Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
Ry waarheen?”
“Ons gaan Seychelle toe,” sê sy kortaf. “Ek’s moeg vir die koue.”
“Ek wil jou nie ophou nie,” sê hy vriendelik. “Ek soek eintlik jou woonstelmaat. Jy sien, sy . . .”
“O, nee, nee, nee,” val sy hom in die rede. “Wag ’n bietjie, Theo. Jy gaan nie nou net omdat jy moeg is vir al die meisies met my vriendinne begin nie. Vergeet dit.”
“Ek wil niks begin nie,” sê hy, nie meer so vriendelik nie. “Ek wil net weet waar sy werk en wat haar naam is, want ek moet . . .”
“Jy moet niks nie. Los haar uit. Daar roep Riaan al, ek moet waai. Tata, Theo. Geniet die koue, hoor!”
Hy hoor die klikgeluid en smyt die telefoon grimmig neer. “Wel, vergeet dit dan,” sê hy hardop en loop na sy tekenbord.
Daardie aand sit hy oorkant Jenny in haar woonstel en knibbel aan oneetbare soutigheidjies wat sy vir hulle reggemaak het. Sy dra ’n eenstukpak in ’n materiaal wat lyk na silwer plastiek en sy sit langs hom op die bank, haar bene onder haar ingevou en haar hare los oor haar skouers. Uit die kombuis kom die reuk van iets wat verbrand het.
“As ek jou nie gebel het nie,” sê sy, “sou jy my gebel het?”
“Natuurlik,” antwoord hy werktuiglik en bestudeer haar kuiltjies. Hulle is oulik, moet hy toegee, maar of hulle diep genoeg is om sjampanje in te gooi, weet hy nie. En al lyk sy so gewillig, weet hy nie of sy te vinde sal wees vir ’n gedribbel van sjampanje in haar nek nie. Belangriker selfs: is hy nog te vinde vir sulke verspottighede?
Toe hy teen middernag in sy badkamer staan en wag dat die teensuurtablet bruisend moet oplos in ’n glas water, is sy gedagtes selfs bitterder. Hy sal die meisies moet los, al is dit net ter wille van sy gesondheid. Die kerriebrousel wat Jenny hom vanaand aangebied het, was verskriklik. Hy vermoed dit het nie as kerrie begin nie, die brandende kruie en speserye is bygevoeg na die oorspronklike dis – wat dít ook al was – verbrand het. Hoe ook al, die eindresultaat was vernietigend.
Hy het soveel water gedrink as wat moontlik was en die vleis onder ’n hoop slaai – wat darem eetbaar was – probeer wegsteek, maar selfs die bietjie wat hy noodgedwonge ingekry het, het sy spysvertering skade aangedoen.
Te veel meisies het hom te veel vreemde kos ingegee, dink hy toe hy later in die bed lê. Daar was die vegetariese een by wie hy soveel bone, lensies en soja ingekry het dat hy nou nog skrik as hy ’n spruitjie in sy slaai sien. En die een wat lesse geneem het in Japannese kookkuns. Haar woonstel was vol vlak bakke water met twee klippe en een lelie in; verstokte, geteisterde bonsaiboompies en – op sy bord – rou visrolletjies. Hy het haar vergeefs probeer vertel dat hy in die Bosveld grootgeword het, dat hy wel van vis hou, maar dan die gebakte variëteit. Sy het hom verseker dat dit baie gesond is en omdat sy so oulik was, het hy dapper aan repe seewier gekou en gewonder of hy dit daarna kan waag om haar te soen met ’n mond wat na die see sal smaak.
Die een wat haar eie pasta gemaak het, was ’n wenner. Hy hou van Italiaanse kos, maar die een wat begogel was met haar wok en liters sojasous het hom ook knaend by die apteek gehad op soek na verligting.
Hy maak sy oë oop en kyk hoe ’n koue, wit maan deur die venster skyn en die glasappel in ’n melkerige lig baai. Hy kon dit nie in sy kantoor los nie, hy moes dit huis toe bring sodat hy aanhoudend daarna kon kyk.
En die volgende middag, toe hy in sy motor klim ná werk, besluit hy hy sal die meisiekind moet bedank. Hy wil haar regtig nie weer sien nie, maar goeie maniere is goeie maniere en hy moet die regte ding doen. Miskien is sy nog nie by die woonstel nie en kan hy net ’n baie mooi briefie onder die deur stoot.
