Abel se dogters. Helene de Kock
zachtheid onbewust …’ Dis uit ’n gedig van Jacques Perk. O Adelien … dié woorde klink soos ’n stroompie oor fyn klippies, nie waar nie?”
“Genade!” het Adelien uitgeroep. “En ek dag die man weet van beter!” Sy het ’n dreigende voorvinger gelig: “Pa gaan hiervan hoor, ou sustertjie! En jou meneer Henning kan in die vervolg van Pa Abel se skaapvleis maar net droom. Hy eet nie wéér hier nie!”
“Sê wie?”
“Sê ék! ’n Groot man wat vir ’n skooldogter rympies voorlees waaroor sy aan die swymel raak, soek moeilikheid!”
“Ag, Adelien,” het Christelle haar fyn hande melodramaties in die lug gegooi, “ek het geweet jy gaan nie verstaan nie! Wat weet jy nou ook van die liefde af? Jy’s al amper agt en twintig en jy was nog nooit verlief nie!”
Adelien wou stik van verontwaardiging. Maar opeens het kennis en ervaring haar te hulp gekom. Christelle is net ’n kind. En sy gaan deur ’n traumatiese fase. Die eindeksamen met al sy angste lê voor. Daarby is daar die onsekerheid oor volgende jaar. En onwetend mis sy die vertroeteling van ’n moeder ook. Sy is ’n weerlose teiken vir kragtige emosies. Hier sal baie suutjies getrap moet word. So sagkens dat Christelle nie agterkom sy word in ’n ander rigting weggelei nie.
Adelien het swaar gesug en haar hand paaiend in die lug gehou. “Toe nou maar … ek … ek begin begryp. Roald Henning is inderdaad ’n … ’n indrukwekkende man. Enne ek glo hy weet wat hy doen. Belowe my net dat jy nou eers jou aandag by jou studies sal bepaal.”
Christelle het haar bedug aangekyk. “Is jy ernstig? Aanvaar jy dat my gevoelens vir meneer Henning nie sommer spookasem is nie?”
Adelien het net geknik, want sy kon haar stem nie vertrou nie. En haar kop het oortyd gewerk. Sy sal iets moet doen en gou ook.
Sy en Nomsa is net vir ’n kort vakansietjie hier, dan moet sy weer terug om klas te gee en aan haar proefskrif te werk. Intussen moet sy sorg dat Roald Henning se greep op Christelle verbreek word. En dit sal sy moet regkry sonder om haar kleinsus van haar te vervreem.
Sy lê ure lank wakker, sluimer eers in ná die staanhorlosie in die gang al twee slae geslaan het. Sy word met ’n ruk wakker toe Anna haar kom roep vir telefoon. En sy strompel gangaf in haar dik japon wat sy koulik om haar lyf vou. Dis Henk. En hy klink ver en vreemd ten spyte van die duidelike verlange in sy stemtoon.
“Ek dag plaasmense roer vroeg?” terg hy met ’n sagte laggie.
“Ek is nie juis ’n ware plaasmens nie,” skop sy teë. “Maar my pa is seker al weg kraal toe.”
“Adelien …?”
“Ja?”
“Ek wens ek kon ook kom …”
Selfverwyt prik opeens deur haar hele lyf. Sy kon hom maar gevra het om ’n paar dae plaas toe te kom, ja. Wat keer my? wonder sy wrang, maar kom tog nie sover om die uitnodiging te rig nie. Sy stoot ’n laggie uit haar keel: “Toe nou, ou martelaar!” terg sy. “Volgende keer as ek kom, kom jy saam! Jy sal stom staan so mooi is die lente dan in die Oos-Vrystaat! Nou is dit vrieskoud en ’n gebore Gautenger sal sommer verkluim!”
“Praat ons oor die weer?” wil hy sag weet.
“Nee,” sug sy dadelik berouvol. Sy kan tog nie oneerlik wees met hom nie. “Nee, Henk. Die waarheid is dat hier op die oomblik ’n paar komplikasies is wat ek eers moet hanteer. Enne … ter wille van … van sekere mense is dit beter dat daar nie nou ’n buitestander hier is nie.”
“Is dit wat ek is?” vra hy dadelik maar keer self sy woorde spytig weg: “Nee wag, dis nie ’n regverdige vraag nie.”
“Nee, dit is nie,” sê sy paaiend, “en jy moenie só dink nie. Jy sal baie welkom wees hier, Henk. Dis net …”
“Toemaar, ek verstaan. Belowe my net dat jy my sal bel as jy vashaak.”
