Die blou uur. Christine le Roux
“Maar nou,” sê Brenda. “Dis hopeloos te gou om daarvan te praat.”
“Jy’t dan altyd vir my gesê jy het dadelik geweet Colin is die man vir jou,” sê Klarissa. “Die eerste keer toe jy hom ontmoet het.”
“Ek mag dit in my hart geweet het, maar ek het dit seer sekerlik nie uitgeblaker tot ten minste ses maande later nie.”
“O. Moes ek liewer niks gesê het nie?”
Brenda sug. “Nee, jy kan sê wat jy wil, sus. So ken ons jou mos. Moet net nie oor Apollo begin praat nie, dan raak my geduld op.”
“Ek sal nie,” belowe Klarissa. “En jy hoef jou nie te kwel nie, dis nie asof ’n seremonie nodig is nie. Ek stel nie belang in rokke en ruikers nie.”
Brenda sit regop. “As jy trou, trou jy ordentlik.”
“Hartlam,” maan Colin. “Dis heeltemal te vroeg om te begin stry oor trourokke en sluiers. Ek kon nog nie eers ’n duidelike antwoord kry op my vraag of Klarissa dus die naweek saamgaan na Andrew se ouma nie.”
“Ja, ek gaan. Hy kom my Vrydagmiddag haal.”
“Waar bly sy ouma?”
Klarissa gee ’n laggie. “In die Villiersdorp-distrik.” Sy spreek die naam uit soos hy dit gedoen het en herhaal dit dan korrek.
“Mm,” sê Brenda. “Mooi wêreld.”
“Hy sê in die winter laat dit hom aan Skotland dink.”
Colin roer sy koffie en steek nog ’n sigaret aan ná ’n skuldige blik in Brenda se rigting, wat wil hê hy moet ophou. “Jy wat so verknog is aan jou huis,” sê hy vir Klarissa. “Hoe gaan jy geskryf kry as jy die hele wêreld vol moet reis? Andrew is nie die soort wat agtuur uit die huis gaan en vyfuur terugkom nie.”
“Dis nie nodig dat ek saamreis nie,” sê Klarissa.
“Klink nie vir my na ’n normale huwelik nie,” sê Brenda en klap haarself teen die voorkop. “Wat makeer my? Ek praat al nes jy. ’n Paar uur gelede is jy hier weg om ’n man te ontmoet vir wie jy wou sê jy sien nie kans vir sy verspotte voorstel nie en hier bespiegel ons oor die normaliteit al dan nie van jou huwelikslewe.”
“Sy het ingestem om bruid te speel,” herinner Colin haar.
“Te wees,” sê Klarissa.
Brenda skiet weer kiertsregop. “Suster! Jy hét die reëls neergelê, het jy nie?”
“Watse reëls?”
“Adolessente situasies, het jy dit genoem.”
“O,” sê Klarissa. “Dis nie meer van toepassing nie.”
“Jy bedoel jy het jou posisie duidelik uitgespel?”
“Hartlam,” maan Colin en staan op om darem net die weerberig nog te hoor. “Jy kan nie jou suster behandel asof sy nog sestien is nie. Sy is oud genoeg om vermoedelik te weet wat sy doen of wil doen. Los haar nou uit.”
Brenda sit morrig voor haar en uitstaar terwyl Klarissa die laaste goed afdek en die tafel met ’n klam lap afvee. “Dis seker so,” sê sy ná ’n ruk. “Jy is oud genoeg om te weet wat jy uit die lewe wil hê. Was dit hy wat netnou gebel het?”
“Ja.”
“Hoekom? Het jy iets daar vergeet?”
Klarissa lag. “Nee. Miskien tog. Ons pa se naam was Pierre, was dit nie?”
“Hemel, sus, wat is dit nou? Natuurlik was dit sy naam. Jy weet dit mos.”
“Cassandra se pa was Priam en haar ma Hekabe.”
“Ma was Hanna, doodgewone boerenaam, Hanna. Jy weet dit ook. Gaan jy speurverhale opgee en mites begin skryf?”
Klarissa skud haar kop. “Nee, ek het net gewonder.”
“Wat is jou obsessie met Cassandra?”
Klarissa antwoord nie. Sy pak die laaste goed in die skottelgoedwasser en gooi seeppoeier in die houertjie. “Sal jy aanskakel voor jy gaan slaap? Ek gaan nou lê.”
“Sussie,” sê Brenda en staan op. Sy sit haar hand op Klarissa se arm. “Ek is nie net ’n siniese ou heks nie, ek voel verantwoordelik vir jou. Weet jy dit? Ek weet Colin sê jy’s oud genoeg om te weet wat jy wil hê, maar ek sal altyd verantwoordelik voel. Jy’t anders grootgeword en ek was nie daar om te help nie. Ma was nie daar nie. Ná Pa se dood het sy toegeklap.”
“Jy wás daar. Ek het dan by julle kom bly. Toe was ek te dom om dit te besef, maar dit moet ’n opoffering gewees het. Jonggetroude mense soek nie ’n suster in die huis nie.”
“Dit was glad nie ’n opoffering nie. Ek praat buitendien van die ander jare, die jare tussen Pa en Ma se dood. Dit was afskeepjare. Jy was siek en Ma . . .”
Klarissa soen Brenda op die wang. “Lekker slaap. Ek is gedaan.” Sy loop na haar kamer, trek die deur toe en borsel die laaste klammigheid uit haar hare. Dan trek sy haar trui oor haar kop en bly so staan met die kledingstuk in ’n bondel teen haar bors terwyl sy onthou hoe dit gevoel het toe hy dit gedoen het en hoe reg dit was toe sy sy hande die eerste keer op haar lyf gevoel het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.