Die groot legkaart. Susanna M. Lingua
terug na die motors. Die kosmandjies word te voorskyn gebring, en nadat almal die inwendige mens versterk het, word die twee tente en ’n skerm wat as kombuis moet dien, opgeslaan. Die vier jong mans help totdat alles uit die voertuie gelaai is; toe maak hulle gereed om te gaan hengel.
“Nou ja, aangesien ons nie nodig het om aandete voor te berei nie, gaan ek al met die dam se oewer langs stap tot hier agter die berg,” sê Tina.
Renier sit sy visstok eenkant teen ’n rots neer en draai na die meisie van sy hart. “Ek sal saam met jou stap,” sê hy. “Netnou verdwaal of verdrink jy, en dan huil ek my dood.”
Hy kyk na Wessel. “Julle manne moet maar solank gaan hengel, ek sal my later by julle aansluit.” Hy neem Tina se hand en geselsend stap hulle van die kamp af weg.
Die middagson is heerlik warm, hier waar Tina en Renier oor die droë grasstoppels loop. Hy los haar hand, plaas sy arm liefdevol, beskermend om haar skouertjies en druk haar saggies teen hom vas.
“Het jy my regtig lief, my poppie, of het jy vanoggend maar net so gesê om my hart bly te maak?” Hy probeer klein treetjies gee om met haar pas tred te hou. Haar kroontjie reik net tot by sy skouer, en hy sien hoe die son op haar raafswart hare blink. Die volgende oomblik lig sy haar gesiggie op en kyk hom met ’n stralende glimlaggie aan.
“Ek het elke woord bedoel, Renier,” sê sy met ’n warm ondertoon in haar stem, ’n warmte wat sy hart vasgryp en dit saggies streel. Hy bly meteens staan, vou haar in sy arms toe en soen haar met die teerheid van ’n man wat diep en innig liefhet.
Vir Tina is hierdie eerste liefdesoen ’n onvergeetlike oomblik. Dit wek emosies in haar wat haar hart onstuimig laat klop en haar laat wens dat Renier haar vir altyd so in sy arms moet hou. Met sy lippe so warm teen hare, besef sy die eerste keer hoe innig lief sy hom werklik het en hoe wonderlik dit is om lief te hê. Al sou dit op hierdie oomblik gereën, gehael en gesneeu het, sou dit vir haar nog steeds die wonderlikste dag van haar lewe gewees het, want in haar hart het vandag iets nuuts ontkiem, iets groots – die liefde.
“Tina, my liefling,” fluister Renier teen haar lippe, “ek gee nie ’n flenter om wat jou pa sê nie, maar jy gaan my bruidjie word. Solank ek lewe, sal ek jou nie aan ’n ander man afstaan nie . . . nooit nie.”
Hy lig sy goudblonde kop op en kyk diep in haar oë wat soos twee donker, bodemlose poele lyk. “Jou pa sal jou moontlik onterf as jy met my in die huwelik tree,” sê hy weer. “Maar sal dit jou hart breek as hy jou onterf?”
Sy skud haar kop. “Dit sal my hart breek as ek jou moet verloor, Renier. Ek het nog nooit iemand so liefgehad soos wat ek jou het nie, nie eens my ouers nie. Trouens, ek is heeltemal bereid om van my pa, my erfdeel en alles afstand te doen en saam met jou van onder af te begin. As ons albei iets verdien, soos Riana-hulle se ouers, sal dit ons nie lank neem om op ons voete te kom nie.”
’n Stadige glimlaggie verskyn om sy mond, en ook sy viooltjieblou oë helder meteens op.
“So, jy is gewillig om jou in ’n kantoor af te sloof,” lag hy. Hy soen haar saggies op die punt van haar fyn neusie. “Dit sal nie nodig wees dat jy in die een of ander kantoor moet werk nie, my skat. Ek is reeds ’n pos in die Orion-staalfabriek in Meyerstad aangebied, met ’n aantreklike salaris – dus sal ek redelik goed vir jou kan sorg. Ek sal jou natuurlik nie die weelde kan gee waaraan jy gewoond is nie –”
“Dit is nie wat ek van die lewe verlang nie, Renier,” val sy hom sag in die rede. “’n Mens kan gelukkig wees sonder weelde. Kyk net hoe gelukkig is Riana-hulle. Hulle is gelukkig soos wat hulle is, want elkeen het sy drome en sy strewe. Ek dink dit is daardie drome en strewe wat verhoed dat ’n mens blasé en doelloos word, later niks meer kan waardeer nie en dat die lewe sy glans verloor.