Maar sy is daar. Hy moes twee keer klop en hy het sy voorbereide briefie uitgehaal toe die deur skielik oopvlieg.
Sy dra wat vir hom lyk na sy oupa se naghemp, ’n lang, los, gestreepte ding oor ’n nou broek – en sy is nat. Haar hare is op haar kop gebondel, die meeste hang nou in geïrriteerde, nat stringetjies langs haar gesig.
“Hallo,” sê hy. “Ek wou net . . . ek móés net kom dankie sê vir die pragtige appel.”
Sy glimlag haar normale, toegeeflike, susterlike glimlag. “Dis ’n plesier.”
“Nee,” sê hy en staan effens nader. “Regtig. Jy moes dit nie gedoen het nie. Dis te mooi en ek wou jou nie eers daar gehad het nie.”
“Ek weet,” sê sy.
“Dan moet jy verstaan hoe sleg ek voel. ’n Waslappie sou beter gewees het.”
“Jy het gesê jy wil nie waslappies hê nie,” herinner sy hom.
“Ek weet, maar toe het jy klaar die appel gekoop.”
Sy skud haar kop, een nat string val oor haar bril en sy blaas dit weg. “Ek het dit nie gekoop nie, dit was my ouma s’n.”
“Nee!” roep hy ontsteld. “Des te meer rede. Hoekom gee jy jou ouma se appel vir my? Dis ’n kosbare ding en ek . . .”
“Jy sal dit waardeer,” sê sy en staan tru. “Wil jy inkom? Jy het mos gesê jy is ’n messelaar.”
“Argitek,” korrigeer hy. “Maar hoekom vra jy? Is jy besig om ’n muur te bou?”
“Nee, dis die kraan. Weet jy van loodgietery?” Haar gesig is ernstig.
“’n Bietjie.”
Sy druk die voordeur toe en stap bibberend voor hom uit na die badkamer. “Sjoe,” sê sy. “Jy het nou koue lug laat inkom en dis klaar so koud.”
“Ek is jammer.” Hy bly staan in die badkamerdeur. Daar is nogal baie water op die vloer, sien hy. “Wat makeer die kraan?”
Sy kyk ongelukkig na die wasbak. “Hy drup. Gisteraand het ek hom bloot aangespreek, maar dit het geen effek gehad nie.”
Hy draai sy kop, die nou bekende gevoel van onwerklikheid weer met hom. “Aangespreek?”
“Dit help dikwels, ja,” verduidelik sy in haar onderwyseresstem. “As jy met hom praat en verduidelik waarom wat hy doen so hinderlik is, sal hy ophou.” Sy wys na die druppende kraan. “Hy het nie gereageer nie.”
“Hy? Is die kraan manlik?”
Sy gee ’n laggie. “Natuurlik.”
Hy besluit wyslik om dit vir eers te ignoreer. “Hoe het jy en die vloer so vol water geraak?”
“Ek het die kraan losgedraai, toe spuit die water oor alles.”
Hy knik stadig. “Is water ook manlik?”
“Onsydig, sou ek sê.” Sy kou aan haar onderlip. “Maar nie altyd nie. ’n Waterval is onteenseglik vroulik.”
Hy weet hy beweeg op gevaarlike terrein, maar hy kan dit nie help nie. “Hoekom?” vra hy.
“Dis tog voor die hand liggend. ’n Waterval is grasieus, dit gly oor die klippe.”
Hy maak sy oë ’n oomblik toe, kyk dan die kraan ferm in die oog. “Die kraan drup omdat die wasser gedaan is.”
“En ek hét ’n nuwe een!” sê sy gelukkig.
“Dan het ons nie ’n probleem nie.” Hy trek sy baadjie uit en hang dit aan die haak agter die deur. “As jy die vloer met ou handdoeke kan droogmaak, kan ek nader kom. Waar sluit jy die water af?”
Sy is besig om ou handdoeke uit die wasgoedmandjie te haal en kyk hom fronsend aan. “Ek weet nie. Is dit nodig?”
“Dis winter,” sê hy. “In die middel van die somer sal ek miskien nie omgee om onder ’n spuitende fontein te werk nie, maar nou sou ek graag droog bly.” Hy buk af, vat ’n deurweekte handdoek by haar en wring dit in die bad uit voor hy dit teruggee en sy voortgaan.
Hy loop deur die woonstel, kyk in die gang en by die voordeur in elke kas, maar dis ’n ou woonstel, dinge is nie waar