Die groot legkaart. Susanna M. Lingua
Hierna bespreek hulle die benodigdhede wat saamgeneem moet word, want elkeen moet sy deel bydra.
“En wat van jou en Gerrie se meisies, Wessel? Gaan hulle nie ook hul deel bydra nie?” laat Riana weer van haar hoor.
“Julle twee moet my goed verstaan. Ek gaan dit baie beslis nie duld dat jul meisies op my en Tina se koste vakansie hou nie. Dis nie ons twee op wie hulle verlief is nie . . .”
“Toemaar, Anita en Wilma weet ons drie manne is arm studente,” gooi Wessel weer dadelik wal. “Hulle het lankal aangebied om hul deel by te dra. Maar ek dink ons moet nog ’n man aankeer, dit sal die koste vir almal ligter maak.”
“Wat van Hennie le Roux, ouboet?” stel Gerrie voor.
“En wie is hy?” wil Riana weet.
“Hennie, my sussie, is my kamermaat en medestudent. Jy kan maar vir hom ogies maak, hy het nie ’n vaste meisie nie . . .” Riana keer die stoel om met kleinboet en al. “Rissie,” sê hy terwyl hy sy klere afstof. “Hiervoor gaan ek jou in Ebenezerdam gooi met klere en al.”
“Wel, as daardie kamermaat van jou eerbaar en betroubaar is, Gertman, kan jy hom gerus saamnooi. Hy moet net sorg dat hy hom by die meisiekinders gedra, anders gaan hy met my en Renier te doen kry,” waarsku Wessel ernstig.
“Toemaar, hy is nie daardie soort nie, ouboet.” Gerrie sit die stoel weer op sy pote neer en neem plaas. “Ek sal hom later vanmiddag bel.”
Hierna bespreek hulle die dag van hul vertrek en besluit ook oor die voedselvoorraad wat saamgeneem moet word. Tina en Riana bied aan om die inkope te doen, terwyl die mans vir die voertuie en tente sorg.
Nadat hulle oor alles besluit het, draai Wessel na Tina en vra ernstig: “Is jy seker jou pa sal jou toelaat om saam met ons te gaan kampeer, Tina?”
“Ek glo nie my pa sal beswaar maak as ek sê ek gaan saam met Riana en haar ouers kampeer nie,” terg sy, maar vervolg dan ernstig: “My pa weet dat jy en Riana en Gerrie my vriende is, Wessel. Hy weet ook dat ek sedert Ma se afsterwe meer dikwels hier by jul huis is as wat ek by my eie huis is. Hy het selfs al gesê ek behoort losies te betaal vir my verblyf en etes . . . Nee, ek sal vir hom sê dat ons jongklomp gaan kampeer – altans, julle jongklomp; ek en Riana word maar net saamgepiekel om vir julle kos te maak en skottelgoed te was.”
“Jy begaan ’n fout, Tina. Daardie werk gaan nie net julle twee se verantwoordelikheid wees nie,” keer Renier. “Ek sal persoonlik toesien dat daardie twee se meisies,” knik hy met sy kop in Wessel en Gerrie se rigting, “ook hul deel bydra. Die werk sal gelykop tussen ons almal verdeel word.”
“Dankie, Renier, jy het my en Riana se lewe gered,” terg Tina glimlaggend. “Wessel en Gerrie sal staan en toekyk dat ek en Riana ons oor ’n mik werk en niks daaraan doen nie. Maar ek belowe jou sommer nou, wanneer dit my beurt is om die ete voor te berei, sal ek sorg dat jy van alles die beste porsie kry.”
“Maggies, maar hoe lekker klop my hart nou,” sê Renier vir Wessel, en vryf betekenisvol met sy hand oor die plek waar sy hart moet wees. Hy kyk na Tina en vervolg met ’n glimlaggie: “Ou swartkoppie, iets sê vir my dat ek en jy nog groot vriende gaan word.”
“Pas op vir haar pa, Renier,” spot Gerrie. Riana mik om hom ’n oorveeg te gee, en hy moet net vinnig koes om haar hand te ontduik.
“Nou los jy Tina se pa uit. Sy is ’n mens met eiewaarde, en moet dit nooit vergeet nie,” raas Riana met haar jongste broer.
“Ek het nie bedoel om . . . e . . . snaaks te wees nie, Tinatjie, my ou sussie,” paai Gerrie nou met ’n vroom gesig. “Jy weet mos al dat ek nooit iets sal doen of sê om jou seer te maak nie. Ek wou Renier net ’n bietjie terg.”
“Nou ja, hou op met jou tergery,” waarsku Tina.
Hierna bring die huishulp vir hulle koffie en beskuit, en toe die son later laag in die weste hang, kondig Tina aan dat dit tyd is vir haar om huis toe te gaan.
“Ek sal julle vanaand na die ete bel,” belowe sy. Sy sê tot siens vir die jongklomp, gaan groet tant Ella, wat in die kombuis besig is, en daarna vergesel Riana haar na haar bromponie toe.
