Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
duur ’n tydjie voor die motor afgelaai is, die honde tot bedaring gekom het en sy ma hulle in die enorme kombuis voor die Aga sitgemaak het. Die meisie sê nie veel nie, maar haar oë skitter agter die groot brilglase en haar wange gloei rooi van die skielike hitte en die glas wyn.
“Ek het ’n stoofpot gemaak,” vertel sy ma terwyl sy rondskarrel tussen die stoof, diverse kassies en die groot tafel waarvan die een helfte bedek is deur ou koeverte, tydskrifte, brosjures en hondekos. ’n Dik gemmerkat kom ingestap, kyk almal uit die hoogte aan, bly voor die meisie staan en takseer haar vir ’n oomblik voor hy grasieus opspring en op haar skoot gaan lê.
“Klap hom af as jy nie van katte hou nie, hartjie,” sê mevrou Senekal.
“Nee, nee,” glimlag die meisie en krap die kat agter sy ore.
“Ai tog,” sug mevrou Senekal en beweeg in die rigting van die sifdeur. “Ek het die dinges . . . Ek is nou terug.”
“Kan ek nie help nie, Ma?” vra Theo.
Sy waai net met haar hand en verdwyn uit op die donker stoep. Die kat is verlief op die meisie se dik kabeltrui. Met sy voorpote knie hy die sagte wol en spin al harder.
“Hy hou van jou trui,” sê Theo, nou warm en ontspanne en bereid om vriendelik te wees.
“Ek het dit self gebrei.”
“Is dit so? Jy is vol talente.”
Sy kyk na hom oor die kop van die spinnende kat. “En ek gaan nie vir jou ook een brei nie.”
“Dis ook nie wat ek gesê het nie!”
“Want jy moet kaste vol truie hê,” gaan sy onverstoord voort. “Wat jou meisies vir jou . . . oeps, ek is jammer. Ek het belowe om nie daaroor te praat nie.”
Hy maak sy oë vir ’n lang, gepynigde sekonde toe. Hy moes die glasappel saamgebring het sodat hy dit die hele tyd voor hom kan hou om hom te herinner waarom hy homself soveel leed aandoen.
“Ek is jammer,” sê sy spytig. “Ek het onderneem om iets te doen en ek hou nie daarby nie. Dit sal nie weer gebeur nie.”
Hy drink liewers nog ’n sluk wyn en antwoord nie.
“Kan jy my glas aangee?” vra sy vriendelik. “As ek nou oorleun, gaan jou kat afval.”
Hy gee haar glas woordeloos aan en wonder waar sy ma so lank bly.
Die meisie drink ’n klein slukkie, sit die glas op ’n koerant neer en kyk na hom. “My hare maak my seer,” sê sy beleef. “Gee jy om as ek dit losmaak?”
“Hoekom vra jy vir my? Jy kan met jou hare doen net wat jy wil.” Maar hy kyk gefassineerd hoe sy haarnaald na haarnaald uit die stywe knoets op haar kop trek. Dit interesseer die kat ook, hy lig sy kop en toe sy klaar is en die dik, blink massa losskud, steek hy ’n poot uit en klap na die string naaste aan hom.
Teen sy beterwete, teen al sy voornemens en instinkte in is Theo bekoor. Die glansende hare wat nou oor haar kop aftuimel, in haar dun, wit nek invou en dan oor haar skouers val, is iets wonderliks.
“Jy het pragtige hare,” sê hy. As dit iemand anders was, het hy nou vorentoe geleun en sy vingers daardeur getrek.
“Ek weet,” sê sy, sien dan die kwaai flits in sy oë en tel weer haar glas op. “Ek bedoel, dankie.”
“En jy noem mý arrogant.”
“Ek kan mos nie sê dis lelik nie?” vra sy. “Dit sou ’n leuen wees.”
“Ek veronderstel so,” gee hy toe. “Dis net dat meisies gewoonlik ten minste maak asof hulle nie weet nie. Beskeie.”
Sy sug. “Ek weet ons mag nie oor meisies praat nie, maar jy sien, ek is onbekend met die speletjie wat hulle speel. Jy, as die kenner, moet my maar reghelp.”
Gelukkig kom mevrou Senekal op hierdie oomblik terug en red die meisie se lewe, want Theo was besig om te besluit tussen verwurging en versmoring.
