Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit
sit die meisie in die grys tabberd vas aan die slaap. Hy stap saggies nader en in die sagte lig van die kerse betrag hy haar stilswyend. In haar slaap lyk sy moeg en jonk en kwesbaar. Skielik maak die meisie haar oë oop en ’n oomblik kyk die bruin oë onbegrypend in syne. Dan sien hy hoe haar oë rek as sy hom erken.
Hy buig galant en daar is die sweem van ’n glimlaggie om sy mond toe hy sê: “Bonsoir, mademoiselle! U het seker nie verwag om my so gou weer te sien nie?”
Vinnig staan sy uit die stoel op. Sy wil praat, maar dis of sy geen woorde kan uiter nie. Sagter, om haar gerus te stel, sê hy: “Ek moet u om verskoning vra, mejuffrou Jourdan, dat daar niemand was om u by die skip te ontmoet of hier by die huis te ontvang nie. Ek verseker u, ons Kapenaars is nie gewoonlik so ongasvry en onhoflik nie.”
Sy lê haar hand teen haar keel asof sy so die wilde geklop van haar hart wil stil.
“Ek verstaan nie, mynheer! Wie is u?”
Hy buig weer.
“Adriaan Cloete, Jacques Jourdan se stiefseun. Tot u diens, mejuffrou!”
Sy kyk hom onseker aan, nie seker of sy reg gehoor het of nie. Dié man oom Jacques se stiefseun?
“Mynheer Cloete, waar is my oom en waarom het hy ons nie kom ontmoet nie?”
“Sit, mejuffrou Jourdan, dan sal ek probeer verduidelik.” Sonder ’n woord gaan sy sit. Sy kyk afwagtend na hom en na ’n oomblik se aarseling sê hy: “Eerstens is u oom nie op die oomblik hier nie. Hy is weg op een van sy togte. Tweedens het ons nie geweet u is op pad na die Kaap nie. As u aan u oom geskryf het om hom te sê, het die brief nooit hier aangekom nie. Vanaand by die Kasteel het ek tot my grootste verbasing by kaptein Alkema gehoor dat u en u broer vanoggend hier aangeland het. Terloops, waar is u broer? Ek hoop hy is nie ongesteld na die … ontmoeting vanmiddag in die Heerengracht nie?”
Sy verwysing na die ongelukkige voorval bring ’n ligte blos na Mathilde se bleek wange.
“Pierre het ’n kwaai hoofpyn ontwikkel en hy het gaan lê. Mynheer Cloete, ek moet u om verskoning vra dat ons so ongenooid die huis ingeneem het …”
“Asseblief, mejuffrou Jourdan,” maak hy haar stil. “Ek is die een wat om verskoning moet vra. Ek is baie jammer dat so ’n kille ontvangs u te beurt geval het. Ek hoop ons sal in die toekoms daarvoor kan vergoed.”
“Dankie, mynheer. Kan u my sê wanneer u my oom terug verwag?”
Maar hy skud sy kop.
“Ek stel voor ons gesels môreoggend verder. Dit was ’n lang, vermoeiende dag vir u en dis tyd dat u in die bed kom.”
“Ek kan my niks aangenamer as ’n sagte, skoon bed voorstel nie,” erken sy met ’n flou glimlaggie, “maar ek is bevrees al ons bagasie is nog op die Seemeeu.”
“Dis ongelukkig te laat om nou iets aan die saak te doen. Maar ek is seker Selina sal ’n plan kan maak.” Hy stap na die kaggel toe, tel ’n handklokkie op en lui dit flink. Dan gaan hy na ’n muurkassie daar naby en haal ’n kraffie rooiwyn en twee glasies te voorskyn. Hy skink die glasies vol wyn, dan verskyn Selina vakerig in die oop deur. Hy vra of sy die vrykamer reggemaak het en beveel haar om te sorg dat hulle gaste alles kry wat hulle nodig het.
“Selina sal op die daad vir alles sorg,” sê Selina en verdwyn weer.
Adriaan bring vir Mathilde een van die glasies wyn.
“’n Glasie van ons bekende Constantiawyn om u welkom te heet. Ja, u moet dit drink, dit sal u goed doen.”
Hy lig sy eie glasie vir haar en sê saggies: “Ek drink op u goeie gesondheid, mejuffrou Mathilde Jourdan! Mag u slegs geluk en voorspoed in hierdie nuwe land vind.”
Mathilde kyk oor die rand van haar glas na die man wat voor haar staan en die gevoel dat sy droom is so sterk dat sy haar nie dadelik daarvan kan losmaak nie. Die kerslig wat skitter in die robynrooi wyn, die elegante man wat haar met ’n vreemde glimlaggie betrag, die donker kolos van die berg daarbuite en die wye, woeste wêreld wat hulle omring … hoe kan dit die werklikheid wees? ’n Oomblik nog is sy vasgevang in hierdie vreemde betowering, dan bring sy stadig die glasie na haar lippe. Sy proe die wyn en onverwags glimlag sy.
