Abel se dogters. Helene de Kock
was en is nou nog asof my pa onder water swem, weet jy …” het sy gesug. “’n Mens tussen visse … Of dalk eerder ’n vis tussen mense. Want hy’s koud en doods. En ek weet nie of hy dit ooit besef nie. Hy dink hy funksioneer normaal, maar dit is nie so nie.”
“Het hy al berading ontvang?” het Henk die onvermydelike vraag gevra.
“Nee. Hy wil niks daarvan weet nie. Sê hy laat nie in sy kop rondkrap nie.”
“Ag tog …”
“Ja … Maar jy kan die perd water toe vat, nè.”
“Jip. Dis mos eintlik die reël dat die perd wat die dorsste is, juis weier om te drink.”
Hulle het bly praat en praat. Sy veral. Dit was of sy nie kon ophou nie. Sy het tot van die werkers vertel. Hulle wat al die jare haar pa so getrou bygestaan het. Van die laataandbesoeke aan die huis van Anna en Thabu, van die seer toe sy moes universiteit toe en Bernadette en Christelle net so by Pa Abel moes laat. En nou dat Bernadette al amper klaar is met haar studies, is daar weer Christelle oor wie sy haar bekommer.
“’n Matriekmeisie het ’n ma nodig, weet jy.”
“Het jou pa nooit weer getrou nie?”
Sy het haar kop geskud. “Nee. Glo my, die bure en vriende het weduwees van oral oor aangery.” En met ’n suglaggie: “Maar Abel Buitendag probeer nie eers ’n praatjie aanknoop nie.”
“Die dag sal nog kom,” het Henk gesê. “Die regte een het nog nie opgedaag nie. Sit dalk nog iewers vasgevang in haar eie smart.”
Hy was doodernstig, die blou blik na binne gekeer. Adelien het hom ietwat verstom aangekyk. ’n Vreemde man, het sy besluit. Die een oomblik so glad soos ’n paling en dan weer stram van erns.
“Waar trek ons nou?” vra Nomsa meteens slaperig en draai skuins op die sitplek om haar lê beter te kry. “Is ons al by Heilbron verby?”
“Lankal,” sê Adelien. “Nog so ’n uurtjie.”
Nomsa dommel weer in en Adelien sug liggies. Die landskap is stewig in die greep van ’n vaalwit winter en dieper die Vrystaat in gaan dit nog kouer wees. Daar was juis vanoggend voorspellings van sneeu op die Maluti’s. Miskien sal dit lekker wees, dink sy, om weer ’n slag op die plaas te wees as die wêreld toe lê onder dik wit sneeu. En miskien moes jy vir Henk saamgevra het, betig sy haarself en kriewel in die sitplek van pure ongemak. Hoeveel male het sy haarself al afgevra waarom sy nie vir Henk plaas toe vat nie. Die hele wêreld weet al van hulle twee. Nomsa het hulle eerste op ’n oggend saam gewaar en dit aan Bernadette uitbasuin wat dit op haar beurt weer vir Pa Abel oorgedra het. En Christelle was natuurlik die een om Adelien te bel en opgewonde uit te vra na die lang blonde man wat glo na Brad Pitt trek. En dit het tot dusver net mooi niks gehelp dat sy hot en haar verduidelik dat hulle net vriende is nie. Nie dat dit heeltemal waar is nie. Nie ná die afgelope drie weke se emosionele ontmoetings nie.
Sy ry ’n rukkie lank gedagteloos, staar na die swart lint van die pad en die blou berge wat vorentoe laag op die horison lê.
Toe eers laat sy haarself toe om te dink waaroor sy al eintlik moes gedink het: Sy en Henk Verwey stuur af op ’n baie ernstige verhouding. As hulle nie al daar is nie.
Want ná daardie eerste oggend se sogenaamde klein vergrypie, was daar baie sulkes. Trouens, dit het spottenderwys ’n sêding van hulle twee geword. Lus vir ’n klein vergrypie? sou hy bel en vra. Dan lag sy net in haar keel en hy beskou die saak as beklink. Daar was baie koppies koffie en vele snye sjokoladekoek wat oggende, middae en aande glad laat verloop het. Ure wat hulle omgesels het sodat hy net mooi alles van haar weet.
Een laatmiddag het hulle oor die kampus gestap, voor die Aula verby na die restaurantjie met sy tafels onder die bome. Hy het vir ’n oomblik sy arm om haar geslaan en haar liggies teen hom vasgedruk. Dis toe dat Nomsa en twee van haar mede-eerstejaars hulle klaarblyklik gesien het. Want die volgende dag in die klas was daar ’n onstigtelike gefluit toe sy agter die kateder inskuif. En op die bord agter haar was ’n groot hart geteken met ’n H en ’n A vervleg daarin. Onder dit was geskryf: In die sielkunde is die hart van die mens deursigtig.
