Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
dreigende bankrotskap wys, dis al wat hy moet doen. Die res van my geld is landuit. Hei, ek praat vertroulike goed hier, Lood, dis net tussen ons. Wat van offshore vir jou geld? Nie? Nietemin, my boekhouer besoek my klubs en hou sy hand op die syfers. Hy weet wat met hom sal gebeur as die syfers verkeerd loop: dan stuur ek jóú na hom toe.”
Lood kyk op, ’n frons tussen sy oë. “Hy weet van my?”
Bogdan grinnik. “Nee, man, dis net ’n grap. Jy’s te ernstig, Lood, jy moet leer om te chill, soos my seuns sê.”
Hy weet as hy ooit die loodgieter durf uitvra oor sy regte naam, sal dit wees soos om ’n onuitgesproke kontrak tussen hulle te verbreek. Hy vermoed Lood sal opstaan en uitstap en hy sal hom nooit weer sien nie. En dit mag nie gebeur nie. Hy gaan nie weer so iemand kry vir opruimwerk nie, Lood se soort is skaars. En Bruce, die uitsmyter wat Lood destyds hier aangebring het, is lankal moer toe. Slegte ding oorgekom kort ná Lood se eerste opdrag. Vreemde besigheid gewees, en so skielik. Met Bruce.
“Het ek jou al vertel van die oorsprong van die naam Poenari vir my nagklubs, Lood? Weet jy hoeveel het ek nou? Twee hier aan die Rand en een in Kaapstad, en ek beplan ’n vierde een vir Durban. En daar in Durban is dalk ook ’n werkie vir jou, maar vir later. Ieder geval, het jy al ooit die naam Poenari gehoor voor jy vir my kom werk het?”
“Nee, Mister P.”
Bogdan reik na twee tydskrifte op sy boekrak. “Hier’s Repere Transilvane en dié een is ’n kultuurhistoriese tydskrif, Magazin Istoric. Ek kry hulle nog gereeld uit my geboorteland, al is ek al langer as twintig jaar daar weg. Ek smag steeds daarna om goed uit my land tussen my vingers vas te hou, om dit te vóél. Ek kan dit seker op die internet gaan lees, maar kan jy dit op die fokken internet vóél?”
“Ek het nie internet nie, Mister P.”
Bogdan skud sy kop. “Ja, ek weet, jy’s sonder rekenaar, sonder selfoon. Hoe kry jy dit reg, Lood?”
“Ek’t nie die goed nodig nie.”
Bogdan blaai deur die tydskrif oor Roemenië se historiese en kulturele erfenis. “Soms raak ek skoon mal van heimwee as ek so na foto’s van my land kyk. Ek neem my elke jaar voor om terug te gaan, net vir ’n paar weke, ’n soort pelgrimsreis om op my ou spore te gaan loop. Voel jy ook partykeer só, om terug te gaan na die plekke waar jy kind was?”
Lood staar na die leë koppie. “Nie eintlik nie.”
Bogdan sug, steek sy sigaar aan, kyk deur die rook na Lood. “Het jy tyd, is jy haastig? Die Pawn King kan ’n bietjie wag. Laat ek jou eers vertel van die wonderlike plek waar ek grootgeword het. Maggie! Bring vir Lood nog tee! Heilige grond, daai Transsilvanië, bestaan al eeue voor Roemenië, v.C. Dis waar ons vandaan kom, daar van die grasheuwels van die Karpatiese Berge. Brandarm, my pa was ’n hooimaker. Elke oggend in wind, reën, sneeu, ys of son wat die hel uit jou uit brand, moes ek skool toe loop, plaasskool daar buite ons dorp. Nee, nie dorp nie, Sighişoara word stád genoem, oor sy Middeleeuse sitadel. Dis waarheen ek wil teruggaan, ek wil my twee seuns saamvat en Sighişoara vir hulle gaan wys. Marius is in matriek en Adrian is ’n jaar ná hom, hulle is albei hier in die Sandton-kliniek gebore. Ek sê vir hulle kom saam, kom leer bietjie van julle pa en ma se land. Sighişoara bestaan al van 1280 af, kyk, hier’s die artikel in Magazin Istoric. Luister wat hulle skryf: ‘Sighişoara is die mooiste en bes bewaarde bewoonde sitadel in die hele Europa en word as Unesco-erfenisgebied beskerm. Dis ook die geboorteplek van onder andere Ackner, Teutsch, Kelpius, en in die winter van 1431 van Vlad Ţepeş, latere Prins van Wallagye.’”
Maggie bring die vars tee. Bogdan loer na Lood se reaksie: hy kyk nie eens in haar rigting nie.
“Ek wil vir my seuns Vlad se geboortehuis gaan wys. Dis nou ’n restaurant met die naam Casa Vlad Dracul. Dis wat hulle hier sê, kyk, hier’s die foto’s. Ken jy die stories van Vlad Dracul?”
