Die blou uur. Christine le Roux
te hard op die tafel neer. “Sien jy wat ek bedoel?” vra sy weer. “Jy gaan geen sin uit haar kry nie. Andrew is die man wat sy agt maande gelede gesien het. Sy het my vertel, maar ek het maar stilgebly, want om dit vir jou te verduidelik, sal niks verklaar nie.”
Colin, wat gewoond is aan die twee susters, hou sy hande uit om die seën te vra. “Jou hande is yskoud, sus,” sê hy vir Klarissa. “Kom jy nie nou net uit die warm bad nie?”
Sy begin hongerig eet en antwoord nie. Brenda steek haar vurk in ’n stuk vleis en eet nukkerig.
“Het jy toe ingestem?” vra Colin. “Sien jy kans daarvoor? Jy dink nie meer hy is ’n weerwolf nie?”
“O nee,” sê sy. “Hy kom my Vrydagmiddag haal.”
“Sy ken hom, Colin,” verduidelik Brenda vir die hoeveelste keer. “Hoor jy nie wat ek vir jou sê nie? Sy weet al maande lank van hom.”
Hy frons effens, kyk van die een na die ander. “Sy het dan gesê . . . aan die begin het sy dan gesê . . . En jy het vanoggend vir my gesê sy gaan dit nie doen nie, sy het daarteen besluit.”
“Omdat sy toe nog nie geweet het haar man is jou man nie,” sê Brenda, vriendeliker noudat sy warm kos in haar maag het. “As jy weet wat ek bedoel.” Sy kyk na haar suster. “Het hy geweet dis jy?”
“O ja.”
Colin lyk nou verward. “Jy bedoel toe hy my gevra het . . . toe hy met die storie van sy ouma gekom het, het hy geweet wie Klarissa is?”
“Hy het seker geweet, ja,” sê Klarissa.
“Ek het jou gewaarsku, het ek nie?” sê Brenda gelate. “Haar kop het uitgehaak.”
Colin ignoreer sy vrou. “Maar hou jy van hom, sus?”
“Ek dink ons gaan trou,” antwoord sy en draai die pepermeul oor haar vleis.
Brenda kom halforent, sak terug op haar stoel en druk haar servet teen haar lippe terwyl haar oë uitbult.
“Water,” sê Colin en staan op om by die kraan te skink.
“Trou?” vra Brenda toe sy haar asem terug het en kan praat. “Ná jy saam met hom koffie gedrink het?”
“Die koffie het niks daarmee te doen nie.”
“Jy’t dit begin,” sê Brenda vir haar man. “Dis jou vriend, dis jy wat die hele storie begin het. Kyk nou wat jy kan uitrig, ek gee op.”
“Ek dink ons moet heel voor begin,” stel Colin voor en kyk na Klarissa wat rustig sit en eet, in haar oë ’n veraf uitdrukking. “Jy het nie geweet die Andrew van wie ek gepraat het, is die man wat jy reeds ontmoet het nie? Jy was bang hy is een of ander pervert, maar toe jy hom sien, het jy hom herken.”
“Ek dink ek het hom die heel eerste keer al herken.”
Brenda gluur na haar, maar sê niks nie.
“En jy hou van hom?” vra Colin.
“Baie,” sê Klarissa.
“Sy’t gesê sy gaan met hom trou,” herinner Brenda almal.
“En hy’t geweet wie jy ook is?” vra Colin.
“Ek dink so. Hy weet alles. Waar ek is, wanneer ek hiernatoe kom of by die see is. Alles.”
“Wel,” sê Colin redelik. “Hy het sekerlik die middele of mense tot sy beskikking om dit te doen.”
“O,” sê Klarissa teleurgesteld. “Is dit hoe hy weet?”
Brenda kreun en trek die slaaibak nader. “Wees gewaarsku, sy gaan enige oomblik oor Cassandra begin klets. Dis wat sy doen as mens haar vra of sy bruid gaan speel.”
“Speel?” vra Klarissa.
“En dit van ’n vrou wat nie van mans hou nie,” sê Brenda.
“Dis nie waar nie, sus,” sê Klarissa. “En jy weet dit. Ek het nog nooit iets teen mans gehad nie. Dis net dat almal met wie ek uitgegaan het, verkeerd was. Ek kan nie mans kies soos jy of enige ander vrou dit sal doen nie. As jy weet jy gaan ’n gesin hê of jy verwag ten minste dat dit die geval gaan wees, maak jy ’n ander soort keuse omdat jy weet jou liefde kan versprei word. Jy hoef nie so kieskeurig te wees nie. Jy gaan baie mense hê om voor lief te wees. Iemand soos ek kan dit nie doen nie. Ek sal net een mens hê, daarom moet hy alles wees.”
