Ena Murray Keur 4. Ena Murray
die groot man met die brose bondeltjie in sy arms. En tog, ook asof dit pas, asof dit so hoort: Calvyn de Ridder met Babilon se erfgenaam in sy arms.
Maar die jongste Calvyn is geensins beïndruk deur die ferm gesig hier bokant hom nie, salig onbewus van die belangrikheid van hierdie oomblik. Sy maag is leeg – en hy kondig dit luidkeels aan. Weer glimlag Calvyn, en in sy oë dans die vreugde toe hy na Salome afkyk en hom na haar uithou.
“Hy sê sy maag is leeg, Mamma.”
Sonder dat sy heeltemal daarvan bewus is, glimlag Salome terug – die eerste glimlag wat sy en haar nuwe man verwissel.
“So hoor ek.”
“Ek sal gou die goedjies uit die kar gaan haal.”
“Ek kom help,” bied Ria aan, en daar is ’n tinteling in haar stap toe sy Calvyn die trap af volg. Agter haar hoor sy hoe die jongste Calvyn al harder protes aanteken, hoe Salome se troostende stem vervaag toe sy die huis instap. Babilon se stil werf het skielik lewe gekry. Daar is weer geluide – ’n gehuil, nuwe lewe, nuwe betekenis …
Nie een van hulle gee verder aandag aan die drie mense wat op die stoep agterbly nie. Hulle sien nie hoe Wanda haar skoonma ophelp uit die stoel asof sy skielik in ’n paar minute oud geword het nie. Hulle hoor nie toe ’n ander motordeur klap en sien nie hoe ’n stofwolk in die pad opstyg nie. Ria is doenig in die kombuis met warm water en wat Salome ook al nodig het. Salome is besig om, in haar ou kamer, haar seun te versorg. En Calvyn stap oor die werf, koers in die rigting van die stalle, draai dan weg na ’n kampie daar naby. Hy steek sy hand uit en streel oor die satyngladde hare. “Sy is terug, Ounooi. Sy en haar seun.”
Dis eers daardie aand, terwyl Salome haar baba bad, dat sy en Ria werklik alleen kan gesels. Ria, met haar oë skuldig neergeslaan op die kaal boudjies van die kleinding, bieg eerlik: “Salome, is jy vir my kwaad? Dis ek, en nie Hendrik nie, wat jou geheim verklap het. Wanda en Deon het daardie middag van die stad af teruggekom.” Sy kyk op, en terwyl Salome haar baba op haar skoot tel en begin voed, luister sy stil na wat Ria te bieg en te vertel het, haar gesig onleesbaar. Toe Ria eindelik stil is, kyk sy op.
“Dan was dit seker so beskik dat jy in jou ontsteltenis my geheim aan Calvyn verklap het, Ria. As Wanda dan nooit kinders van haar eie kan hê nie, is dit goed dat ek teruggekom het. Dan was dit noodsaaklik, want dan is hy,” en sy kyk af op die suigende mondjie, “werklik die enigste redding vir Babilon … en Calvyn.”
“Hy kan dit nog altyd wees sonder dat jy juis met Calvyn moes gaan trou,” wys Ria stil uit. “Hoekom het jy met hom getrou, Salome?”
Dis Salome se blik wat nou afgewend is en stip op haar kind teen haar bors gerig bly. Dis lank stil voordat sy gedemp antwoord: “Daar is so baie redes, Ria, en ek wil dit liewer nie … bespreek nie. Ons is nou getroud en ek hoop maar dat dit hierdie keer … beter sal gaan. Hoe voel … Ma nou?”
“Ek was netnou by haar. Sy lê. Sy lyk nie te gesond nie. Dis hoekom sy vroeër teruggekom het van vakansie af. Sy het natuurlik ’n groot skok weg. Dis te verstane. Ek het haar ’n kalmeerpilletjie gegee. Sy het tyd nodig om gewoond te raak aan die gedagte …”
Salome glimlag meewarig. Ja, nie net haar skoonma sal tyd nodig hê om gewoond te raak aan die gedagte dat Salome weer terug op Babilon is nie. Sy self – en ander, ook die hele omgewing, al hul kennisse en vriende – sal daaraan gewoond moet raak. Sou Calvyn ooit daaraan gedink het watter skindervuur hy self hierdie keer teen Babilon se mense aan die brand gesteek het?
Ná aandete en nadat sy seker gemaak het dat klein Calvyn rustig slaap, stap Salome na buite. Haar blik dwaal oor die bekende werf. Calvyn het gesê dis nou hare. Sy is nie meer ’n indringer nie. Maar as daar nie op hierdie oomblik ’n seuntjie in sy bedjie in ’n kamer in die opstal van Babilon geslaap het nie …
Sy skud haar kop om hierdie gedagte te verwilder en stap vinnig aan. Wat sal dit help om gedurig hieroor te tob? Wat maak dit saak as dit so is, dat sy net hier aanvaar word, dat sy haar regmatige plek as die vrou van Babilon kry omdat sy die ma van die erfgenaam is? Wat daarvan? Dis tog die enigste rede hoekom sy vanaand weer eens oor Babilon se werf stap. Sy weet dit tog. Om watter ander rede sou die baas van Babilon so gulhartig teenoor haar wees? Veral noudat dit ’n feit is dat haar kind die enigste erfgenaam sal wees, is die dryfveer agter alles so klinkklaar. Selfs al sou sy nie gedwee ingewillig het nie, sou Calvyn haar nogtans op die een of ander manier gedwing het om aan sy eise te voldoen. Hy het tog reeds geweet, toe hy haar in die stad kom besoek het, dat die kind wat in die goedkoop losieshuiskamertjie lê die enigste hoop vir hom is.
