BUYS. Willem Anker
wat opgalm agter ons aan. Bo in die kloof kom ons af op nog prente. Niks so fyn en duidelik soos die swawelmense nie: vervaagde elande en olifante teen ’n rots sonder oorhang waar die son en reën die spore van mense uitwis.
Saterdag word stil en vee met sy hand oor die tekeninge. Ek vertel hom van die swawelmense in die poort. Saterdag onthou wat hy kleintyd gehoor het. Stories van sy ma en die oumense wat eens in die berge gejag het voor hulle die Senekals se vee kom sit en vetmaak het. Hy vertel my van die rots wat die sluier is tussen hierdie wêreld en ’n ander een. Hy vertel hoe wêrelde versmelt in die grotte waar toordenaars die natuur na-aap en waar mense vogels word om na die ander kant te vlieg en hoe die tekeninge hierdie reise in beweging hou. Hy vertel dit alles vir my soos hy onthou die oumense dit aan hom vertel het en so praat hy hulle na sonder dat hy al ooit self so gedans het.
Ek gee nie veel aandag nie. Saterdag dreun voort. Af en toe kom staan en luister die kinders na ’n stuk storie voor hulle weer tussen die gannabosse in klouter.
Daai swawels, Coenraad, hulle weet wanneer om te trek, hulle weet as die kwade weer en sy bliksems kom. Niemand kan daai swawels vang nie. Hulle vlieg so vinnig want hulle is skaars meer as wind. Daardie windgevogeltes.
Ons maak ons klein, Windvogel, sê ek. Soos ’n yl briesie. Dan, eendag, laat ons uit ’n blou lug ’n godverdomde storm op hulle los.
Windvogel, sê Windvogel en dink diep. Ja, sê hy, Windvogel hou my meer aanmekaar as Saterdag.
Ek word mondig en ek dagvaar vir Skimmel Senekal omdat hy my nie my deel van die botterwinste betaal nie. Hy het beloof om my te betaal vir my arbeid op die plaas. Elke lieve maal wat ons verby die vier meide loop wat staan en botter karring, is dit dieselfde storie. Hoog en laag sweer hy dan dat helfte van die opbrengs van die botter myne is sodra ek een-en-twintig word. Maar die natte bloedpoep is die laaste paar jaar te slapgat vir die maand lange tog na die Caabse markte toe. Een aand vra ek hom weer uit oor die botter. Hy mor in sy by die dag gryser baard oor die swak pryse. Hoe die botter al stink teen die tyd dat dit in die Caab aankom. Hy kla oor die Bossiesmans en die klousiekte en die verskeurende gediertes wat langs die pad lê en wag op ’n ossewa. Ek sit terug en luister met my glimlag. Geertruy spring op en gaan aan ’t tjank en snou my iets toe. Sy sê my hart het koud geword. Ek sê dit is omdat ek nie meer by hul herd lê soos hul vervloekte honde nie. Die saak word afgekeur en ek appelleer en die landdrost beveel dat Slak Senekal sy osse moet inspan en sy onderstel in die Caab kry en vir my my geld gee. Ja-nee, Goddank vir die owerheid. Skaars twee jaar later kom die landdrost weer van ons te hore toe ek vir Slangentyfus Senekal half dood bliksem.
Met die geld wat ek uiteindelik van David Dopluis kry, teken ek ’n huurkontrak vir ’n brak stuk grond naby die Kammanassieberge, noord en deur die poort binneland toe. Dit lê nie ver genoeg van my familie nie, maar ek verwag nie veel besoeke nie. My broer Johannes het die grond onlangs verlaat toe hy versit het oosgrens toe. Ek het af en toe daar aangedoen en gehou van die swart grond, die vaal bossies, die skielike ooptes buite die ewig wurgende Cloof. Ek sê vir niemand nie; vir wat? Oor my vaderskap praat ek ook nie veel nie. Wat moet mens sê? Dit maak Maria bly. Die baba se hare is rooi soos my baard.
Ek maak Maria een oggend wakker en sê sy moet begin pak. Ek gaan haal vir Windvogel en ons loop jaag my beeste en skape bymekaar.
Gaan maak jou bondel, sê ek. Bind hom styf vas.
Die reën is op pad. Ek het dit die vorige aand in die yl sekelmaan gesien en teen die oggend giet die mis van die see af oor die suidelike berge, al met die Cloof langs soos melk wat oorkook. Borrelende koue stroom oor die berg tot die vaal hange wegraak. Die skitterende mis gaan lê agter die bome op die bergvoet soos ’n tweede berg, ’n soliede spooksel. Die dikmelkwolke maak die hemel en grond vas en beide tot niet.
