Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
rem sy das los en buig oor die planne van die projek waarmee hy op die oomblik besig is. Elke argitek se droom, dink hy vir die hoeveelste keer, en dit omdat daar geen kliënt is nie. Geen direkte kliënt nie, geen man of vrou wat oor sy skouer hang en elke tweede dag van plan verander oor die grootte van die kamers of die ligging van die patio nie. Niemand wat wil weet waarom hy ’n muur hier bou of ’n venster juis só laat uitsteek nie. Die huis word vir ’n Trustmaatskappy gebou en die opdrag was duidelik uitgespel van die begin af. Anders as die meeste huise wil die kliënt nie baie kamers hê nie, wel groot vertrekke. Ruimte is die eerste vereiste en dit skep vir hom interessante uitdagings.
Hy moet deur slim ontwerp in een enorme woonkamer ruimtes skep vir ’n sitgedeelte, ’n televisie-area, ’n eetkamer – en alles sonder dat die kamer ingehok of opgebreek word en dus die gevoel van oop ruimte prysgee.
Die voorlopige ontwerp en planne is sonder meer goedgekeur, hy vermoed deur die trustees self, en op die oomblik is die mure al dakhoogte. Toe hy twee dae vantevore op die perseel was en nog met die bouvoorman gestaan en praat het, het hy tussen die hope bakstene en onvoltooide mure ’n vrou gesien. Sy het met haar rug na hom gestaan; al wat hy kon sien, was ’n slank figuur in noupassende jeans en ’n baadjie, met ’n bofbalpet op haar kop.
Of sy een van die trustees is of die vrou van wie ook al die huis gaan bewoon, weet hy nie en hy het geen poging aangewend om met haar te praat nie. In sy bitter ondervinding is dít waar die hoofpyn begin: by die eggenotes. Hulle vind alles na hulle sin tot op ’n punt, dan begin hulle skielik fout vind en moet hy mure verbreek en verskuif tot alles ’n gemors is.
“Haai,” onderbreek Kerneels sy konsentrasie en loer by die deur in. “Ek stuur Lindie om vir my ’n toebroodjie te gaan haal. Ek is honger. Wil jy iets bestel?”
“Nee dankie,” sê Theo afgetrokke. “Ek het ’n groot ontbyt gehad.”
“Natuurlik,” merk Kerneels op. “Wat sy vir jou gekook het?”
“Nee,” antwoord hy, sy oë op die lyn wat hy besig is om te trek. “Sy sê sy is nie my huishoudster nie.”
“Nou toe nou.” Kerneels is beïndruk. “Wil jy my sê jy het uiteindelik een gekry wat nie net op haar knieë voor jou val en vra wat haar heer en meester wil hê nie?”
“Kerneels,” sê hy ergerlik. “Jy pla my. Ek praat nie van Jenny nie, ek praat van . . .” Hy staan skielik regop, beweeg sy skouers wat stram voel van die gebukkende houding, en frons. “Ek weet nie eers wat haar naam is nie! Genugtig, dít het nog nooit vantevore gebeur nie.”
“Nee, sies man, Theo,” sê Kerneels afkeurend. “Dis nie soos ek jou grootgemaak het nie. Nou-nou nog het jy my vertel die nuwe nommer se naam is Jenny. Wie se naam ken jy nie?”
“Die meisie wat gisternag daar geslaap het.”
Kerneels se oë rek. “Dit was nie Jenny nie?”
Theo se aandag is weer by sy ontwerp. “Nee, genade, ek het haar gisteraand vir die eerste keer ontmoet. So wild is ek darem nie.”
Kerneels krap sy kop. Sy wilde blonde krulhare lyk altyd deurmekaar en nou selfs erger. “En die meisiekind wat daar oornag het – wanneer het jy haar ontmoet?”
“Ek het haar nie ontmoet nie. Ek sê dan nou vir jou ek weet nie eers wat haar naam is nie.”
Die tegniese punte ontgaan Kerneels, hy lyk net verwilder. “Hoe lank ken jy haar dan al?”
“Ek ken haar nie. Sy was gisteraand ook op Petro se partytjie. Loop nou, ek is besig.”
Kerneels onttrek kopskuddend. “Lindie,” roep hy in die gang af. “Wag tot jy dié storie hoor. Dis alles veel, veel erger as wat ek en jy in ons onskuld besef het. Tien rand is nie meer genoeg nie, ons sal dit moet opstoot.”
Theo ignoreer die gespot, al sy aandag by sy werk. Hy hou net op om vir Jenny te bel en af te spreek om haar daardie aand te kom oplaai vir ete en ’n fliek.