“A,” sê mevrou Senekal. “Ons kan nou eet.” Sy kyk bewonderend na die meisie se los hare. “Ek sien jy het jou gemaklik gemaak, hartjie. En sulke pragtige hare.”
“Nee,” sê sy met neergeslane oë. “Dis lelik.”
Theo spring so woes op dat hy moet gryp na sy stoel of dit val om. “Ek sal vir Ma die bakke op die tafel sit. Waar is die aanvatlappe?”
Die meisie het ook opgestaan ná sy die gesteurde kat versigtig opgetel en weer op die stoel neergesit het. “Mag ek gou my hande was?” vra sy.
“Haai, hoe sleg van my,” sê mevrou Senekal. “Jy moet dink ek is so ’n slegte gasvrou.” Sy kyk na Theo, maar hy buk voor die oop oonddeur en syself het twee skottels in haar hande wat haar begin brand sodat sy dit vinnig na die tafel moet dra.
“Theo sal jou wys, hartjie.”
Die meisie knipper haar groot oë. “Wie is Theo?” vra sy.
Hoofstuk 8
Mevrou Senekal kyk onbegrypend van die een na die ander, gee ’n goedige laggie en wys Theo moet gou maak. Hy het nie haar aanhitsing nodig nie, hy stoot die meisie omtrent by die deur uit en in die rigting van die badkamer. Daar gekom, maak hy die deur oop, sy hand nog vas om haar arm, en klap dit agter hulle toe.
“Ek sit jou op die eerste vliegtuig huis toe!” sis hy deur sy tande. “Wat dink jy doen jy?”
“Ons het nie met die vliegtuig gekom nie,” sê sy.
“Hou op kibbel! Wil jy hê my ma moet dink ons is al twee die kluts kwyt? Dat jy van ’n ander dimensie gestuur is om my lewe bitter te maak, het ek aanvaar, maar is dit nodig om so voor my ma te wees?”
“Wat het ek gedoen?” vra sy.
Hy hou haar nog altyd aan die arm vas en skud haar asof sy ’n lappop is. “Wie is Theo? Wié dink jy is Theo?”
“Hoe moes ek weet wat jou naam is?” vra sy. “Ons is nog nooit voorgestel nie.”
“Moenie jou dom hou nie. Hoeveel mans was daar in die kombuis? Wie kon moontlik Theo wees behalwe ek?”
“Die kat.”
Hy los haar arm, vee oor sy voorkop en staan weg. “Die kat. Hoekom het ek nie daaraan gedink nie? My ma sal die kat vra om jou na die badkamer te neem.”
Sy kyk hom bedaard aan. “Jou naam is dus Theo. Theo Senekal.”
“Ja,” sê hy bitter. “En wat is joune, voor jy ons weer in die skande laat beland?”
“Therese,” sê sy.
Dit vang hom onkant, hoekom weet hy nie. Miskien omdat dit ’n mooi naam is, maar ook ’n gewone naam. “Jy is dus nie na jou planeet genoem nie.”
Sy kyk hom betekenisvol aan. “Mag ek nou die badkamer gebruik? Ons wil nie hê jou ma se kos moet koud word nie. Of wil jy saam met my ingaan?”
Hy draai om, loop uit en stap terug na die kombuis.
“Lieflike meisie,” sê sy ma vir hom toe hy gaan sit. “En ’n sin vir humor.”
“O ja,” sê hy. “Therese is ’n grapjas. Ek is gedurig aan die lag.” Haar naam voel nog vreemd op sy tong, vir een of ander rede is hy spyt dat hy dit nou ken.
Sy kom terug, hulle begin opskep en – asof sy geweet het dat haar gasvrou dink sy is snaaks – ontpop sy in ’n baie bekkige verteller van insidente, hoofsaaklik in die biblioteek. Theo kan sommer sien sy ma hou by die minuut meer van haar en dit stem hom beswaard. Therese se blink hare swaai soos sy beduie, haar mooi wit hande skets situasies in die lug bokant die tafel, sy moet net kort-kort haar bril terugdruk.
Ná hulle koffie gedrink het, gaap hy onwillekeurig en sy ma raak saaklik. “Jy is moeg,” sê sy. “Julle het nie net ver gery nie, maar ook ’n