BUYS. Willem Anker
pote. Ek is ontuis in die opstal; ontuis in my lyf. Ek ken my sit op ’n perd, maar selfs in my eie hut is ek onrustig. Sodra ek binne is, wil ek buitentoe en sodra ek buite is, verlang ek na my lêplek. Elke paar weke breek ek ’n stuk van die hut af, bou ek ’n nuwe deel aan en stort ’n ander deel in duie. Ek kan nooit besluit waar die venster moet wees nie. Elke dag of twee bliksem ek ’n ander venstergat in die biesie-en-takwand wat in die rigting van die klipheuwels kyk. Ná drie maande breek ek die hele muur uit en plant ’n dik waboomtak in die middel om die drawerk van die muur oor te neem. Nou kan ek sien wat ek wil sien. In die hut is ’n lae tafel van oorskietplanke waarby ek kruisbeen op die grond sit. Ek grou ’n holte in die een hoek waarin ek my snags onder velle toegooi.
Ek karring alewig met die hut se raamwerk. Die dak sak al laer. ’n Gekraak in die nag, ’n paar dun takke breek. ’n Verdomde slag, die hele spul sidder en ’n stuk dak kry sy rus op die grond. Geertruy vervang die velblindings voor die opstal se vensters met houtluike – glasloos, maar meer volgens die bure se standaarde. Voor die winter kom pleister ek die buitekant van die hut met klei om die hitte binne en die reën buite te hou. By die opstal maak die deuropening plek vir die skoorsteenskag van klip. Die deur trek na die sykant. Binne die hut grawe ek aanhoudend die holtes dieper. David Draadnagelschijter bou sy mure hoër, pleister hulle af, kalk hulle wit. Ek kom minder in die opstal; dit word elke dag ’n meer permanente Woning. Amptenare reis verby en hulle kyk en notuleer en vind dit goed.
Die Senekals se huis styg oor maande op, onopmerkbaar en deurdag dy en gedy die ding soos ’n gekalkte miershoop. Die wande by die dag witter, tot dit een môre lyk of twee sonne weerskante van my opkom; my hut sak weg tot jakkalsgat.
Ek kruip in my hut in, krul my op en lê en kyk na die sterre. Orion hang oor my kop. Ek groei vinnig en raak gou aan die slaap. Wanneer ek nie te moeg is nie, meet ek my stang. Een van die dae ’n el! Glo my, ek spuit al ses voet ver. Die Hottentotte gee vir my dagga. Soms verlang ek na geselskap, maar sodra ek dit vind, wil ek vinnig weer weg. Ek stap ver tot laat in die nag. Op pad terug draal ek gewoonlik verby die doodgegooide mis-en-bossiesvure by die Hottentothutte. Die gras is al geel een voordag toe ek tussen Saterdag en sy mense inkruip waar hulle almal op ’n hoop lê en snork en stoei oor die paar huide op die vloer. Die volgende oggend gaan hulle hul gewone gang, asof ek nog altyd daar geslaap het. Drie weke later is dit makliker om weer tussen hulle te gaan lê toe my vossehol te groot voel.
As ek nie jag nie, is ek saam met die vee in die veld, en dikwels is daar nagte lank nie lig in my hut nie. Geertruy vra my af en toe waar ek slaap, maar kry geen antwoord nie. Soggens voor dagbreek stap ek soms stroom toe en boor ’n gat in die rivierklei en trek my klere uit en druk my pik in die gat en strek my plat uit teen die grond met arms en bene gesprei en wanneer ek klaarkom, druk ek my gesig in die grond. Toe, jy wou mos alles hoor. Ek spoel my af in die rivier. Ná ’n besonder uitgelate oewer-torteling is daar ’n vreemde uitslag wat my koorsig laat en ek bid deur die nag om vergifnis en genesing en die volgende dag is ek meer koorsig en kak ek water en gaan ek terug rivier toe en ram my bruid met mening tot ek gesigte sien en op die rivierbedding se kleilyf aan die slaap raak en toe ek wakker word kan ek die droom onthou en is my koors gebreek.
Ek sit in die son teen die klipmuur van Geertruy se kombuis en olie my geweer. Deesdae moet Geertruy my formeel nooi om te kom eet. Ek weier hierdie uitnodigings selde, maar daag nooit uit my eie op nie. Wanneer ek genooi word, is ek altyd vroeg by die opstal. Dan kry ek buite my sit en vind ek iets vir my hande terwyl ek kyk hoe die Senekal-kinders speel met die oppasster. Maria, met die Maleise oë en Hottentot-hare. Sy is jonger as ek, maar haar lyf is reeds vol en geil. Ek het self die ster van Diana uit die geweerkolf gebeitel en die koperster daarin geset. Sodra ek aan ’n geweer vat, word my hande slim, kleiner, slanker. Ek olie die hout van die baviaanboud. Ek volg die grein van die kolf, my neus by die hout. Ek voer die loop met ’n ander olie en ’n ander lap. Die kuns is om nie die loop rond te pluk nie. Neem jou tyd. Kyk vir ’n wyle hoe stadig moontlik jy dit kan doen. Die lappie moenie rus op die metaal nie, dit moet net-net raak. Dan weer ’n aggressiewe gepoets tot die metaal vuurwarm word. Ek praat nooit met haar nie. Ek maak geweer skoon of brei aan ’n vel of rook. Veral as David Duivelskramp in die rondte is, rook ek verwoed en wag ek op hom om iets te sê. Aan tafel sal hy dan klap na ’n onsigbare vlooi of iets opmerk oor my klere wat ruik soos die Hotnots s’n.