Sy het skeefweg geglimlag en die klas het gebulder. Dié vrypostige geslag studente wat grootgemaak is om hul eie selfbeeld te poets, was min gepla oor hare. Dit was nogal moeilik om die lesing te voltooi, maar sy het deurgedruk. Alle verdere skimpe geïgnoreer. Daardie aand is sy en Henk na sy ma toe. Die wit, regop meenthuisie was vol van die geur van warmgebak en die parkiete het vrolik gefluit. Die kat het hom teen haar kuite kom vlei en Sarah Verwey het haar sonder skroom teen haar moederlike bors vasgedruk: “Henk het my so baie van jou vertel,” het sy geglimlag. “Kom, ek het soetkoekies gebak en hier’s ’n hele pot vol tee.”
Dit moet in die familie loop, het Adelien agterna besluit. Want die vrou het dit reggekry om haar alles te laat vertel van Abel Buitendag en sy drie dogters wat so sonder ma moes grootword. Toe hulle daar weg is, was sy en Henk elkeen ’n yslike baksel semelbeskuit ryker en sy het ’n uitnodiging gehad om so gou moontlik weer te kom. Dit was maklik om dit te aanvaar, want Sarah se meenthuis was ’n hawe. Daardie aand het Henk Adelien vir die eerste maal gesoen. Baie versigtig, asof sy ’n tiener was wat nie moes skrik nie. Die liefkosing het haar lank laat wakker lê, laat wonder waarom hy nie meer driftig was nie. Want daar was baie emosie tussen hulle. Maar sy was verniet bekommerd. Die volgende keer dat hulle uitgegaan het, was om La Traviata in die Staatsteater te gaan kyk. Sy het soos ’n prinses gevoel in haar lang koningsblou rok en stringetjie pêrels wat sy laas Kersfees by Pa Abel gekry het. En Henk het heelaand om haar gedraai, haar liggies aangeraak, haar vingers deur syne gestrengel. Terug in haar woonstel, met die deur toe agter hulle, het hy haar opeens vas teen hom getrek, met sy lippe oor haar keel en wange gestreel. En toe het hy haar gesoen met ’n hartstog wat haar kop laat sing het. Sy het hom uitasem weggedruk: “Henk …”
“Sjuut …” Hy het haar oor en oor gesoen totdat sy haar laggend uit sy arms losgemaak het.
“Henk … dis … ek weet nie wat om te sê nie.” Dit was immers die waarheid. Ten spyte van die lang, goedbeplande aanloop en die onbetwisbare aangetrokkenheid, was sy onseker.
Adelien sug weer diep toe sy deur Bethlehem ry. Dis goed dat hy nie saamgekom het nie. Sy het ’n paar dae nodig om te dink. Anderkant Slabberts se heuningbruin sandsteenkoppe pomp sy Nomsa liggies in die sy. “Wakker word, ons is amper daar!” En op impuls: “Nomsa, moet asseblief nie te veel sê van professor Verwey nie, hoor!”
“My ma sal wil weet,” antwoord Nomsa moedswillig.
“Ek vra mooi.”
“Oukei. Maar jy moet my vertel as alles finaal is, hoor.”
“Niks is finaal nie, Nomsa!” keer Adelien verskrik. Voeg darem meer besadig by: “Nou maar goed, as daar iets kom van die vriendskap tussen my en professor Henk Verwey, sal ek jou eerste laat weet.”
Nomsa snork liggies en haal haar skouers op. “As ék darem so ’n mooi man kry, sal die wêreld dit gou-gou weet.”
“Ek glo jou,” lag Adelien toe hulle met die laning kaal kerspopuliere opry na Stille Weide se spitsdakopstal. En die dak moet weer ’n slag rooi geverf word, merk Adelien op. Die dooie kannas in die ronde sirkel voor die stoep moet afgeknip word en een van die tuinkrane drup ’n silwer strepie. Sy sal maar vir Thabu vra om ’n tydjie af te knyp en daarna om te sien, want Pa Abel sal net afwesig knik en daarvan vergeet.
Hulle word soos altyd ontvang: ’n Opgewonde Christelle en lang, gryskop Abel wat sy oë bewoë knipper as hy groet. Sy oudste met ’n skraal arm ’n oomblik krampagtig teen sy bors druk en net so gou weer los, krapperig keel skoonmaak om te vra: “Het julle mooi gery?”
“Natuurlik, my Pappie,” lag Adelien en druk hom weer. Hy verduur dit, draai toe om en sê oor sy skouer: “Nou ja, ek moet kraal toe … sien julle twee later. Nomsa, sal jy regkom met jou tas?”
“Ja wat,” lag sy. “Adelien sê mos ek het sterk en vet geword!”
Latlyf Christelle