Ena Murray Keur 4. Ena Murray

Ena Murray Keur 4 - Ena Murray


Скачать книгу
oomblik voel en wat presies in hom omgaan noudat sy oë weer ná maande op haar rus, kan Salome nie op sy gesig lees nie. Maar hy kan die wisseling van verskillende emosies op háár vermaerde gelaat lees. Eers is daar ongeloof in die oë wat diep vanuit hul kasse na hom opstaar; dan verbystering, gevolg deur ’n vraende blik; en dan vrees, soos hy dit nog nooit in haar oë gesien het nie. Dis ’n patetiese beweging wat sy maak om die deur in sy gesig toe te druk. Met sy hand op die knop druk hy dit wyer oop, stap binne en druk dit dan agter hom toe. Sy retireer.

      “Wat … wat soek jy hier?” Dis net ’n skor fluistering, bevange van vrees.

      “Salome, ek het jou kom haal … vir jou en … die kind …”

      “Die … die kind? Watter … watter kind? Hier is geen … kind nie.”

      Dis weer ’n patetiese poging, waarop hy nie eens antwoord nie, want agter haar in die hoek is daar ’n kniesgeluidjie. Calvyn kyk oor haar skouer en sien die ligte roering. Hy stap vorentoe, maar sy is voor hom daar. Met haar rug teen die kant van die wiegie gedruk, kyk sy na hom op en haar oë gloei koorsig.

      “Jy sal nie jou hande op my kind lê nie, Calvyn! Oor my dooie liggaam …”

      Sag maar baie beslis neem hy haar aan die skouers en sy is soos ’n ligte veertjie in sy arms toe hy haar optel en op die bed neerdruk. Dan buk hy oor die bondeltjie, en van waar Salome hom met groot, verstarde oë sit en aankyk, kan sy nog geen emosie op sy gesig uitmaak nie.

      Toe hy eindelik orent kom, kyk hy nie eens na haar kant toe nie, maar laat sy oë deur die vertrekkie dwaal totdat hulle op ’n plek tot rus kom. Hy stap daarheen, haal die twee verweerde tasse van die hangkas af, maak hulle oop en sit hulle op die kaal houtvloer neer.

      “Wat … wat gaan jy nou doen?”

      Eindelik kyk hy na haar, en Salome sal nooit raai hoeveel moed dit van die groot man verg nie. Ook sal sy nie raai dat dit skaamte is wat hom tot dusver haar oë laat ontwyk het nie. Hy hou sy hande uit en trek haar orent, en in ’n vreemde stemtoon wat sy nooit tevore by hom gehoor het nie, sê hy: “Kom. Ek sal jou help inpak. Jy en jou seun kom saam met my.”

      “Waarheen?”

      ’n Oomblik kyk hy in haar vreesbevange oë af voordat hy antwoord: “Waarheen anders as na Babilon – waar julle twee hoort?”

      “Nee! Nee!” Sy rem terug. “Wat moet ek daar gaan maak? Daar is geen plek vir my … vir ons nie! Nee, ek …”

      “Al die plek in die wêreld … as my vrou en my kind.” Verbystering is in elke lyn van die skraal gesiggie en maer lyfie afgeëts.

      “Wat … wat het jy gesê?”

      ’n Sterk hand vou om haar bewende ken.

      “Ek vra jou om met my te trou sodat ek vir jou en jou seun ’n huis en ’n toekoms kan gee.”

      “Jy … jy is van jou verstand af!”

      Sy oë vernou, staar priemend na haar.

      “Haat jy my só erg, Salome?”

      Sy kyk terug, vol verwarring. Haat sy hom? Sy het haarself nog nooit die vraag afgevra nie. Sy weet nie wat sy teenoor hom voel nie. Al wat sy weet, is dat dit hierdie man se gesig was, en nie dié van die pa van haar kind nie, wat telkens voor haar opgeduik het in die maande wat verby is. Al wat sy weet – en hoekom dit so is, sal sy nie kan verklaar nie – is dat die verpleegsters haar gesê het dat sy na ’n Calvyn geroep het toe sy met die dood geworstel het. Dit was ook nie Deon se beeld wat voor haar verskyn het in die maande wat sy so swaar gekry het nie, toe sy gewonder het hoe sy die noodsaaklike goedjies vir haar baba gaan bekom, hoe sy die broodnoodsaaklike vir haarself gaan koop. Dit was hierdie man se beeld wat dan voor haar gestaan het – en sy het nog nooit die moeite gedoen om die emosies te ontleed wat op daardie oomblikke in haar hart was nie. Maar één emosie het sy tog wel geëien – die bitterheid wat so dikwels as wat Calvyn se gesig voor haar verskyn het, in haar opgestu en soos ’n hoogoond gebrand het.

      “Ja, ek haat jou.” Sy sê dit reguit, kalm, amper sonder emosie. “Ek haat jou en Babilon en die naam De Ridder.”

