Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit
gaan hier aan?” vra hy koel, gebiedend. “Mejuffrou, het u hulp nodig?”
Vinnig swaai Mathilde om na die vreemdeling. Sy sien ’n man van omtrent dertig jaar, elegant geklee in ’n lang baadjie van blou brokaat. Die deftige, geborduurde onderbaadjie, die fyn kantmansjette, die skoene met die blink gespes – alles is onberispelik. Hy het ’n sterk, effens harde gesig en die blou oë is koel. Sy regterhand rus liggies op die swaard aan sy sy.
Dankbaar sê sy: “Asseblief, mynheer, die man is besig om ons te molesteer.”
Die matroos en sy vriende het die situasie in een blitsige sekonde opgesom en die hasepad gekies. Pierre wil hulle agternasit, maar staalsterke vingers vang hom aan die arm.
“Nie so haastig nie, my jong vriend,” sê die koel stem gebiedend. “Ek sou nie agter hulle aangaan as ek jy was nie. Jy sal miskien uitvind dat jou vriend selfs handiger met ’n mes as met die vuis is.”
Pierre gluur die vreemdeling woedend aan en probeer losruk, maar die krag van die vingers om sy arm dwing hom uiteindelik om stil te staan.
“Ek is jammer,” mompel Pierre en druk sy sakdoek teen sy neus wat nou begin bloei, “maar die vent het my suster gemolesteer.”
Die vreemdeling stof sy mou liggies af, skud sy mansjet reg en wend hom weer tot Mathilde. ’n Lang oomblik rus die koel blou oë op haar en sy bloos verleë. Sy besef opnuut hoe ’n swak indruk sy en Pierre moet skep. Die man – soos ook die matroos – dink seker dat hulle maar net arm boere van die platteland is.
“Ek sou u aanraai om sonder versuim terug huis toe te gaan, mejuffrou,” sê die koel stem weer. “Wanneer daar soveel vreemde bote in die baai voor anker lê, verskyn ’n fatsoenlike jong dame nie alleen op straat nie. Tensy dit die soort avontuur is wat sy soek.”
Die mooi bruin oë flits verontwaardig, maar sy antwoord nie. Pierre mompel iets onhoorbaars, maar die man steur hom nie aan hom nie. Met ’n hoflike buiging vir die jong meisie wat so stil voor hom staan sê hy: “My koets is tot u diens, mejuffrou. As u my sê waar u woon, sal my koetsier u daar besorg.”
Mathilde aarsel. Sy wil nie graag ’n verdere guns van die hooghartige man aanvaar nie, maar Pierre se neus bloei en die huis is nog ’n hele entjie weg. Die man buig weer en sê hoflik: “Asseblief, mejuffrou, u sal my ’n guns bewys. Om ’n skone dame een keer uit die kloue van ’n dronk matroos te red kan dalk romanties wees. ’n Tweede keer sou ietwat vervelig wees.”
’n Diep blos sprei oor Mathilde se hals en wange, maar haar oë kyk fier in syne. In ’n vreemde, gespanne stilte kyk hulle mekaar so aan, dan sê sy onwillig: “Ek dank u, mynheer. My oom woon in die Keizergracht.”
Die man help haar in die koets en Pierre, nog met die sakdoek voor sy neus, klim agterna.
“Neem die dame en die jongeheer na die Keizergracht en kom dan weer terug,” beveel hy die koetsier wat in netjiese livrei voor op die koets sit. “Ek sal by die Blaauw Anker wees. Au revoir, mademoiselle. Miskien ontmoet ons mekaar weer!”
Die koetsier raak aan sy pet, die man buig weer en die koets rammel weg. Met ’n suggie van verligting sit Mathilde terug teen die kussings. Die voorval het haar hewig ontstel en haar hele liggaam bewe. Die herinnering aan die koel, selfversekerde vreemdeling met die spottende blou oë laat haar opnuut verleë en ergerlik voel en sy hoop van ganser harte dat sy hom nooit weer sien nie.
Tuis moes hulle tot hulle ontsteltenis verneem dat die jongmeneer nog nie gekom het nie. Die dalende son, die reuseberg bokant hulle koppe, die vreemdheid en onsekerheid van alles, vul Mathilde met ’n brandende onrus en ’n grenslose gevoel van verlatenheid. Dit voel asof haar keel wil toetrek.
In al die ellende en onsekerheid is daar net één ligpunt, ’n ster wat voor in die onbekende pad brand.
Eugène!
Die huishulp het vir hulle aandete voorberei, maar nóg Mathilde nóg Pierre was baie honger. Pierre het kwaai hoofpyn gehad en na die ete gaan lê, en Mathilde is na die voorkamer waar ’n paar kerse brand om daar op haar onbekende gasheer te wag.
