Ena Murray Keur 4. Ena Murray
gaan kom nie. As hulle net nie saam met die res van die gesin in een huis moes woon nie … Maar ook dít sal sy moet verduur, want Deon het onomwonde verklaar dat dit ondenkbaar is om in enige ander huis as die herehuis van Babilon te woon. Dis ’n groot gebou, daar is genoeg plek vir almal, en wat meer sê, die enigste ander huis op die plaas is die voorman s’n wat reeds deur ene Hendrik Jansen bewoon word. Salome het maar stilgebly, maar in haar enigheid gewonder of ’n huis ooit groot genoeg kan wees om haar en Deon se halfbroer te huisves én die vrede te bewaar.
Diep in haar hart erken sy dat dit grotendeels die gedagte aan Calvyn is wat haar so uiters teësinnig maak om Babilon toe te kom. Sy hou nie van die man nie en hy stem haar vreemd onrustig. Van die eerste oomblik dat sy hom gesien het, was sy op die verdediging uit. Daar is ’n vreemde stryd tussen hulle aan die gang, waarom weet sy self nie.
Maar soos Deon telkens uitgewys het, het hy niks oor hulle te sê nie. Hy mag homself as die baas van Babilon beskou, maar in werklikheid het hy geen mag of gesag oor hulle nie. Solank Deon sy deel van die plaas behou en nie wil verkoop nie, is Deon net soveel baas op Babilon as sy halfbroer.
En tog weet Salome intuïtief dat Calvyn de Ridder wel die werklike baas van Babilon is, sonder dat ’n geskrewe kontrak dit stipuleer. Hy is net daardie soort man: ’n gebore leier, ’n man met ’n oorheersende en dominerende persoonlikheid, en ’n man wat sy jonger broer heeltemal oorskadu. Baie beslis is daar geen swakheid in Calvyn de Ridder te bespeur nie. Wel deeglik sal hy in staat wees om sy baasskap op Babilon te handhaaf. Binne enkele oomblikke sal sy deel van Babilon wees en dus vanselfsprekend onder sy selftoegeëiende baasskap val.
Hy het haar tog vooraf gewaarsku: “Een ding moet julle goed verstaan: ek is die baas van Babilon!” Dat hy beslis nie net na die plaas verwys het nie, was baie duidelik tussen die reëls te lees.
Salome sug saggies en staar somber voor haar uit terwyl die motor die laaste rantjie nader. Die toekoms lyk maar donker. Sy is van kleins af ’n onafhanklike wese, gewoond daaraan om te baklei vir wat sy wil hê en bereik, vir haar oortuigings. Maar van vandag af gee sy haar onafhanklikheid, waarop sy nog altyd heimlik trots was, prys en steek haar voete onder die De Ridders van Babilon se tafel in. En dit gaan nie maklik wees nie, juis ook omdat sy ooglopend nie in die De Ridders se “klas” is nie – soos Deon dit so ontaktvol gestel het. En die De Ridders van Babilon is tog so gesteld op hul “klas”!
Die sierlike ou Kaaps-Hollandse herehuis verrys voor hulle toe hulle oor die rantjie ry, en ’n oomblik vergeet Salome al haar kommer. Dis ’n skilderagtige tafereel wat voor haar oopvou, en atmosfeer is soos fyn tapisserie daaroor gehang. Die De Ridders kan beslis trots wees op Babilon. Nou eers kan Salome deels verstaan hoekom Calvyn de Ridder so behep met die plaas is.
Wat sy voor haar sien, besef sy, is nie iets wat in ’n jaar of twee of selfs tien tot stand gekom het nie. ’n Leeftyd se troue arbeid en sorg en toewyding lê hier voor haar. Vir hulle wat dit tot stand gebring het, soos Calvyn, is dit beslis nie net ’n huis en tuin en bome nie, maar iets lewends, iets met ’n siel, iets wat ’n stuk van jouself word.
Vol verwondering en respek laat sy haar blik oor alles gly. Tot nou het sy sulke plekke nog net as buitestander bewonder met die besef dat sulke aardse weelde nie vir haar en haar sogenaamde stand beskore is nie. Maar skielik, vandag, word sy ook deel daarvan en … daar is geen vreugde in haar hart daaroor nie. Sy pas nie hier in nie. Dit kan nie bedoel wees dat sy deel van Babilon moet word nie. Sy sal ’n vreemdeling hier bly. Babilon en sy mense sal haar nooit aanvaar nie.
“Wat dink jy van Babilon?” hoor sy Deon langs haar vra, en sy antwoord met eerlike bewondering:
“Dis pragtig. Ek het nie woorde nie.”
Deon lag grimmig.
“Ja, dis mooi … en Calvyn se afgod. Sy hele lewe draai om Babilon.” Hulle kom voor die huis tot stilstand. “Wel, hier is ons.”