“Ek is nou heeltemal oortuig daarvan dat ek netnou aan boord van die Seemeeu sal wakker skrik en sal uitvind dat dit alles net ’n droom is.”
“En sal u verlig of spyt wees?” vra Adriaan Cloete.
“Ek weet nie,” antwoord sy sag. “Ek weet werklik nie.”
Mathilde het die volgende oggend wakker geword toe Selina met ’n geurige koppie koffie die kamer binnekom. Die son skyn en uit haar kamervenster is ’n deel van die grysblou berg sigbaar. Geen sprake nou dat sy droom nie!
Terwyl sy haar koffie drink, herleef sy die gebeure van die vorige dag en aand. Wat ’n vreemde toeval dat die hooghartige man wat haar uit die kloue van die dronk matroos gered het, oom Jacques se stiefseun is. Sy glimlag verleë as sy dink dat sy in haar laaste brief aan oom Jacques aangebied het om met die onderrig van sy stiefkinders te help. Omdat oom Jacques nooit iets oor hulle gesê het nie, het hulle aanvaar dat die kinders nog klein is. Wat sou die elegante Adriaan Cloete se reaksie wees as hy van dié planne te hore moet kom? Sy moet dadelik vir Pierre waarsku om nooit ’n woord daaroor te rep nie.
’n Rukkie nog lê sy stil om die ongewone luukse van ’n sagte, gemaklike bed met haelwit lakens te geniet, maar haar onrustige gedagtes dwing haar tot aksie.
Wat ’n ongelukkige toeval dat oom Jacques juis nou afwesig moet wees. Sy is inderdaad in ’n onbenydenswaardige posisie. Solank haar oom weg is, sal Adriaan Cloete seker voel dat hy vir haar en Pierre verantwoordelik is, maar sy is nie van plan om ’n dag langer as wat nodig is sy gasvryheid te aanvaar nie. Hoewel sy gedrag teenoor haar gisteraand onberispelik was, is sy baie seker dat nóg hy nóg sy moeder – en is daar nie nog twee susters ook nie? – gretig is om twee vreemdelinge te ontvang en onbepaald te huisves. Gelukkig het hulle nog ’n klein bietjie geld, nie baie nie, maar genoeg om hulle ’n maand of twee aan die gang te hou. As sy dan nie vir oom Jacques kan help nie, sal daar seker ander mense wees wat ’n goewernante se dienste kan gebruik. Kaptein Alkema het self vir haar gesê dat daar ’n groot tekort aan leermeesters aan die Kaap is.
Mathilde het aangetrek en in die voorkamer vir haar gasheer en Pierre gewag. Dit is nog ’n volmaakte dag, maar Selina het voorspel dat die wind later sou waai. Mathilde is besig om na die skaduwees in die klowe van die berg te kyk toe Pierre die vertrek binnekom. Sy linkeroog is blou en daar is ’n kneusplek op sy wang, maar hy is in ’n opgewekte bui. Impulsief dam hy sy suster by en gee haar ’n soen.
“Is dit nie wonderlik nie, Tilde? Kan jy glo dat ons regtig hier is?”
Sy raak versigtig aan die kneusplek aan sy wang terwyl sy dink hoe skraal en bleek hy is, maar hy stoot haar hand ongeduldig weg.
“Tilde, dis ’n wonderlike land! So ruim en groot met die fantastiese blou berge. Ek het by die hawe ’n man ontmoet wat van agter die berge met sy ossewa gekom het. Hy is eintlik ’n veeboer en hy sê hy kom net een maal per jaar Kaap toe om sy produkte te verkoop. So ’n reis met die ossewa duur glo weke – dikwels maande – en hy sê hulle moet gedurig op hulle hoede wees vir die Boesmans – daar is nog baie in die omgewing. Hulle is baie onvoorspelbaar, hy sê as ’n man of vrou lewend in hulle hande val …”
“Asseblief, Pierre, spaar my die besonderhede,” sê sy met ’n gebaar van teësin. “En dis die land waarheen jy so graag wou kom – dié woeste, barbaarse land!”
“Dis ’n wonderlike land,” herhaal hy. “Die boere is besig om die Boesmans terug te dryf en een van die dae sal hulle glad nie meer las van hulle hê nie. Tilde, het jy gehoor oom Jacques is weg op een van sy landtogte? Hoe jammer tog dat ek nie saam met hom kon gaan nie. Maar hy sal my seker die volgende keer saam met hom neem.”
“Nie as ek iets daaroor te sê het nie,” sê sy beslis. “Het jy miskien gehoor wanneer oom Jacques terugkom?”
“Niemand