vanjaar ongekend koud.
Hy staan voor die venster en koffie drink toe Riëtte agter hom praat.
“Wat gaan aan? Waarom is jy so vroeg hier?”
Ben draai stadig om. “Waarom is dit vir julle almal so snaaks? ’n Mens sal sweer ek kom gewoonlik eers teen middagete hier aan. Ek was al soms voor jou hier.”
“Maar wie wil op so ’n oggend vroeg opstaan?”
“Jy vergeet ek is nie getroud nie. Daar is nie ’n warm lyf wat my in die bed kan hou nie.”
“Ag siestog,” spot sy. “Ons moet miskien maar ’n aktiewe soektog op tou sit om vir jou een te kry. Jy gaan ’n moeilike oujongkêrel wees.”
“Julle gaan ver soek, want ek weet nie of vandag se meisies goeie troumateriaal is nie.”
“Ons kry dalk nog êrens een wat desperaat is,” lag sy toe sy die beker neem en die deur agter haar toetrek.
“En nou gaan jy huis toe. Sien jy uit daarna?” Ben kyk na die skraal vrou voor hom op die rusbank. Haar hande is op haar skoot gevou en hy kan sien sy doen haar bes om hulle stil te hou. Maar ten minste is hulle nie meer so pynlik inmekaargeklem soos toe sy hier aangekom het nie.
“Ek is versigtig opgewonde. Die kuiertjie by die huis was lekker en my tuin kan doen met ’n goeie skoonmaak en ’n paar nuwe plantjies.”
“En hoe voel Fred daaroor dat jy huis toe kan gaan?”
“Hy het vir ’n paar dae verlof geneem. Hy sê ons kan dalk sommer een oggend êrens ontbyt gaan eet of iewers heen ry vir middagete.” Haar hande wil-wil weer begin vroetel, maar sy vou hulle oormekaar. “Ek hoop maar ek is reg daarvoor.”
“Waarom twyfel jy nou weer aan jouself ?”
“Ek weet nie. Ek is net bang dit raak weer te veel en dan is ek dalk ’n verleentheid vir hom. Jy weet nie hoe dikwels ons in die verlede uit restaurante moes stap voordat ons klaar geëet was nie. Dit was swaar vir hom en die kinders.”
Ben maak die lêer op sy skoot toe. “A, is ons terug by die image en wat die mense sal sê?”
“Ek is net so skaam om almal weer te sien. Ek is seker hulle lag lekker oor Fred se vrou wat die kluts kwytgeraak het.” Haar blou oë raak mistig.
“Laat hulle skinder. Dis gewoonlik net ’n manier om hulle eie vrese te besweer, want almal van hulle het ook swak plekke en niemand weet wanneer iets aan daardie plek gaan raak nie. Hulle praat nie oor jou omdat jy swakker as hulle is nie; hulle praat oor jou omdat jy hulle aan hul eie swak plekke herinner. Maar – en dis waar jy nou die voorsprong het – jy verstaan nou joune, en dit maak jou sterker as hulle.”
’n Klein glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. “Jy laat dit so maklik klink.”
Ben skud sy kop. “Jy is net onnodig krities oor jouself. Niemand daar buite het al die antwoorde nie. Sommige mense verkies om te maak of hulle alles weet en alles kan hanteer. Jy was een van die dapperes onder ons wat erken het dat hulle probleme het en hulp daarvoor gaan soek het.”
Haar skouers trek effens agteroor. “Ek het gedink ek kan miskien nou soms in die oggend gaan fliek. Ek was so gejaag toe die kinders nog in die huis was en ek altyd my horlosie moes dophou. Nou kan ek gaan fliek en agterna nog dalk ’n koffie ook gaan drink sonder om huis of skool toe te jaag. Ek kan miskien in die agterste ry sit sodat ek niemand pla as ek moet uitgaan nie.”
“Nooi my saam en ek sal die popcorn koop.”
