Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit
het ’n goeie, vaste betrekking beklee en hoewel hulle nie ryk was nie, het hulle goed geleef. Hulle moeder en klein Pierre was nie een sterk nie en Pierre Jourdan sou nie daarvan droom om hulle aan die gevare en ontberings van so ’n lang seereis bloot te stel nie. Nee, die pionierslewe was goed vir ’n avonturier soos oom Jacques, maar vir ’n man met gevestigde belange en die verantwoordelikheid van ’n vrou en kinders sou so iets die opperste dwaasheid wees.
Vreemd genoeg was dit nie hulle tenger moeder nie maar hulle sterk, gesonde vader wat hulle eerste ontval het. Na sy dood was die lewe nooit weer dieselfde nie. Hulle inkomste was klein, hulle moeder se gesondheid het steeds agteruitgegaan en al hoe meer verantwoordelikheid het op die jong Mathilde se skouers gerus. Danksy haar vader het sy ’n goeie opvoeding gehad, beter as die meeste meisies van haar stand, en met ekstra klasse in musiek en Frans, wat sy vlot gepraat het, kon sy help om hulle inkomste aan te vul.
Toe oom Jacques van hulle vader se dood hoor, het hy hulle dadelik hartlik genooi om by hom aan die Kaap te kom kuier en, indien die lewe en die mense hulle geval, hulle daar te vestig. In die sonnige land met sy heerlike klimaat, volop vrugte en groente sou hulle moeder weer haar gesondheid herwin. Pierre kan hom met die boerdery help en hy het reeds ’n paar gawe kêrels vir Mathilde in die oog. Hy het selfs die nodige geld vir hulle passaat gestuur, maar teen daardie tyd was Isabel Jourdan heeltemal te swak om die reis te onderneem.
Teen die einde van April het Isabel Jourdan die ongelyke stryd gewonne gegee en op ’n stil, sonnige dag, byna drie jaar na die dood van haar geliefde man, het hulle haar langs hulle vader ter ruste gelê.
Nou het sy en Pierre alleen agtergebly.
Tot tyd en wyl hulle besluit wat hulle te doen staan, het hulle hul intrek by ’n tante in Leiden, ’n niggie van hulle vader, geneem. Pierre se kop het suidwaarts na sy oom Jacques gestaan en hoewel sy geweet het dat dit ook hulle moeder se wens was dat hulle na haar dood na haar oom toe moet gaan, het Mathilde aanvanklik teëgestribbel. Hulle was te jonk en onervare om alleen so ’n lang, gevaarlike reis te onderneem. Oom Jacques was wel hulle vader se broer, maar hulle ken hom slegs deur sy briewe en hoe weet hulle dat hulle van hom sal hou, of hy van hulle? Maar Pierre was doof vir al haar besware en uiteindelik het sy haar laat oorreed. Daar was niks of niemand om hulle in Nederland te hou nie en al het sy dit nie erken nie, het daar diep in haar hart ook ’n vonkie gebrand van daardie avontuurlus wat haar oom Jacques die onbekende ingestuur het.
As die lewe daar haar nie geval nie, kan sy immers altyd weer terugkom!
En dan het die Kaap nog ’n ander aantrekkingskrag vir haar. Behalwe oom Jacques en die ander Jourdan-familie met wie hulle lankal reeds kontak verloor het, ken sy nog iemand aan die Kaap: ’n jong man, Eugène Leendert, ’n amptenaar in diens van die Here Sewentien.
Sy het met hom kennis gemaak toe hy twee jaar gelede met verlof in Holland was. Van die begin af was hulle aangetrokke tot mekaar en toe hy later weer terug moes gaan, het Eugène haar gevra om met hom te trou. Sy het die aanbod afgewys. Sy het baie van die sjarmante jong man gehou, maar of die gevoel wat sy vir hom gehad het liefde of blote toegeneentheid was, het sy nie geweet nie. En al het sy hom liefgehad, kon sy nie in daardie stadium daaraan dink om haar moeder en Pierre alleen in Nederland agter te laat nie.
Eugène het ’n paar keer aan haar geskryf en sy het sy briewe getrou beantwoord, maar na ’n ruk het die briewe nie meer gekom nie en dis nou meer as vyftien maande dat sy laas van hom gehoor het. Hy het haar teen hierdie tyd seker lankal vergeet – moontlik is hy reeds getroud of verloof – maar net die gedagte dat hy ook in die Kaap is, gee haar tog ’n warm gevoel om die hart.
Langs haar sê ’n diep, vriendelike stem: “Wel, mejuffrou, daar is dit eindelik: die Tafelberg waarvan ek u vertel het. Ek hoop nie u is teleurgesteld nie.”