Salome bly roerloos sit. Alles binne-in haar skree dat hulle moet omdraai. Iets waarsku haar dringend dat hierdie plek, so mooi as wat dit is, vir haar net hartseer en verdere ontnugtering inhou. Instinktief weet sy dat daar tussen die spierwit mure van hierdie ou herehuis baie trane op haar wag. Sy draai vinnig met vrees in haar oë na Deon om vir oulaas te soebat, maar Deon het al uitgeklim, is besig om sy halfbroer te groet. Hy stap doelgerig aan voordeur toe, waar twee vroue hul verskyning gemaak het. Nog steeds bly sy sit, nie in staat om die motordeur oop te maak en uit te klim nie. Want dan maak sy ook die deur tot ’n vreemde – en vir haar donker – toekoms oop.
Dan swaai die deur voor haar oop en sy hoor Calvyn de Ridder sê:
“Welkom op Babilon, Salome. Kom, klim af.”
Sy is skaars bewus daarvan dat ’n sterk hand haar ondersteun toe sy eindelik gehoorsaam; dat ’n paar grys oë skerp en ondersoekend op haar bleek gesiggie rus.
“Kom ons stap nader.” Hierdie keer word sy bewus van die hand onder haar elmboog. Salome aanvaar die gebaar dankbaar, al is dit ook die ondersteuning van die man teenoor wie sy van die eerste oomblik af ’n teësin koester. Want hier voor haar, soos twee engele van veroordeling, staan Deon se ma en suster haar en inwag. Was dit nie vir die trek van die hand onder haar elmboog nie, sou sy geen enkele tree kon versit nie.
Dis nie Deon nie, maar sy halfbroer wat die bekendstelling doen, en dit word deur die ouer vrou met ’n stywe knikkie van die kop erken. Salome het nie verwag dat haar skoonma haar om die hals sal val nie, maar sy het darem gedink die vrou sal seker ’n skyn van verwelkoming voorhou. Maar Deon se ma wend nie die geringste poging aan om haar ware gevoelens te verberg nie. Sy is ’n mooi vrou in haar vroeë veertigerjare, maar met ’n stywe, strak gesig sonder ’n sweem van ’n glimlag. Toe Salome in die kil blou oë kyk, weet sy dat sy hier ’n vyand het wat nie ’n snars omgee dat almal dit sien nie.
Dan draai haar oë na die meisie langs haar. Hoewel ook dié nie ’n soen van verwelkoming het of selfs net ’n hand van vriendskap na haar uitreik nie, is daar iets in die donker oë van Ria de Ridder wat haar laat vermoed dat die vyandigheid hier nie so sterk is nie. Haar skoonsuster is eerder waaksaam as vyandig, asof sy eers die nuwe bruid van Babilon goed wil deurkyk voordat sy besluit of hulle vriende of vyande sal wees.
Dis weer Calvyn se hand wat vas om haar elmboog vou en wie se stem die ongemaklike, gespanne stilte ná die bekendstelling verbreek: “Laat ons binnegaan. Julle is seker dors.”
Salome voel soos ’n skaap wat weerloos na die slagpale gelei word toe hulle die voordeur nader.
Ook die binnekant van die huis getuig van geld, weelde en atmosfeer, en beklemtoon weer eens dat die herehuis deur geslagte oor baie jare opgebou is. Nêrens is daar ’n teken van moderne meubels te sien nie. Dis egte, swaar antieke meubels wat die binnekant verfraai, en hoewel sy nie juis kennis hiervan het nie, weet sy darem dat dit ’n fortuin is waarop haar oë rus.
Salome is dankbaar om te kan sit, want dit voel vir haar asof almal kan hoor hoe haar hart bons. Sy sit stil eenkant terwyl sy, soos die res, luister na die gesprek tussen Deon en sy ma. Die vrou straal, en dis vir Salome duidelik dat hierdie seun Joey de Ridder se son en maan en sterre is. Sy hang behoorlik aan sy lippe en lag soms heeltemal uitbundig vir sy sêgoed – dieselfde sêgoed wat sy, Salome, aan die begin so amusant gevind het, maar vandag irriteer dit haar skielik. Was Deon maar altyd so kinderagtig? wonder Salome stil. Of het sy die afgelope maande verander? Sy kyk tersluiks na die ander twee. Ria sit ook stil eenkant en luister beleef, maar lyk nie juis geïnteresseerd nie. Calvyn lyk ooglopend verveeld, asof Deon se praatjies hom ook irriteer.
Hy betrap haar oë op hom en ’n frons keep tussen sy wenkbroue. Dan buk hy oor na haar.
“Ek hoop julle het alles afgehandel gekry voordat julle weg is?” sê-vra hy op sy beleefde toon.
“Ja, dankie.”
“Het jy nie moeilikheid by jou werk gekry nie?”
“Nee, ek het gelukkig heelwat verlof gehad.” Dit raak weer stil tussen hulle en Salome soek naarstig na iets om te sê. Gewoonlik kan sy darem ’n redelik intelligente en onderhoudende gesprek voer, maar dis of haar verstand vandag verwater het. “Julle het pragtige