Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
“Askies?”
“Die Mounties is van Kanada, nie van Alaska nie.”
Mettertyd besef Elie: die luitenant sleep sy voete. Die man is net bek met al sy aanhalings uit storieboeke, en hy kyk te veel flieks en TV. Intussen moet hy net keer dat die drifkoppe in sy familie eie reg gebruik.
Nog ’n ding van die luitenant wat hom pla: dit lyk of die man versot is op al die media-aandag; sy gesig is gereeld in die koerante en op TV. En die geval van die koplose motorfietsryer is kos vir die joernaliste, hulle is soos aasvoëls.
Antie bel hom juis vanoggend oor die joernaliste wat nie net die huis beleër en op haar senuwees werk nie, maar wat ook haar kappertjies en asters in die beddings voor die heining vertrap. Hulle soek foto’s van Basie en vra kommentaar van die familie, sê sy, en Boela met sy kort smeltdraad praat van hy sal hulle kommentaar gee met sy dubbelloop en Sampie stook hom op, sy dink hier kom moleste.
Elie ry huis toe. Hy kry Boela en Sampie gekalmeer en hy en Antie besluit ’n foto van Basie is al manier om die media van die voordeur af weg te kry. Elie stel hom op die sypaadjie voor as broer van die oorledene en amptelike segsman van die familie en hulle bestook hom met vrae, soos of hy weet of Basie enige vyande gehad het.
“Ons as familie het self lank hieroor gesels, want dis die logiese vraag, nè: as jy vir ’n motief soek, kry eers ’n vyand. Maar nee, Basie was saggeaard, hy’t maklik vriende gemaak, ons weet nie van ’n enkele vyand nie.”
Elie kom agter dat die Basie-dossier oor dae en weke begin koud word. Wanneer hy luitenant Kosile bel om te verneem oor vordering en moontlike nuwe leidrade, kry hy net vae antwoorde. Hy besluit om nie weer te bel nie, daag net onverwags by luitenant Kosile se neerdrukkende staatsdienskantoor in Krugersdorp op om te sien of Basie se dossier darem nog op die speurder se lessenaar lê. Hy sien stapels ander dossiere, maar geen teken van Basie s’n nie.
Hy sit en luister en kry dan ’n woord in: “So, luitenant, wat jy eintlik probeer sê, is dat jy jouself in ’n doodloopstraat vasgeloop het. Nee, in die doodloopstraat se sirkel, jy loop al in die rondte.”
Opgeruk druk die luitenant sy bril terug en knor: “Dis ongevraag, meneer Hartslief, glad nie nodig om smalend te wees nie, ek doen my beste. ’n Gebrek aan leidrade, dis die probleem, op die oomblik.”
“Op die oomblik? Is daar hoop dat dit beter kan word, dat jy meer leidrade gaan kry hoe kouer die saak word?”
“Daar doen jy dit wéér, jy’s sarkasties. Dit help niemand nie, dit help veral nie hierdie ondersoek na jou broer se dood nie.”
“Daar ís geen ondersoek meer nie, luitenant, die ondersoek lewer al weke lank niks op nie. Die dossier lê iewers vergete.”
“Dis nie vergete nie, dis hangend. En daar’s selfoonrekords …”
“Ja, maar julle het nie sy selfoon nie. Watse leidrade het julle uit sy selfoonstate gekry?”
“Ons werk daaraan.”
“Wat sê die vriend, Leo?”
“Ons werk daaraan.”
“En die finale bevindings van die outopsie? Is die teorie van ’n draad oor die pad al bevestig?”
“Ons volg alle leidrade op. Ons het merke aan die windpomp se raam gekry.” Nou erg kortaf.
“O, nóú volg julle op, netnou was daar ’n gebrek aan leidrade. Wat het julle nog gekry?”
“Hare.”
“Watse hare?”
“En vesel. Natuurlike vesel. Die hare en vesel se DNS is by ons laboratorium ontleed.”
“En?”
“Die uitslae is vertroulik, meneer Hartslief.”
Elie voel hoe die drukking in sy kop toeneem, hoe die bloed in die groot are in sy nek pols-pols-pols, met ’n sensasie soos ’n groot inploffing wat dreig. Hy voel die fladdering in sy maag. Hy moet gaan Phipp’s koop, die bottel is leeg.
