Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
het nog nooit . . .”
Sy roep die kelner nader. “Jy hoef nie vir my te jok nie,” fluister sy vir Theo. “Ek is nie een van hulle nie. Genooi of ongenooi.” Sy kyk op na die kelner en glimlag verblindend. Die man wankel ten spyte van haar oudmodiese haarstyl. “Die rekening, asseblief. Ons moet nou gaan.”
“Ek sal vir die rekening vra,” sê hy betigtend.
“Ek het dit nie geweet nie. Is dit etiket?”
“Ek weet nie wat dit is nie, dis bloot hoe ek dit verkies. As manlike chauvinis,” voeg hy by. “Jy sal dit begryp, ek is seker.”
“Maar ons betaal tog apart,” sê sy, nie seker of hy ernstig is of met haar spot nie.
Hy antwoord nie, wag tot die kelner die rekening voor hóm neersit en druk sy kredietkaart bo-op albei strokies neer. “Ek sal vir ons al twee betaal,” sê hy in die soort stem wat nie teenkanting duld nie. “Die hemel weet, jy het my deurmekaar genoeg. Laat my toe om iets normaals te doen. Dit kan ’n antidoot wees teen jou intuïsie of sesde of sewende sintuig. Hoeveel het jy?”
“’n Paar ekstra,” sê sy op haar vae manier. “Jy het hulle ook, jy gebruik hulle net nie.” Sy skuif die pakkie oor na sy helfte van die tafel. “Hier. Ek hoop jy hou daarvan.”
“Ek kan nie,” begin hy. “Dis regtig nie nodig dat jy . . .”
“Asseblief.” Sy kyk pleitend na hom. “Ek sal beter voel.”
Die kelner bring die rekening terug en hy teken die strokie, druk sy kredietkaart terug in sy sak en staan op, die mooi toegedraaide pakkie in sy hand. “Wel,” sê hy. “Dankie.”
“Dis ’n plesier.”
Sy staan ook op en loop voor hom uit na die deur. Toe hulle buite op die sypaadjie kom, kyk sy weer na hom. “Is jy seker ek kan jou nie gou kantoor toe neem nie?”
“Nee dankie, dis kwalik ’n blok weg.”
Sy haal haar motorsleutels uit haar handsak. “Dankie vir die ete,” sê sy skamerig.
“Dis ’n plesier,” eggo hy haar. Hy kyk hoe sy die motordeur oopsluit. “En luister, as jy in die vervolg met my wil kontak maak, doen iets so normaal soos kyk in die telefoonboek.”
Sy klim in, klap die deur toe en draai die venster ’n ent oop. “Hoe kan ek?” vra sy vrolik. “As ek nie weet wat jou naam of van is nie?” Sy lig haar hand, kyk in die truspieël en gly glad in die verkeer in.
“Wag!” roep hy agter haar aan. “Ek weet nog minder wat jóú naam is!”
Maar sy hoor hom lankal nie meer nie. Hy sien net hoe die pragtige wit motor om die volgende draai verdwyn.
Hoofstuk 5
Theo stap by sy kantoor in, sit die pakkie neer en staan dit ’n oomblik swyend en aankyk, maar voor hy dit kan oopmaak, kom Kerneels in.
“Lekker geëet?”
“Ja dankie.”
Kerneels knik in die rigting van die pakkie. “Gee die kelnerinne nou vir jou presente?”
“Nee, dis daardie meisie.” Hy staar nog peinsend daarna.
Kerneels kyk op na die dak en rig sy woorde aan die strookligte. “Daardie meisie, sê hy. As enigiemand anders so iets sê, sal ons weet van wie hy praat. Vir Theo om dit te sê, lei net tot verwarring.” Hy kyk af na sy vriend. “Watter meisie?”
“Ek weet nie.” Hy skud sy kop asof hy nog las het van die spindrade. “Ek weet nie eers of sy ’n meisie is nie. Of waarvandaan sy kom nie. Definitief nie van dieselfde plek as ek en jy nie.”
Kerneels kyk hom gemaak besorg aan. “Natuurlik nie,” sê hy sussend. “Daar het gisteraand ’n vlieënde piering geland, hoor ek vanoggend by my vrou, en die vreemde wesens het glo sommer uitgestap en met die mense begin meng en . . .”
Theo kyk op na sy kennisgewingbord wat oorvol notas en knipsels is. Hy stoot ’n paar eenkant toe en wys na ’n glansfoto van ’n motor. “Jy weet hoe voel ek hieroor,” sê hy asof hy nie sy vriend se gebabbel gehoor het nie. “Dis my droomkar.”
