Abel se dogters. Helene de Kock

Abel se dogters - Helene de Kock


Скачать книгу
haar. Het nie drie woorde gepraat nie en toe ry die vrou. Sy vat mos nie nonsens nie. Voorlaas Saterdag toe ek en Thabu dorp toe was, het Evelina vir my gesê haar mevrou sal ook nie weer kom nie, want sy loop nie agter ’n man aan wat nie van ’n graf kan wegkom nie.”

      Adelien se mond sak oop. “Praat die mense dan so?” wil sy weet al ken sy die antwoord. Anna klik net met haar tong.

      “Niemand is meer jammer vir hom nie … En dis sleg. Jy weet mos hoe maak mense. Hulle sê dis al jare en jare. Abel Buitendag moet nou al gesond wees.”

      “Maar hy is mos,” brom Adelien en weet dat sy kinderagtig is. Sy is net so oneindig moeg vir hierdie soort gesprek oor haar pa. Sy staar moedeloos na Anna waar sy nou ’n paar eiers in ’n hopie meel in ’n bak breek en dit vernuftig met ’n houtlepel bykom. Die vrou bewerk die deeg totdat dit botterglad is en toe eers kyk sy op.

      “Jou pa sal nie weer trou nie, Adie. Hy wil nie. Hy het sy hart baie diep gebêre.”

      Adelien snuif-snuif aan die geur van die lou deeg en sug swaar. “Ek wens soms so hy wil weer begin lewe. Regtig lewe, weet jy. Nie dat ek mooi kan onthou hoe dit nou eintlik was nie. Maar ek dink hy het regtig nou ’n vrou nodig.”

      Ná middagete stap sy oor die werf verby ’n klompie weglêhennetjies wat ywerig skrop en deur ’n strook hoë bloekoms al op met die sandsteenkop tot heel bo. Daar gaan sy sit en tuur ver uit oor die wit stoppels van die afgeoeste landerye. En ’n ent nader onder aan die kop se verste kant, knus tussen ’n klomp ou populiere se dik silwerkaal stamme, lê die ou ruïnes van die Voortrekkerhuis van die Geysers. Toe die ander Voortrekkers in 1837 hier weg is die Drakensberge oor, het hulle agtergebly, betower deur dié wêreld van pienk en ligbruin sandsteenrotse, hoë koppe en sagte deinings. Soos van kindsbeen af verwonder Adelien haar aan die verkrummelde tekstuur van die horingou mure. Selfs ’n deel van die kraal met sy ronde rivierklippe het behoue gebly. Die suurlemoengeel van die winterson glim koesterend op die stukkende ou sandsteen. Baie vertrekke se buitelyne het verstommend heel gebly deur die jare, maar die dak is natuurlik toeka daarmee heen. Maar Pa Abel en Thabu sorg nogal dat dit nie verder verweer nie. Het selfs hier en daar al iets vasgesement.

      “Hoekom doen Pappa dit?” het Adelien as sesjarige verstom gevra. “Gaan hier iemand kom bly?”

      Abel het orent gekom met die troffel en Thabu se langsame bewegings soos wat hy ’n klip optel en op sy plek sit, het verstil. “My kind, hier hét iemand gebly … ménse … En hulle moenie heeltemal wegraak nie.”

      Woorde wat haar nog altyd bybly. Ménse het daar gebly … Sy het haar later jare toe sy daarlangs gestap het, verbeel sy kon stemme tussen die ou mure hoor. Sy frons skielik. Een naweek nie lank gelede nie was Bernadette saam met Dirk hier. En hulle het na die ou ruïne toe gestap – ongelukkig net nadat Dirk en pa Abel vasgesit het oor die politiek.

      “Nutteloos om die ou plek te probeer dokter,” het hy gebrom toe hy die vars sement opmerk waarmee Abel net die vorige week nog ’n ruwe stuk sandsteen op sy plek teruggesit het.

      Adelien het die onrus in die man aangevoel en die simpel opmerking geïgnoreer, en vooruitgeloop. Sy was nie lus vir die aanvoelbare dog onderdrukte onmin tussen dié twee nie. Na agtertoe kon sy die gedempte drif van Bernadette se antwoord hoor alhoewel die krummelrige ou mure die woorde gesmoor het. En dié Dirk was opgeruk totdat hulle laat die middag teruggery het Pretoria toe. Adelien sug swaar. Ag, sal haar liewe rooikopsuster tog nie maar van die man afsien nie? Dis meer as genoeg dat Christelle so onstuimig is.

      Die winterson op haar kop maak haar effens loom en toe haar oë begin knip-knip, vis sy gou haar selfoon uit haar sak. Toe Henk antwoord, is sy onnoemlik bly. Sy groet hom jubelend sodat sy die gespanne opwinding in sy stem hoor toe hy haar antwoord: “Waaraan het ek dié heerlikheid te danke? Hier sit ek in ’n muwwe ou kantoor en haal stapels werk in … en ek kry ’n oproep van die allermooiste, allerliefste …”

      “Hokaai!” lag sy. “Ek sit hier op ’n koppie en die hele wêreld lê onder my.”

