Ena Murray Keur 4. Ena Murray
brokkie van honger sal omkom, het haar gedwing om na my te kom en te vra of ek nie sal voorskiet solank die boedel nog nie afgehandel is nie.”
“Jy sê sy pa … is ’n week gelede al dood? Hy weet daar niks van af nie.”
“Nee, hoe sal hy ook? Waar moes ons hom in die hande kry? Ma het altyd sy geld na die posagentskap gestuur. Nou en dan, veral wanneer die geldjies min was, het sy ’n kort notatjie sonder adres ontvang. Dit het my ’n hele week gekos om hom uit te snuffel. Ons het flitsberigte oor die radio laat uitsaai, maar julle het dit blykbaar nie gehoor nie.”
“Nee, ons het nie. Deon weet eerlik nie dat sy pa dood is nie. En ek het nie eens geweet hy het nog ’n pa en ’n ma en ’n halfbroer en -suster nie. Ek, arme swaap, vind vanmiddag eers uit dat ek in werklikheid niks weet van die man met wie ek al vier maande getroud is nie.”
“Wel, feit bly dat Deon se fonteintjie opgedroog het. Ek is nie bereid om hom ’n enkele sent verder voor te skiet nie. Ek laat hom ’n keuse. Hy sien self en kom die mas verder op, of hy keer binne ’n week terug na Babilon en kom sy verantwoordelikhede daar na. En hierdie keer gaan hy werk vir wat hy wil hê, dit beloof ek hom.”
“Hoekom wil jy hê hy moet terugkom Babilon toe as jy hom so verag?” vra sy reguit.
“Beslis nie omdat ek hom graag daar wil hê nie! Maar feit bly dat ek en hy Babilon om die helfte erf, op voorwaarde dat ons op Babilon woon. Dan ook bly hy my halfbroer, laat hom wees wat hy wil. Ons het een pa gehad, en dis net ter wille van my oorlede pa dat ek Deon nog hierdie een kans gun. Hy keer terug en ek sal hom help, want ons moet Babilon vir die nageslag bewaar. My pa het dit uit die grond uit opgewerk tot die spogplaas wat dit vandag is, en ook van my lê daar baie sweet. Ek gaan nie ’n enkele sentimeter van die grond van die De Ridders laat vervreem nie.
“Deon kom terug na Babilon, of hy kry niks verder nie. Daar is een ding wat jy en Deon goed moet verstaan voordat julle terugkeer: ek is die baas van Babilon. Deon mag sy deel nie verkoop sonder dat ek daarvoor teken nie, en omgekeerd. Ék sal nooit teken nie. Dit verseker ek jou. Ek sien hom liewer krepeer van ellende voordat dit waarvoor ek en my pa hard gewerk het deur ’n nikswerd uitgemors word. As Deon dus wil voortgaan met sy glanslewe, moet hy binne ’n week terug wees op Babilon, of hy verloor alles. Van sy ma sal hy beslis nie weer geld ontvang nie. Ek beheer alles en ek sal sorg dat sy vir haar persoonlike behoeftes genoeg het, maar beslis nie soveel dat Deon ook ’n luilekkerbestaan daarop kan voer nie. Sê ook dít vir hom.”
“Hoekom moet ek dit vir hom sê? Jy kan mos self …”
“Nee,” sê hy en staan skielik op. “Ná verdere oorweging het ek besluit om hom liewer nie vandag te sien nie. Dit sal beter wees vir ons albei. Ek kan my dalk te buite gaan. Gee jy hom maar die boodskap. Dankie vir die koffie. Ons sien mekaar weer Vrydag op Babilon.”
Sy staan ook op. Klein en fyn is sy voor hom, en sy moet na hom opkyk.
“Ek twyfel.” Sy is baie bleek maar lyk beslis. “Ek dink nie jy moet ons verwag nie.”
Sy wenkbroue trek verbaas op en ’n spottende krul verskyn in sy een mondhoek.
“Ek dink tog ek moet. Ek ken Deon de Ridder langer as jy.”
“Maar jy ken mý glad nie, en ek sterf liewer of, soos jy gesê het, krepeer liewer van ellende voordat ek ’n voet op die wonderlike Babilon sit. Tot hiertoe het ek sonder julle klaargekom. Deon kan ook.”
“Jy praat teen jou beterwete, en jy weet dit. Niks op aarde tel by Deon meer as sy eie gemak en selfsug nie. As jy dit nog nie agtergekom het nie, sal jy dit vanaand besef wanneer jy hom alles vertel. Moet dan nie te geskok wees nie. Ek het jou vooraf gewaarsku.” Hy haal ’n beursie uit sy binnesak en voor haar verstarde oë sien sy hoe hy ’n rol note voor haar op die tafeltjie tussen hulle neersit. “Dis om alles reg te maak voordat julle kom.”
