Die erfgename van La Provence. Tryna du Toit

Die erfgename van La Provence - Tryna du Toit


Скачать книгу
toe is jou ridder van gistermiddag niemand anders as oom Jacques se stiefseun nie! Ek kon my oë nie glo toe ek gisteraand die man langs my bed sien staan nie. En toe hy vir my sê hy is Adriaan Cloete, oom Jacques se stiefseun … wel, ek het amper uit die bed geval.”

      “Jy kan dink hoe ék gevoel het.”

      “Ek kan dink dit was ’n skok! Maar jy moet erken, dis deksels snaaks. As ek dink aan die geskenkies wat ons vir oom Jacques se stiefkinders saamgebring het! Of as hy hoor dat jy van plan was om sy opvoeding onder hande te neem!”

      “Pierre, …” begin sy waarskuwend, maar dis reeds te laat. In die deur staan Adriaan Cloete. Hy is vanoggend effens soberder geklee in ’n donkerblou baadjie en kniebroek met ’n ligblou, geborduurde onderbaadjie. Sy krawat van fyn kamerdoek is onberispelik, soos ook die wit mansjette wat onder die wye, geborduurde moue uithang. Hy dra nie ’n pruik nie en sy donker hare is agter in sy nek vasgebind. ’n Oomblik rus sy blik op die twee jong mense, dan sê hy met ’n beleefde buiging: “Goeiemôre, mejuffrou Jourdan. Ek hoop die bed het aan jou verwagtinge voldoen.”

      “Ek het heerlik geslaap, dankie, mynheer Cloete,” sê Mathilde styf. Die spottende blou oë laat haar opnuut ongemaklik en verleë voel. Hoeveel van hulle gesprek sou hy gehoor het? Effens verwytend voeg sy by: “As ek geweet het my oom moes reeds twee maande gelede terug gewees het en daar is nog geen teken van hom nie, sou ek seker nie so lekker geslaap het nie.”

      “Natuurlik nie,” gee hy toe. “Maar ons gesels later. Selina sê die ontbyt is gereed.”

      In stilte volg Mathilde hom na die eetkamer. Sy voel glad nie so seker van haarself as wat sy voorgee nie, maar sy is vasbeslote om mynheer Cloete te wys dat sy nie meer ’n kind is nie, maar ’n verantwoordelike vrou wat vir haarself kan dink en besluit.

      Die ontbyt is heerlik. Koue vleis en eiers en brood en botter met die grootste verskeidenheid vars vrugte wat sy nog gesien het. Terwyl hulle eet, vra Adriaan Cloete hulle uit oor die reis en hulle moeder se siekte en Mathilde vertel hom kortliks wat gebeur het.

      Toe hulle opstaan van die tafel vra Pierre of hy ’n bietjie in die dorp mag rondstap en Adriaan gee sonder aarseling sy toestemming.

      “Laat hom gaan,” sê hy toe Mathilde wil teëpraat. “Hy sal heeltemal veilig wees. As jy lus het, kan jy gerus ’n bietjie in die tuin agter die huis gaan wandel – daar is ’n prieel waar jy kan sit as die son te warm is. Ek wil net ’n sakie met my koetsier bespreek, dan kom ek ook. Ons sal ongestoord daar kan gesels.”

      Hy kry haar ’n paar minute later in die mooi tuin met sy vrugtebome en baie blomme en struike, en saam stap hulle na die prieel waar ’n paar houtbankies in die koel skaduwee van die lowergroen wingerdblare staan. Bokant hulle koppe hang die persswart druiwetrosse, voor hulle lê die granietblou berg, en met ’n suggie gaan Mathilde sit. Hoe kan sy haar gedagtes bymekaar hou as sy gedurig moet veg teen die gevoel dat sy droom?

      Sy kyk op, bewus van Adriaan Cloete se blik op haar.

      “Wel, mejuffrou, ek luister.”

      Sy aarsel ’n oomblik. Waar moet sy begin?

      “Ek … dis ontstellende nuus van my oom, mynheer Cloete.”

      “Ek verseker jou, daar is geen rede om onrustig te wees nie. Die landtogte duur gewoonlik langer as wat vooraf beplan is. Die olifante is nie meer so volop nie en die jagters is verplig om dieper die binneland in agter hulle aan te gaan. Die jagters bly soms ’n jaar, dikwels langer, weg. Is dit al wat jou hinder?”

      “Dis geensins al nie, mynheer Cloete. Ek voel ek moet om verskoning vra omdat Pierre en ek so onverwags hier aangekom het …”

      “Asseblief,” onderbreek hy haar, “kan ons dit nie maar daar laat nie? Ek weet daar is lankal sprake dat jy en jou broer na die Kaap sou kom en dis slegs te wyte aan ’n ongelukkige sameloop van omstandighede dat jou ontvangs so koel was. Ek het ook gesê ek hoop ons sal in die toekoms kan vergoed vir die ongerief en bekommernis op jou eerste dag. Ek neem jou en Pierre vanmiddag saam met my plaas toe en julle bly daar totdat jou oom terugkom.”