“Ek sal,” beloof sy dadelik. “Want ek dink ek het nog ’n oor nodig. Jy weet hoe moeilik dit is om mense na aan jou te analiseer. ’n Mens is eenvoudig te betrokke.”
“Vertel,” smeek hy saggies.
Maar sy loer gangaf, skud haar kop asof hy kan sien. “Nee, nie nou nie. Later …” Sy groet en lui af. En sy dink: dis nie ’n slegte plan nie. Ek sal vanmiddag ná ete gaan stap en hom met my selfoon uit die veld bel. Daar sal ek die hele saak aan hom voorlê. Hy sal objektief kan dink hieroor. Sy gaan stort en trek aan. Jeans, ’n sagte blou trui en ’n dik baadjie bo-oor. Haar hare laat sy los oor haar skouers tuimel. Toe gaan sit sy by Anna in die kombuis, drink koffie en gesels. Gee volledig verslag oor Nomsa se doen en late op kampus en voel verlig toe Anna tevrede knik.
“Solank sy net mooi leer,” sug die vrou. “My geldsak is dun. Ek weet nie wat ons sou gedoen het sonder jou pa se hulp nie. Nomsa moenie dink omdat sy ’n beurs het en baie goed word vir haar gegee, alles sal maar net goed gaan nie.”
“Sy dink nie so nie,” troos Adelien. “Die een waaroor ek bekommerd is, is Bernadette. Nomsa sê sy sleep met ’n wilde man. Een wat kort-kort ’n ander meisie het.”
“Auk!” klik Anna verskrik met haar tong. “Waarom praat jy nie met haar nie?”
“Ag Anna, as ek haar loop soek, is sy alewig iewers heen en buitendien, op haar ouderdom luister sy nie meer na ’n ouer suster nie!”
“Maar jy’s baie ouer as sy! Sy móét mos luister!”
Adelien skud haar kop. “Nee, dit werk anders met vandag se jongmense. Hulle luister net na hulleself, Anna.”
“Tot hulle in die moeilikheid is. Dan hardloop hulle gou-gou huis toe.”
“Moenie so praat nie, asseblief. Dis erg genoeg dat ek hier moet kom en sien hoe Christelle ’n gek van haarself maak.”
“En nou?” wil die vrou grootoog weet en roer rukkerig in die kastrol op die stoof. “Jy sal iets móét doen, Adie …”
Adelien druk ’n stuk beskuit so heftig in die vol beker koffie dat dit stort. “Ek gaan die man sien.”
“Wat gaan jy sê?”
“Ek weet nog nie. Maar ek sal moet slim wees. Dis nie ’n maklike saak nie.”
“Maar … dis baie maklik!” sê Anna met ’n gesig rond van verbasing. Sy klik weer met haar tong en sit die deksel terug op die pruttende kooksel. “Jy moet net maak of jy hom óók laaik.”
“Ek laaik hom glád nie!” roep Adelien uit. “Jy laat dit nou klink asof ons twee terte is! Die jongste het ’n ‘crush’ en die oudste het troukoors!”
Anna gooi haar kop agteroor en lag dat die trane blink paadjies oor haar gladde wange maak. Toe vee sy dit met haar hande weg en glimlag breed: “Is dit nie so nie? Jy moet tog nou ’n man kry, Adie! Jy kan nie altyd so alleen loop nie!”
“Ek loop regop en alleen!” antwoord Adelien vies. “Ek het nie ’n man nodig om te kan asemhaal nie. En Christelle soek net aandag, dis wat. Hoe gouer sy ook Pretoria toe kom waar ek ’n oog oor haar kan hou, hoe beter. As ons haar net deur hierdie laaste paar maande van graad twaalf kan kry sonder dat sy skade optel, sal ek dankbaar wees.”
Anna klik ergerlik. “Dink jy ek en Thabu en jou pa kyk nie mooi genoeg na haar nie?” wil sy kwaai weet. “Thabu sê sy is soos ons aanneemkind. Hy vat haar nou in die eksamen elke dag skool toe en terug en ons praat meer met haar as wat Abel kans kry om te doen.”
Adelien sprei haar hande in ’n vredesgebaartjie oop. “Ek weet hoe onmoontlik dit vir Pa is om ’n hand vol soos Christelle te hanteer. En ek waardeer elke ding wat jy en Thabu vir my sussie doen, glo my.” Sy frons opeens. “Sê my, kuier Pa Abel nog by daardie weduwee wat musiek gee op Fouriesburg?”
“Nee,” skud Anna kop. “Sy bel hom nou en dan maar hy gaan nooit meer nie. Ek en Thabu sien hy sit maar weer saans so voor die televisie. Hy kyk nuus