“Weet ek,” gee Kerneels toe. “En nes ons solvent genoeg is, gaan jy dit koop.”
“Wel, sý het. Sommer in haar etenstyd.”
Kerneels sug. “Wie is sý?”
“Die meisie. Die een wat die nag ná Petro se partytjie by my geslaap het. Op my bank. Die irriterende een.”
Kerneels trek sy oë op skrefies. “Dinge word duideliker, ja, ja, ek dink ek sien ’n skrefie lig. Die een wie se naam jy nie weet nie.”
“Mm,” sê Theo peinsend. “En sy het nie geweet of sy dit kontant moet koop en of die handelaar iets so waardeloos soos ’n tjek sal aanvaar nie.” Hy kyk na Kerneels. “Sy wou nie hoogverraad pleeg nie.”
Hy kan dit nie help nie, hy leun vorentoe en begin lag. Hy lag dat sy skouers skud en toe hy ophou, vee hy oor sy oë. “Toe ek die begrip verduistering verduidelik, het sy gesê dis soos die son en maan.”
Kerneels lyk gekweld. “Ek dog jy drink nooit oor middagetes nie?”
“Ek het net ’n bier gehad. Glo my, dis nié drank wat die verwarring veroorsaak nie.”
Kerneels kom nader en sit sy arm besorg om Theo se skouers. “Theo,” sê hy. “Om geld te verduister, is nie dieselfde as ’n tjek wat hop nie.”
“Ek weet, ek weet, maar toe sy met die sonsverduistering begin, het ek ophou verduidelik. En haar tjek het kennelik nie gehop of enige ander beweging uitgevoer nie, die kar het voor die restaurant gestaan.”
Kerneels begin terugloop na die deur. “Ek dink ek moet jou ma laat weet. Ek waarsku jou al lank jy gaan een of ander tyd uitbrand met die meisies.” Hy lyk droewig. “En as jy nou my opinie gevra het, het ek gesê dis tyd dat jy die dommes uitsif. Jy dink maar jy hou van ’n mooi gesig en ’n mooier lyf, maar jy wil nie regtig met ’n meisiekind sit wat skrik as sy ’n breinsel sien nie.”
Theo kyk vinnig op. “O, sy is nie dom nie, glo my, sy is nie dom nie.”
“Wie?” vra Kerneels geduldig en leun teen die kosyn. “Wie is sy?”
Theo skud sy kop. “Ek weet nie.”
Kerneels loop terug na sy kantoor en wonder wie mens bel, ’n sielkundige of ’n psigiater?
Theo skeur die papier van die pakkie af en maak die vierkantige boks versigtig oop asof dit ’n bom kan wees. Hy suig sy asem in toe hy die sneespapier wegvou en die glasappel uitlig. Hy draai dit heen en weer, stap nader na die venster en kyk hoe die lig daardeur skyn. Dis ’n ongelooflike mooi ding, besef hy. En oud. Waar het sy dit gekry? Hoe kan sy iets so mooi vir hom gee net omdat sy ongevraag op sy bank geslaap het?
Hy dra dit versigtig na sy lessenaar en sit dit neer. Dan sak hy in sy stoel neer en draai stadig heen en weer terwyl hy dit bestudeer. Enigeen met ’n oog vir ontwerp en perfeksie moet bekoor word, maar dis te . . . te kosbaar. Skinkbordlappies, het sy gesê. Waslappies, ja. En hy was nie vriendelik met haar nie, hy was onbeskof. Hy het haar sonder enige hoflikheid laat verstaan dat sy onwelkom is, dat hy wil hê sy moet loop. En dis hoe sy hom bedank.
Werktuiglik steek hy sy hand uit na die telefoon en besef net so skielik hy kan haar nie bel nie. Hy trek die telefoongids nader en kry die biblioteekdiens, maar die lys takbiblioteke is ’n halwe kolom lank. Hy het geen benul by watter tak sy werk nie en selfs al het hy geweet, wat sal hy sê? Ek wil met ’n meisie praat wat ’n bril dra en haar hare in twee bolle oor haar ore vassteek?
Dan kikker hy op. Sandra. Natuurlik. Hy haal sy sakboekie uit, kry haar nommer en skakel. Eers toe hy na die gelui sit en luister, besef hy sy is nog by die werk en hy wil net neersit, toe die telefoon opgetel word.
“Ja?”