Sy was vriendelik genoeg oor die foon, maar toe hy oorkant haar sit in die restaurant is sy nie heeltemal so koketterig soos sy die vorige nag was nie. Hy skink maar vir haar wyn in, vra uit na haar werk en bewonder die kuiltjies in haar wange as sy glimlag. Sy is baie inskiklik, besef hy. As hy sê dis koud, stem sy saam. Toe hy haar vra wat sy wil eet, sê sy hy moet besluit.
“Is daar nie iets waarvan jy besonder baie hou nie?” vra hy.
Sy glimlag stralend. “Nee.”
Hy probeer haar uitlok deur oor aktuele sake te praat, maar loop hom vinnig vas. Sy lees nie koerante nie, vertel sy hom, en kyk ook nie na die televisienuus nie. As sy televisie wil kyk, huur sy ’n video. Dis om die waarheid te sê die enigste gebied waar sy vaste voorkeure het. Sy kan al die filmhelde bespreek asof sy hulle persoonlik ken en hy moet na ’n ellelange relaas luister oor een of ander man se gebroke huwelik en waarom dit gebeur het.
“Jy hou dus van romantiese prente?” vra hy.
“O ja,” sê sy. “Dis al waarna ek kyk. Party het ek ses keer gesien.”
In sy binneste sug hy en wonder byna oombliklik waarom dit so is. Hy moet oud word. ’n Jaar gelede sou ’n pragtige meisie soos Jenny hom op die plek verower het deur te erken sy is romanties. Hy het nie met mooi meisies uitgegaan omdat hulle aktuele sake kon bespreek nie – om die waarheid te sê, hoe minder opinies hulle gehad het, hoe beter.
Daar was byvoorbeeld – wat was haar naam nou weer? Elise? Elaine? Eloïse? In elk geval, sy kon net oor haar katte praat. Syself was mollig en kort, nie die soort meisie van wie hy normaalweg hou nie, maar so onbevange vrolik en ongekompliseerd dat hy nie anders kon as om van haar te hou nie.
Aan die begin het hy dit selfs amusant gevind om te luister na die gebabbel oor Mattewis se gewoontes, die kat se wit voetjies, sy manier om op jou skoot te kom lê sodat jy die room van jou koek met ’n lepeltjie kon afskraap en vir hom voer.
“Jy luister nie na my nie,” pruil Jenny en hy knip sy oë vinnig en kyk verskonend na haar. “Jy’t dit gisteraand ook gedoen.”
“Ek is jammer,” sê hy en glimlag sy gewone sjarmante glimlag, al kort dit sy gewone entoesiasme.
Hy vind die bioskoopprent ongenadiglik lank en vervelig. Tienermeisies, identies in kleredrag en lang blonde hare, giggel op die skerm, raak verlief, raak ontgogel, maar hou nooit op giggel nie.
“Dit was pragtig,” sug Jenny toe hy haar huis toe neem. “Hulle was almal so jonk en mooi!”
Hy soen haar op die wang toe hy haar by haar voordeur groet en vermy die effens verwytende blik wat sy hom gee, asof sy iets meer hartstogteliks verwag het. “Ons kuier weer,” belowe hy. “Gisternag het ek baie laat in die bed gekom.”
“Ja,” sê sy beteuterd. “Sal jy my bel?”
“Natuurlik.”
Maar toe hy sy voordeur agter hom toetrek, is sy das al los en skop hy sy skoene af voor hy met ’n geoefende sprong lankuit op sy bank neerval, sy kop in die sagte kussing en sy oë klaar weldadig gesluit.
Hy ruk regop en kriewel sy neus. Sy bank ruik na iets anders, iemand anders. Hy buig af en ruik aan die kussing. Ja, ’n ligte, vervlietende reuk van parfuum, en nie ’n parfuum wat hy ken nie.
Dis daardie meisie, dink hy vies en draai die kussing om. Hy hou van ’n bank wat net na lap ruik. Hy wil nie sy kop in iets druk wat subtiele geure uitdamp nie.
Hy maak sy oë weer toe en dink aan Jenny. Dis ’n deprimerende gedagte. Sy wou hom innooi en hy wou liewer huis toe kom. Hy lig sy hand en voel aan sy voorkop. Nee, hy is nie koorsig nie. As sy ma daar was, het sy gelag, want sy is selfs meer krities oor sy leefwyse as Kerneels. Sy verseker hom elke keer dat sy hom sien dat hy op die pad na die verderf is, dat sy nie weet wat sy verkeerd gedoen het om so ’n losbol vir ’n seun te hê nie en dat sy met haar hele hart wag vir die dag dat hy sy kop hard gaan stamp.
Dis nie sy skuld nie, dink hy. Op hoërskool