Met ander woorde. Wilna Adriaanse
Uys het seker ook vir u gesê dat ek nie studente sien nie.”
Die grys kop knik. “Maar hy het ook gesê dat jy dalk ’n uitsondering sal maak. Die naaste ander kliniek is blykbaar in die stad en ons sien nie kans om haar daarheen te neem nie. Dit sal dalk beter wees om haar in ’n meer bekende omgewing te hou. En hier sal sy ook naby dokter Uys wees; sy ken hom, en al haar vriende is hier.”
Ben is bly die man het nie asseblief gesê nie, want die woord sou heel onvanpas wees by die groot gestalte. Hy weet hy gaan ja sê, en hy weet dit het min met die pa of die dogter te doen, maar alles met die vrees in die vrou voor hom se oë. “U moet verstaan dat ons eers ’n evaluasie moet doen. Ek sal vir u ’n verslag opstel en as ek bevind dat ons haar nie hier kan help nie, moet u dit asseblief aanvaar.”
Albei koppe knik, alhoewel die diep frons op Hennie Lazarus se voorkop Ben laat wonder wat die man eintlik wil sê. Hy staan egter op en beduie na die deur. “Wil u nie eers gaan kyk hoe dit lyk voor u finaal besluit nie?”
Louise Lazarus knik byna ongemerk en Ben stap voor hulle in ’n breë gang af tot in die portaal. “Hierdie is die ontvangsarea. Alle besoekers moet hier aanmeld en die pasiënte moet ook hier aanmeld voor hulle uitgaan. Dit vergemaklik net die sekuriteit en kontrole.” Hy beduie na ’n ruim vertrek regs van die portaal. “Dis ’n sitkamer met ’n televisiestel en ’n verskeidenheid bordspeletjies. Die pasiënte kan enige tyd van die dag hiervan gebruik maak. Die eetkamer is net langsaan en aan die voorkant is ’n sonstoep, wat hierdie tyd van die jaar die gewildste sitplek is.” Uit die portaal loop twee parallelle gange en Ben kies die voorste een. “Die mans en dames woon in afsonderlike gange.”
“Hoeveel pasiënte is hier?” Louise kyk by die oop deure in so ver hulle loop.
“Ons het net tien kamers. Die meeste pasiënte is buitepasiënte wat my in die spreekkamer kom sien.” Aan die onderpunt van die gang gaan staan hy en beduie na die oop deur. “Dis op die oomblik die enigste beskikbare kamer.” Hy bly staan sodat hulle kan binnestap. Dis die groen-en-wit kamer met die geblomde stoel voor die venster. Teen dié tyd weet hy watter kamer se badkamer wit teëls het en watter roomkleurig. Hy weet ook waar strepiesbeddegoed is en waar geruite patrone of blomme; watter kamers op die voortuin uitkyk en watter agtertoe. Hierdie een het ’n ou akkerboom voor die venster.
“Dit is baie mooi,” sê Louise toe sy uit die kamer kom.
“Wanneer kan ons haar bring?” Hennie staan die deuropening vol.
“U kan by Ontvangs met die suster reël. Sy sal vir u al die inligting gee.”
Ben stap saam met hulle terug voorportaal toe.
“Aan wie behoort die plek?” wil Hennie weet.
“My pa het die kliniek laat bou.”
Toe albei vraend na hom kyk, gaan hy traag voort. “Hy was ook ’n psigiater.”
“Praktiseer hy nie meer nie?”
Ben skud sy kop. “Nee, hy is oorlede.”
“Ek is jammer.” Louise lyk verleë, maar Hennie is besig om deur die groot vensters te kyk.
“Behoort die grond ook aan jou?” Die ouer man het die plattelanders se manier van uitvra. Reguit en op die man af, en dis jou probleem as jy nie daarvan hou nie.
“Ja, my pa het jare gelede die stukkie grond gekoop. Ek het iemand wat dit bewerk. In vergelyking met die grootte van die Karooplase is hierdie maar onbeduidend, maar dit hou ons aan die gang.” Die volgende vraag gaan wees of hy ’n vrou en kinders het, dink Ben stilweg, maar hulle nuuskierigheid is blykbaar vir eers bevredig, want die groot man steek sy hand uit.
“Baie dankie vir jou tyd. Ons sal met die suster en dokter Uys reël.”
Ben skud om die beurt hul hande.
