Die blou uur. Christine le Roux
ection>
CHRISTINE LE ROUX
Die blou uur
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk 1
Klarissa du Toit sit by haar suster se eetkamertafel, fronsend gebuig oor ’n ovaalvormige tafelmatjie waarop ses sout- en peperpotjies rondstaan. Een, ’n soutpotjie in die vorm van ’n vet rooi aarbei, lê op sy sy en sy raak nie aan hom nie; dis die ander potjies wat rondgestoot word. Aan twee kante van die matjie lê vuurhoutjies in parallelle lyne gepak.
“Nee, ek weet nie,” sê sy vir haarself.
Haar suster Brenda is in die kombuis besig, Klarissa kan haar hoor neurie en herken die treurige afskeidslied uit La Bohème. Dit help nie eintlik nie. Klarissa rol een gewone wit peperpotjie tot by die vuurhoutjies en verander hulle posisie om ’n toe deur voor te stel. Sy hoor die telefoon lui en kort daarna Brenda se murmelende stem. Dan is daar ’n langerige stilte en skielik ’n harde lag.
“Klarís,” sê Brenda en loer om die kosyn. “Doen jy iets volgende naweek? Dis ’n langnaweek.”
“Nee. Sal jy vir my die worcestersous-bottel bring as jy deurkom?”
“Colin wil weet of jy sy vriend se vrou sal wees, sy ouma is baie siek.”
“H’m,” sê Klarissa, kry meteens duidelikheid oor iets en verwyder die potjies, wat van kristalglas is met silwerdekseltjies. “Ja,” sê sy tevrede. “As die Du Toits nog nie aangekom het nie, verander dit die saak.”
Brenda is klaar gepraat en kom staan by die tafel, haar gesig nog vol lag. Klarissa kyk op na haar. “Waar is die worcestersous?”
Brenda verdwyn en kom terug met die bruin botteltjie. “Wat op aarde wil jy daarmee maak?”
“Dis Kasper.” Sy vou ’n papierservet langwerpig en lê dit tot by die vuurhoutjies. “Jy sien, as hy hier gestaan het . . . Dis die gang.”
“Jy’t nie ’n woord gehoor wat ek gesê het nie,” sê Brenda beskuldigend. “En ek het klaar ja gesê.”
Klarissa kyk op en knip haar oë. “Wat het jy gesê?”
“Ek het jou gevra of jy wil maak asof jy iemand se bruid is.”
“Hoe doen mens dit?”
Brenda vee oor haar voorkop soos somtyds gebeur as sy met haar sussie praat. “Jy moet net saam met hom gaan. Colin sê sy ouma is siek of sterwend, ek is nie seker nie. En dis haar laaste wens.”
Klarissa is nou by. “Colin se ouma is lankal dood. Ek onthou dit nog, ek was in my eerste jaar en julle sou my die naweek kom haal het. Dit kon nie en die begrafnis was die Maandagmiddag.”
“Nie Colin se ouma nie!”
“Wie s’n dan?”
“Die vriend s’n. Ek ken hom nie, maar ek het al gehoor dat Colin van hom praat. ’n Skot.”
“’n Skot? Moet ek Skotland toe gaan vir die naweek?”
“Nee, dis sy Afrikaanse ouma wat siek is. Sy bly êrens op ’n plaas. Colin sê hy sal vanaand alles kom vertel, maar hy kan instaan vir die integriteit van die man.”
“Jy weet dis net ’n mors van tyd.”
“Nee, ek weet niks van die aard nie. Dis tyd dat jy mans ontmoet.”
“Maar ek is nie lus daarvoor nie.”
“Doen dit dan as ’n guns vir Colin. En sit die worcestersous-bottel regop of draai die prop stywer, dis besig om uit te loop.”
“Oeps,” sê Klarissa en dep die nek van die botteltjie droog met ’n papierservet. “Nou’s my gang opgefrommel.”
“Behoede my.” Brenda gooi ’n vars servet op die tafelblad. “Hoekom is jy . . .” Sy bly stil en kyk haar sussie agterdogtig aan. “Jy dink tog nie nog steeds aan jou bonatuurlike ondervinding nie?”
“Dit was nie bonatuurlik nie. Dit was helder oordag by die Waterfront.”
“En dit was omtrent ’n jaar gelede.” Brenda kyk haar afwagtend aan, maar toe haar suster nie reageer nie, loop sy terug na die kombuis en klap ’n paar kastrolle onnodig hard op die stoof rond.
