Met ander woorde. Wilna Adriaanse

Met ander woorde - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
soek nie sulke kak in my lewe nie. Dit is presies waarom ek nie studente wil sien nie, maar jy het mos jou eie kop gevolg en gesorg dat ek die arme familie jammer kry, en nou sit ek weer eens in my lewe met ’n bebloede hemp.” Hy kyk af na sy bloedbevlekte hemp. “Ek het genoeg daarvan gehad! Ek het sommer lus en bel haar pa en sê hulle moet haar kom haal.”

      “Hierdie het niks met jou te doen nie.” Willem se stem is rustig asof hy ’n kind probeer kalmeer. “Sy is net ’n pa­siënt. Dis nie persoonlik nie en jy kan jouself ook nie teen alles in die lewe probeer beskerm nie. In ons tipe jobs is dit onvermydelik dat ons hande soms sal vuil word. Ons werk met mense, nie rekenaars nie. Gaan slaap nou, jy is ontsteld. Ons praat môre verder.”

      Ben reageer nie en toe hy wegtrek, kyk hy ook nie na Willem, wat met sy hande in sy broeksakke die motor agternakyk nie.

      Die motor is koud, en toe hy die pad teen die berg op neem, ry hy in die mis in. Sy hemp voel klewerig teen hom en hy wonder wat dit met hom en bloed is. Hy het nog nooit vir bloed gegril nie, daarvan kan sy vele nagte in die trauma-eenheid getuig. Maar hy het intussen geleer dat ’n mens verskillende tipes bloed kry, en dit het niks met bloedgroepe te doen nie. Daar is bloed deur ongelukke veroorsaak en bloed deur ’n mens se eie hand veroorsaak, en dis laasgenoemde bloed waarvan hy nie hou nie. Ongelukslagoffers se bloed kan ’n mens afwas, maar bloed wat deur ’n mens se eie hand veroorsaak is, is taai en klewerig. Soos ’n skandvlek. Of soos daardie ink waarmee banke soms hulle geld beskerm. As ’n onregmatige persoon die sak geld oopmaak, ontplof dit in jou gesig en jy kan die vlek nie afwas nie. Dis ’n teken dat jy ’n dief is. So ’n bloedvlek is ’n teken van mislukking. ’n Aanklag van iets wat jy gedoen, of nie gedoen het nie. Hy het weke gesukkel om sy pa se bloed van hom af te was, of so het dit gevoel. En Paula se bloed was tot in sy hare. Selfs nadat hy sy hare ’n paar keer laat sny het, het sy kopvel soms nog gekriewel. En vanaand kleef daar weer bloed aan hom . . . Hy sluk aan die bitterheid wat in sy mond lê.

      Kristina voel hoe die bewing in haar geleidelik begin bedaar en die koue verdryf word deur die duvet en ekstra komberse wat hulle oor haar gegooi het. Sy weet sy is in die hospitaal en sy weet haar hand en pols is oopgesny, maar sy kan nie onthou hoe dit gebeur het nie. Sy kan net onthou dat sy die venster wou oopmaak. En sy onthou dat sy ’n slag gehoor het en bloed gesien het, maar sy weet nie wat dit veroorsaak het nie. Sy kan ook nie nou baie helder dink nie, want hulle het haar ingespuit en sy begin lomerig voel. Op die oomblik verwelkom sy die skadu’s wat van die grense van haar bewussyn af nader kruip. Sy kan sien hoe die wêreld se skerp kante daarin wegraak. Maar agter die grys newels is daar iets soos ’n witwarm vlam waarvan die tonge aan haar wil-wil raak. Sy kan die hitte voel deurslaan, soos ’n sonvlek op die son se oppervlak. ’n Gastregter waarvan die effek op die aarde gevoel kan word. Magnetiese storms, noem hulle dit. Êrens in haar is daar skielik ook ’n magnetiese storm. ’n Sonvlek wat met ’n vuurtong aan haar bewussyn lek.

      Hoofstuk 7

      Ben is verward toe hy die volgende oggend wakker word. Hy hoor die telefoon lui, maar moet hard konsentreer om uit te vind waarvandaan die geluid kom.

      “Het ek jou wakker gemaak?” Dis Sanet en sy klink ongekend vrolik vir so vroeg in die oggend, maar dan sien Ben dis al ná elf.

      “Dis goed, ek moes al lankal opgestaan het.” Hy lek oor sy droë lippe en vryf sy oë terwyl hy effens orent probeer kom.

      “Ek wil sommer net hoor of jy vanaand kom kuier.”

      “Kan ek jou later laat weet? Daar is ’n paar dinge wat ek eers moet uitsorteer.”

      “Dit klink of jy ’n rowwe nag gehad het. Is jy huis toe nadat jy my afgelaai het?”

      “Ja.” Ben is nie lus om haar van die nag se gebeure te vertel nie.

