Ena Murray Keur 4. Ena Murray
deeglik – die eerste keer in maande – en wat sy sien, skok haar. Calvyn het oud geword, besef sy. Daar is lyne op sy songebruinde gesig, diep kepe wat lelik insny in die aristokratiese gelaat. Dis of hy ook maerder geword het, want die neus staan skerper uit, die kakebene hoekiger. Sy hande, wat die mes en vurk vashou, is net so vereelt en gebars soos dié van sy voorman. In alle regverdigheid moet sy erken – Calvyn het die afgelope tyd ’n slawedrywer geword, maar hy het homself ook nie gespaar nie.
Sou Hendrik gelyk hê in wat hy gesê het toe sy kort gelede haar kommer oor Calvyn en die besete wyse waarop hy te kere gaan op die plaas, hardop uitgespreek het? “Los hom. Dis ’n swaar gewete wat hy moet doodwerk. Dit kos harde werk om ’n gewete stil te werk, en wanneer hy die dag in sy spore neersak en nie verder kan nie, sal hy besef dat ook hy met ’n verlore stryd besig is.”
Het Hendrik gelyk? Is dit waar dat Calvyn ’n gewete probeer stilwerk? wonder sy nou met haar oë op die stroewe gelaat. Sy kyk vinnig weg sodat hy nie miskien onverhoeds opkyk en die jammerte in haar oë lees nie, want jammerte is so onvanpas by hierdie groot, klipharde man. Al slaan al die elemente in wrede geweld teen ’n granietblok aan, kry jy tog nie die granietblok jammer nie. Al slaan die bliksem op die ysterklip, het jy geen simpatie met die ysterklip nie, voel jy nie bekommerd daaroor nie. Want wat kan storms aan graniet en ysterklip doen? Tog, toe haar blik weer na hom terugdwaal, besef sy dat al breek en bars die graniet nie onder die aanslae van storms nie, verweer dit tog. Trapsgewys word daar kepe ingesaag, spoortjies om die oë gevorm, graveerwerk gedoen sonder dat jy dit agterkom.
“Calvyn, ek praat met jou.” Toe hy vlugtig, vraend opkyk, vervolg sy sag: “Hoekom sloof jy jou so af? Waarvoor werk jy soos ’n besetene? Vir wie en vir wat, my broer?”
Hy antwoord nie dadelik nie; sekondes gaan verby, en toe is sy oë op die koffie in sy hand gerig, sy antwoord ontwykend:
“’n Mens moet werk. Elke mens moet werk.”
“Dis reg, ja, maar met ’n doel voor oë. Vir watter doel werk jy?”
Hy sug en kyk eindelik op, vas in haar oë.
“Vir Babilon.”
“Vir Babilon? Vir ’n dooie, siellose stuk grond wat ná jou dood in vreemde hande sal val, wat nie die sweet sal waardeer wat daarvoor gestort is nie?”
’n Vlammetjie flikker skielik in sy oë.
“Babilon sal nooit in vreemdes se hande val nie. Dis die erfenis van die De Ridders.”
“So? En as daar geen erfgenaam is nie?”
“Hoekom sal daar nie wees nie? Deon en Wanda is blakend gesond.”
Ria kyk hom net stil aan. Dan, met ’n ligte sug, tel sy sy bord op, en toe sy agter hom verbykom, lê sy met onverwagse dapperheid haar hand ’n oomblik op die donker kop. Maar sy sê niks nie en stap voort kombuis toe terwyl Calvyn haar verbaas, verward agternastaar.
Dat albei binne ’n paar weke ná hierdie gesprek weer aan hierdie aand herinner sal word, het nie een van hulle gedink of verwag nie. Dis egter net ’n paar weke later dat Calvyn hierdie gesprek tussen hom en Ria woord vir woord onthou en tot die besef kom: die mens wik, maar daar is Iemand wat die finale beslissing in sy hande hou. Ons mensies, ook die De Ridders van Babilon, beplan, besluit, maar net tot op ’n punt. Daarvandaan is dit Iemand anders wat die pen oorneem en verder berekenings maak, verder uitwerk, en net by Hom lê die finale antwoord van die som wat jy as power mens begin het.
Dis in die koelte van ’n vroeë somermiddag dat Wanda se motor voor Babilon se deur stilhou. Ria kyk verbaas van haar naaldwerk af op en sê aan Calvyn, wat ook op daardie oomblik ’n lafenissie kom soek: “Ek het nie geweet hulle is al terug uit die stad nie? Ek het gedink hulle sal ’n paar dae daar bly. Hallo, Wanda. Ek sê nou net vir Calvyn …” Dan kyk sy skerp na Wanda se gesig. Daar is iets in haar uitdrukking wat onvanpas lyk, amper iets treurigs. “Is daar … is daar fout, Wanda?”
