BUYS. Willem Anker
die boom, so oud en knoetserig niemand weet meer wat vir ’n boom dit is nie. So hoog is hy, ek kon hom nog altyd net halfpad klim. Dinsdagoggende leer sy my skryf. Dit is warm, maar ek trek die karos stywer om my. Laas nag het ek gedroom. Ek was weer teen die rooi klip, ek het weer myself toegegooi met die grond. Toe sak ek weg, die grond val my gesig toe, stroom by my neus en mond in. In die droom het ek versmoor. Ek het koud en nat en verwond wakker geskrik. Ek het die deur oopgemaak, een van die werfhonde binnegelok. Die hond het sy lê gekry op my karos; ek het my teen hom opgekrul.
Die hond se naam is Ore. Hy sit langs my onder die boom. Ek kry steeds koud. Geertruy leer my van zijn en hebben.
Ik ben, zij is, hij is, het is, jullie zijn, sê sy. Wij zijn. Zij zijn.
Sy wag dat ek die lys opsê. Ek kyk vir die wit sonlig buite die boom se skadu. Die grond bewe van die hitte.
Ik heb, u heeft, jij hebt, zij heeft, hij heeft, het heeft, jullie hebben, sê sy. Wij hebben, zij hebben.
Ek sê haar na, maak ’n paar foute sodat die les so lank moontlik aanhou. Net ek en sy. Ons het mekaar en is van mekaar. Hebben en zijn. Die huis en die ander mense is daar anderkant. Ek skuif nader aan haar, probeer my onder haar oksel inwurm.
Wanneer zijn ek, wanneer hebben ek? vra ek.
Mens gebruik zijn as jy praat van iets wat op pad is, na elders, maar ’n besondere iewers. Van hier na daar. In ’n rigting. Werkwoorde wat praat van iets wat beweeg, verander.
O, sê ek en begryp geen duit nie.
Komen, beginnen, sterven, krimpen, blijken, voorkomen, blijven, lijken, schijnen, raken. En worden, sê sy.
Worden?
Ja, alles wat word.
Wat word nie? vra ek.
Sy bly stil, kyk op in die lyf van die boom, die takke bo ons so dik soos krokodille.
Zijn vir uitvaren, sê sy. Zijn vir binnenspringen, langslopen, opklimmen.
My tande klap. Ek vroetel met die karos, sit my arm om die hond.
Coen, let op. Ons praat van werkwoorde, want woorde kan hard werk as jy hulle reg inspan soos flukse osse. Woorde is gereedskap. Jy moet hulle leer gebruik soos ’n saag of ’n hamer. Toe, dink aan nog woorde wat ’n zijn kry.
Vallen? vra ek. Zinken?
Ja, sê sy. Altyd zijn.
Sy druk my vas, vryf oor die karos.
Onthou, Coen, wat jy is, moet meer wees as wat jy het. Meeste werkwoorde kry ’n hebben, maar moenie die zijn nalaat nie. Zijn is hoe jy groei van binne. Wanneer jy eendag oud is, sal jy sien hoe jou zijn gegroei het, groot en sterk soos hierdie boom. Mits jy hom genoeg water gegee het. Hebben is wat jy kan tel, alles wat jy bymekaargemaak het.
Wat bedoel jy, Geertruy?
Sy maak of sy iets hoor in die huis se rigting:
Ek hoor die baba skree, sê sy.
Wij hebben elkaar; wij zijn van elkaar.
David Donderstraal slaan my plat een aand toe ek die gesinshoof se uitspraak van die Nederduitse God se Hooghollandse Woord verbeter en hy foeter my half vrek as ek die vee te laat in die kraal jaag en hy bliksem die stront uit my uit wanneer ek te stil in die huis sit en vir hom kyk en glimlag.
Ek wil jou nie verveel nie. ’n Jaar ná ek weggeloop het, stap ek oor na Moeder se opstal. Ore draf agter my aan. Moeder is steeds mooi en die eerste Jacob leef nog agter sy melkerige staar. Moeder is besig om die Hottentotte te verskree. Sy skop ’n speenvark wat by haar voete boer. Sy sien my aankom, gaan die huis in en kom uit met haar hare onder ’n kappie. Sy wag my by die deur in.
En waarvoor verdien ons hierdie eer?
Dag, Moeder.
Dag, ja. Jy is maer. Voer hulle jou nie?