Brenda antwoord nie, maar daar is meer begrip in haar oë. “Ek weet nie of ek heeltemal met jou saamstem nie,” sê sy ná ’n ruk. “Colin was die man wat ek wou hê, die enigste man. Ek het nie gesit en uitwerk dat ek net halfpad vir hom lief hoef te wees omdat ek mettertyd my liefde sal kan uitbrei na my kinders nie.”
“Dis waar,” erken Klarissa. “Miskien het ek dit swak gestel. Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Al my vorige vriende was verkeerd en ek het dit geweet. Andrew is reg en ek het dit ook van die begin af geweet. Dis waarom ons gaan trou.”
“Ja?” vra Brenda.
“Ja,” sê Klarissa.
“Ná ’n halfuur in ’n restaurant is jy doodseker hiervan.”
“Dit was langer as ’n halfuur,” sê Klarissa.
Colin is klaar geëet en stoot sy bord eenkant toe. Hy soek in sy sak rond en haal sy sigarette uit. “Ek ken Andrew nie intiem nie,” sê hy op sy besadigde manier. “Omdat ons albei in mindere of meerdere mate betrokke is by die regswese het ek hom dikwels raakgeloop. Dis maar die laaste paar maande dat ek hom redelik gereeld sien. Ons het ’n paar keer saamgeëet. Hy het my nog nooit getref as ’n rokjagter nie. Weet jy,” sê hy en kyk na sy vrou. “Dink bietjie aan iemand soos Etienne. Lekker mens, kan baie interessant gesels, maar mens weet die hele tyd sy oë dwaal, hy sien vroue raak, nie mans nie. Hy praat oor hulle. Andrew is glad nie so nie. Van sy persoonlike lewe het ek niks geweet nie, maar ek het ook nooit die indruk gekry dat hy getroud is nie. Hy lyk na ’n alleenloper, hy tree so op en ek het hom definitief nog nooit in vrouegeselskap gesien nie. Sy werk is sy obsessie, dis die indruk wat ek het. Daar’s ’n onwrikbaarheid in alles wat hy doen.”
Klarissa leun vorentoe oor die tafel, haar hande inmekaar gestrengel, haar oë stip op Colin se gesig.
“Dis natuurlik hoekom hy so suksesvol is,” sê Brenda.
Colin lyk effens verleë. “Ek praat asof ons intieme vriende is en dis nie die geval nie. Mans raak mos nie intiem nie. Ons is nie soos julle wat hartsgeheime deel of oor ons onsekerhede praat nie. Ek som hom maar op soos ek hom sien. ’n Mens wat baie hoë eise stel. Die mense wat onder hom werk, verafgood hom, al kan ek nie sien waarom dit so is nie.”
“Bedoelende?” vra Klarissa.
“Ja, dit klink bitsig. Dis nie wat ek wil sê nie. Kyk, jy kry base wat ooglopend vriendelik en gaaf is met die mense wat onder hulle werk en hy is nie so nie. Ook nie onplesierig nie, dis nie wat ek impliseer nie.” Hy gooi sy hande in die lug en mors as op die tafelblad wat Brenda versigtig in haar bakhand afvee en in die asbakkie gooi. “Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Sy mense hou van hom, hulle sal alles vir hom doen.”
“Ja,” sê Klarissa.
“En ek vertrou hom, maar sal nie vir jou kan sê of hy ’n goeie eggenoot sal uitmaak nie.”
Klarissa staan op en begin die skottelgoed wasbak toe dra. Sy wonder hoe sy die wete in haar binnekant vir iemand anders kan verduidelik as sy dit nie vir haarself kan doen nie. Om alleen te bly, soos sy doen, hinder haar nie. Die meeste van die tyd, maar sy is nie ’n masjien nie, sy sien en voel en dink. Sy loop langs die strand, doodtevrede, en skielik is sy net ’n hol dop met ’n hongerte wat skree na iemand met wie sy haarself kan deel. En die mans wat daar al was – sy het hulle ’n kans gegee, sy het nie vooropgesette idees gehad nie. Sy het elkeen met ’n oop gemoed na aan haar toegelaat en almal, een ná die ander, het iets gesê, iets gedoen, op die verkeerde oomblik gelag of sonder begrip na haar gekyk