Die blou uur. Christine le Roux

Die blou uur - Christine le Roux


Скачать книгу

      “Dit was. Olyfolie. ’n Vreeslike gemors. Hoekom het jy nie help skoonmaak nie?”

      “Ek was klaar laat en ek was seker in jou bekwame hande sou die saak gou reggekom het.” Hy stoot die spyskaart nader. “Wat wil jy drink?”

      “Koffie, asseblief.” Sy vou haar hande op die tafelblad. “Het jy regtig ’n ouma?”

      “O ja.”

      “Die bruid vir ’n naweek is dus nie net ’n truuk nie?”

      “Nee.”

      “Hoekom het jy nie vroeër al ’n plan beraam nie?”

      “Omdat ek die wêreld vol was in die afgelope agt maande, en selde vir langer as ’n week of twee in dieselfde land is. Maar glo my, ek het jou nooit uit die oog verloor nie. Nou kan ek nie langer uitstel nie, my ouma is sterwend.”

      Daar is skielik iets anders wat haar aandag trek, ’n stroefheid, ’n desperaatheid wat kom en gaan wanneer hy praat. Nes sy dit raak sien, verdwyn dit. As hy na haar kyk, is dit nie daar nie, wanneer hy sy kop draai om die kelner nader te roep, skiet dit na die oppervlak. “Vir wie is jy kwaad?” vra sy. “Met wie baklei jy?”

      Hy tel haar hand op en speel daarmee. Met sy voorvinger vee hy oor elke afsonderlike nael en kneukel, en toe hy tevrede is, vou hy die vingers saam en hou dit in sy hand vas. “Hoe kon jy net ja sê, Cassandra?” vra hy streng. “Gestel dit was nie ek nie?”

      “Ek was nie van plan om ja te sê nie. Ek het jou vandag ontmoet om te sê ek wil dit nie doen nie, maar dit was natuurlik toe ek gedink het dis hy en nie jy nie.”

      “Is jy bly ék is hy?”

      Sy knik. “Brenda dink dis bonatuurlik, maar ek het nooit so gedink nie.”

      Hy kyk nog altyd af na haar hand. “Geen ringe nie?”

      Sy skud haar kop. “Ek kan nie kinders kry nie, sien. Probleem toe ek jonk was en eintlik nie relevant nie, behalwe dat dit my natuurlik van die huweliksmark af verwyder.”

      “Ek wil nie kinders hê nie,” sê hy en sy sien vir die eerste keer die wittandglimlag. Sy mond glimlag, maar die oë verys. Toegeklapte yskasdeure.

      “Vir wie is jy kwaad?” vra sy weer.

      “Nie vir jou nie, Cassandra.” Sy gesig het weer ontspan en sy oë begin haar insluk. Hy tik teen haar kaal ringvinger. “Vertel jy dit vir almal, dat jy nie kan kinders kry nie?”

      “O ja,” sê sy. “Dit sou onregverdig wees om dit nie te doen nie. Mans moet dit weet voor hulle betrokke raak.”

      “En werk dit? Verdwyn hulle?”

      Sy knik.

      Sy oë word nog sagter, dis asof hulle selfs dieper oopmaak. “Maak dit saak?” vra hy. “Is dit ’n seer ding, Cassandra?”

      “Klarissa,” help sy hom reg.

      “Ek dink nie so nie, nee. Daar is iets mities omtrent jou.”

      Sy gee ’n laggie en skud die soutpotjie oor haar koppie. “Dit maak nie seer nie, nee. Ek weet ook nie. Dis ’n feit waarmee ek saamleef en nie onnodig oor dink nie.”

      Hy verwyder die koffie wat sy al begin roer het en roep na die kelner.

      “Is iets verkeerd?” vra die man.

      “Bring asseblief ’n vars koppie,” sê Andrew.

      Die kelner frons, maar gehoorsaam. Toe hy wegstap, ruik hy aan die koffie en skud sy kop.

      “’n Vergissing,” sê Andrew vir haar. “Gaan voort.” Hy tel die sout- en peperpotjie tussen sy vingers op en sit dit op die tafel langs hulle neer.

      “Dis ook my leefstyl,” sê sy. “Ek leef nie volgens ’n vaste roetine nie en die huwelik vereis roetine. Vandag is wasdag, môre strykdag, vloere moet skoon kom, melk moet gekoop word, maar hoofsaaklik moet ’n man drie keer per dag kos kry. As ek nie skryf nie, sou ek bereid wees om dit te doen, want ek hou daarvan. Maar as ek werk, kan ek nie.”