Ons praat by die deur en sy vra my nie hoekom ek geloop het nie en ek vra haar nie of sy my vader mis nie. Terwyl ons praat, bestuur sy die plaas met handgebare en bitsige bevele. Ek begin groet; sy sê ek moet wag. Sy loop binnetoe en kom terug met die klere wat ek daar gelos het en wat nou te klein is. Sy sê as dit nie meer pas nie, kan ek dit vir Geertruy se spruit gee.
Dis ’n meisiekind, Moeder.
Wat maakt mij dat uit.
Ek stap terug na David Droeskop se huis. Op pad smyt ek die klere in die renosterbosse. ’n Wolk distelsade stuif op. Ek kyk hoe die son sak. Kyk hoe gryns die berge met goue tande. Die kloof word ’n oopgerekte bek. As jy hier woon, wag jy vir die toeslaan van hierdie kake wat jy huis noem, wag jy vir die geknars om te begin.
Nie ver van die opstal nie gaan staan Ore. Hy luister na die veraf geblaf van ander honde êrens in die veld agter ons. Die geblaf klink anders as die werfhonde s’n. Sy stert trek in tussen sy bene. Hy kom staan teen my, hy snuif die lug. Tjanke en gromme steek vas in sy keel. Die geblaf sterf weg. Ore draf voor my uit, haastig om by sy werf te kom.
Partykeer gaan ek terug en praat met Moeder. Soms vryf sy aan my skouers en sê ek gaan groot word, groot soos my vader, eendag selfs groter. Soms vat ek aan haar wang en dan voel ek hoe ’n spiertjie skiet wanneer haar kake opmekaarklem. Sy en Helbeck sal wegtrek kort na my veertiende verjaardag en ek sal haar nooit weer sien nie.
Met my vader se erflating koop ek twee koeie en ’n dosyn skape. David Drommelskop laat hulle wei op sy deel van die plaas en hulle teel aan. Op elf is ek langer as my swaer; teen dertien sal ek oor die ses voet wees. Bedags pas ek beeste op saam met Saterdag, ’n Bossiesmankind, miskien ’n jaar of wat ouer as ek, maar jonger in die lyf.
David Donkielul het Saterdag se moeder voor sy geboorte gevang. Versterk deur brandewyn en die sing van ’n paar gesange is David Duivel en die boere van die omtes daardie oggend die veld in om te gaan Bossiesmans jag. Saterdag se moeder het hom vertel van dié dag se jag: Die Hottentotte lok die Bossiesmans in die oopte en die Kristene wag hulle in met snaphane. Die boere se lood raak op en hulle gooi klippers in hul lope en skiet voort. Hulle jaag die oorlewende mans bymekaar en sny hulle keelaf, aangesien die munitie op is. Die skepsels weet dit nie. Die leë gewere wat op hulle gerig is, laat hulle volkome oorgee. Hulle staan en wag vir die dood met oë reeds op ’n ander plek. Die vroue met babas en kinders jonger as ses word verdeel tussen die boere en plaas toe gevat en tussen die Hottentotte laat bly. Die vroue word vir Hottentotmans gegee en die kinders aan Hottentotvroue om groot te maak, sodat hul woestheid getem kan word. Toe ’n ander Bossiesmanstam in die distrik gewaar word, verdwyn Saterdag se moeder een nag en los hom op die plaas, haar kind wat nie meer haar kind was nie, maar van kleins af geaard het na die plaasvolk tussen wie sy gevange was.
Ek speel saam met die Hottentot- en Bossiesmankinders, ons gooi kleilat en klippe, ons vang vis en steel eiers en baklei. Ek speel saam met die kinders maar ek maak nie vriende nie. Dit is net Saterdag wat agter my bly aanloop. Die gekerstende kinders noem ons Dawid en Goliat. Wanneer hulle ons met klippe gooi, skuil Dawid agter Goliat, die grootste en kleinste snuiters op die plaas. Vir geen klip val hierdie Goliat op sy gevreet nie. Ek is nie die godverdomde boer se godvergete seun nie. Ek is meer tuis tussen die hutte as naby die opstal. Die kinders behandel my nie soos ’n Kristenmens nie. Ek word nie gou kwaad nie en verdra die geterg, maar soms bars iets los en dan is dit weke dat net Saterdag dit naby my waag. My klere is alewig te klein of te groot. Toe ek in een jaar uit drie paar skoene groei, laat Geertruy dit vaar om my te skoei. By die opstal is ek alleen. Saterdag kom nie op die werf nie. Hy onthou wat sy moeder hom vertel het van die Kristene en hul geweers en hoe ’n perd met sy ysterpote ’n Bossiesman kan flenters loop.
Op ’n