Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit
alles jou skuld! Jy het my byna ’n uur lank laat wag en dit was uit blote verveling dat ek ’n paar potte saam met die kaptein en sy vriend gespeel het. Eintlik moet ek jou vir my verlies opskroef. Nie dat ek veel hoop het om iets uit jou te kry nie.”
“Ek is bly jy besef dit.” Adriaan haal ’n snuifdoos te voorskyn, neem ’n klein bietjie snuif daaruit en bied dit dan vir sy neef aan. “Probeer dit gerus. Dis ’n nuwe mengsel – baie lig, ek is seker jy sal daarvan hou.”
Gysbert, heeltemal bewus van die eer wat hom aangedoen word, steek sy vingers in die snuifdoos en snuif met ’n uitdrukking van waardering – altans, so hoop hy.
“Uitstekend,” sê hy hartlik. “Jy kan gerus vir my ook ’n bietjie daarvan laat kry.”
Adriaan maak die snuifdoos saggies toe.
“My liewe Gysbert,” sê hy spottend, “jy word ’n regte kenner!”
Gysbert grinnik onbeskroom.
“Ek weet nie waarom jy nog met my sukkel nie, Adriaan. Jy weet ek is maar net ’n plaasjapie.” Hy steek sy hand uit na die snuifdoos wat Adriaan nog tussen sy vingers hou en vra: “Kan ek weer daarna kyk?”
Die snuifdoos is van silwer gemaak en is pragtig afgewerk. In die deksel is ’n stermotief ingegraveer, met ’n robyn boaan elke punt.
“’n Kosbare stukkie werk,” sê Gysbert terwyl hy dit bekyk. “Dit het aan jou vader behoort, nie waar nie?”
“’n Ou skeepskaptein het dit vir my vader gegee vir die een of ander guns wat hy vir hom gedoen het.”
“Pragtig,” sê Gysbert toe hy dit teruggee. “Is jy nie bang jy sal dit verloor nie?”
Adriaan steek die snuifdoos weer in sy sak.
“My liewe Gysbert,” sê hy lui terwyl die koel blou oë spottend op die jonger man rus, “is jy gewoond dat ek dinge waaraan ek waarde heg verloor?”
“Verbrands! Ek verstaan jou ook nie elke dag nie, Adriaan. Jy lyk verniet so ongeërg, asof niks jou kan skeel nie. Ek wil nie die een wees wat jou te na kom nie.”
Adriaan maak sy wynglas leeg en sit dit neer.
“Dankie, Gysbert. Ek neem aan dat jy dit as ’n kompliment bedoel het. Maar dit word laat. Het jy vergeet ons het ’n afspraak met die skone Mignon? En sy het my gewaarsku dat ons nie laat moet wees nie.”
“Natuurlik het ek nie vergeet nie. Waarom dink jy is ek so fyn uitgevat?” Hy wys met genoeë na sy pruimrooi satynbaadjie en geborduurde onderbaadjie en raak liggies aan sy fyn kantkrawat. Hy steek sy voet uit en bewonder die blink gespes van sy nuwe skoene, dan sê hy met ’n ietwat verleë glimlag: “Ek het die ure na vanaand getel! Adriaan, ek wens ek weet of jy dit ernstig met Mignon bedoel. Ek weet baie goed dat as Mignon vir jou kry, sy nie na my of een van die ander kêrels sal kyk wat die pad na hulle huis so stukkend trap nie. Maar as jy nie ernstig is nie – as jy maar weer soos gewoonlik net afleiding soek – wel, ék dink Mignon is ’n oulike nooientjie. Sy het vir my alles wat ’n vrou moet hê: jeug, skoonheid, sjarme, agtergrond …”
“En ’n ryk vader,” voeg Adriaan droog by.
“Dit is glad nie belangrik nie,” sê die jong man ietwat uit die hoogte. Hy sien die skeptiese uitdrukking op sy neef se gesig en grinnik. “Jy moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Ek wil nie voorgee dat ek heeltemal onverskillig staan teenoor materiële dinge soos geld of besittings nie, maar …”
“Ek verstaan baie goed wat jy bedoel. Maar as ek jou enige raad verskuldig is, moenie jou hart op Mignon la Grange sit nie. Sy is nie die vrou vir jou nie.”
“Jy bedoel jy stel werklik belang – dat jy uiteindelik in Mignon jou ideale vrou gevind het? Wel, ek moet jou gelukwens, Adriaan. Al laat jy haar vader buite rekening, sal jy ver moet soek om ’n beter vrou as Mignon te kry. Sy sal ’n sieraad in enige man se huis wees, en met La Provence as agtergrond …”
Adriaan lyk ’n bietjie verveeld.