Hier’s overal vlooie, David, sal Geertruy sê.
Maar ons probeer ten minste die goed uitrook. So dan en
wan. Ons probeer … Hý probeer nie.
Ek wil spog by Maria. Ek wil haar vertel ek is een van die bekendste jagters in die omtes. Ek is een van die grootmanne. Weke lank is ek weg saam met die mans van die distrik wat my kom haal vir die jag. Hulle bring altyd vir my ’n perd saam. Hier is net een by die Senekals en ek word nie naby hom toegelaat nie. Soms nooi hulle mijnheer Sakkerdoes Senekal ook saam, maar meestal nie. Ons twee ry nie in dieselfde kommando nie. Sodra Geertruy ons uit die oog verloor agter die naaste rant, is ons aan mekaar se strotte. As dit ’n strafkommando is, moet ons albei saam, maar vir ’n jag kies hulle een van ons op ’n slag. En ek is die een wat raak skiet. Ek rook my pyp en blaas windmakerig ringe deur ringe, maar vind geen woord om aan Maria te sê nie.
Terwyl ons eet, sit Maria kruisbeen in die hoek by die kinders. Sy terg vir Stienie en waai ’n lappop voor haar gesiggie tot die kleintjie begin kraai en omrol op die karos. Maria se rok span om haar boude, o haar boude, en trek op tot waar ’n duim dy bo die knie sigbaar word.
Op vyftien skiet ek my eerste olifant. Omdat ek nie mondig is nie, is ek afhanklik van die hardebaardmanne om die velle en tande van die hand te sit. Ek kry ’n fraks van die betaling vir my eie sak. Die ander jagters kom gou agter ek sukkel nie veel oor geld nie. Ek sal tande en huide by hulle ruil vir ’n beter geweer. Soms hou ek van die velle vir my hut. Die jag self is genoeg. Meestal gaan jag ek alleen. Ná ek vir ’n paar dae alleen die veld in was, sonder ’n perd en skoene, sê algar ek is makliker om mee huis te hou. Geertruy probeer my daarvan laat afsien om so alleen die bosse te in, maar sonder veel oortuiging. Sy weet dit is beter vir almal se sielerus. Hou hulle my te lank op die werf besig met bottervate ronddra of dakke dek, dan ontgeld almal dit. Selfs Saterdag word hard gedonder as hy op sulke dae aan my karring. Terug van ’n jagtog, word ek gewoonlik onmiddellik genooi vir ’n aandete, aangesien ek my dan glo gedra aan tafel. Natuurlik is daar op dese dae ook vir ’n slag genoeg vleis om te deel. My eerste leeu? ’n Brandsiek mannetjie, ’n verjaarde alleenloper, uitgeskop uit sy trop. Was byna of die gedierte geskiet wóú word.
Geertruy skep vir David die Drek nog vleis en vra of ek versadig is en ek sê Nee, Suster, inteendeel.
Alleen op jag word my sirkels van die werf af al wyer. As my pligte op die plaas dit toelaat, bly ek deesdae vir ’n week of meer weg. In die jagveld spits my ore vir iedere tak wat breek. Elke druppel aan ’n grasspriet hang verskriklik. My sweet en die prooi se sweet. Die gekwetter in die bome. Die pis teen die stamme en al die drumpels van streng gebiede waarbinne ’n grootbekmannetjie regeer. Ek deurkruis dit alles met my geweer. Ek ken die reëls van die veld. Hoe beter ek die reëls leer verstaan, hoe vryer word ek. In die veld kan ek my eie lewe tussen die ander gediertes afmerk en uitblaf en -pis en -baklei. In ’n Kristenhuis word jy gekoester wyl jy klein en onnosel is, maar word jy algaande minder vry hoe beter jy begin begryp wat van jou verwag word. In ’n witgekalkte huis moet elke koperkommetjie gepoets word en elke matjie iedere oggend uitgeslaan word, maar reg rondom jou tot in die verskiet en anderkant uit is dit net stof en klip en bos. In die veld is niks vuil nie. ’n Vaal klip hoef nie gepoets te word nie. ’n Doringboom hoef nie afgestof te word nie.
Ek verskoon my van tafel, gaan sit op die karos by die kinders en die oppasster met die vel wat ruik na vet en bossies. Ek pak die houtblokkies op die misvloer uit. Geertruy en haar heerser maak of hulle my nie by hul voete sien nie. Hulle praat harder en kou met meer mening. Die gesprek haak-en-steek, hulle sukkel om my springbok gesluk te kry. Ek tel die kleintjie op en dié begin tjank. Geertruy stuur die kinders en Maria uit na die agterste vertrek. Ek gaan sit weer aan tafel. My peetouers