“Sy is ons enigste dogter,” laat Louise stilweg hoor toe hy haar hand los en Ben het skielik ’n behoefte om haar ’n bietjie hoop te gee. Dis dikwels die familie wat die swaarste kry. Die pasiënt kry die aandag en die behandeling, maar die familie moet met die lewe aangaan, al is hulle nie altyd seker watter lewe nie, want hulle eie het skielik vreemd geword.
“Ons sal mooi na haar kyk.”
Die telefoon lui net toe hy weer sy spreekkamer binnestap. Dis Sanet wat wil weet of hy onthou dat hulle die aand saam met Willem en Lisa uitgaan.
“Moenie laat wees nie. Die plek is baie gewild en hulle gaan nie die tafel vir ons hou nie.”
Ben sê hy sal nie laat wees nie.
“Waarom klink jy so moerig?”
“Ek is nie moerig nie.”
“As jy so sê,” laat sy spottend hoor en Ben groet haastig terwyl hy na die strepe en kringe kyk wat hy al weer besig is om te trek. Sirkels sonder openinge en kringe wat nêrens heen gaan nie. Net in die rondte, al om en om in die rondte.
Kristina lê op die bed terwyl Hennie voor die venster staan en Louise haar klere in die kas uitpak.
Gemaklike klere, het hulle gesê. Slaapklere, langbroeke, hemde, truie, onderklere, haar donkergroen reënbaadjie. Stewels, skoene, hardloopskoene, pantoffels. Sy hang die wit handdoekstofkamerjas agter die badkamerdeur en pak die res van die klere op netjiese hopies in die kas. Terwyl sy vou en bêre, kyk sy kort-kort na Kristina, en wanneer sy praat, kan Kristina die kommer in haar stem hoor. Toe sy die laaste goed in die bedkassie uitpak, raak sy liggies aan Kristina se hare. ’n Gebaar wat haar weer kind laat voel.
“Ek wonder hoe hou ’n mens dit hier tussen die berge uit,” merk Hennie van die venster af op. “Dit sal my benoud maak as ek nie verder as die volgende berg kan sien nie, maar hy hou ten minste die plek netjies. Dis meer as wat ’n mens van sy lessenaar kan sê.”
Toe niemand hom antwoord nie, gaan hy op dieselfde toon voort: “Ek sou ’n ouer dokter verkies het, want ek is nie so seker hierdie een weet wat hy doen nie. ’n Mens met soveel teorieë het gewoonlik nie ’n plan nie.” Hy rek sy nek effens. “Dis vreemd hoe normaal die mense lyk. Niemand lyk darem gevaarlik nie, of altans nie sover ek kan sien nie. Nie dat ek ook nou sal weet hoe ’n gevaarlike mens lyk nie, want die naaste wat ons mos aan so iemand kom, is ou mal Andries wat op die dorp in die koöperasie se store werk. En hy sal nie ’n vlieg skade doen nie.”
Hy gaan sit op die stoel voor die venster. “Ek het gisteraand uitgereken dat die man meer per uur vra as wat ek op die oomblik vir ’n skaap kry. Is dit nie ’n skreiende skande nie?”
“Ek dink darem nie jy kan sy kennis en tyd met ’n skaap vergelyk nie.”
“Dis die produk wat hy verkoop. As iemand ’n skaap by my koop, kan hy ten minste dadelik sien wat hy vir sy geld kry. Ons gaan hierdie man betaal sonder enige waarborg.”
“Dokter Uys het baie vertroue in hom.”
Is dit moontlik dat hulle dink ek kan hulle nie hoor nie? wonder Kristina. Of dink hulle dalk ek kan nie meer verstaan wat om my aangaan nie? Sy is bly toe ’n verpleegster hulle kom roep en sê daar is tee op die stoep.
Toe Ben sesuur die middag sy laaste pasiënt groet, dink hy vir die eerste keer weer aan Kristina.
“Riëtte, weet jy of Kristina Lazarus toe opgeneem is?”
“Ja, vanoggend al. Die ouers wou jou sien, maar jy was vol bespreek. Hulle het ’n afspraak vir later die week gemaak.”
Kristina lê in die laatmiddagskemerte opgekrul op die bed met die groen-en-wit geruite beddegoed toe Ben die kamer binnestap. Haar hare lê wanordelik om haar kop en dit lyk of sy slaap.
Ben skakel die bedlampie aan. “Kristina . . .”
Sy maak haar oë oop en lyk net vir ’n oomblik effe verward voordat sy orent kom en die hare uit haar gesig vee. Sy lek oor haar lippe asof hulle droog kan wees.
“Ek is jammer ek kom nou eers by jou uit.” Hy kyk na die