“Wat dink jy van die lang, blonde Renier, Tina?” vra Riana toe hulle die bromponie bereik wat voor die motorhuis staan.
“Ek dink hy is die aantreklikste man wat ek nog ooit in my lewe gesien het,” antwoord Tina eerlik en reguit, “maar wat dink jý van hom, Riana?”
Tina is besig om die bromponie aan die gang te kry, en sien dus nie die uitdrukking van verrassing op Riana se gesig nie . . . Vir Riana is dit inderdaad ’n verrassing dat Tina eindelik ’n man ontmoet het wat vir haar aantreklik is, want tot dusver het almal nog oor die een of ander iets beskik waarvan sy nie hou nie. Dit laat Riana ’n oomblik ernstig dink.
Dan onthou sy dat Tina haar ’n vraag gevra het en antwoord met ’n vriendelike glimlaggie: “Snaaks dat jy so vra. Jy weet mos ek hou nie van blonde mans nie, Tina. Dit is bepaald omdat ek self blond is . . . Nee, jong, ek hou van ’n donker man. Maar ek wil darem dit van Renier sê: hy is baie ordentlik opgevoed en het mooi maniere. Ek hou van sy bedagsaamheid en sy sin vir regverdigheid. Jy sal nie ’n fout begaan as jy met hom bevriend raak nie, Tina.”
“Vriendskap moet van twee kante af kom, nie net van een kant af nie,” herinner sy Riana. “Maar, wag, ons twee word nou te slim, laat ek liewer ry . . . Sien jou weer môre!”
Daardie aand aan tafel vertel Tina vir haar pa van hul vakansieplanne. Omdat sy al so lank met die Beukesse bevriend is, gee hy sy toestemming dat sy kan gaan, maar sê darem: “Ek kan werklik nie begryp waarom jy jou nie by jou eie soort bepaal nie, Tina. Om elke dag in die geselskap van sulke mense te verkeer, kan jou tog nie werklik baat nie.”
Tina voel dadelik gesteurd oor haar pa se snobistiese houding, maar kry dit reg om bedaard te sê: “Pappa, Ma het vir my en Santi geleer om nooit ons harte te verloën deur ons te laat wysmaak dat geluk met geld gekoop kan word nie. Ma het heeltemal gelyk gehad, want meneer Beukes is nie ’n ryk man nie, en tog is hy en sy gesin die gelukkigste mense wat ek ken. Vir hulle maak dit nie saak as daar nie elke dag nagereg op die tafel is of as daar net twee soorte groente vir die hoofmaal is nie. Daar is ander dinge wat vergoed vir die gebrek aan sulke stoflike dinge. Hulle is nie minderwaardige mense nie, Pappa. Hulle werk hard om ordentlik te kan lewe. Trouens, ek koester groot respek en agting vir hulle.”
“Jy bewonder daardie mense maar net omdat jy nie in hul posisie verkeer nie. Hul sukkelbestaan lyk miskien vir jou avontuurlik, maar dit is nie so avontuurlik soos wat jy dink nie, Tina,” weerspreek haar pa haar. “Sal dit vir jou nog avontuurlik wees as jy ’n mooi motor, mooi meubels en mooi klere begeer en nie die geld het om dit te koop nie? Dink jy miskien daardie mense begeer nie om ryk te wees nie? Kom, vergeet hierdie onsin en vertel vir my wat jy nodig het vir jul kampeerdery.”
“Ons is agt mense wat gaan, Pappa, en ons het besluit dat elkeen sy deel moet bydra om die koste te dek. Volgens ons berekening sal my sakgeld genoeg wees om my deel te dek –”
“Ek sal na die ete vir jou ’n tjek gee vir warm klere en al die ander benodigdhede,” val hy haar ongeërg in die rede.
Tina wil nog vir haar pa sê dat sy genoeg warm klere het en selfs ook ’n stywe bedraggie gespaar het, maar hy begin reeds oor ander dinge praat. So gaan dit altyd wanneer sy oor haar vriende se lewenswyse wil gesels. Haar pa heg te veel waarde aan geld. Rykdom en aansien is sy alfa en omega, die enigste maat waarmee hy mense meet en hul waarde bepaal. As haar ma nie destyds vir Santi as voorspraak by hul pa gedien het nie, sou hy nooit sy toestemming gegee het dat sy met Walter kon trou nie, want Walter is in sy oë niks meer as ’n kerkmuis nie.
Tina wonder wat haar lot sal wees as sy op ’n man verlief raak wat vir ’n salaris werk. Sal haar lewensgeluk swaarder by haar pa weeg as rykdom en aansien, of sal dit die teenoorgestelde wees? Sy ys wanneer sy daaraan dink dat sy en haar pa dalk eendag sal bots.
Na die ete bel sy vir Riana om te sê dat sy haar pa se toestemming het