“Dit is nie die soort lewe wat ek verlang nie, Renier, ’n lewe wat met weelde doodgesmoor word totdat jy jou sin vir waardes verloor het . . . Nee, ek verkies die soort lewe waar ’n mens nog kan droom en die eenvoudige dinge in die lewe kan waardeer. Ek wil saam met jou droom oor môre en al die ander môres, en . . . ek wil saam met jou van onder af begin, Renier, saam met jou ’n gelukkige toekoms bou.”
Hy druk haar stywer teen sy bors vas en sê met ’n baie teer stem: “Ek belowe jou, ons sal al daardie dinge saam doen, my skat. Ons sal ook ons kinders leer dat die mooiste dinge van die lewe in die eenvoudige dinge te vind is.” Hy soen haar diep en innig, dan stap hulle weer verder met die dam se oewer langs.
’n Entjie om die berg se punt is dit so koud in die skaduwee dat hulle maar liewer besluit om terug te gaan.
“Ons sal môre kom kyk wat hier agter die berg aangaan – môreoggend wanneer die son teen hierdie kant skyn,” stel Renier voor.
Hulle loop nog steeds hand om die lyf toe hulle hulle later by hul vriende aansluit, hier waar hulle luilekker langs die viswater in die son sit en hengel. Trouens, die drie mans hengel en die meisies hou hulle geselskap.
“Hoe lyk dit, al iets gevang?” vra Renier.
“Nie ek nie, maar Gertman en Hennie het elkeen twee mooi visse gevang,” antwoord Wessel. “Bring jou stok, ou maat, dan kom sit jy en Tina hier by my en Anita.”
Die res van die middag verwyl die jongklomp langs die dam, totdat die son laag in die weste hang en ’n koue suidewindjie opsteek. Hulle het tien kurpers gevang, genoeg vir ’n ete, maar wie gaan die visse skoonmaak? Die mans meen dis die meisies se werk, aangesien hulle die visse gevang het. Die meisies, op hul beurt, meen weer dat die vang van die visse glad nie tel nie, aangesien hulle die manne geselskap moes hou. Hulle kan dus nie die visse skoonmaak en nog bak ook nie, dit sal onregverdig wees.
Daar word oor en weer geredekawel, maar nadat hulle koffie gedrink het, word daar eindelik ’n ooreenkoms getref – die mans sal die visse skoonmaak, maar dan moet die meisies dit vir aandete bak.
Na die ete sit hulle almal om die kampvuur. Hoër op brand ook ’n aantal kampvure, dus is hulle nie die enigste kampeerders hier langs die dam nie. Gerrie sê hy hoor dit spook hier by die dam. Drie mense het glo ’n jaar of wat gelede hier verdrink, en nou wandel hulle snags op die water – lewensgroot en in spierwit geklee.
“Is hulle nie ook wasig, met vuurrooi oë nie, Gerrie?” spot Anita.
“Hulle roep natuurlik die ganse nag om hulp, nè, ou Gertman?” terg Wilma saam.
“Wel, solank hulle net op die water bly en nie ons tente besoek nie, is die Kaap Hollands,” glimlag Tina ondeund.
“Nou ja, as jy vannag jou drie spoke sien en straks bang word, Gertman, moet jy ons maar roep,” bied Riana hulpvaardig aan.
Wessel en Renier bars hartlik uit van die lag.
“Jy sal iets anders moet probeer as jy die meisiekinders wil bang praat, ou maat,” laat Hennie met ’n breë glimlag hoor. “Vertel hulle liewer van die wilde man met die lang hare, rooi oë en baard wat hier in die berg boer –”
“Wilde man se voet,” val Anita die jong man laggend in die rede. “Dis ’n rondloper wat die vorige dag te diep in die bottel gekyk het, vandaar die rooi oë.”
Almal begin hartlik lag.
“Nou ja, aangesien julle dit nie reggekry het om die meisies bang te praat nie,” laat Renier hoor, “kan ons gerus besluit wat ons môre gaan doen. Ons durf nie elke dag en heeldag hengel nie, want dan sal die meisies afgeskeep voel en dit mag nie gebeur nie.”
“Jy het ’n punt daar, ou maat,” stem Wessel saam en plaas nog ’n stomp op die vuur. “Ek stel voor dat ons net smiddags hengel. Soggens kan elkeen sy eie koers inslaan. Ek sal graag daardie diep, bosryke kloof agter die hotel wil besigtig. Dié van julle wat wil saamgaan, is natuurlik welkom.”
Hulle sit tot laat die nag om die kampvuur en gesels. Anita is die eerste wat aankondig dat dit tyd is vir soet kinders om te gaan slaap. Hierna word die vuur geblus en die meisies word voor hul tent nag gesê.
Die volgende twee weke vlieg vir Tina en Renier soos ’n droom verby. Die dae wanneer dit nie