Die groot legkaart. Susanna M. Lingua

Die groot legkaart - Susanna M. Lingua


Скачать книгу
Maar wag, Wessel sê hy wil ook met jou praat.”

      “Naandsê, Tina!” hoor sy Wessel se stem in die gehoorbuis sê.

      “Hallo, Wessel!” groet sy terug. “Ek het nou net vir Riana gesê dat ek my pa se toestemming het om saam met julle te gaan kampeer en dat ek môreoggend om nege-uur by jul huis sal wees.”

      “Ek is bly om dit te hoor, maar kan jy nie ’n plan maak om vanaand ook hier te wees nie?” vra Wessel.

      “Hoe dink jy moet ek daar kom? My pa het iets gepraat van ’n vergadering wat hy moet bywoon, en ons motorbestuurder het die aand vry. Ons huishoudster, mevrou Alberts, kan ongelukkig nie ’n motor bestuur nie, en ek het nog nie ’n rybewys nie.”

      “Ek kan vir Hennie en Riana vra om jou te kom haal,” stel Wessel voor. “Maar die vraag is, sal jy kan kom?”

      “Wessel, jy is ’n doring met planne maak,” lag sy saggies in die gehoorbuis. “Ek gaan net gou iets warms aantrek, dan sal ek gereed wees. Stuur hulle maar, ouboet.”

      Hulle sê vir mekaar tot siens en lui af.

      Dit neem Tina nie lank om haar in ’n swart langbroek, wit trui en ’n wit skaapveljassie te verklee nie. Sy knap haar grimering op, en gaan lig mevrou Alberts gou in oor haar uitstappie.

      Sy is nog besig om met mevrou Alberts te praat, toe die hoofhuishulp vir haar kom sê dat juffrou Riana en meneer Le Roux in die sitkamer vir haar wag.

      “Gaan solank sitkamer toe, juffrou Tina,” sê die huishoudster. “Simon sal vir jou die twee koeke na die motor toe neem.”

      “Dankie, jy is ’n ou skat, mevrou,” glimlag Tina en stap haastig sitkamer toe.

      Hennie le Roux is ’n donker kêrel van gemiddelde lengte, vriendelik en duidelik die soort van wie Tina hou.

      “As jy gereed is, kan ons maar gaan, Tina,” sê Riana nadat sy die jong man aan Tina voorgestel het. “Wessel het gesê ons moenie lank draai nie.”

      “O, ek is gereed, ek wag net dat Simon die twee koeke moet bring wat ek vir jou ma wil saamneem,” sê Tina.

      “Hennie, daar is niemand op aarde wat so lekker kan kook en bak soos Tina-hulle se kok nie,” lag Riana vrolik. “Ek is al skoon watertand as ek net aan daardie koek dink . . .”

      Simon verskyn in die sitkamer se deur en sê vir Tina dat hy die twee koeke na die motor toe geneem het.

      “Dan kan ons maar gaan,” sê Tina vir haar twee gaste.

      Dit is ’n gesellige groep jong mense wat Tina in tant Ella se sitkamer aantref. Wessel stel haar aan Anita en Wilma voor, albei studente aan dieselfde universiteit waar die vier jong mans studeer.

      “Kom sit hier by my, Tina,” nooi Renier en maak vir haar plek langs hom op die rusbank.

      “Dankie,” sê sy en glimlag vriendelik vir hom. Sy voel baie gelukkig by hierdie jong mense wat nog nie blasé geword het nie, jong mense wat elkeen ’n doel in die lewe nastreef en nie omgee hoe hard hulle moet werk om daardie doel te bereik nie . . . en dan is daar ook nog Renier – die enigste man wat tot dusver haar hart vinniger kon laat klop.

      “Ek is bly dat jy gekom het, Tina,” sê Renier weer nadat sy gaan sit het. “Ek het al soos ’n vyfde wiel aan die wa begin voel, want Wessel en Gerrie moet aandag aan die meisies gee en asof dit nie genoeg is nie, kom eis Hennie die liewe Riana vir homself op.”

      “Dis jou eie skuld,” help sy hom vriendelik reg. “Jy het genoeg geleentheid gehad om Riana vir jóú op te eis.”

      “Miskien wou ek haar nie vir my opeis nie,” glimlag hy. Sy blik gly stadig oor haar hartvormige gesiggie met die fyn gelaatstrekke. “Miskien het ek vir ’n sekere swartkopmeisie gewag, in die hoop dat sy ook van my geselskap sal hou . . . Dink jy sy sal van my geselskap hou?”

      “Dit hang af watter soort meisie sy is,” terg Tina. “Miskien is sy nie eens die moeite werd om te ken nie.”

