BUYS. Willem Anker
afsny; dan vat ek die been en skuif my stoel terug. Ek vou my bene oorkruis op die tafel, my pote onder my peetvader se neus. Ek skeur ’n stuk vlees van die been af, glimlag. Die huisvader spring op, slaan die deur agter hom toe. Geertruy skud haar kop, loop uit na haar man toe. My springbok is heerlik.
Ek en Saterdag sit en rook naby die trop vee in ’n stuk kaalgevrete weiveld. Dit is te warm vir praat. Ons sit onder ’n groot proteabos, ons oë dik geswel van die vorige nag wat oggend geword het en die son wat skerper as ooit opgekom het.
Saans steel ons karrie, die heuningbier van die Hottentotte. Ons maak vuur en niemand mis ons nie. Ons hurk en kyk in die vuur en soms kom die afoorhond by ons sit voordat die horde oë soos sterre in die bosse die hond terugroep trop toe en hulle die ruigtes in verskiet. Daar is aande dat ons vuisgevegte verloor en begin, aande dat die bier ons dapper genoeg maak om na die groepies giggelende meidjies oor te stap.
Ek krap aan my melkbaard. Onbehendig en met groot vertoon maak ek my pyp skoon met ’n lang doring. Die hoofpyn steek agter my oë. Snotkorst Senekal se herdershond, godverdomde nikswerd Ore, lê in die gras. Die enigste teken van lewe die stert wat nou en dan vlieë opjaag.
Tussen die protea se blare bo ons is ’n spinnekop besig om ’n by toe te spin. Die spinnekop met die rooi pens se bene beweeg flink en fyn. Hy span drade om die by se vlerke en vermy die angel. Die by se agterlyf du met sy nuttelose gifpyl agter die spinnekop aan. Elke beweging draai hom vaster. Die agtpotige aanval word tegelyk geloods uit alle rigtings en op alle fronte. Die vlerke tril al vinniger hoe meer beperk hul ruimte word. Die gezoem al hewiger, woedender, tot die prooi se laaste teenaanval op niks uitloop en die by bedaar. Die angel probeer nie meer steek nie. Die vlerke word stil. Hy kan nie meer beweeg nie. Dit is nie dat die by opgee nie. Die by gee nooit op nie. Hy veg en verswak tot daar niks van hom oor is nie. Saterdag leun vorentoe, steek ’n hand uit om die by te verlos uit die lewe. Ek druk ’n hand voor sy bors.
Los.
Saterdag kyk na my, kyk dan weg, voor hom uit. Ek hou die stadige en doelgerigte wreedheid dop tot die spinnekop tevrede is dat die by nooit sal ontsnap nie en, ná ’n laaste tasting oor die stil prooi se kokon, homself ophys teen ’n draad van sy eie skepping. Ek begin die geweer laai, gooi die kruit in en, in plaas van ’n loodbal, ’n klipper. Ek staan op, strek my uit en kyk af na Saterdag.
Hardloop.
Wat?
Hardloop.
Saterdag spring op, hardloop. Ek vuur ’n skoot in die lug. Die skape spat in alle rigtings, die kudde skielik honderde enkelinge. Saterdag kyk nie om nie, hardloop vinniger. Ek sit die geweer versigtig neer en ren agter hom aan. Saterdag koes kruis en dwars tussen die bosse deur. Ek storm reguit deur die slangbosse en katdorings, my velbroek gou vol haakplekke. Sodomieter Senekal se Ore hardloop saam, ’n onnosele raserny oor die skielike opwinding. Net voor die boomlyn loop ek die Bossiesman plat. Ek nael hom in en sonder om my spoed te verminder hol ek van agter in hom vas en kom op hom te lande. Saterdag begin spartel. Ek druk sy hande teen die grond tot ons asems bedaar. Die plaashond kom nuuskierig nader om seker te maak die speletjie is verby. Die stert swaai en die tong hang uit. Die kwylende sot trippel om ons. Ek sit regop en klap die brak deur die bek sodat hy tjankend retireer.
Los die hond, Buys. Wat maak hy jou?
Dis g’n hond nie.
Hy’s die beste skaaphond wat ons het.
Dis oor hy meer skaap is as hond.
Ore is ’n goeie hond.
’n Hond met ’n naam is g’n godverdomde hond meer nie.
Saterdag skud sy kop en loop agter my aan. Ons begin die skape bymekaarjaag.
Wat gaan aan met jou?
Ons kan nie heeldag so op ons gatte sit nie.
Soos iedere jaar gaan die Senekals vendusie toe. Buiten nagmaal is dit die grootste saamkoekery van die jaar: drie dae van klets met almal van die omtes, drie dae se vreet en suip en ruil en verneuk en hier en daar ’n pietsie owerspel. Ek is voorman en moet saam om na die beeste om te sien. Ek en David Dikkop bly uit mekaar se pad uit, praat net as dit nodig is. Sy blaaskaakmaters is daar; ek het my dinge om te doen. Dit is goed om tussen ander mense te kom, mense wat jy nie wil vermoor nie.
