Die blou uur. Christine le Roux
voeg Brenda by.
“Ja, miskien was dít die band, ek weet nie. Hulle is getroud en terug Skotland toe, waar Cameron senior gaan boer het ná sy vader se dood. Klein plasie in die Hooglande, en dis waar Andrew gebore is en opgegroei het. Blykbaar wou hy altyd kom kyk hoe sy ma se geboorteland lyk. Hy is nou al ’n hele paar jaar hier en het sy ouma goed leer ken. Ek dink hy is die enigste kleinseun, want sy is versot op hom. Al wat haar glo hinder, is die feit dat hy nie getroud is nie. Dis haar hartewens. Sy kan nie doodgaan tot sy weet hy is gevestig nie. En waarop sy veral hoop, is dat hy met ’n Afrikaanse meisie moet trou.”
’n Klein fronsie verskyn tussen Klarissa se wenkbroue. “En nou moet die arme vrou op haar sterfbed gekul word? Een of ander popsie word aan haar voorgehou as haar geliefde kleinseun se Afrikaanse vrou?”
“Jy’s kwalik ’n popsie,” sê Brenda.
“Ja, maar gestel ek hou nie van hom nie en sê nee, dan gaan hy ’n popsie nader hark.” Sy skud haar kop. “Ek weet nie. Dis teen my beginsels. Ek kan nie ’n ouma om die bos lei nie.”
“Praat net eers met hom,” stel Colin voor. “Sy argument is dat die ou dame buitendien nie meer helder van verstand is nie en hy wil haar gelukkig maak. As hy dit moet doen sodat sy gelukkig kan doodgaan . . .”
“Die doel heilig die middele?” vra Klarissa skepties. “Ek weet nie.”
“Ons moet nou eet,” sê Brenda en staan op. “Kan jy jou karakters van die tafel verwyder, sussie? En vir my dek?”
Hulle het klaar geëet toe die telefoon lui. Brenda antwoord en bring die koordlose telefoon vir Klarissa terwyl sy haar gesig na alle kante trek om te wys dis Andrew Cameron op die lyn. Colin verdwyn in die rigting van die televisiekamer en Klarissa bly aan tafel sit.
“Hallo,” sê sy saaklik.
“Klarissa du Toit?” vra hy. “Dis Andrew Cameron hier. Colin het jou seker vertel.”
“Ja.”
“En hy sê jy het ingewillig.”
“Hy sê jy was eens op ’n tyd ’n speurder en doen nou misdaadnavorsing,” sê sy. “Dit spreek my aan. Ek skryf speurverhale, sien, en ek sit nou met ’n groot probleem. Groot is die korrekte woord, want my lyk is ’n vet man. Groot en vet.”
“Ja?” vra hy.
“Ja. Hy lê dood op die sitkamermat, begryp, en sy – die moordenares – moet nou van die lyk ontslae raak. Dis nie maklik nie. Sy kan hom nie dra nie. Sleep, ja, maar nie dra nie. Ek het gisteraand vir Colin op die mat laat lê en ek het hom probeer sleep en byna my rug gebreek. Om hom op te tel en te dra, is totaal buite die kwessie.”
“Ek sou so dink,” sê hy. “Moet dit asseblief nie probeer nie, jy sal jou rug breek.”
“Presies. En Colin is lewend.”
“Ek is bly om dit te hoor.”
“Moenie met my spot nie,” sê sy kwaai. “Daar is ’n verskil tussen ’n dooie gewig en ’n mens wat sy spiere kan beheer en dus onbewus meehelp as jy hom sleep.”
Brenda verskyn weer in die deur, kyk haar suster oopmond aan en loop kopskuddend terug na die kokende ketel.
“Is jou moordenares nie ook groot en vet nie?” vra Andrew.
Klarissa lag. “Nee! Sy’s ’n ou flentertjie. Klein en fyn.”
“En dit moet juis sy wees wat die vet man doodmaak?”
“O ja.”
“Dan het jy ’n probleem. Kan sy hom nie liewers in die tuin doodmaak nie? Dit sal beter werk, want dan hoef sy net die gat te maak en hom begrawe.”
“Ja, maar wat sal hy in die tuin maak? Hy staan in die sitkamer met sy sigaar en glas port. Dis juis die ding. Sy haat die reuk van sigare.”