Mathilde Jourdan kyk op in die bruin, verweerde gelaat van kaptein Jan Alkema. Met sy deurdringende grysblou oë en ruie wit hare is die kaptein ten spyte van sy skraal liggaamsbou en middelmatige lengte ’n opvallende figuur. Aan boord van die skip handhaaf hy ’n streng dissipline en wee die man wat verbrou. Aan die begin het Mathilde gedink hy is onnodig hardvogtig met die bemanning, maar later, soos die weke in maande vervloei en sy meer vertroud geraak het met die lewe aan boord, het sy besef dat dit nie anders kan nie. Die matrose is ’n ruwe klomp, die skuim en opdrifsels van baie lande, en die veiligheid van die skip en die lewe van die passasiers hang dikwels van die ysere dissipline van die kaptein af. Onder sy arendsoog is die skip altyd onberispelik skoon en ten spyte van die swaar strawwe wat oortreders moes verduur, is daar ’n tevrede, gelukkige atmosfeer aan boord.
Van die eerste dag af het die kaptein in haar en Pierre belanggestel en hulle onder sy vlerk geneem. Mathilde was hom diep dankbaar vir sy vaderlike houding teenoor hulle. As protegée van die kaptein is sy altyd met respek behandel: matrose sowel as offisiere sou twee maal dink voor hulle iets waag wat hulle die kaptein se toorn op die hals kon haal. Veral die tyd toe Pierre so siek was aan die koors het sy simpatieke belangstelling en daadwerklike bystand baie vir haar beteken.
Jan Alkema is ’n opgevoede, belese man. Hy ken die sterrehemel soos die binnekant van sy hand en sy en Pierre het dikwels gespanne geluister na sy vertellings van die vreemde lande wat hy besoek en die wonderlike ervarings wat hy beleef het. Hy het Mathilde baie meer aan ’n professor as aan ’n skeepskaptein laat dink en sy het dikwels gewonder waarom so ’n opgevoede man die ruwe lewe van ’n seilskip as loopbaan gekies het. Toe sy dit eendag vir een van die offisiere noem, het hy haar vertel dat Jan Alkema blykbaar in sy jeug sy eie broer in ’n swaardgeveg gedood het. Verban uit sy ouerhuis en sy vaderland, het hy toe ’n eensame swerwer van die Sewe Seë geword. Maar wat kaptein Alkema se geskiedenis en agtergrond ook al was, hy het Mathilde en Pierre se verbeelding aangegryp en veral Mathilde was baie bly dat hulle die lang reis na die Kaap onder sy beskerming kon aflê.
Met ’n glimlaggie kyk die jong meisie nou op na hom en sê: “Dis ’n wonderlike gesig, kaptein. Ek kan dit nou maar beken: daar was ’n tyd toe ek begin twyfel het of daar werklik so ’n berg bestaan en of ons ooit weer land sal sien.”
“En tog was die reis betreklik voorspoedig gewees.”
Mathilde antwoord nie. Sy dink aan die hewige storms in die Baai van Biskaje toe hulle skip soos ’n prop op die onstuimige water rondgeslinger is; sy dink aan die teenwinde wat hulle myle uit hulle koers gedryf het, aan die windstiltes en die afmattende hitte in die Keerkringe; sy dink aan die angsvolle ure wat sy langs Pierre se bed gewaak het, aan die manne wat toegewerk in ’n seildoek en met ’n gewig aan die voete ’n eensame graf in die see gevind het, en in die helder sonlig ril sy soos iemand wat koud kry.
En tog is daar gelukkige herinneringe ook. Sy dink aan die spontane blydskap van die bemanning wanneer so ’n storm weer verby is of ’n ander gevaar afgeweer is en hulle met dubbele rantsoene en ’n bekertjie Spaanse wyn die vrees van so pas vergeet, aan kalm blou dae wanneer die Seemeeu liggies oor die golwe gewals het en hulle met speletjies en ander joligheid die ure verwyl het; sy dink aan die skoonheid van ’n seilboot afgeteken teen die vlammende kleureprag van ’n sonsondergang op see, aan die helderheid van die sterre op ’n stil, donker nag teenoor die wye oneindigheid van die see, aan vriendskapsbande wat gesluit is, aan haar en kaptein Alkema se gesprekke, en sy dink sy wil die ervaring vir geen geld op aarde verruil nie.
Sy kyk weer na kaptein Alkema en sê met ’n glimlaggie: “Dit was ’n onvergeetlike reis. En ek is u innig dankbaar vir u goedheid teenoor my en Pierre. Sonder u beskerming kon die reis seker baie minder aangenaam gewees het.”
“Dit was ’n voorreg om u aan boord te hê, mejuffrou! Ek hoop en vertrou net u sal dit in u nuwe vaderland ook gelukkig tref.”
Mathilde se mooi bruin oë versober effens. Die onsekerheid van die toekoms rus selfs op hierdie mooi oggend swaar op haar hart.
“U sê u ken my oom, mynheer Jacques Jourdan?”
“Ek het hom ontmoet en met hom gesels. Hy het ’n mooi plaas in die Bergriviervallei en is ’n bekende grootwildjagter. Ek het hom ’n sjarmante en onderhoudende persoon gevind.”
Mathilde Jourdan slaak ’n suggie van verligting. Kaptein Alkema se woorde laat haar hart heelwat ligter