Lood skud sy kop, besig met die teepot.
“Nog nooit van hom gehoor nie? Vlad Ţepeş, Vlad Dracul, Vlad die Deurboorder, almal dieselfde man?”
Lood skud weer sy kop, sluk met ’n lang onderlip aan die stomende tee.
“Hy was beroemd, hy’s nou nog beroemd in my land. Hier sê dit: ‘Vlad Ţepeş se lewe word vertel in Hoogduitse inkunabels en in vyftiende- en sestiende-eeuse Duitse houtgravures …’ Kyk, só lyk ’n afbeelding van een van die gravures.”
Hy hou die tydskrif na Lood uit, dié leun nader.
“Sien, hier sit hy aan vir ’n feesmaal. En kyk mooi, Lood, wat sien jy nog? Wat omring hom terwyl hy so lekker sit en eet? Ek dink jy sal dit geniet. Dit lyk soos ’n woud, maar dis ’n woud van deurboorde liggame aan skerpgemaakte pale. Van die Russiese en Slawiese oerbronne sê Vlad was ’n vername en regverdige heerser en dapper soldaat, maar mense onthou hom net vir sy wreedhede, praat net van sy voorliefde om sy vyande te deurboor – tot 80 000 van hulle gedurende sy heerskappy.”
Bogdan maak die tydskrif toe, suig aan sy sigaar en teug aan sy Macallan.
“My seuns steur hulle nie aan sulke goed nie, aan hooi en ou sitadels en Vlad die Deurboorder nie. Hulle trek hulle skouers op as ek sê ek het dokumente wat kan bewys dat ons waarskynlik afstam van die Huis van Drăculeşti. Maar nee, hulle stel nie in hulle voorsate belang nie, ken net Dracula-flieks, van daai kak kan jy hulle niks vertel nie. En vampierflieks: Breaking Dawn en Abraham Lincoln: Vampire Hunter en Lesbian Vampire Killers. Lesbiese vampiere, fokken hel!”
Bogdan sit die tydskrifte terug en trek ’n boek uit die rak, hou dit na Lood uit. “Ek weet nie van watter soort boeke jy hou nie, maar lees dié een, jy sal dit geniet.” Hy aarsel ’n oomblik en vra dan: “Lees jy, Lood?” Sonder om dit te laat klink asof hy bedoel: Kán jy lees, Lood?
“Ek lees, ja, koerante. Maar as jy wil, sal ek die boek probeer, Mister P.”
Bogdan sien hoe hy die boek in die ander sak van sy leerbaadjie druk sonder om eens daarna te kyk.
“Goed, nou terug na besigheid. Die ding oor die motorfietsryer: dit gaan nie terugkom en my aan die gat kom byt nie, nè?”
“Die polisie sal niks kry nie, Mister P. Ek los nie leidrade nie. Maar ek hou dop, soos ek altyd met sulke goed doen. Om verder op te ruim, as dit nodig is.”
“Ja, nes ek gedink het. Ek hoop jy voel nie seergemaak dat ek gevra het nie.”
“Ek voel nie seergemaak nie, Mister P.”
Bogdan tel Stella se foto in die piouterraam op, intussen met nuwe glas. Hy sit daarmee in sy hande en betrag haar mooi gesig, die vol onderlip, die moesie onder die lip. “Nog iets, Lood, bietjie persoonlik. Ek weet jy’s nie eintlik iemand vir praat nie, maar wat dink jy: kan ’n man twee vroue gelyktydig liefhê? Ek en Mirela, my vrou, is al byna dertig jaar getroud. En hier’s Stella … Wel, jy weet van Stella. Hoe kies ’n man as hy twee vroue liefhet?”
“Ek weet nie, Mister P. Dis nie my saak nie.”
“Is jy getroud, Lood? Het jy al iemand liefgehad?”
Die loodgieter staan op en reik na sy hoed. Sit dit op en trek bietjie hier, trek bietjie daar, tot hy tevrede is met die helling van die hoed se rand.
“Ek gaan nou eers, Mister P,” sê hy en stap uit.
Vroegoggend by ’n rooi verkeerslig vang ’n plakkaat met groot letters die loodgieter se oog: Nuutste oor koplose motorfietsryer.
Hy wink ’n koerantverkoper nader, en ry na die parkeerterrein van ’n winkelsentrum. Daar koop hy ’n koppie wegneemtee en sit die berig in die kar en lees. Hy volg die verslaggewing oor die ongeluk daagliks, al is daar min nuwe inligting, dieselfde ou herkouery, net in ander woorde, vir elke druppel sensasie gemelk.
Meneer Elie Hartslief, die oorledene se broer, sê hy en sy familie het niks verder om by te voeg nie en vra dat hulle met rus gelaat word.
Hy