Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit
vreemde skepe en die vlae van baie lande wapper aan die hoë maste. Die bemanning staan gereed om die skip voor anker te bring en die seile te stryk terwyl die passasiers opgewonde op die dek saamdrom. Dit is ’n perfekte somersdag en met bewondering kyk Mathilde en Pierre na die granietblou berg wat bo hulle uittroon. Die klowe en die rotsagtige kranse, die hele wye woeste wêreld, vul hulle met ontsag. En in teenstelling met die grootsheid van die berg en see en land, lyk die dorpie wat aan die voet van die berg nestel, klein en weerloos.
Die Seemeeu nader stadig die ankerplek en die skip se kanonne begin die eresaluut van sewentien skote uitbulder. Onmiddellik daarna word die saluut deur die kasteel beantwoord en die eggo’s weerklink in die klowe en berge. Die anker word neergelaat, die seile gestryk, en met ’n ligte ruk kom die Seemeeu ná sy lang reis tot stilstand.
Cabo de los Termentos! Kaap van Storms! Waarom moet dié onheilspellende naam haar op hierdie mooi oggend te binne skiet? wonder Mathilde effens verontrus. Sy hoop dit is nie ’n voorbode van wat in hierdie nuwe land vir haar en Pierre wag nie.
Langs Mathilde sê kaptein Alkema: “Die einde van ons reis. Daar links lê die Kasteel. En die straat hier voor ons is die Heerengracht. Die Kompanjie se tuin is aan die bopunt geleë en daar sal julle ook die kerk, die hospitaal en die slawehuis vind.”
Klein roeibootjies het intussen die Seemeeu omsingel en belangstellend kyk Mathilde en Pierre na die bemannings met hulle snaakse kleurvolle hoedjies wat luidrugtig vrugte en ander ware te koop aanbied. Pierre koop vir hulle ’n mandjie vrugte en na die lang, barre maande op see smaak die geurige perskes en pere soos nektar van die gode.
Eers nadat die hawekaptein en die dokter aan boord gekom het en alle formaliteite afgehandel is, kan hulle gereed maak om aan wal te stap. Wat ’n vreemde gevoel om weer vaste aarde onder jou voete te voel!
Op die strand is dit ’n bonte mengelmoes mense van alle kleure en nasies, maar tot hulle groeiende ontsteltenis is daar niemand om hulle te ontmoet nie. Kaptein Alkema, op pad na die Kasteel om ’n hoflikheidsbesoek by die goewerneur af te lê en briewe en instruksies wat in sy bewaring geplaas is, te oorhandig, vertoef ’n oomblikkie by hulle.
“Ontstel julle nie, my liewe kinders,” sê hy vriendelik. “Die nuus dat die Seemeeu in Tafelbaai is sal gou genoeg versprei en mynheer Jourdan sal julle sekerlik kom haal.”
Hy draai weg, maar iets in Mathilde se gesig laat hom weer terugdraai. ’n Oomblik kyk hy besluiteloos na die twee jong mense wat so verslae daar staan, dan sê hy op ’n skielike ingewing: “Mynheer Jourdan het tog seker ’n dorpshuis, nie waar nie? As julle die adres ken, waarom gaan julle nie direk daarheen en verras hom nie?”
Mathilde se gesig verhelder.
“Ek ken die adres. Oom Jacques het ’n huis in die Keizergracht.”
Kaptein Alkema beduie vir hulle waar die Keizergracht is en stadig, want die dag is buitengewoon warm, begin hulle aanstap. Belangstellend kyk hulle om hulle na die mooi, rustige dorpie, na die wye straat met die grag, na die slawe wat met drastoele langs die strate stap, na ’n wa, hoog gelaai met hout en getrek deur agt perde, wat flink by hulle verbydraf. Die geklap van die drywer se sweep sny deur die oggendlug. Daar is soveel dinge wat hulle aandag trek en baie gouer as wat hulle verwag het, staan hulle voor die wit gewelhuis waar oom Jacques en sy familie tuisgaan wanneer hulle in die Kaap is. Die swaar voordeur is gesluit, maar die vensters is halfoop en binne is daar beweging.
’n Slaaf in wit klere maak die voordeur vir hulle oop.
“Is dit mynheer Jacques Jourdan se woning?” vra Mathilde terwyl sy benoud wonder of hy hulle taal verstaan.
Die slaaf knik bevestigend.
“Is mynheer Jourdan tuis?”
Die slaaf kyk hulle ’n oomblik aan, dan skud hy sy kop.
Mathilde en Pierre kyk onseker na mekaar, dan verduidelik sy met ’n glimlaggie: “Ek is mejuffrou Mathilde Jourdan en dit is my broer, die jongeheer Pierre Jourdan. Ons het vanoggend met die Seemeeu van Holland af gekom. Oom Jacques weet dat ons kom – hy het tog seker gesê dat hy ons te wagte is. Weet jy wanneer hy terug sal wees?”