      Hy kom orent en laat sy vingers losgly van haar ken. Hy staar na die twee leë tasse voor sy voete.

      “Tog moet jy saam met my terugkeer na Babilon. Jou kind se toekoms lê dáár, nie hier nie …” en sy oë dwaal weer vlugtig deur die beknopte vertrekkie.

      “Nie eens ter wille van my kind gaan ek deur ’n tweede Babiloniese hel nie, Calvyn.”

      “Daar sal nie ’n tweede keer wees nie, Salome.” Sy oë skiet terug na hare, hou hare gevange. “Jy trou nou met Calvyn de Ridder – nie met Deon de Ridder nie.”

      “Is daar enige verskil?”

      “’n Wêreld se verskil, belowe ek jou. Hierdie keer sal jy ’n De Ridder in die volle sin van die woord wees. Jy sal jou regmatige plek kry, en jou kind sal sy regmatige erfenis kry. Moenie dat haat jou verstand oorheers nie, Salome. Dink aan jou kind!”

      Sy laat haar kop sak en voel die warm trane op haar wange brand. Wat moet sy doen? Sy is so moeg en suf van swaarkry, so kragteloos om die lewenstryd vir haarself en haar kind aan te knoop. As hy ’n paar maande later gekom het, wanneer sy miskien meer krag teruggekry het, weer moed gekry het om die toekoms aan te durf … Maar op hierdie oomblik voel dit vir haar asof sy liewer op die bed kan omval en sterf. Sy is so moeg, so swak nog … Sy kan nog nie dink nie. Sy kan nie met ’n Calvyn de Ridder redeneer nie. Sy het haar kind lief, maar dis ’n grenslose wanhoop wat in haar opstyg as sy na die klein, afhanklike mensie kyk. Hoe gaan ek jou grootkry? Hoe gaan ek vir jou sorg, vir jou alles gee wat jy nodig het? Here, Here, hoe gaan ek elke dag sy magie vol hou en sy liggaampie toe? het sy al so dikwels in die maand wat sy terug is uit die hospitaal gevra.

      Toe sy haar kop eindelik weer oplig, sien sy dat die kasdeure oopstaan en dat Calvyn reeds besig is om haar skamele besittings in te pak. Dis of sy na ’n toneel uit ’n rolprent kyk, asof sy nie deel daarvan is nie. Sy sien hoe hy die tasse toeknip, hoe hy sy hand uitsteek.

      “Kom.” Sy staan op, gehoorsaam soos ’n outomaat, of soos een wat gehipnotiseer is. “Bring jy vir Calvyn.”

      Sy kyk verward, fronsend op. “Hoe weet jy …?”

      “Natuurlik is sy naam Calvyn. Die oudste De Ridder-seun was nog altyd Calvyn. Daarom het jy hom so laat registreer, nie waar nie?”

      Sy antwoord nie, laat haar oë sak. Ja, dis seker daarom. Sy kan nie onthou nie. Hulle het haar gevra wat haar kind se naam moet wees, en sy het gesê Calvyn. Sy was toe nog baie siek, kon skaars konsentreer, maar dit was seker haar onderbewussyn wat haar laat onthou het dat die oudste seun in ’n nuwe De Ridder-geslag altyd Calvyn is.

      Hy neem die baba by haar toe sy inklim, en sit hom weer op haar skoot terug. ’n Oomblik kyk hy af op die verkreukelde gesiggie.

      “Hy is donker – soos ek en Pa.” Sy hoor nie die vreemde noot in sy stem nie, want haar oë staar vas en nikssiende voor haar uit. Op hierdie oomblik is sy net bewus van een ding: sy is ’n tweede keer op pad na Babilon.

      8

      Soos tevore sien Salome hoe Babilon voor haar ontvou toe hulle die laaste rantjie oorgaan. Soos tevore sien sy die statige ou herehuis, die bome, die blomme, die netjiese vrugteboord, die groentetuin en landerye en die damme – en weer is daar bedenkinge in haar hart. Dit was ’n dwase stap om met Deon de Ridder te gaan trou het. Maar is dit nie ’n nog dwaser stap om met die baas van Babilon te trou nie?

      Die eerste keer het sy blindelings in ’n huwelik met ’n De Ridder ingestap – met ’n jongmeisiehart vol drome en sotte ideale, uit onkunde. Maar hierdie keer … Dit was ’n verbitterde, ontnugterde vrouehart wat hom deur Calvyn de Ridder laat beweeg het om ’n tweede keer in haar lewe so ’n dwase stap te doen; maar dit was ook ’n sielsmoeë moederhart vol kommer wat eindelik geswig het. Hierdie keer is dit egter nie die onervare, onkundige jong meisie wat Babilon betree nie. Hierdie keer het sy nie


Скачать книгу