Maar hoekom trou met haar? Soos Ria nugter uitgewys het, is haar kind sonder twyfel die erfgenaam van Babilon. Eintlik was dit onnodig dat sy ma ’n trouring aan haar vinger moet hê om hom sy erfenis te laat behou. Maar miskien het Calvyn besef dit is die enigste manier waarop hy haar kind sal kry … om met die ma te trou. Hy het goed geweet dat nie eens al die geld van die De Ridders, en watter invloed hy ook al mag hê, dit moontlik sal maak dat hy haar kind van haar sal kan wegvat nie. Nee, Calvyn het goed besef dat as hy die erfgenaam van Babilon wil hê, sy deel van die onderhandeling is.
En ’n blote onderhandeling is dit. Dit is geen huwelik wat Calvyn verlang nie. Hy wil net die kind hê. Sonder ’n woord het hy gisteraand nag gesê en na sy eie kamer in die hotel gestap – en sy het nie eens daaroor gewonder nie. Hulle het dit nog nie bespreek nie, maar sy twyfel of hulle dit ooit sal bespreek, want dis nie nodig nie. Albei – sy sowel as Calvyn – weet tog waarom hierdie huwelik aangegaan is. Dit draai net om die erfgenaam van Babilon.
Daarom dat sy vanoggend toe sy die huis binnestap, spontaan na haar ou kamer afgedraai het, en Calvyn spontaan sy tas weer in sy kamer gaan neersit het. Dit het nie by haar of – sy is seker daarvan – Calvyn opgekom dat die ander miskien hieroor sal wonder nie. Vreemdes sal miskien verbaas hieroor wees as hulle dit moet agterkom, maar aan die ander kant – nie Ria óf Joey sal daaroor wonder nie. Ook hulle begryp die toedrag van sake volkome.
Haar aandag word getrek deur ’n paar beeste wat met hul groot oë haar herkouend staan en beskou, en sy kom tot stilstand. Die eerste keer onthou sy en sy kyk hulle een vir een deur. Dan glimlag sy en stap nader.
“Ounooi! Ek is seker dis jy. Onthou jy my nog?”
“Ja, dit is sy. En sy onthou jou nog. Ek ook.”
Sy swaai om met ’n blye glimlag, maar daar is geen glimlag op Hendrik Jansen se gesig nie. Lank kyk hy haar ernstig aan sodat haar eie glimlag vervaag. Stadig skud sy haar kop heen en weer en dan is sy skielik in sy arms, druk hy haar styf vas en klink sy stem sag bokant haar kop: “Jou klein gek! Jou absolute klein gek! Salome, wat het jou besiel om so iets te doen?”
Sy trek terug en gee hom ’n klapsoen.
“Moenie met my raas voordat jy my nog gegroet het nie! O, Hendrik, ek het so na jou en Ria verlang! Ek is so bly om julle twee weer te sien.”
Dis jammer dat die man wat die ontmoeting sien, nie ook haar woorde hoor nie. Dan sou hy geweet het dat dit blote vriendskap, ’n mooi, egte vriendskap is wat aanleiding gegee het tot die omhelsing, en dat dit nie ’n omhelsing van twee verliefdes is soos dit vir hom op hierdie afstand in die skemer lyk nie. En die teer ondertoon in Hendrik Jansen se stem wat hy wel kan verneem sonder om die woorde uit te maak, is nie dié van ’n minnaar nie, maar van ’n opregte vriend wie se hart vol kommer en selfverwyt is. As hy Ria maar liewer nie vertel het van daardie brief nie …
Eintlik is dit dus sy skuld dat Salome weer eens ’n dwase stap gedoen het, hierdie keer soveel dwaser as die eerste keer. Want sy kon nog van Deon de Ridder wegloop, maar Calvyn de Ridder is ’n perd van ’n heeltemal ander kleur. Hulle hoor nie die sagte voetval wat in die skemerte wegsterf nie, en Salome antwoord: “Wat kon ek anders doen, Hendrik? My kind is ’n De Ridder, en Babilon ís sy erfenis. Ek sou hom skaars met die noodsaaklikste aan die lewe kon hou, en hier …”
“Hier sal hy alles kry, behalwe die noodsaaklikste – liefde en karakter.”
Sy kyk hom fronsend aan.
“Maar ek is mos ook hier. Laat Calvyn hom daardie ander dinge gee. Ek sal hom weer