’n Oomblik kan sy hom net verbysterd aanstaar. Nog nooit in haar lewe was sy so beledig nie. Sy bewe so groot soos sy is, toe sy eindelik weer kan praat.
“Hoe durf jy! Ek het jou nie om geld gevra nie! Vat jou geld en loop hier uit!”
Maar hy wend geen poging aan om die pak note te neem nie. Dis eerder asof hy haar ’n oomblik diepdenkend aankyk, asof hy wonder wat eg en wat toneelspel is.
“As jy dit nie wil neem nie, Deon sal beslis. Ek laat dit maar hier. Ons sien mekaar …”
“Ons sien mekaar nooit weer nie!” val sy hom skor in die rede. “Nooit weer nie! Ons sal beslis nie Vrydag op Babilon aankom nie.”
Hy stap aan deur toe. Daar draai hy om, kyk haar vas aan, sy mond weer haatlik smalend: “Julle sal. Tot siens tot dan.”
“Nie ék nie!” Sy gee ’n tree nader, en nou blink die trane en woede en vernedering en ’n diep seer helder in die blou oë. “Ek sal beslis nie kom nie.”
“Dit sal baie dwaas wees. ’n Mens moet darem ’n bietjie baklei vir wat jy wil hê. Of het jy werklik verwag dat, deur net met Deon te trou, die De Ridder-rykdom en wat daarmee saamgaan alles sommer soos ’n oorryp appelkoos in jou skoot sou val? Wat jy beoog het, word nou werklikheid. Dink daaraan, maar jy sal darem ’n klein bietjie moet opoffer van jou kant af.”
“Ek het niks beoog nie!”
“Nie? Wel, kom bewys dit dan … op Babilon.” Hy maak die deur oop. “Tot siens, Salome … tot Vrydag.”
Lank, baie lank staar Salome na die deur voordat sy skielik op die bank neersak en, asof sy geen wilskrag oorgehou het nie, toegee aan die brandende trane. Maar nie lank nie, want Salome is iemand wat deur die harde skool van die lewe geleer het dat selfbejammering jou nêrens bring nie … dat trane miskien verligting bring, maar nog nooit enige probleme opgelos het nie, nog minder ’n rekening betaal het of, soos so pas, ’n dreigende onheil afgeweer het nie. Want dit is wat Calvyn de Ridder en Babilon en alles wat hy gesê het vir haar is – ’n dreigende onheil.
Sy het in ’n arm huis grootgeword. Dit was nie ’n leuen wat sy vertel het nie. Maar sy was nog nooit skaam daaroor nie, het nog nooit selfbewus daaroor gevoel nie. Maar ná die sogenaamde baas van Babilon se besoek, is dit asof sy skuldig daaroor voel, asof dit ’n misdaad is om arm groot te word en dan die vermetelheid te hê om met ’n ryk man te trou. Deon is ’n ryk man, altans, hy kom uit ’n skatryk, vooraanstaande familie. Dis vir haar nuus en iets waaroor sy nooit gedroom het nie.
Weliswaar het sy agtergekom, veral in die maande dat hulle getroud is, dat Deon ’n verfynde en duur smaak het, soos wat sy halfbroer ook fyn sarkasties uitgewys het. Maar ’n mens kry mos maar mense wat so is sonder dat hulle juis werklik van kindsbeen af daaraan gewoond was. Eenkeer het hulle oor familie gesels en toe het Deon gesê dat die paar familielede wat hy het nie van belang is nie en dat hy van hulle vervreem is. Sy het toe maar aangeneem dat hy ’n weeskind nes sy is – en vandag moet sy hoor dat hy ’n ma het, ’n pa tot ’n week gelede gehad het, en ’n broer en ’n suster … en ’n erfenis wat op hom wag – binne ’n week!
Toe sy Deon se bekende voetstappe later by die voordeur hoor, stap Salome vinnig nader, en teen wil en dank is die gevoel van ligte veragting onmiskenbaar in haar; ’n gevoel van ontnugtering, maar meer nog … van vrees – vrees vir die nabye toekoms waarin Babilon en sy onbekende mense so eensklaps hul verskyning gemaak het.
2
Deon kom onmiddellik agter dat iets skort toe hy nader stap en in sy vrou se koel, veroordelende oë afkyk. Hy frons liggies. Die bande van die huwelik het reeds ná ’n paar maande skaafplekkies begin toon. Hy hoop tog nie Salome gaan in een van daardie kyfagtige, neulerige vroumense ontaard nie. Toe sy haar mond wegdraai toe hy haar wil groet, frons hy liggies, maar vra ongeërg, asof haar antwoord hom nie werklik kan skeel nie: “Is jy kwaad omdat ek ’n bietjie laat is, my skat?”
Sy antwoord hom nie eens daarop nie, maar sê stil: “Jou broer was vanmiddag hier.”
Deon de Ridder se kop ruk omhoog en sy oë vernou.
“My