“O nee, nee. Niks. Nee, ons het maar teruggekom. Deon wou nog bly, maar ek wou nie. Ek was nie lus nie …” Sy swyg en weer is daar iets in haar oë, haar stem wat Ria haar ondersoekend laat aankyk. Wanda sal die geleentheid om ’n paar dae in die stad te bly nie deur haar vingers laat glip nie. Gewoonlik kan sy en Deon nie genoeg kry van die sosiale lewe wat die stad bied nie. Daar skort beslis iets.
Dan lag sy kortaf, ’n vreemde laggie wat Calvyn vraend laat opkyk. “Ek kan julle maar vertel wat ek eintlik in die stad gaan maak het. Almal sal dit die een of ander tyd weet. Al wat mens is, kyk my deesdae met sulke speurende oë aan dat …”
“Hoekom?” wil Ria verbaas weet.
“Jy weet mos hoe dit hier gaan. Jy is skaars getroud, of die mense begin die maande aftel. Stel jy hulle nie teleur nie, dan is jy natuurlik alles wat sleg is, en skinder hulle heerlik. Stel jy hulle teleur, dan kyk hulle jou beskuldigend aan, asof jy nogtans ’n vreeslike sonde begaan het om nie aan hul verwagtinge te voldoen nie.”
Calvyn kyk sy skoonsuster fronsend aan.
“Waarvan, in hemelsnaam, praat jy nou, Wanda?”
“Ek praat natuurlik daarvan dat ek nog geen tekens toon dat ek verwag nie,” kom die reguit antwoord en ’n hewige frons skiet tussen Calvyn se wenkbroue in. Wanda steur haar nie daaraan nie. “Ek was stad toe na ’n ginekoloog,” verduidelik sy aan Ria. “Die ou dokter De Jonker sê toe mos vir my ek sal nooit kinders hê nie. Toe maak hy vir my ’n afspraak in die stad en dis waarheen ons was.”
“Wel?” Calvyn se stem is skielik skor.
“Wel …” Wanda de Ridder probeer glimlag, doodluiters voorkom, en dit in ’n grap afmaak. “Wel, die ginekoloog het bevestig dat ou De Jonker gelyk het. Ek sal nooit kinders hê nie. Daar is glo iets wat nie reg ontwikkel het nie. Ek weet ook nie wat nie. Maar dis ’n voldonge feit dat ek nie in staat is om ooit swanger te raak nie.” Sy draai haar oë vinnig weg van die twee verstarde gesigte en vervolg gedemp: “Ek het toe maar gedink ek sal julle kom sê daarvan. Dan weet julle, Calvyn veral …”
Die volgende oomblik spring sy op en storm na haar motor, en voordat Calvyn en Ria ’n vinger kan lig, trek sy in ’n stofwolk weg. Dis doodstil op die stoep. Die tee word koud in die teepot.
Dis Calvyn wat eerste opstaan en in die rigting van sy studeerkamer verdwyn. ’n Peinsende Ria klim met die stoeptreetjies af en kry koers in die rigting van die land agter die eerste rantjie, waar die dreuning van ’n trekker opklink.
Sy beduie aan Hendrik om die trekker af te skakel, en toe hy by haar kom, vee hy die sweet met die rugkant van sy hand weg.
“Ek verwag Calvyn elke oomblik hier. Ek dink jy moet liewer huis …” begin hy.
“Calvyn is in sy studeerkamer en ek dink nie ek of jy sal hom voor môreoggend weer te sien kry nie. Sy hele wêreldjie, waaraan hy so hard opgebou het, het netnou om hom ingetuimel.”
Hendrik frons skerp.
“Wat … bedoel jy? Wat het gebeur?”
Hy staan en luister swyend, en eers toe Ria aan die end van haar vertelling kom, kyk hy haar direk aan.
“Miskien sal jy nie nou verstaan nie, Hendrik, maar ek kry hom so innig jammer, baie jammerder as wat ek Wanda het. Calvyn het al sy drome en ideale op sand gebou … en vanmiddag het dit onder hom weggekrummel. Daar het niks oorgebly nie, niks vir die toekoms nie. Al sy sweet, al sy opoffering, al die bakkende ure in die son, al die beplanning en berekeninge in sy studeerkamer, al die spartel en spook om die De Ridder-naam hoog te hou – alles het vandag op ’n ronde nul uitgeloop. Dit is die eindtotaal van die som van sy lewe. ’n Nul. Een ronde nul.”
Sy begin saggies huil en Hendrik trek haar teer teen hom vas. Bokant haar kop staar sy oë na die rooi sooie wat omgekeer lê, nie vir die nageslag van die De Ridders nie, maar vir vreemdes – en op hierdie oomblik kry die voorman sy baas uit sy hart uit jammer, só jammer dat hy gerus saam met Ria kan huil oor die arme, ryk dwaas. Dan is daar tog dinge in die lewe wat geld nie kan koop nie. Dan is daar tog oomblikke waarin selfs die baas van Babilon kragteloos