“Kan ek van jou water kry?” Hy wag nie vir toestemming nie, strek oor die lessenaar na die luitenant se glas en sluk. Hy haal ’n paar keer diep en vinnig asem, dwing homself tot kalmte. Hy sit terug. “Dankie, dis beter. Van watse hare praat jy, luitenant?”
“Ek sê mos, meneer Hartslief, ek mag nie vertroulike inligting oor ’n moordondersoek bekendmaak nie. Jy verstaan dit tog seker, nie eens aan die familie nie.”
“Wat van my prokureur, mag jy vir hóm sê van die hare? Terloops, waar’t die patoloog die hare gekry?”
Nie Elie of sy familie het al ooit ’n prokureur gehad nie. Arm mense het nie prokureurs nie, en prokureurs soek nie arm mense as kliënte nie. Behalwe as jy regtig diep in die moeilikheid is. Boela het eenkeer ’n prokureur nodig gehad toe hy daarvan beskuldig is dat hy twee slagskape van ’n plotboer van Zuurbult gesteel het. Toe het die hof ’n prokureur aangewys, pro Deo. Nie ’n slegte prokureur nie, Boela is onskuldig bevind.
Luitenant Kosile aarsel, staan dan op, gaan vroetel tussen ’n stapel bruin dossiere langs ’n fotostaatmasjien op die agterste tafel. Hy kom terug met ’n dossier en sê: “Ja, hier’s dit. Die hare is aan jou broer se liggaam gekry. Vreemde kophare, lank en swart. Vreemd, want jy sê jou broer se hare was ligbruin en kort, soos op die foto’s wat jy vir ons gegee het. Die patoloog het ook vreemde pubiese hare aan jou broer gekry. Van die hare het follikels gehad, perfek vir DNS-analise. En die geslagsmerker van die DNS-profiel wys XX-chromosome, wat beteken dis ’n vrou se hare. Maar ons weet natuurlik nie wie nie, die DNS-profiel is nie in ons databasis nie.”
“So, luitenant, om op te som: my broer was die Sondagaand voor sy dood in die geselskap van ’n vrou wat hare op sy liggaam gedeponeer het?”
Luitenant Kosile knik. “Korrek. Maar nie net in haar geselskap nie, dit lyk of hulle meer gedoen het as net gesels. Dit lyk of intieme kongres plaasgevind het. Die patoloog het ook jou broer se … ê … private area vir semenmonsters gedep.”
“Goed, ek verstaan. My broer was gepla met sy libido, soos alle jong manne, en hy het die aand voor sy dood seks gehad met ’n vrou met lang swart hare. Wat van die vesel waarvan jy praat? Hoe pas dit by hierdie prentjie in?”
Elie kyk hoe die luitenant se lippe beweeg terwyl hy in die verslag lees. Dan skud hy sy kop sonder om op te kyk. “Nee, lyk my die wit jasse het nog nie vir ons ’n definitiewe antwoord nie. Die vesel is dalk afkomstig van ’n wolkombers of woltrui, en dis natuurlike vesel, beslis nie sinteties nie. Die deursnee van die vesels is gemeet, hier’s dit: tien mikron. Dunner as merinowol of van enige ander skaap, selfs dunner as sybokhaar van angoras of kasjmier.”
“Dankie, luitenant, was dit nou so moeilik? Gee jy om as ek na daardie foto’s in die dossier kyk?”
“Van die ongelukstoneel?”
“Van die outopsie.”
Die speurder betrag hom, hy betrag die speurder, hulle oë woordeloos in gesprek. Die luitenant kyk af na die dossier en skud sy kop. “Meneer Hartslief, ek weet nie of dit …”
“Jy hoef nie my gevoelens te probeer beskerm nie, luitenant. Dis my keuse en ek weet dis nie ’n opheffende prentjie nie. Ek het sy liggaam in die lykhuis aan ’n tatoeëermerk op sy bors uitgeken. Nou wil ek net weer na my broer kyk … vir laas.”
“Ek sal dit nie aanraai nie, maar ek kan jou nie keer nie.” Hy skuif die foto’s in die dossier oor die blad en staan op.
Elie haal diep asem en laat sak sy oë na die foto’s, die liggaam van sy broer op die blink outopsietafel van vlekvrye staal. Hy blaai deur die foto’s, sien uit die hoek van sy oog hoe luitenant Kosile uitstap en die deur agter hom toetrek. Dis stil in die kantoor. Hy kyk om na die fotostaatmasjien.