Dit was ’n lang, vermoeiende dag gewees. Toe die trompetter se beuel met dagbreek oor die golwe geklink het, was sy reeds op dek vir die eerste blik van die dorpie aan die voet van die berg. Die opwinding, ongewone hitte en gebeure van die veelbewoë dag het haar moeg en uitgeput gelaat. Maar sy is te gespanne om aan slaap te dink. Moes hulle nie liewer na ’n herberg toe gegaan het nie? wonder sy bekommerd. Wat sal die vreemde man dink as hy – die Vader alleen weet wanneer – tuiskom en haar en Pierre hier aantref?
Die donkerte druk teen die ruite aan en die nag is vol vreemde geluide. Bokant hulle is die donker kolos van die berg en sy voel klein en nietig en baie jonk en onervare.
Sy dink aan Eugène en wonder of hy in die twee jaar verander het. Sal hy bly wees om haar weer te sien? Die beeld van ’n ander man verrys skielik voor haar oë: ’n elegante man met spottende blou oë, wat haar ten spyte van sy hoflikheid soos ’n onbeholpe skooldogter laat voel het.
Haatlike man! Verwaande modepop! Sy wil hom nooit weer sien nie.
Rusteloos stap sy in die vertrek rond. Sy bekyk die skilderye, die mooi koperornamente op die lang buffet, die glimmende houtmeubels en die ryk tapyte op die vloer, en sy dink dat haar oom ’n vermoënde man moet wees. Maar waar is hy en waarom kom hy nie? Is dit moontlik … kan dit moontlik wees dat hy haar laaste brief nie gekry het nie?
Warm trane wel in haar oë op, maar met ’n ongeduldige hand vee sy hulle weg. Dis nie nou die tyd vir trane nie. En waarom is sy onrustig? Die Goeie Vader wat hulle deur al die gevare tot hier gelei het, sal ook in hierdie eensame, donker nag sy beskermende hand oor hulle uitstrek.
Hoofstuk 2
Adriaan Cloete kyk hoe sy koets met die twee jong vreemdelinge daarin wegry, dan draai hy om en stap sonder haas in die rigting van die Blaauw Anker waar sy kleinneef Gysbert Botma op hom wag. Lank en lenig gebou, met ’n koel, hooghartige houding, is hy ’n opvallende figuur in sy elegante kleredrag, maar hy is skynbaar onbewus van die aandag wat hy trek en stap aan sonder om hom aan die gepeupel om hom te steur.
Die voorval met die meisie het hom geamuseer, maar ook half ergerlik gemaak. Wat soek die meisiekind so laat in die middag sonder behoorlike beskerming op straat? En dit op ’n dag dat die dorp wemel van vreemde matrose en soldate?
’n Regte boerinnetjie van agter die berge, te oordeel na haar eenvoudig kleredrag en onkunde oor die dorp en die dorpenaars se gewoontes. Maar die trotse uitdrukking in die mooi bruin oë het tog sy belangstelling geprikkel en ’n vlugtige glimlaggie versag die effens harde uitdrukking op sy gesig.
In een van die private kamers van die Blaauw Anker vind hy Gysbert Botma, ’n breedgeskouerde blonde jong man van vier-en-twintig. Langs hom staan ’n glasie rooiwyn en hy is besig om saam met twee vreemdelinge kaart te speel. Sy pruik is effens skeef en te oordeel na die uitdrukking op sy gesig is Gysbert – soos gewoonlik – aan die verloorkant.
Hy kyk effens afgetrokke op toe sy neef by die kamer inkom, dan verhelder sy gesig.
“A, net betyds, mon ami! Kom sit, man! Wie weet, miskien bring jy vir my geluk.”
Hy stel Adriaan aan die vreemdelinge voor en ook hulle dring aan dat hy saam met hulle moet speel. Adriaan aarsel ’n oomblik, dan trek hy ’n stoel uit en gaan sit. Hy bestel ’n glasie wyn en toe die pot klaar is, sny hy saam met die ander drie in. Gerusgestel deur sy ongeërgde houding, skuif die vreemdelinge – wat seker onder die indruk is dat hulle met ’n tweede Gysbert Botma te doen het – dadelik die prysgeld op, maar hulle loop hulle gou vas. Adriaan is ’n koel, onverskrokke speler en soos die geluk dit wou hê, val die kaarte sommer vanuit die staanspoor na sy kant toe. Dit is nie lank nie of dit val die vreemdelinge by dat hulle ’n dringende afspraak het en hulle maak haastig verskoning en verdwyn.
“Gelukkige duiwel,” sê Gysbert terwyl hy half vies, half bewonderend kyk hoe Adriaan die geld wat hy gewen het ongeërg in sy beursie sit. “Die jakkalse het my van ten minste vyftien gulde