Die groot legkaart. Susanna M. Lingua
At en tant Louise se huis. Hulle bewoon nou wel nie so ’n paleis van ’n huis soos sy makelaarbroer nie, en tog . . . Dis of hy oor meer invloed beskik as sy jonger broer.”
“En die jonger broer?” val Renier hom bedaard in die rede.
Wessel antwoord nie dadelik nie, en ook Riana swyg, want hoe moet hulle op hierdie vraag van Renier antwoord? Hulle is almal baie lief vir Tina en wil nie graag verkleinerend van haar pa praat nie . . . en tog, iemand sal Renier se vraag moet beantwoord.
Dit is Gerrie wat antwoord: “Oom At se jonger broer, Renier, is een van daardie soort mense vir wie rykdom, aansien en sosiale status die alfa en omega is. As jy dus nie oor daardie drie dinge beskik nie, is jy nie van sy stand nie. En as jy nie van sy stand is nie, ou broer, is dit ’n probleem. Hy is ’n trotse en hooghartige man, en sover ek weet, is daar net een persoon vir wie hy ontsag het – sy ouer broer, oom At. Hy is ook ’n man wat sy teenstander sal breek sonder om ’n oog te knip. Baie mense sê hy is gewetenloos, ander sê weer hy is gevoelloos.”
“Hy klink glad nie vir my na ’n aangename man nie,” kan Wilma, Gerrie se meisie, nie help om te sê nie.
“En tog staan hy hoog aangeskryf in sosiale kringe,” kom dit van Wessel.
“Dis omdat hy die geld het, Wessel,” glimlag Anita. “Het jy vergeet dat geld wat stom is, regmaak wat krom is?”
“Maar dit is vir my baie eienaardig dat hy Tina toelaat om met ons bevriend te wees,” laat Hennie nou ook van hom hoor.
“Tina se vriendskap met ons dateer van haar laerskooljare, ou vriend,” help Wessel hom reg. “Daardie jare het haar ma nog gelewe, en mevrou Eksteen was ’n minsame en nederige vrou. Maar jy moenie die fout begaan om te dink dat Tina se pa haar sal toelaat om met ’n salaristrekker te trou nie. Só sal hy hom beslis nie laat verneder nie.”
Riana bars heerlik uit van die lag.
“Ek wed julle,” sê sy nadat haar lagbui bedaar het, “dat Tina eendag met die man van haar eie keuse sal trou, maak nie saak of hy ryk of arm is nie.”
“Tina is te sag van geaardheid om teen haar pa in opstand te kom,” meen Gerrie. “Sy sal hom maar gedwee toelaat om haar in ’n huwelik te dwing met ’n man van sy keuse . . .”
“Jy is van jou wysie af, Gerrie,” maak Riana hom vererg stil. “Tina is nie so sonder ruggraat nie. Ek erken, daar sal ’n vreeslike botsing wees, maar Tina sal net met die man van haar eie keuse trou.”
“Dit behoort jou moed te gee, Renier,” glimlag Wessel en knipoog betekenisvol vir sy vriend.
“Ja, dit klink bemoedigend,” stem Renier saam. “In elk geval, ek dink dit is tyd dat ons bed toe gaan, anders kry ons môre niks gedoen nie.”
Die volgende dag is vir die agt jong mense ’n besonder bedrywige dag, want hulle moet alles gereed maak vir hul vertrek. Hulle besluit eenparig om sesuur die volgende oggend te vertrek.
2
Dit is byna halfses toe hul motorbestuurder vir Tina by haar vriende se huis aflaai en die drie mandjies met padkos en vier koekblikke na die twee voertuie toe neem waar die vier jong mans besig is om goed in te laai.
Almal verkeer in vrolike luim. Willem, die Eksteens se motorbestuurder, spring ook sommer dadelik in en help die vier jong mans.
“Dankie, Willem,” sê Wessel toe alles later afgehandel is. Hy, Gerrie en Riana ken die Eksteens se motorbestuurder sedert hul kinderjare. Hy nooi Willem om eers saam met hulle koffie te drink voordat hy vertrek, maar Willem wys die uitnodiging vriendelik van die hand en sê dat hy die motor onverwyld moet terugneem, want dit is meneer Eksteen se motor waarmee hy juffrou Tina gebring het.
Die jong mense het ook net koffie gedrink, toe groet hulle oom Johan en tant Ella en vertrek. Tina en Renier ry saam met Wessel en Anita in die stasiewa, en Gerrie en Wilma ry weer saam met Riana en Hennie in sy motor.