      Maar sy skud haar kop.

      “Dis baie vriendelik van jou, maar ek … maar in die omstandighede kan ek nie jou aanbod aanvaar nie. Dit sal baie ongerieflik vir jou en jou moeder wees om twee vreemdelinge onbepaald te huisves …”

      “Dit sal nie die minste ongerief veroorsaak nie. Inteendeel, die geselskap sal my moeder goed doen. My oudste suster sit in Batavia en my jongste suster is ook verlede jaar getroud. Ek dink my moeder vind die huis maar baie stil vandat sy weg is. In ieder geval, verskoon my dat ek vra, maar as jy nie na La Provence toe gaan nie, waarheen anders sal jy en jou broer gaan?”

      “Kaptein Alkema het my vertel hier is ’n groot tekort aan leermeesters aan die Kaap. Ek het gedink jy weet miskien van ’n familie wat ’n goewernante nodig het …”

      “Daar is nie sprake van so iets nie, mejuffrou Jourdan. My stiefvader sal my dit baie verkwalik as hy terugkom en jy is nie op La Provence nie.”

      Sy kan egter net so koel en saaklik soos hy wees.

      “Wanneer oom Jacques terugkom, kan ons die saak weer bespreek. Soos jy self gesê het, kan dit nog maande duur. Intussen sal ek liewer nie jou uitnodiging aanvaar nie.” Sy lig haar ken uitdagend en sê met ’n tikkie triomf in haar stem: “As jy my nie kan help om ’n pos as goewernante te kry nie – hier is iemand anders aan die Kaap wat ek ken en wat my moontlik sal kan help.”

      Sy wenkbroue lig effens.

      “So? Mag ek vra wie die bevoorregte persoon is?”

      “Dis ’n amptenaar in diens van die Kompanjie – dalk ken jy hom. Mynheer Eugène Leendert.”

      Daar is verskerpte belangstelling in die koel blou oë.

      “Van waar ken jy die heer Eugène Leendert?” vra hy beleef.

      “Ek het met hom kennis gemaak toe hy twee jaar gelede in Holland met verlof was.”

      Hy kyk ’n oomblik stilswyend na haar en die ondersoekende blik laat haar ’n bietjie ongemaklik voel. Dan sê hy bruusk: “Mejuffrou Jourdan, ek gaan jou nou ’n baie persoonlike vraag vra. Is jy verloof aan Eugène Leendert? Het jy hierheen gekom om met hom te trou?”

      ’n Diep blos kleur haar wange.

      “Jy het nie die reg om my so ’n persoonlike vraag te vra nie.”

      “Dan is jy verloof aan hom?”

      “Nee, ek is nie. Daar is geen sprake van ’n verhouding tussen ons nie. Maar ons is goeie vriende en ek is seker hy sal my help indien dit enigsins moontlik is.”

      Adriaan Cloete skud sy kop.

      “Ek sien ek sal verplig wees om jou in my vertroue te neem. Daar is ’n baie goeie rede waarom ek nie kan toelaat dat jy goewernante word nie, en waarom ek moet aandring daarop dat jy en Pierre albei saam met my La Provence toe gaan. Voor my stiefvader op sy laaste tog vertrek het, het hy ’n nuwe testament laat opstel waarin hy ’n deel van sy boedel aan jou en Pierre bemaak.”

      Sy kyk hom agterdogtig aan. Dan sê sy trots: “Waarom sou hy dit doen?”

      “Hy was bekommerd oor julle en wou graag vir julle toekoms voorsiening maak. Terselfdertyd – en glo my, ek het nie daarvoor gevra nie – het hy my as voog oor julle albei aangestel, met volmag om tydens sy afwesigheid in alle sake na goeddunke te handel.”

      Sy kyk hom sprakeloos aan. Sy woorde het die wind skoon uit haar seile geneem.

      “En asof dit nie genoeg is nie,” sê hy met ’n sardoniese glimlaggie, “het die goewerneur my ook gelas om goed na julle te kyk tot my stiefvader weer terugkom. Jy sien dus, mademoiselle, dit sal nie help om teë te stribbel nie. Aanvaar liewer die onvermydelike, en neem jou voor om die tydjie op La Provence te geniet. Sodra my stiefvader terugkeer, sal jy vry wees om te doen wat jy lus het. Tot dan, is ek bevrees, sal jy jou na omstandighede moet skik.”

Скачать книгу