Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
skok.
Hy trek die sneller. Doef! ’n Konvulsie ruk deur die Pawn King se liggaam en sy kop val vooroor.
Die loodgieter trek die kleefband om sy bors en polse los en van sy mond af. Hy soek in die lessenaar se laaie, kry ’n kam en kam die nat swart hare weer netjies agteroor.
Hy stap by die agterdeur uit en trek dit weer op knip, in ’n gang af verby toilette, uit na ’n private parkeerterrein en terug straat toe waar die groen Subaru geparkeer staan.
Elie word traag wakker. Hy wonder wat hom gewek het. Dan herken hy sy selfoon se luitoon en sien die tyd: 04:46. Hy moet twee keer kug voor hy kan antwoord. “Hallo?”
“Dis ek, Elie, dis Antie hier.”
“Antie? Wat’s fout?” Sy slaperigheid is skielik weg.
“Niks is fout nie.”
“Dis kwart voor vyf in die oggend.” Maar dis haar opstaantyd, dring dit deur.
“Ek weet. Ek wou net jou stem hoor. Is jy by … ?”
“Wanda? Nee, ek’s alleen, in my woonstel.”
“Ek wil hoor wanneer jy weer kom kuier, ek wil vir ons ’n lekker aandete kook.”
“Antie bel my in die nag dáároor?”
“Dis oggend, nie nag nie. Jy kan mos g’n kosmaak nie. Kom ’n slag huis toe dat jy behoorlike kos kan inkry, vleis, rys en groente.”
“Die gemeste kalf.”
“Jy was lanklaas hier. Ons mis jou. Is dit sy wat jou so besig hou?”
“My werk hou my besig, ek werk vir ’n slawedrywer.”
“Bring haar saam as jy wil.”
“Ek sal vra, maar ek twyfel.”
“Goed, kom dan alleen.”
“Ek’s nuuskierig oor die nuwe sopkombuis. Hoe vorder hulle?”
“Hulle vorder fluks. Ons kan nie wag om in te trek nie, alles sal soveel geriefliker wees.”
“Dis goeie nuus. Oukei, ek …”
“Jy kan ons dan sommer ook vertel hoe Basie se ondersoek verloop.”
Eintlik die nié-verloop van die nié-ondersoek, dink Elie.
“En was jy toe al by die dokter? Vir jou maag. Soos jy belowe het.”
“Ek gebruik iets wat goed help, Phipp’s.”
“Milk of Magnesia is eintlik vir konstipasie, Elie.”
“Dit help vir die sooibrand en naarheid ook, Antie, dis eintlik wat pla.”
“Help nie jy behandel die simptome nie, dit kan erger word. Goed, nou kan jy verder slaap.”
Hy weet: sy probleem is refluks. Gaviscon het ook gewerk, met peperment of anys, toe ontdek hy Phipp’s met ’n Tutti Frutti-smaak. Hy het altyd ’n delikate maag gehad, die geringste stres krap dit om. Dan wil die inhoud uitkom, óf boontoe óf ondertoe.
Antie se uitnodiging om Wanda saam te bring was bloot uit ordentlikheid, dit weet hy goed, sy het skaars Wanda se naam oor haar lippe gekry. Hy hét haar al gevat, die eerste keer met groot trepidasie om haar aan sy familie te gaan voorstel.
En sy voorgevoel was reg. Hulle het mekaar nie juis gul en warm om die hals geval nie, mekaar eerder in ’n ongemaklike stilte oor die eettafel sit en takseer soos pokerspelers. Die tweede keer was toe Antie laas verjaar het. Wanda het tot haar krediet vir Antie ’n Elizabeth Barrett Browning-digbundel gekoop, en hy het weer versoener probeer speel, maar die ys kry hy om die dood nie gebreek nie. Dieselfde ding by Basie se begrafnis: die stiltes, die onderlangse blikke, die tekens dat hulle nog nie kan vat kry aan mekaar nie.
Hy het Lottie al gepols: Wat’s fout, hou julle nie van Wanda nie?
Lottie praat reguit: Sy’t jou van Dot afgevry.
Ek het self gekies, dis nie Wanda se skuld nie.
En dis seker ook nie haar skuld dat ons jou omtrent nooit meer sien nie?
Ek’s besig, dis al.
Te besig vir jou familie? Bull! Sy’s besig om jou in te sluk, jou van ons ook weg te vat soos van Dot af … toffieneus met haar fancy klere.