      “Het jyself nie drie etes per dag nodig nie?”

      “Ja . . .” antwoord sy vaag. “Maar ontbyt kan vieruur in die oggend wees en as daar nie melk is nie, drink ek swart koffie.”

      Die kelner sit die vars koffie voor haar neer en Andrew stoot dadelik die suikerpot nader. “Hoeveel suiker?” vra hy.

      “Een.”

      Hy gooi dit in, roer en wys sy kan maar drink. Hy dra ’n grys hemp, ’n donkerblou pak en ’n rooi-en-blou das, sien sy.

      “En jy?” vra sy. “Wat is jou rede? Waarom het jy nog nie ’n wettige vrou sodat jy jou ouma se hart kan bly maak nie?” Sy proe aan haar koffie.

      “Ek? My werk maak dit onmoontlik. Ek het mos vir jou gesê ek is nooit langer as ’n week of twee – soms net ’n paar dae – op een plek nie. Of in een land of stad nie. ’n Huweliksmaat vereis dat mens darem soms by die huis is om daardie drie etes te eet.”

      “Ag, nee wat,” sê sy. “As ek vieruur ontbyt maak en jou vliegtuig kom drie-uur in is jy nog betyds.”

      “Dis waar,” sê hy en sy oë skiet dansende liggies uit. “Dis hoekom ek met jou gaan trou, Cassandra.”

      “Ja,” stem sy saam. “Maar ek moet darem net noem dat ek nie eens op een plek bly nie.”

      “Ek weet. Nes ek gedink het jy’s in die strandhuis, was jy hier in die Kaap of andersom.”

      “Meesal in die strandhuis,” sê sy. “Ek kom net hiernatoe as ek te alleen raak – en dít gebeur nie sommer nie. Het jy dit dus die hele tyd geweet?”

      “Ja,” sê hy. “Is dit nie lekker om met ’n speurder deurmekaar te wees nie? Jy hoef my niks te vertel nie, ek weet klaar alles.”

      “Dis hoekom ek vanmiddag gekom het,” sê sy. “Voor ek geweet het dis jy. Ek wou hom net gou nog ’n paar vrae vra.”

      “Soos?”

      “Ek het jou mos gesê my lyk is baie groot en vet. Sal een koeël hom doodmaak of sal sy hom ’n paar keer moet skiet?”

      Hy lag. “Dis nie ’n olifant nie en dit hang af van waar sy hom skiet. Dit geld eintlik vir almal. Kan jy skiet? Het jy kennis van wapens?”

      “Nee, nie regtig nie. Maar omdat ek speurverhale skryf, moes ek leer. Dis eintlik vreemd, want ek hou glad nie van geweld in enige vorm nie.”

      “Dis goed om te hoor.”

      ’n Windjie het opgestoot en rimpel die oppervlakte van die baai. Die bote wat naby hulle vasgemeer lê, wieg saggies op en af en heelwat mense begin opstaan en jasse aantrek.

      “Dit word koud,” sê Klarissa en ril.

      Hy haal geld uit sy binnesak en sit dit op die tafel neer. “Glad te koud vir jou om hier buite te sit. Kom ons gaan na my woonstel.”

      “Wat word van my motor?” vra sy.

      “Jy ry agter my aan. Dis nie vreeslik ver nie, net hier bokant teen die berg.”

      “Die verkeer is nou swaar,” sê sy onseker. “Sal ek jou nie verloor nie?”

      “Nee. Glo my, dit sal ek nooit toelaat nie.”

      Hy hou sy woord, sien sy toe hulle ry. As ander motors tussen hare en syne insny, wag hy tot sy weer agter hom is en binne ’n baie kort tyd hou hulle stil voor ’n lae, kronkelende kompleks wat die kontoer van die heuwel volg en uitkyk oor die baai. Dis ook nie koud nie, voel sy toe hulle in die woonkamer staan. Dis nog gebaai in die middagson en sy loop na die groot venster en staan en uitkyk.

      “Dis baie mooi,” sug sy. “Ek wou nog altyd ’n woonstel gehad het. Dis baie lekker om by Colin-hulle te bly, maar ek het tog al gedink miskien moet


Скачать книгу