Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
uit haar gesig met die agterkant van haar hand en loop voor hom uit na die woonkamer. Sy lig die gehoorstuk, skakel ’n nommer en lig haar stem tot ’n gesellige toon toe iemand antwoord.
“Oom Jasper,” sê sy. “Ek het ’n messelaar hier by my wat ook ’n loodgieter kan wees en hy sê ons moet die water toedraai voor hy die wasser kan vervang.”
“Argitek,” prewel Theo en gaan sit solank, want hy kan sien dit gaan ’n lang gesprek wees.
Sy luister met groot konsentrasie, knik kort-kort en begin dan gesels. “En Jonty?” vra sy. “Het hy toe die werk gekry?”
Theo wonder hoeveel kinders oom Jasper het, want sy het nou al die geboorte van iemand se kind, die eksamenuitslae van ’n ander een en die werksmoontlikhede van ’n derde bespreek. Hy is net van plan om vir hulle te gaan koffie maak toe sy die gesprek afsluit, die voordeur oopmaak en in die gang af verdwyn. Hy bly gelate sit, sien ’n elektriese verwarmer en skakel dit aan.
“Kry jy koud?” vra sy toe sy terugkom. “Ja, seker. Ek is so warm gesukkel met hom.”
“Oom Jasper of die kraan?” Hy hou sy hand in die lug. “Nee, ek wil nie weet nie.”
“Hy is toe,” sê sy triomfantlik. “En oom Jasper sê as jy hulp nodig het, moet ons net laat weet.”
Hy staan op, loop na die badkamer en draai die knop af. “Het jy ’n skroefsleutel?”
Sy kyk af oor haar jurk wat al begin droog word.
“Dis nie ’n deel van jou lyf of ’n kledingstuk nie,” sê hy. “En dis onteenseglik manlik, maar moenie my vra waarom ek so seker is nie. Het jy een?”
Sy lyk bekommerd. “Ek weet nie. In ’n laai in die kombuis is gereedskap.”
Hy loop soontoe, krap rond tussen naelvyltjies, eetstokkies, yskasmagnete, inkopiestrokies, twee botteltjies hard geworde naelpolitoer en ’n hand vol plastiekeetgerei. Daar is nie ’n skroefsleutel nie, wel ’n tang waarmee hy regkom.
Sy staan belangstellend by terwyl hy die wasser vervang en slaan haar hande opgetoë saam toe hy klaar is en hulle staan en kyk hoe die kraan droëbek oor die wasbak hang.
“Hy lek nie meer nie,” sê sy.
Hy gooi die ou wasser in die snippermandjie en haal sy baadjie van die haak af. “Nee.”
“Ek sal vir ons gaan koffie maak,” sê sy. “Jy kan by die verwarmer gaan sit.”
“Dankie,” sê hy en kyk na sy hande wat inderdaad rooi is van die koue, maar hy sit skaars, toe roep sy benoud uit die kombuis: “Daar is niks water in die krane nie!”
Hy knyp sy oë vir ’n sekonde toe, staan op en loop in die gang uit om die watertoevoer weer oop te draai.
Hoofstuk 6
Hulle sit albei met hulle hande om die warm koffiebekers en staar na die rooi gloeiende elemente van die verwarmer.
“Dis baie lekker,” sê Theo. “Dankie.”
“Eintlik moet mens nou eet,” sê sy. “Dis al etenstyd, nie koffietyd nie.”
“Miskien.” Sy gesig vertrek by die gedagte aan die vorige aand se pyniging.
“Het jy ’n maagseer?” vra sy simpatiek.
“Nie normaalweg nie, nee, maar gisteraand moes ek ’n vreeslike kerriebrousel eet. My gestel sidder nog.”
“Siestog,” sê sy. “Jenny?”
Hy vererg hom nie meer nie. “Ja.”
“Seker die kos verbrand en toe kerrie bygegooi.”
“Presies.”
Sy drink haar koffie in stilte. “Het jy al iets omtrent die kuiltjies gedoen?” vra sy belangstellend.
Hy kan nie help nie, hy lag. “Nee, maar ek het die moontlikhede ondersoek. Ek dink nie sjampanje sal werk nie; só diep is die kuiltjies ook nie.”