      “Nee, ek gaan nie toelaat dat jy haar so verkleineer nie. Sy is alles wat ’n meisie moet wees. Ek weet waarvan ek praat, want ek het vanmiddag al met haar kennis gemaak. Sy is pragtig, klein en fyn, en die grootste wonder van alles is dat haar pa se rykdom haar nie verwen het nie.”

      “Dankie vir die kompliment, Renier,” sê sy sag. “Jy sal nooit kan raai wat hierdie mooi woorde van jou vir my beteken nie . . .”

      “Tina . . . Renier,” knip Wessel hul gesprek meteens kort, “kan ons ’n rukkie aanspraak maak op jul aandag?”

      “Man . . . ja . . . jy is lastig, maar gaan maar voort, ons luister met aandag,” sê Renier met ’n onderdrukte glimlaggie.

      “Renier, jou ou doring . . .”

      “Laat staan nou maar die doring, Wessel, en sê wat jy aanvanklik wou sê,” keer Tina vinnig, want sy kan sien waarop Wessel afstuur. Trouens, sy ken daardie ondeunde uitdrukking in sy oë.

      “Toemaar, ek was nie van plan om jou in die verleentheid te bring nie, Tinatjie,” verseker Wessel haar, ten spyte van die ondeunde laggie om sy mond. “Ek wou maar net sê, dit doen my hart goed om te sien dat my ou maat uiteindelik in ’n meisie belangstel. Maar om terug te keer na die onderwerp wat ek met julle wou bespreek . . .”

      “Toemaar, ouboet, dis nie net jóú ou maat wat van sy reg­uit paadjie afgewyk het nie,” lag Riana prettig, “mý ou maat ry in dieselfde bootjie, want ook sy het nog nooit voorheen in ’n man belanggestel nie. Ek dink sy en Renier is voëls van eenderse vere.”

      “Nou ja, as julle vir my en Tina klaar bespreek het, sal ons wil hoor wat die onderwerp was wat jy aanvanklik met ons wou bespreek het, Wessel,” laat Renier bedaard hoor.

      “Man, ja, ons het gewonder of dit julle twee se goedkeuring sal wegdra as ons oormôre vertrek. Die vier meisies kan môre vir ons ’n klomp blikkieskos en ander kruideniersware gaan koop, terwyl ons vier mans vir die res sorg. Soos ek verneem het, het elkeen ’n slaapsak, maar ek dink dit sal verstandig wees om komberse ook saam te neem.”

      “Het ons genoeg voertuie om alles mee te vervoer, Wessel?” wil Tina weet.

      “Heeltemal genoeg. Ons gebruik my ma se stasiewa en Hennie se motor,” antwoord Wessel. “As julle ’n gasstofie het, kan jy dit saambring, Tina.”

      “Ek sal môreoggend alles hierheen bring,” belowe sy.

      Hulle gesels nog ’n rukkie, toe bied Riana en Tina aan om tee te gaan maak, want tant Ella en oom Johan het al ’n uur gelede gaan slaap. Renier kom orent en sê dat hy toesig sal hou oor die meisies se gewerskaf in die kombuis. Hennie sê hy sal ook gaan kyk hoe hulle werk. Hy is mos so geweldig lief vir werk, hy kan ure lank daarna kyk!

      Tina trek haar jassie uit, en daarna gaan hulle kombuis toe, waar dit heerlik warm is van die vuur in die steenkoolstoof wat tant Ella gewoonlik net in die winter gebruik.

      “Ek en Tina sal ons tee sommer hier in die kombuis voor die stoof drink,” sê Renier toe hy merk dat Riana koppies op die dienwaentjie rangskik. “En moet asseblief nie sê julle wil ook hier kom tee drink nie.”

      “Nee, ons gaan ons tee in die sitkamer geniet,” verseker Riana hom. “Trouens, ek gun julle ’n paar minute alleen in mekaar se geselskap, want môre sal daar nie tyd wees vir vertroulike gesprekkies nie.”

      “Ons gesprekkies is darem nie so vertroulik dat niemand dit mag hoor nie,” maak Tina blosend beswaar.

      Sy plaas die twee borde met koek op die dienwaentjie en hoor Renier fluister: “Jy moenie so bloos nie, ou swartkoppie. Ons lewe in ’n eeu van atoomkrag en ruimtereise, ’n vinnige ou wêreld. As ’n man nie dadelik kan besluit wat hy wil hê nie, raap ’n ander ou dit voor hom weg en het hy op die ou end niks nie.”

      “En het jý al besluit wat jy wil hê, Renier?” Haar oë glimlag ondeund in syne.

      “Vanmiddag al. Maar laat


Скачать книгу