Abel se dogters. Helene de Kock

Abel se dogters - Helene de Kock


Скачать книгу

      Abel kug sag. “Lyk my … jy’s ernstig as jy al van die man se ma begin hou.”

      “Ag nooit, Pa! Ons is regtig net goeie vriende.” En dit val haar by: “Terloops, ek het vanmiddag met hom gepraat … Hy wonder of ons versigtig genoeg is hier op die plaas. Ek bedoel, noudat daar so baie plaasaanvalle is.”

      Abel verstil, tuur fronsend na die halfleë sopbord. “Ons … het al by die boerevereniging daaroor gepraat. Dis nie dat mens niks doen nie. Ons loop katvoet. Die jonger boere ry snags patrollie. En Thabu sê ook hy en die ander werkers sal dadelik rapporteer as daar vreemdelinge hier opdaag. Hulle is tog maar net so versigtig soos ons.”

      Adelien loer na Christelle. Dié sit verlore in haar eie gedagtes, proe aan klein-klein bietjies van die sop op ’n slag. Dat die gesprek nie ’n rimpeltjie in haar bewussyn maak nie, is duidelik. En meteens voel Adelien vir die eerste maal werklik onrustig. Hierdie twee mense wat sy liefhet, woon alleen hier op die vredige werf van Stille Weide. Niks gewelddadigs het hulle nog ooit hier bedreig nie. Hulle het nie eens ’n hond nie. Katte wel – sommer wilde katte waarvoor daar saans ou politoerdeksels met melk in uitgesit word.

      “Waarom het ons nie ’n hond nie?” vra sy en weet dat sy in haar lewe nog nooit eintlik daaroor gewonder het nie. Onthou met ’n skielike flits van helderheid dat die hond destyds mos ook dood is. ’n Paar dae nadat hulle haar ma begrawe het. Sy sien aan Abel se stroewe gesig dat hy dit ook bitter goed herroep. Sy oë het dofgrys soos reënweer geraak. Dit was ’n nat, bewolkte dag toe een van die bure wat kom medelye betoon het, met die wegtrek bo-oor die slapende rifrug gery het. Sy naam was Pote. ’n Luierige ou hond wat amper nooit geblaf het nie. Maar hy was daar. ’n Asem op die werf. Anders as die sluipende katte. Nadat Abel en die huilende dogtertjies hom agter die roostuin begrawe het, was daar nooit weer ’n hond nie.

      “Waarom het ons nie …” begin sy flouerig.

      Abel haal apaties skouers op. “Ag wat … Dit was nie nodig nie.”

      Dis Christelle se opgewonde klokstem wat hulle laat opskrik. “Maar ons kan mos nou een kry! Ag toe, Pa, dit sal tog te cute wees om ’n klein hondjie in die huis te hê.”

      “Darem nie binne-in die huis nie …” keer Abel en kyk hulpsoekend na Adelien.

      “’n Grote vir die werf en een kleintjie om alarm in die huis te maak,” sê sy beslis en maak die leë sopborde bymekaar. “Ek sal vir Henk vra of hy weet van iemand wat Duitse herdershonde teel. En ook foksterriërs. Of dalk weet sy ma. Sy lyk so of sy iets van als kan weet.”

      “Klink na ’n cool tannie,” merk Christelle op en kyk ondersoekend na Adelien. “Miskien maak sy ’n gawe skoonma.”

      “Ag toe nou, só naby aan mekaar is ek en Henk werklik nog nie!”

      “Maar julle is tog committed?”

      “Wat verstaan jy onder die woord?” wil Adelien ongemaklik weet. “Ek het die idee dat julle skoolkinders ander betekenisse aan woorde heg.”

      Christelle ruk haar terstond op. “Nie almal wat skoolgaan, is meer kinders nie en ons verstaan die presiese betekenis van elke donnerse woord wat daar is!”

      “Chrissie …” betig Abel skaars hoorbaar.

      “As jy dink kru taal laat jou volwasse klink, dink weer,” sê Adelien styf.

      Christelle lag en staan op om die borde by haar te vat. “Aag … ’skuus! Dis net dat jy my so vies maak as jy dink ek is nog jou klein sussie.”

      “Jy is dit,” sê Adelien kwaai, “en ’n mens is g’n volleerd as jy in matriek is nie!”

      “Bla, bla, bla …” giggel Christelle en verdwyn die kombuis in.

      Abel sit kop onderstebo sodat Adelien die pienkerige kroontjie tussen die ylwordende hare kan sien. En ’n wilde paniek swel in haar. Hierdie mens is hoegenaamd nie opgewasse teen sy tienerdogter nie. Waarom het sy dit nie vroeër so duidelik gesien nie?

      Toe Christelle terugkom, gaap sy demonstratief.

      “Ek wens ek kan nou gaan doeks, maar ek moet nog leer. Ek skryf môre ’n aaklige vraestel. Geskiedenis by ou Antiekus.”