“En sy maak hom dood net omdat sy nie van die reuk hou nie?”
Sy klik haar tong. “Nee, natuurlik nie. Sy het genoeg redes, wat nie nou ter sake is nie. Jy kan nie verwag dat ek my hele storie vir jou moet vertel nie – ek wil net weet hoe sy van die lyk ontslae kan raak.”
“Sy kan nie,” sê hy beslis. “Sy kan hom dalk nog tot by die motor sleep, maar sy sal hom definitief nie in die bak kan laai nie.”
“Ek weet,” erken Klarissa mismoedig. “Nie eers as sy ’n kruiwa gebruik nie, want dan moet sy hom nog steeds in die kruiwa laai en dit kan sy nie doen nie. Dink jy sy moet hom maar na die tuin lok? Ja, wag, miskien uit op die stoep en as sy hom skiet, val hy af. Dan kan sy hom begrawe.”
“Mits dit sanderige grond is,” sê hy. “As sy so klein en beteuterd is, sal sy nie ’n diep genoeg gat in harde kleigrond kan grawe nie.”
“Ek het nooit gesê sy is beteuterd nie.”
“Ek is jammer. Klein en fyn.”
“My karakters is nooit beteuterd nie.”
Brenda kom sit ’n beker koffie voor Klarissa neer, wys na haar suster se kop en tik met haar voorvinger teen haar slaap voor sy loop.
“Natuurlik nie,” stem hy saam. “Maar sê my, het Colin jou vertel wat my probleem is?”
“Ja, jy wil jou ouma kul.”
“Jy laat dit vreeslik klink.”
“Want dit klink vir my immoreel.”
“My ouma is swak en siek,” sê hy. “Maar sy het hierdie een onlogiese begeerte en dis om my getroud te sien. Is dit regtig so immoreel om haar te laat dink dit ís so?”
Klarissa dink hieroor en drink solank ’n sluk koffie. “Ek weet nie, maar daar is ander oorwegings ook. Ek het vir Colin gesê ek is nie lus vir kinderspeletjies nie. Jy mag jou ouma laat dink ek is jou vrou, maar dit beteken nie ek ís nie. Ek wil nie hoor dat daar net een slaapkamer en een dubbelbed is nie.”
“Beslis nie. Jy hoef nie bang te wees nie.”
Haar gedagtes is weer terug by die lyk. “Ek kan haar in die motor laat ry,” sê sy. “Vir haar en hom, en dan steek hy die sigaar aan en stink die kar vol. Dis mos makliker, is dit nie? Dan kan sy na die woud ry, hom doodskiet en begrawe.”
“Is daar ’n woud in die omgewing?”
“Ek kan sorg dat daar een is. Rook jy sigare?”
“Nee, ek rook glad nie.”
“En is jy groot en vet?”
“Nee. Hoekom, sou dit ’n verskil maak?”
“Net op die oomblik,” sê sy. “Omdat die skurk so lyk. Ek ken baie liewe groot, vet mans. Maar jy het seker nie gebel om na my penarie te luister nie.”
“Nee,” erken hy. “Ek het gehoop jy help my uit my penarie uit.”
“Nie sommerso oor die telefoon nie,” sê sy. “Ek hou van jou stem, maar dis nie naastenby genoeg nie. Ek wil jou eers sien.”
“Vanselfsprekend. Ongelukkig vertrek ek môre Ghana toe, maar ek is vroeg volgende week terug. Wat van Woensdagmiddag? Dis die enigste tyd dat ek vry is. Kan ons mekaar vieruur by die Waterfront ontmoet? Daar by die opeluggedeelte van die restaurant teenaan die kaai.” En hy noem die naam van die restaurant.
Sy ruk haar oor weg van die gehoorstuk. “Waarom dáár?”
“Dis vir my mooi daar. Hou jy nie daarvan nie? Dis vir my baie lekker om daar te sit en uit te kyk oor die hawe.”
“Dis waar,” moet sy erken. “Dis net . . .”
“Wat?”
Sy skud haar kop asof hy haar kan sien. “Nee, nee, ek is simpel. Vergeet dit. Vieruur, sê jy? Woensdagmiddag? Dit laat jou met min tyd as ek nee sê.”
“Wat