Sy’s nie ’n snob nie, julle ken haar nog net nie. Sy’s eintlik baie gaaf.
Gaaf! Sy kom uit ’n ander dêm wêreld, Elie, uit ’n ander heelal as ons!
Hy het Wanda ook al gepols, meer subtiel as vir Lottie: So, wat dink jy van my familie, sout van die aarde, nè?
Hum.
Wat jy sien, is wat jy kry.
H’m-’m.
Baie neutraal, tot jy tussen die kort reëls begin lees. Dan lyk dit of Lottie reg kan wees oor die groot gaping. Hy geniet dit steeds om deel te wees van die saamtrek om die familietafel, al skimp sy familie dat hy verlore is vir hulle. Almal op hulle jare lange plekke: Antie as matriarg in die erestoel aan die kop, regs van haar die Hartsliefs (sy oorlede ma, Ester, se spruite), en aan Antie se linkerhand die Lerms (oom Bartel se telge, sy ma en Antie se verlore broer).
Aansit om daardie groot tafel was nog altyd veel meer as net vir ’n maaltyd. Dis eerder ’n handevat, ’n bevestiging van familiebande en -lojaliteit te midde van die intieme, joviale chaos van ’n groot en dikwels disfunksionele gesin. Hy mis dit en hy mis sy familie. Die probleem is hy wil gaan kuier, maar Wanda is steeks. Gaan hy sonder haar Brixton toe, raak sy beneuk; bly hy weg, raak sy familie beneuk. Wat nou?
Hy kan dink dat sy familielede vir haar ongewoon mag voorkom, maar hulle bly sý mense, sý bloed, sý gene. En al is die genepoel soms vlak, is hulle almal inherent goeie mense. Hy ken hulle, hy kan vir elkeen getuig, hy kan elkeen se goeie hoedanighede op sy vingers aftik. Dié meestal aan Antie te danke, want dis sý wat gekonsentreer het op die goeie en die positiewe, al was dit nie vir haar maklik om ander mense se kinders groot te maak nie.
Uit Antie se vertellings ken hy so min of meer die familiegeskiedenis, ten minste aan sy ma se kant, al het hy nie sy grootouers geken nie. ’n Groot gesin oorspronklik van Boosmansbos in die Hessequa, maar met die dood van sy ouma het sy oupa belangstelling in die plaas verloor en uitgeboer. Die kinders het uiteengespat, behalwe die drie jongstes: Antie, sy ma en oom Bartel. Hulle is saam met hulle pa Johannesburg toe, maar die huisie in Langlaagte is teruggevat toe hulle pa in die mynongeluk dood is. Dis hoe die drie toe in ou dominee Abraham se kinderhuis beland het.
Ná skool het eers Antie en later ook sy ma by OK Bazaars op die hoek van Eloff en President werk gekry, en Bartel as posman by die mooi ou poskantoor in Rissikstraat. Bartel en ene Lenie het mekaar in ’n rowwe watergat in Fordsburg raakgedrink, een ding het tot ’n ander gelei en hulle is getroud toe sy vier maande met Boela was. Die ander het kort op mekaar gevolg: Sampie, Lottie en Moks. Lenie is glo een aand by die huis uit om brood te gaan koop. Sy het nooit teruggekom nie. Los Bartel net so met ’n kroos van vier, die oudste skaars vyf, die jongste net ses maande.
Wéér moes Antie inspring om te help, wat darem teen dié tyd die groter huis in Brixton gehad het. Met Bartel wat ook sporadies oor die einder begin verdwyn het, algaande al hoe langer, was Antie kort voor lank die surrogaatma van agt.
Elie weet hy word beskou as Antie se onbetwiste regterhand, nie net omdat hy die oudste is nie, maar ook omdat hy, aldus neef Boela, die lettervraat is. Eerder, vermoed Elie, omdat hy nou doer in ryk Sandton bly – kort duskant die poorte, vir ’n armsalige kind van die Dip.
Maar oor sy verblyf daar, soos oor Wanda, praat niemand hardop nie. Behalwe Antie, en soms Lottie, en dan ook net as hy haar pertinent oor iets uitvra, soos oor Wanda. Dan sê sy: Natuurlik is dit wat die mense hier dink, en nie net ons nie, jy’s mos nou grand!
Maar