      “Jy bedoel … meneer Jooste,” betig Abel floutjies.

      “O, is dit sy naam?” terg Christelle en kom soen hom en Adelien al twee nag.

      Dis nog grysvroeg toe Adelien al roer en klaarmaak om dorp toe te gaan. Sy trek haar beige snyerspakkie met die bont sybloes aan en neem haar jas, vat haar hare agter haar kop in ’n Franse rol vas en sit pêrelknopies in haar ore. Sy bekyk haarself krities. Amper soos ’n dorpstannie, erken sy aan haarself. Tog, dit behoort te werk. Die man moet sien sy’s ernstig. Jy bedoel verstok, praat ’n stemmetjie in haar agterkop en sy draai verergd weg van die spieël af. Sy bly in haar kamer totdat Thabu vir Christelle kom oplaai het om skool toe te gaan. Toe eers glip sy uit en ry saam met Pa Abel wat ook een en ander by die koöperasie te doen het. Maar toe hy haar voor die imposante sandsteengebou met sy blinkgeverfde sinkdak aflaai, voel sy soos die eerste dag toe sy hoërskool toe gekom het. Groen. En hopeloos onbekwaam. Altyd nog het sy hierdie dowwe angs vir nuwe situasies gehad. Dis hoog tyd dat sy dit afskud. Maar … sê nou die man lag vir haar. Of erger: sê nou hy vererg hom? Dis per slot van rekening banaal om te dink dat hy meer as die gewone belangstelling in ’n skooldogter het … Sy trek haar skouers agtertoe en sluit haar mond ferm, begin aanstap met die paadjie na die groot voordeur toe. Ek kan Roald Henning hanteer, dink sy. Ek weet mos hoe werk ’n mens se kop. Ek het nie net die instink daarvoor nie – ek het ook die boekekennis en die ervaring en … Sy sien opeens haar weerkaatsing in die blinkgewaste glasdeur en skrik effens. Miskien is Nomsa reg, dink sy vervaard. Ek is hopeloos te maer. En stokkerig soos ’n meerkat. Dalk moes ek die wye denimromp en parmantige kort baadjie aangetrek het. Of die knalrooi kerkpakkie.

      Maar toe een van die sekretaresses haar opmerk, kom sy dadelik en maak die deur wyd oop. “Hallo, Adelien!” lag die dikkerige vroutjie. “Lanklaas gesien! O, maar jy lyk deftig! Ek hoop dis vir ons hier by Heimat Hoër dat jy so mooi aangetrek het?!”

      “Dit is, tant Geertjie,” glimlag sy. “Ek was eeue laas hier … enne … ek het gedink dit sal goed wees om meneer Henning te kom sien. U weet, met dié dat Christelle al amper die skool verlaat, en so aan …”

      “En so aan, inderdaad,” knik die vrou en frons liggies. “Christelle lyk juis in die laaste tyd vir my so bietjie af. So asof sy gebuk gaan onder iets, weet jy.”

      “Al die leerwerk, ongetwyfeld,” keer Adelien fluks, wel wetend dat tant Geertjie nie eens ’n halwe woord nodig het om ’n skinderstorie uit te ruik nie. Die vrou knik swaarwigtig en lei haar dadelik na die adjunkhoof se kantoor toe, kondig haar aan met ’n onderdanige teemstem wat Adelien amper laat giggel. Die liewe tant Geertjie is darem so kleindorps as wat kan kom. Die adjunkhoof is amper so goed soos die keiser en wee jou as jy ’n oneerbiedige woord uiter … Soos wat dit is, staan die keiser haar op die mat voor sy lessenaar en inwag.

      “Dankie, mevrou Kestel,” sê hy sag, “maak asseblief die deur toe.”

      Tant Geertjie se ronde mond gaan gaperig oop en toe maak sy maar so. En opeens kan Adelien dit nie meer hou nie en sy sê glimlaggend: “Sy sou baie graag hierdie gesprek wou hoor!” Sy steek haar hand uit na hom en hy vat haar vingers stewig vas, sy blinkbruin blik stip op haar. Toe glimlag hy ook.

      “Vir seker sou sy dit wou hoor. Dis nie elke dag dat ’n leerling se mooi suster hier besoek aflê nie.”

      Adelien voel ergerlik hoe die bloed na haar gesig stoot, maar nog voordat sy iets kan sê, val hy haar in die rede. “Dis nie ’n kompliment nie, juffrou Buitendag. Dis bloot ’n estetiese feit, as daar so iets is. Sit gerus.”

      Sy besluit om hom ook onkant te vang. “Meneer Henning, ek is veel meer as Christelle se suster. Ek is in baie opsigte ook haar primêre opvoeder en versorger.”

      “En ek, as haar onderwyser, is jou gesagsvennoot. Trouens, in loco


Скачать книгу