Dit is ’n bitter koue Julie-oggend, maar die agt jong mense laat nie toe dat die koue hul vrolike lewenslus demp nie. Twee weke lank sal hulle van die beskawing af weg wees, twee genotvolle weke langs die dam waar die klanke van die natuur die musiek sal wees en die son die horlosie.
Drie uur later hou hulle langs die pad by ’n betontafeltjie stil om ontbyt te nuttig. Die wintersonnetjie is nog flou, maar almal is warm aangetrek en geniet hierdie opelugontbyt asof dit ’n feesmaal is. Hulle is vol grappies en gelag, en Renier wil van Tina weet of hy nou al geregtig is op die beste porsie van alles, of geld dit net by die kampeerterrein?
“Nee, dit geld hier ook,” sê sy en hou ’n ham-en-komkommertoebroodjie na hom uit.
“Ek word by die minuut liewer vir jou, ou swartkoppie,” fluister hy by haar oor. “Hoe voel jy oor my?”
Sy kyk hom met ’n glimlag aan wat tot in haar oë blink en antwoord dan self fluisterend: “Vanselfsprekend dieselfde.”
“Waarom sê jy vanselfsprekend, my poppie?” Sy stem is sag, net vir haar ore bedoel.
“Wel,” sy bloos liggies, “dit was bestem om so te wees. Ek dink dit was by ons geboorte al bestem om so te wees.”
“Ek voel lus en soen jou wanneer jy so pragtig bloos,” fluister hy weer in haar oor. “Maar jy het gelyk, my liefie, ons is van die grondlegging van die wêreld af al vir mekaar bestem . . .”
“Haai, watse gefluister is dit met julle twee?” roep Anita laggend uit. “Ons wil ook weet wat daar so ernstig gefluister word.”
“Nee, julle is nog te jonk,” terg Renier. “Dis grootmenssake wat ons bespreek, en baie beslis nie vir jul ore bedoel nie.”
“H’m, die vermetelheid van die mens darem,” sê Anita met haar neus in die lug. “Wessel, is jy of Renier die oudste?”
“Wel, Renier is die oudste. Hy is vier maande ouer as ek.”
“So, en hoe oud is dit?” wil Anita weer weet.
“O, hy is een van die dae vyf en twintig en as hy ’n perd was, kon jy maar net na sy tande gekyk het om sy ouderdom vas te stel,” antwoord Wessel.
Almal bars hartlik uit van die lag. Iemand roep skertsend uit: “Laat ons jou tande sien, Renier!” ’n Ander een begin uitgelate sing: “Dis ’n bowêreld, dis ’n onderwêreld, dis ’n onderstebowêreld . . .”
“H’m, g’n wonder hy hou hom so groot nie,” terg Anita.
“My dierbare skapie, jy praat nie so van ’n ou man nie,” wys Wessel sy meisie goedig tereg. “Oor etlike maande is Renier ’n volleerde, gegradueerde ingenieur, en dan is jy maar eers ’n derdejaartjie.”
“H’m, baie indrukwekkend!” terg Anita laggend. “Sal julle manne asseblief die mandjies vir ons na die motors toe neem?”
Noudat hulle ontbyt genuttig het, voel almal gereed vir die lang pad wat voorlê. Volgens Renier se berekeninge behoort hulle die dam voor middagete te bereik.
Renier het gelyk, want pas voor eenuur hou hulle aan die noordekant teen die voet van die berg stil, en daar voor hulle lê die dam spieëlglad tussen die berge en heuwels. Almal klim uit om die omvang van die dam beter te kan besigtig.
Renier plaas sy arm om Tina se smal skouertjies en sê met gevoel in sy stem: “Dit is inderdaad ’n skilderagtige stukkie wêreld hier tussen die berge en klowe. Die natuur het hier beslis met ’n kwistige hand gewerk. Kyk net van waar af strek die dam. Ek wonder hoe ver die water agter die berg verbyvloei?”
“Die wal en die sluise lê net hier agter die berg,” lig sy hom in, “maar daar is nie juis plek om te kampeer nie, want aan die bokant is ’n dennewoud.”
“Mense, ons sal hier na hartelus kan hengel,” sê Wessel opgewonde. “Kyk net die borrels en kringe op die water; dis visse wat so maak.”
“Laat staan nou maar eers die visse,