      “Alléén?!” vra hy dadelik.

      “Natuurlik, jong! Dis nie die stad hier nie!”

      “Adelien … ’n Mens lees amper elke dag van plaasaanvalle!”

      ’n Ligte rillinkie trek deur haar. “Maar … ons het nog nooit moeilikheid gehad nie. Ons ken al ons werkers al jare der jare lank. Hulle sal nooit …”

      “Nee, seker nie. Maar dis glo nie juis waar die probleem lê nie. Dis rondlopers en onwettige immigrante. Daar’s miljoene van hulle in die land en …”

      “Ag wat,” keer sy, opeens niks lus vir so ’n gesprek nie, “ek glo my pa sal voorsorg tref as hy dink dis nodig. Hy is ook darem nie dom nie!”

      “Natuurlik nie,” paai hy gou. “Ek is maar net bekommerd. Julle moet versigtig wees, Adelien.”

      “Ons is. Maar wag nou! Waar was ek? O ja, ek sit hier bo-op die kop en kyk uit tot doer oor die anderkantste bulte. Die landerye is kaal gestroop en die veld staan vol droë waaigras. Die populiere daar onder by die ou ruïne steek sulke kaal, silwerige vingers die lug in. Tog is dit vir my mooi. Ek voel soos ’n heerseres.” Sy sug skielik. “Dis net, ek is nie een nie. Ek is bloot ’n baie bekommerde vrou.”

      “Vertel!” gebied hy onomwonde. “Eers van die ruïne en dan van jou kwelling!”

      Sy maak so, draal breedvoerig by die ou verhaal en val toe plotseling weg met Christelle se storie. Maar sy noem nie Roald se naam nie. Eers laat sy toe dat die onderliggende angs holderstebolder in woorde uitborrel sodat sy uitasem stilbly toe sy klaar is. Daar is ’n klein swye en toe gee hy ’n ligte steuntjie.

      “Jy vermoed dat die man dalk te veel van Christelle hou?”

      “Ek weet nie,” antwoord sy dadelik. “Ek weet glad nie wat hy dink of voel nie. Sy geselskap is intellektueel en nogal boeiend. En hy gee nie die indruk van ’n man wat vreeslik geïnteresseerd is in bloedjong meisietjies nie. Al wat my eintlik diep kwel, is dat Christelle die skoot baie hoog deur het. Sy praat feitlik net oor hom. En dan is daar die reël uit ’n gedig wat hy vir haar saamgegee het …”

      Henk luister swyend en toe sê hy ferm: “Gaan sien die man, Adelien. Soos wat jy praat, klink hy tog nie onaardig nie. Die gediggie, of wat ook al, is dalk maar sommer net. Hy doseer tog Afrikaans, nie waar nie? Nee wat, vertel hom van jou vermoedens en dat jy besorgd is oor Christelle se gemoedstoestand wat na jou mening alles behalwe taakgerig is. Jy moet oop kaarte speel.”

      Toe Adelien weer terug is by die huis, voel sy heelwat beter. Henk is so bedaard, so rotsvas. Dis lekker om iemand soos hy te hê, dink sy opgetoë. Bly effens verslae voor die spieël staan toe sy besef wat sy gedink het. Iemand soos hy … Maar sy hét hom nog nie. Sy weet ook nie of sy hom regtig nou al wil hê nie. Tog, die vooruitsig is verblydend, dink sy en gaan tap vir haar warm water in om te bad. Sy lê lank in die geurige water, besluit eindelik om sommer môre al skool toe te gaan. Christelle se vakansie begin oor ’n paar weke en dis beter dat sy wat Adelien is, hierdie gesprek agter die rug kry voordat daar luilekker dae aanbreek. Miskien moet sy Christelle kom haal om die skoolvakansie by haar in Pretoria deur te bring.

      Maar die aand aan tafel, kry sy hewig teenstand. Christelle wil niks weet nie. “Meneer gee dié vakansie ekstra Afrikaans klasse vir die graad twaalfs en ons kry ekstra wiskunde ook.”

      Dis Abel wat onverwags Adelien se arms sterk: “Dink jy nie ’n vakansietjie sal jou goed doen nie, Chrissie? Jy doen tog baie goed in Afrikaans en ek dink nie dis nodig …”

      “Pa, ek bly net hiér,” antwoord Christelle met stywe kake.

      “Als reg,” glimlag Adelien en trek groot oë vir haar pa. “Miskien kom ek en Henk dan maar vir julle kuier.”

      Christelle laat sak haar lepel met ’n plonsie in die dik ertjiesop. “Henk …?”

      “Professor Henk Verwey. Hy is ook by die Sielkundedepartement. Ons is goeie vriende.”

      Christelle se gesig klaar aansienlik op.


Скачать книгу