“Jy kan soms so naïef wees, Gysbert. Ek is bevrees daar wag nog ’n groot ontnugtering op jou. Jy sal nog leer dat ’n vrou, selfs die beste een onder hulle, nie ’n engel met ’n stralekrans en silwervlerke is nie, maar ook maar net ’n gewone mens met ’n gewone mens se swakhede. Ek weet waarvan ek praat. Ek het twee susters help grootmaak en glo my, hulle het my met min illusies gelaat. Jou gelukwensing is ook voortydig: ek het nie gesê ek het trouplanne nie. En wat La Provence betref – wel, jy weet net so goed soos ek dat die grootste gedeelte van die landgoed aan my stiefvader behoort en nie aan my nie.”
“Dankie vir die preek. Maar as jy nie omgee nie, sal ek graag my illusies, soos jy dit noem, oor die skone geslag so ’n bietjie langer behou. En La Provence – nou ja, almal weet die landgoed behoort aan oom Jacques, maar almal weet ook dat hy maar min belang in die boerdery stel en dat dit aan jou te danke is dat La Provence vandag een van die uitsoekplase aan die Kaap is. Die oubaas het nie self kinders nie – wie anders as jy sal die landgoed na sy dood erf?”
“Daar is nog familie in Holland,” sê Adriaan. “Twee broerskinders oor wie se toekoms hy baie ernstig is. Daar was eens op ’n tyd sprake dat hulle na die Kaap sou kom, maar die planne het doodgeloop.”
“Ek sou my nie oor hulle moeg maak nie. Daar is nie veel gevaar dat hulle hierheen sal kom nie. Ons land is te woes en te bar vir die fyn dametjies en heertjies se smaak. Maar dit herinner my – ek wou jou al gevra het: het julle al enige nuus oor jou stiefvader gekry?”
“Nie ’n woord nie. Ek is juis van plan om vanaand, as daar ’n kans is, die saak met die goewerneur te bespreek. Nie dat ek onrustig is nie: ek ken my stiefvader en ek is seker sy togte het hom net dieper die binneland ingeneem as wat sy oorspronklike plan was, maar my moeder begin bekommerd raak. Om haar ontwil wil ek vra of die goewerneur dink dis nodig om ’n ekspedisie agter hom aan te stuur.”
“Dit sal nie so maklik wees nie. Afrika is groot en waar gaan jy begin soek?”
“Dis die ongeluk: hulle weet self nie vooraf presies waarheen hulle gaan nie. Dit hang alles af van waar die olifante hulle bevind. Maar hulle sou seker spore gelaat het – ander landgenote, Hottentotte met wie hulle in aanraking gekom het … Maar kom, ons moet gaan. Mignon vergewe ons nooit as ons laat is nie.”
Adriaan, Gysbert en ’n klompie ander jong mense het saam met die La Granges geëet en daarna is hulle almal na die Kasteel waar die goewerneur ’n onthaal gereël het vir amptenare en besoekende offisiere van die Hollandse vloot wat in die baai gelê het.
Dit is ’n skitterende geleentheid. Die offisiere in hul helder uniforms, die mans met hul gekrulde pruike, elegante baadjies en kniebroeke, en die dames in wye, veelkleurige rokke kuier in die saal rond en help om die feestelikheid van die geleentheid te verhoog. Die mans bespreek die sake van die dag en wonder hoe die dreigende oorlog tussen Engeland en Frankryk die koloniste sal raak, terwyl die meisies gretig uitvra oor die jongste modenuus uit Europa en of die hoepel nog gedra word.
Mignon la Grange, die mooi, opgewekte jong dogter van Gideon la Grange, eertydse amptenaar in diens van die Kompanjie maar later koopman en ook eienaar van ’n hele paar plase, dra ’n modieuse tabberd van goudbrokaat wat haar jeug en blonde skoonheid ten beste vertoon. Soos gewoonlik is sy omring van bewonderaars. Vir elkeen het sy ’n glimlaggie of ’n aanmoedigende woordjie, maar kort-kort loer sy onder haar lang wimpers deur na Adriaan Cloete, net om seker te maak hy is bewus van wat aangaan.
Adriaan is besig om met een van die besoekende offisiere te gesels oor die oorlogswolke wat oor Europa saampak, maar in die stilligheid is hy heeltemal bewus van die skalkse blikke wat Mignon in sy rigting werp. ’n Amptenaar nader hom met die versoek dat die goewerneur hom wil spreek en hy haas hom daarheen.
Sy Eksellensie, opvallend in die eenvoudige, somber klere wat hy altyd dra en wat so skerp afsteek teen die swierige klere van sy gaste, groet hom vriendelik en stel hom voor aan die skeepskaptein langs hom.
“Dit is ons jong vriend Adriaan Cloete, kaptein. En dit is kaptein Jan