Ek gaan haal my saal in die huis en loop met die ding oor my skouer die lande in na David Doodvallen. Ek vertel hom dat Windvogel saamkom. Reetschilfer Senekal is nie beïndruk nie. Die Bossiesman wat tussen sy Hotnots grootgeword het en wat sy kos opgevreet het en wat deesdae homself Vogel Watookal noem, kan nie sommer loop soos hy wil nie, sê hy. Hoe vinniger ek onder sy voete uit trap, hoe beter, is sy beslissing. Maar as ek trek, trek ek alleen. Ek glimlag. Ek het my eie grond. Skeurbuik Senekal is nie meer my baas nie. Hy karring voort oor hoe hy my grootgemaak het en hoe hy my gevoer het en dat hy meer verdien as om landdrost toe gesleep te word oor ’n paar balies botter. Ek kyk af na my peetvader, dan op en na die verte.
Windvogel wil saamkom.
Hy kan wil wat hy wil, hy is my Hotnot of Bossiesman of Godweetwat en ék sê waar hy sy pote sit, ek gee nie om wat die skepsel homself deesdae noem nie.
Ek glimlag.
Wat is nou weer so verdomp snaaks?
Ek dink maar bloot hoe jy straks gaan lyk.
Ek was soos ’n vader vir jou.
Ek was jou hanshotnot, ek was nooit jou kind nie.
David Doemenis verloor sy humeur en dan twee tande toe my vuis sy gevreet tref. Hy steier, buk om sy hoed op te tel, kom dan weer regop. Op sy hoof hier onder my ken sien ek die rooigebrande bles kol.
Ek is klaar met jou. Vat jou goed. Meidnaaier.
Ék is nog nie klaar met jóú nie, sê ek.
Weer die glimlag. Dan weer die vuiste tot hy lê en nie weer opstaan nie. Ek smyt sy saal van Perd af en gord my eie vas. Senekaltjie mompel iets op die grond. Ek ry opstal toe en gaan neem afskeid van Geertruy.
Het jy vir David gegroet?
Op ons manier.
Vaar je wel, Broertjie.
Vaar je wel, Sus.
Sy druk my nie vas nie en huil nie en staan lank en kyk hoe ek op my saamgeflanste wa met my houvrou en my halfnaatjiekind en my Bossiesmanvriend en my beeste en skape wegry op haar man se perd tot sy my nie meer kan sien nie en dan, weet ek, bly sy staan en kyk na die wapad. Ek ry aan en kyk terug.
Wat in my kielwater op daardie werf sou volg, is tog heel voorspelbaar: Die meid wat skree toe Slingerschijt Senekal by die kombuis instap. Geertruy se oë wat nou trek toe sy die kreet hoor. My suster wat omdraai in die gruis, terug na haar man se huis toe, na die toorn wat sy weet daar op haar wag.
’n Rooi hond met een oor en kiertse hare op sy skof kom uit die ruigtes die wapad ingestap, snuif die lug en kyk hoe ons verbytrek. Hy steek sy tong uit om die eerste druppels te proe. Hy draf agter die wa aan. Iets ritsel in die bosse voor in die pad. Maria wys na nog twee honde wat saamdraf in die gras. Die reën sak uit. Verder in die bosse nog ’n stuk of tien van hulle, uitgesprei voor en langs en agter die wa in die veld; ’n ganske trop.
Die plaas het reeds ’n naam en ek peuter nie daarmee nie. De Brakkerivier lê oor die eerste rant agter Ezeljacht, maar hier is die land reeds anders, harder, kaler. Dit is ’n stuk aarde wat handomkeer verander elke halfuur te perd. Die kuswoude is nie ver agter my nie; oor die Kammanassieberge voor my lê ’n uitgestrekte halfwoestyn. Kyk: slangbos, doringbome laag bo die grond, leiklip en ’n paar volstruise wat aan die klippers pik. Ons span uit en word dadelik deel van die agtergrond.
Die hartbeeshuis wat ons prakseer met rame van latte wat met riete gedek word, smelt weg teen die rant. Dit is ’n sterker en groter konstruksie as die nes waarin ek en Maria die vorige paar jaar gebly het. Windvogel en Maria help en skel en neem uiteindelik die bouery oor toe ek weer begin neig na nesskrop pleks van huisbou. Ek staan en hou hulle dop, hoe vlytig hul hande werk, hoe hulle biesies kan knoop en klei kan plak. Ek vryf my hande, krap aan die eelte, maar die vingers bly dik en dom.
’n Maand of wat later daag daar ’n paar verloopte Hottentotte op wat soebat vir werk en hulle bou vir hulle ook hutte en pas my vee op en slag ’n skaap soos dit nodig word. Ek sit en rook en bekyk