      “Ek sê jou wat ons doen. Ek kom kuier vanaand ’n slag by jou. Ek sal jou rug ook vir jou vryf as jy mooi vra.”

      “Bring ’n pizza saam, want hier is nie kos nie.”

      “Nee, nie pizza nie. Ek sal iets kom maak of iets anders saambring. Los vir my die deur oop as jy dalk êrens heen gaan.”

      Ben groet, maar maak nie aanstaltes om op te staan nie. Hy kan nie besluit of hy eers die telefoonoproepe agter die rug moet kry of eers moet skeer en stort nie. Hy wil eintlik nog slaap. Miskien sommer ’n paar dae aaneen.

      Hy kon nog nooit besluit of hy dié beroep gekies het en of die beroep hom gekies het nie. Na sy pa se dood was dit ’n byna outomatiese keuse, want hy het met ’n kliniek gesit en ’n skynbaar verdraaide skuldgevoel omdat hy nie sy pa kon red nie. Hy het nooit eens geweet sy pa is tot so iets in staat nie. Miskien het hy geglo om ander te help is ’n manier om sy skuld af te betaal, maar nou is hy moeg vir skuld. Hy begin vermoed dis die tipe skuld wat nooit afbetaal kan word nie en hy weet nie meer of hy genoeg omgee nie. Willem is seker die enigste een wat weet hoe swaar dit soms vir hom is en hy spot dat hy wat Ben is, soos ’n ongelowige predikant is. Of ’n teoretiese gelowige. Hy ken al die teorieë en praktyke, maar volgens Willem is dit lippediens.

      Hy stem nie noodwendig met Willem se siening saam nie; hy dink hy gee sy beste omdat hy hulle jammer kry. Hy sien hulle inkom, elkeen met sy of haar eie storie. Elkeen met ’n rede waarom die buitewêreld hulle bang maak. In elkeen het iets die swak plek getref. Die hakskeensening afgesny. Ander kere is dit die liggaam wat teen homself draai en afspiraal in ’n swart gat van depressie. Húlle kom dikwels terug, want die vyand skuil in hulle eie gene. Daar word van ’n predisposisie of ’n voorbe­skiktheid gepraat. Hy voel jammer vir hulle, want daardie liggame wat voorbeskik is, is onlosmaaklik deel van hulle swakheid.

      Hy lig homself uit die bed en rek hom lank uit. Ja, hy het deernis en empatie, maar dit beteken nog nie hulle kan oor hom bloei nie. Dis waarom hy nie meer graag met studente werk nie. Daardie ouderdomsgroep tussen die puisies en die babas, waar die puisies soms te lank aanhou en die babas te vroeg kom, terwyl die lywe en emosies nog sukkel om in harmonie te bestaan en hulle dikwels net ’n maklike uitweg soek.

      Dis laatmiddag en Ben sit langs Kristina se bed. Hy het geweet dis ’n ydel dreigement wat hy in die nagtelike ure gemaak het, maar hy is tog kwaad vir Willem. Die kliniek se bussie het Kristina net voor middagete van die hospitaal af gebring. Haar pa was woedend toe Ben hulle gebel het en wou met alle geweld terugkom. Dit het mooipraat gekos om hom te oortuig dat hulle niks kan doen voordat hulle weet wat eintlik gebeur het nie. Ben sien in elk geval ook nie nou kans vir histeriese ouers nie.

      Die bedlampie is aangeskakel en sy lê in ’n ligpoel. Ben sien die twee fotoraampies op die bedkassie raak en tel dit op. Die een is ’n foto van haar ouers saam met twee jong mans wat duidelik broers is. Die tweede foto is die een van haar en haar twee huismaats. Ben kyk effens mismoedig na die laggende gesig in die middel. Hy voel meteens jammer vir die mense wat haar met so ’n wye oop mond en laggende oë geken het. Hierdie persoon op die bed moet vir hulle ’n skrikwekkende vreemdeling wees.

      “Kristina . . .”

      Sy maak haar oë oop en skuif dan effens onhandig orent teen die kussings. Haar linkerhand is tot by haar elmboog verbind.

      “Het jy nog baie pyn?”

      Sy skud haar kop en kry net ’n heserige “nee” uit. Dan verbaas sy Ben. “Ek het nie probeer selfmoord pleeg nie.” Haar stem is steeds effens hees, maar die woorde word met ’n vreemde beslistheid gesê.

      “Dink jy dis wat ons vermoed?”

      “Ja.”

      “Wil jy vir my vertel waarom jy dit gedoen het?”

      “Ek wou net die venster oopmaak. Ek weet nie hoe die ruit gebreek het nie.”

      “Waarom wou jy die venster oopmaak? Dis koud buite.”

      “Die kamer het benoud gevoel.”

      “Die kamer of jy?”

      Kristina kyk vraend na hom.

      “Probeer onthou hoe jy gevoel het.”

      Sy vee ’n denkbeeldige haar


Скачать книгу