Klarissa sit agteroor, die soutpotjies vir ’n oomblik vergete. Agt maande gelede was sy in die stad om die laaste veranderings aan haar vorige speurverhaal met haar uitgewer te bespreek. Dit was ’n lieflike dag, onthou sy. Geen wind, geen reën en die somer het net-net begin wys. Sy het by die Waterfront deur die winkels geloop, was dors en het buite in die son by ’n tafeltjie gaan sit om iets te drink. Sy het opgekyk soos ’n mens maar doen en die man oorkant haar sien sit. Dis nie die mán wat sy raak gesien het nie, haar herinneringe aan sy voorkoms is baie vaag. Dit was sy oë. Sy het nog nooit sulke oë gesien nie. Nie ligblou of donkerblou nie, net blóú en deurskynend en dwingend. Sy kon nie wegkyk nie en hy ook nie. ’n Mens sou verwag dat die een of die ander verleë sou raak, maar dit het glad nie gebeur nie. Hy het haar oë vasgehou en stadig maar seker het sy gevoel hoe sy ingekatrol word; eers haar kop, toe haar skouers. Stukkie vir stukkie het sy in sy oë geval, stadig maar seker het hy haar ingetrek en toe, net voor haar voete ingesluk word, het die inkopiesak van haar skoot afgegly en op die plaveisel geval. Die bottel olyfolie het gebreek en sy moes spring om haar voete en handsak uit die wyer kringende dam olie te red.
Toe sy weer opkyk, was hy weg.
Die kelner was geïrriteerd met haar. Dit het ’n hele pak papierservette gevat om die olie op te vee en hy moes vir haar ’n ander sak bring sodat sy darem die besmeerde kruie en pakkies droë tamaties kon red.
Deur die maande het sy gewonder of dit regtig gebeur het. Soms twyfel sy.
Toe Colin teen laatmiddag by die huis kom, het sy al vergeet van sy vroeëre oproep.
“En toe, sus?” sê hy toe hy vir haar ’n glas wyn bring en sy haar soutpotkarakters eenkant toe skuif. “Jy sê jy sien kans daarvoor?”
Sy is baie lief vir Colin. Haar eie pa is dood toe sy omtrent vyf was en sy onthou hom eintlik nie. Brenda, wat tien jaar ouer is as sy, was ook nie veel meer as ’n figuur op die agtergrond nie, maar ná hulle ma se dood – toe Klarissa veertien was – het Brenda op die voorgrond getree en oorgeneem. Brenda en Colin. Ma en pa, ouer broer en suster.
“Ek het nie regtig geluister nie,” erken sy. “Iemand se ouma is siek. Ek moet sy vrou speel.”
“Dis reg.”
“Ek moet eers met hom praat,” sê Klarissa. “Die grondreëls moet vasgelê word. Ek is nie te vinde vir adolessente verleenthede nie.”
“Soos?” vra Colin en Brenda kom sit ook by die tafel, moeg gewoel in die kombuis.
“Jy weet. ‘O my aarde, daar is net een bed.’ Alles net verskonings om ’n kans te vat.”
“Nee, nee,” verseker Colin haar. “Ek ken Andrew. Hy is glad nie so nie. Allermins. Presies die teenoorgestelde.”
“Tog,” sê sy kwaai. “Ek moet met hom praat en ek wil hom sien. Mens kan nie sommer sulke besluite neem nie.”
“Natuurlik nie. Hy sal jou vanaand bel.”
“Ken ek hom?” vra Brenda. “Die naam klink bekend, maar het ek hom al gesien?”
“Hy was nog nooit hier by ons aan huis nie. Hy doen die soort werk wat hom die hele wêreld vol neem. Nie kantoorure nie.”
“Wat doen hy?” vra Klarissa.
“Man, hy is die hoof van iets te doen met misdaadnavorsing. Wat die instansie presies genoem word, weet ek nie. Hy is eintlik ’n kriminoloog, maar as ek dit reg het, het hy sy loopbaan begin as gewone speurder, toe verder studeer. Ek weet hy is eintlik doktor Cameron, maar hy ignoreer die titel.”
Klarissa se gesig het verander. “Maar dis uitstekend,” sê sy. “Ek kan hom vrae vra! Ek wens nog altyd ek ken ’n speurder persoonlik.”
“Nou toe,” sê Colin. “Dan is hy nou net die regte mens.”
“Cameron