“Jy kan haar naeltjie probeer,” merk sy peinsend op.
Hy kyk kwaad na haar. “Ek wil nie haar naeltjie probeer nie! Moenie so uitgesproke wees nie.”
“Ek wou net help,” sê sy.
“Behalwe dat ek nie hulp nodig het nie.”
“Dis waar,” erken sy.
Hy tel vinnig tot tien. “Luister, om terug te kom na die appel. Dis regtig te kosbaar. Jy kan dit nie sommer vir my gee nie.”
Sy kantel haar kop weer skuins. Die haarstringe het droog geword en is agter haar ore ingedruk. “Maar jy hou daarvan.”
“Natuurlik hou ek daarvan. Dis lieflik. Dit gee my enorme estetiese bevrediging.”
“Nou ja?”
Hy sug swaar. “Ek voel nou skuldig. Deur dit te gee, het jy my skuldig laat voel. Gloeiende kole op my hoof.”
“Dis altyd goed om iets nuuts te ervaar,” sê sy wys.
Hy kyk onthuts na haar. “Soos wat?”
“Skuld. Jy’t dan nou net so gesê. Dis seker nie iets wat jy al ooit vantevore gevoel het nie.”
“Ek sal maak of ek dit nie gehoor het nie,” antwoord hy kalm. “Ek is nie ’n psigopaat nie.”
Hy swaai sy kop om en sy lag onbevange. “Ek . . .” begin hy. “Jy maak dit regtig nie maklik vir ’n mens nie. Kan ek nie iets doen om te . . . te vergoed nie?”
“Jy hét die kraan reggemaak.”
“Iets beters,” sê hy. “Kan ek jou nie uitneem vir ’n ordentlike ete nie? Of na ’n opera. Iets waarvan jy hou.”
“Haai,” sê sy. “Nee wat, dis mos nie nodig nie. Ek is nie een van jou meisies nie.”
Hy voel asof hy homself – óf haar – oor die kop wil slaan. “Ek neem ander mense ook uit vir ete,” sê hy afgemete. “Vriende, kollegas, kliënte.”
“Ek het sop,” sê sy skielik. “Ja, ja, ek het sop. ’n Groot kastrol vol. Moet net opgewarm word.”
“Hoekom?” vra hy deur die spinnerakke deur.
“Warm,” sê sy. “Voedend. Salwend op ’n protesterende maag.” Sy staan reeds op.
“Ek wil jóú uitneem om op te maak vir my onbeskoftheid daardie aand,” sê hy moedeloos. “Ek het nie geskimp dat ek honger is nie.”
“Maar ék is. Ons het etenstyd gaan ry en ek het net ’n broodjie by my tee gehad en dit was al elfuur vanoggend.”
“Wie is ons?” vra hy en loop agter haar aan na die klein kombuisie. Hy ken die kombuis, al het Sandra nooit veel tyd daarin spandeer nie. Dit lyk nog dieselfde, te klein, swak beplan.
“Ek en sy,” sê sy oor haar skouer terwyl sy die kastrol op die stoof sit en ’n vars bruinbrood begin sny, wat hom laat besef hy is inderdaad honger. “Ek en my kar. Ons wou bietjie rondry.”
“Jy kan nie sonder haar . . . Jy kan nie sonder jou kar rondry nie,” korrigeer hy haar. “Jy hoef dus net te sê jy het gaan ry.”
“Ja, ek kan,” sê sy koppig. “Ek kan in iemand anders se kar ry.”
Hy gee die stryd gewonne. Hy vat die borde wat sy aangee en dek vir hulle by die klein tafeltjie in die eethoekie. En die sop is lekker, so lekker soos sy ma dit maak. Hy proe niks ongewoons nie, dis net dik groente en stukke vleis, amper soos ’n bredie.
“Heerlik,” sê hy toe hy klaar is. “Jy’s die eerste meisie wat ek ken wat ordinêre sop kan kook.”
“Dit is ’n kompliment,” glimlag sy. “Veral komende van jou, want jy moes al alles wat deur vrouehande gemaak