Op die vendusiegrond is ’n vent vars uit Frankryk in die saal wat dinge doen met ’n perd soos ek nog nie gesien het nie. Kyk, dit lyk of die perd nie bewus is van die ruiter nie, so vloeiend is sy bewegings en so fyn die ruiter se bevele. Man en perd word een nuwe en vreemde dier. Die hoewe lig hoog, word fors neergesit, asof die perd al sy daadkrag en drif wil spandeer vir die kleinste voetval, asof sy hele wese afhang van elke tree, asof alle beweging vertoon is en alle beweging ten volle onderworpe is aan ’n onsigbare mag wat geen onvolmaaktheid duld nie. Die ruiter is sonder verlede of toekoms. Hy is bloot arms en bene, stiebeuels en saal en leisels, alles ingestem op die kleinste beweging in die perdelyf.
Kyk net hoe kordaat staan hy daar, die jong Buys: die kapokhaantjie met die veer in sy hoed en sy hand in die sy. Kyk hoe staan en praat hulle met mekaar, die ruiter op Frans en geradbraakte Hooghollands en Buys in die ewig muterende Hollands van die Caabse Kristene. Kyk hoe neem handgebare oor wanneer die woorde tekortskiet. Hoe vra jong Buys hom uit tot die man homself, ná ’n paar onsuksesvolle probeerslae, verskoon kry.
Die eerste oggend terug op die plaas saal ek Sweetvlek Senekal se ryperd op. Een van die meide gaan vertel vir die baas en dié kom al skreeuend op my afgestap. Wie de duivel dink ek is ek om sy perd te bestyg? Ek bring die perd tot stilstand, neem hom dan deur ’n paar van die danspasse wat die Fransman my gewys het. David Doerak word stil. Hy staan vir ’n wyle en hou my dop. Voor hy wegstap, mompel hy dat ek sy perd mag leen ná my dag se pligte volbring is.
Iedere laatmiddag is ek in die saal en die maan hang al hoog voor ek die perd koudlei. Ek verneem Siepsop Senekal vertel die hele wêreld behalwe vir my hoe verbaas hy is dat hy en die vreemde bogkind ’n belangstelling in perde deel. Ek kan sien hoe dit hom dwarssit as die perd beter na hierdie wildewragtag luister as na hom. Ek sorg dat hy by is toe ek die perd met groot gebaar herdoop tot Perd. Ek maak seker hy sien ek kyk vir hom as die gedierte nie meer reageer wanneer hy hom op sy ou naam roep nie. Ná ’n paar weke wil hy my weer belet om naby Perd te kom, maar Geertruy sê sy woord is sy eer. Ek het ’n glimlag geoefen en gekerf wat ek byderhand hou vir oomblikke soos hierdie, ’n glimlag spesiaal vir my lieve peetvader.
In daardie jaar en die jaar daarop kan jy my kom soek tussen die volk se hutte. Op so ’n somersaand is ek sestien en dralend tussen die vure. Kinders hang om my en ek tel hulle op my skouers. Hulle kekkel van plesier en hulle ouers roep hulle binnetoe. Ek loop ’n paar keer verby die hut waar ek weet sy woon en ek vra niemand uit oor haar nie en sy verskyn nie. Ek gaan sit by ’n groep jong Hottentotte en ons praat oor die koei en haar uier wat die middag begin sweer het. Een van die Hottentotte het ’n moedervlek oor sy gesig en gooi op oor die vuur en die ander lag en ek sien haar nêrens nie.
Op ’n later, koeler aand kan jy my vind by ’n vuur waar ek bier drink saam met twee ou beeswagters wat praat oor droogte. Af en toe loer hulle na my. Ek sit en drink wat hulle het en belowe om vir hulle die volgende dag terug te besorg wat ek gedrink het en hulle lag want hulle moet en sê ek is welkom en ek vra hulle nie uit oor haar nie en baie later staan ek op en stap aan na ’n ander vuur.
In die winter is die hout nat en die vure rook en die ou mans is ouer en as hulle my sien, glip hulle die naaste hut in met hul kalbasse. Ek baklei wanneer ek dronk is en soms maak ek of ek dronk is sodat ek wilder kan slaan en op geen van hierdie aande verskyn sy nie en op iedere van dese aande kyk ek te vinnig op as haar naam gesê word. Klonkies wat al moes gaan slaap het koggel haar naam as hulle my sien aankom. Die jong Hottentotte lag maar lag nie hard nie. Vroeg een oggend gooi ek op van die karrie en neem ’n bastermeisiekind