Lenie se versigtige glimlaggie word ’n borrellaggie. “Laat ek net eers kyk of ek die fliek kan hanteer. ’n Aantreklike jong man langs my gaan my waarskynlik in asemnood dompel.”
Ben lag. “Jy is reg om huis toe te gaan. Die twyfel wat nou nog daar is, is sommer net uit gewoonte. Ek sien jou in elk geval oor ’n maand, en dan wil ek alles hoor.”
Ben groet die derde pasiënt van die dag, maar voor hy kan omdraai, gewaar hy Kristina in die deur. Hy wonder waarom hy gedurig van haar teenwoordigheid vergeet. Pasiënte is gewoonlik die eerste paar keer senuweeagtig, maar nie sy nie. Dit lyk eerder of haar lyf ligte trillings uitstuur soos ’n resiesperd wat wag dat die hek oopswaai en die wedren agter die rug kan kom. Hy kry die gevoel dat sy ook êrens heen op pad is of met iets wil klaarmaak. Sy dra ’n redelik uitgewaste blou denim, swart plathakstewels en ’n ligblou-en-wit streeptruitjie. Haar hare is in ’n kort poniestert agter haar kop vasgebind. Sy dra geen grimering nie en sy lyk vir hom nie ’n dag ouer as sestien nie. Miskien eerder twaalf, want selfs sestienjariges lyk deesdae ouer en meer wêreldwys as dit.
“Goeiemôre, kom binne.” Hy hou die spreekkamer se deur vir haar oop en sy stap by hom verby. Toe hy na die rusbank beduie, gaan sit sy sonder om iets te sê. Sy skuif tot in die verste hoek en vou haar arms voor haar. Haar een been word onder haar ingetrek. Lyftaal, dink Ben. Met haar sal hy meer bewus van lyftaal moet wees. Die lyf lieg selde.
Ben wag totdat dit lyk of sy gemaklik sit en is bly dat hy ’n oomblik het waarin hy haar net kan dophou. Hy het lanklaas ’n pasiënt gehad wat nie met ’n klaar gediagnoseerde probleem by hom aangekom het nie. Dit maak nie saak wat dit is nie, hulle weet gewoonlik wat hulle probleem is teen die tyd dat hulle hier aankom. Sy sit soos ’n skoon bladsy voor hom. Of dalk soos ’n onbekende labirint. Hy hoop sy ken die pad, want vir hom voel dit na moeite om so ’n onbekende pad aan te durf. Haar blik dwaal vlugtig deur die vertrek en dan kyk sy stil na hom.
“Het jy goed geslaap?”
“As die vraag is of ek in die nag wakker geword het, is die antwoord nee.”
“Kristina, weet jy waarom jy hier is?”
Sy maak ’n ligte beweging met haar skouers. “As ’n laaste uitweg omdat die ander nie kan uitvind wat met my aan die gang is nie.”
“Wil jy nie weet waarom so iets gebeur het nie?”
“Dink jy ek gaan beter voel as ek weet ek is besig om kranksinnig te word?”
“Kranksinnig is ’n baie sterk woord, maar ja, ek glo dit help altyd om te weet, want dan kan ’n mens beplan. Onsekerheid kan ’n kanker word wat jou stelselmatig verteer.”
Haar mond trek asof sy wil glimlag, maar haar oë kyk sonder enige emosie na hom. “Wat ’n keuse – kanker of kranksinnigheid! En wat lê nie alles tussen daardie twee nie? Abnormaal, afhanklikheid, afwyking, aggressie, aknee, angs, anorexia. Ons het ’n groot keuse van a’s wat ons tussen die twee gewraakte k’s kan sit, en dan het ons ’n wonderlike drieletterwoord.” Sy trek haar trui se moue oor haar hande.
“Is dit hoe jy voel?”
Haar mond vertrek weer byna tot ’n grynslag. “Terwyl jy nou so reguit vra, ja, dis hoe ek voel.”
“Waarom voel jy so?”
Sy trek haar skouers op. “Sou jy nie ook as jy vyf maande voor jou eindeksamen die kluts kwytgeraak