Die slaaf se blik rus op die jong meisie in haar eenvoudige grys tabberd en baadjie en op die skraal jong seun langs haar. Pierre het gedurende die lang seereis heelwat gegroei, met die gevolg dat sy klere almal vir hom te klein is, en Mathilde is skielik bewus daarvan dat hulle seker maar ’n bra armoedige indruk skep.
Weer skud die slaaf sy kop en haastig sê Mathilde: “Ons is heeltemal vreemd en alleen. Kan ons hierbinne wag totdat my oom terugkeer?”
Die slaaf aarsel nog ’n oomblik, dan maak hy die deur wyer oop en lei hulle na ’n ruim, deftige ontvangskamer. Na ’n rukkie kom hy terug, vergesel deur ’n gesette slavin. Ook sy is netjies aangetrek en sy groet die vreemdelinge vriendelik: “Ons oumeneer het nog nie teruggekom nie,” verduidelik sy toe Mathilde haar vrae herhaal. “Maar die jongmeneer kom vanmiddag. As mejuffrou-hulle wil wag tot hy kom …”
“Ons sal graag wag,” sê Mathilde dankbaar.
Die huishulp neem haar na ’n slaapkamer, net so ruim en deftig soos die voorkamer, waar sy haar kan verfris, en ’n rukkie later geniet sy en Pierre ’n heerlike maaltyd van koue vleis, vars brood, botter en vrugte.
Mathilde het die huishulp verder probeer uitvra, maar al wat sy uit haar kon kry, was dat hulle oumeneer weg is, maar dat die jongmeneer later sal kom, en daarmee moes sy tevrede wees. Pierre was glad nie onrustig nie: hy was opgewonde oor alles en almal om hom en was oortuig dat sy oom binnekort sou opdaag om hulle te kom haal.
Die middagure het egter verbygegaan sonder dat die jongmeneer gekom het en toe Pierre, wat rusteloos begin word het, voorstel dat hulle ’n bietjie in die dorp gaan rondstap, het sy dadelik ingewillig.
Volgens die onafgebroke gebulder van die kanonne en die bedrywighede wat daar op die Heerengracht geheers het, het etlike bote ná hulle in die baai aangekom. Die matrose, op soek na afleiding ná die ontberings en gevare wat hulle op die lang seereise moes trotseer, het luidrugtig te kere gegaan en Mathilde het ’n hele paar gesien wat maar taamlik onvas op hulle voete was. Sy het gedink dit sal miskien verstandiger wees om terug Keizergracht toe te gaan, maar Pierre was gretig om die wêreld ’n bietjie te verken en wou nie omdraai nie. Met geboë hoof, om so min moontlik aandag van verbygangers te trek, het sy langs Pierre gestap en tot haar verligting het niemand enige notisie van haar geneem nie. Hulle het in die koelte van die Kompanjiestuin gewandel en gekyk na die blou berg; hulle het die kerk, hospitaal en slawehuis besigtig, maar Mathilde was haastig om huis toe te gaan ingeval die jongmeneer gekom het en wou nie langer vertoef nie.
En toe, op pad terug, gebeur wat sy heimlik gevrees het. ’n Dronk matroos gaan skielik voor haar in die pad staan en wil nie toelaat dat sy verbykom nie. En toe Pierre hom opsy probeer druk, laat die matroos hom met een veeg van sy groot hand in die stof beland.
Aangehits deur ’n paar van sy makkers wat glimlaggend toekyk, trek die matroos ’n handvol geld uit sy sak en maak ’n lompe buiging voor Mathilde.
“Kom saam met my, skone mejuffrou,” sê hy met ’n swaar tong. “Ek het baie geld. Ek sal vir jou ’n nuwe rok en nuwe skoentjies met silwer gespes koop.”
Uit die hoek van haar een oog sien Mathilde dat Pierre weer nader kom. Sy gesig is wit en woede straal uit sy donker oë.
“Pierre,” roep sy vermanend, maar soos ’n briesende jong bul storm hy op die matroos af. Maar selfs in sy halfbenewelde toestand is die matroos te slim vir hom en die volgende oomblik lê Pierre weer op die naat van sy rug langs die grag. Mathilde wil na hom toe gaan, maar die matroos kry haar aan haar arm beet.
“Lastige vent,” brom hy. “Kom, meisie, kom ons gaan. Dit word laat.”
Mathilde ruk haar arm los. Sy is wit van woede en ontsteltenis.
“Hoe durf jy aan my raak! Maak dat jy dadelik wegkom of ek rapporteer jou by die kaptein van jou skip.”
Die matroos lag net en kom weer nader. Die uitdrukking in sy klein, gemene ogies