Ena Murray Keur 4. Ena Murray
is jammer. Ek … het nie geweet waar om jou … te kry nie … Ek was so bang sy gaan dood … Apools sê dis jou beste koei.”
“Jy het geweet waar om my te kry. Ek het jou gesê ons gaan bioskoop toe.”
Die moeë oë rek effens verward, verbaas.
“Dis waar, ja. Ek … het heeltemal vergeet daarvan toe ek in die stal kom. Ek is jammer, Calvyn, maar … maar sy lewe darem … en die kalfie ook …” ’n Swak, bewerige glimlaggie huiwer om haar mond. “Dis ’n versie. Het jy gesien?”
’n Sterk arm sirkel om haar en lig haar op haar voete.
“Ek het gesien, ja. En sy is joune.”
“Myne?” Groot oë kyk na hom. “Hoekom?”
Die eerste keer sien Salome hom glimlag teenoor haar, en sy word ook nou bewus daarvan dat die sterk arm haar nog steeds regop hou.
“Omdat die baas van Babilon so sê.” Maar hierdie keer is daar geen bytende sarkasme of baasspelerigheid in die woorde nie, en sy slaan haar ooglede verward neer. ’n Skielike duiseligheid oorweldig haar noudat die spanning verdwyn het en die besef tot haar deurdring dat Calvyn nie vir haar kwaad is nie.
Sy voel hoe sy opgehelp word, en hier digby haar gesig sê hy: “Toe, Apools, maak skoon. Om te dink dat ’n vrou vir jou moet leer.”
“Daardie ene …!” Apools beduie wild. “Daardie handjies weet net waar om te vat. Die nuwe vrou van die plaas is goed by die koei …”
Toe Calvyn met ’n besmeerde Salome in die agterdeur verskyn, rek Ria se oë groot, en nog groter toe sy die ongewoon breë glimlag op haar broer se gesig gewaar.
“Daisy het vanmiddag onverwags begin kalf toe ons en Jansen almal van die plaas af weg was. Dit was ’n bruggeboorte en, glo dit as jy kan, Salome het haar gehelp en haar skitterend van haar taak gekwyt. Ma en dogter albei wel, maar die dokter is tot die dood toe moeg, want sy sukkel glo al van drie-uur vanmiddag af met haar.” Hy kyk op die fynbesnede gesiggie hier by sy skouer af. “Sy is besmeer van kop tot tone. Help haar gou om te bad en kyk dat sy iets te ete kry.”
Asof sy ’n baba is, help Ria haar in die bad en in haar slaapklere en in die bed, en Salome laat haar dit maar welgeval. Sonder Ria se hulp sou sy nooit gebad gekom het nie, want sy is net te moeg.
Sy is byna aan die slaap toe Ria, gevolg deur Calvyn, met ’n skinkbord kos verskyn. Hoewel sy nie honger is nie, eet sy soos ’n soet kind om nie aanstoot te gee nie, terwyl sy met ’n halwe oor luister na wat Ria en Calvyn gesels.
“Ons sal moet roer as ons nie laat daar wil kom nie. Die visbraaiery is al seker aan die gang.”
“Ek gaan nie meer nie. Ek sal vir Jansen vra om jou oor te neem.”
“Vir … Jansen?” As Salome nie so moeg en aan die slaap was nie, sou die verbystering op Ria se gesig vir haar baie vreemd voorgekom het. Maar as sy dit nie merk nie, merk haar broer dit beslis wel, en sy gesig raak weer geslote.
“Ja. Ek is nie meer lus om te gaan nie. Gaan maak jou solank reg.”
Ria verdwyn vinnig uit die kamer en dis Calvyn wat die skinkbord by Salome neem. Sy voel selfbewus en weier om na hom op te kyk.
“Vergewe my dat ek so nuuskierig is, maar waar het jy geleer om ’n bruggeboorte te hanteer?” Salome aarsel eers, maar kyk dan onwillig op, want sy weet haar antwoord gaan hulle weer eens terugplaas in twee aparte kampe. En net nog ’n klein rukkie sou sy die Calvyn van die koeistal wou behou.
“My pa was ’n voorman op ’n plaas. Ek het met diere grootgeword. Ek het hom baie gehelp.” ’n Wrang glimlaggie trek aan haar mondhoeke toe sy die geslote gesig voor haar sien en onwillekeurig glip dit uit: “Om ’n voorman se dogter te wees, kan ook sy voordele hê. Ek sou dit nooit kon dink nie.”
’n Lang oomblik kyk hy haar net stip aan. Dan staan hy op en tel sonder ’n woord die skinkbord op. By die deur draai hy terug. “Ek sê in elk geval baie dankie. Ek het dit ook bedoel toe ek gesê het die versie is joune.” Sy oë vernou. “Jy verbaas my, Salome de Ridder. Jy lyk asof jy nog nie eens die feite van die lewe ken nie, en vandag behartig jy ’n bruggeboorte soos ’n ou veteraan. Is daar nog verrassings wat jy vir Babilon se mense in die vooruitsig stel?”
Sy kyk stil terug. Dan skud sy haar kop moeg. Enigiets, maar sy sien nie kans om nou met Calvyn kragte te meet nie.
“Nee. Niks meer nie. Ek is maar net Salome, en ’n De Ridder sal ek nooit word nie.”
“Ek wonder … Ek begin tog wonder … Goeienag. Slaap gerus. As jy iets nodig kry … ek is in die studeerkamer.”
“Nag, Calvyn, en … dankie vir die versie.”
Sy wenkbroue trek omhoog. Sy weet nie of hy sarkasties is nie toe hy, voordat hy die deur agter hom toetrek, sê: “Dankie dat jy darem hierdie keer sonder protes iets van die gehate baas van Babilon aanvaar.”
4
Watter tyd Deon daardie nag ingekom het, weet Salome nie, want sy het soos ’n klip geslaap, so tevrede en vreemd gelukkig soos nog nooit sedert haar aankoms op Babilon nie.
Toe sy die volgende oggend wakker word en haar blik op haar man val wat nog in diepe slaap is, hinder dit haar die eerste keer glad nie dat hy die aand laat uit was sonder haar, en – soos sy al tevore ook agtergekom het – dat daar ’n ligte drankwalm in die kamer hang nie. Vanoggend is dit asof dit haar net nie meer kan skeel wat Deon doen, waar hy gaan en hoe hy teenoor haar optree nie. Dis of dit net nie meer so belangrik is nie, en sy lê ’n rukkie en wonder van waar dié skielike traak-my-nie-agtigheid kom waarmee sy vanoggend wakker geword het. Daar het tog niks gebeur wat dit kon veroorsaak nie … of het daar?
Dan roer sy haar skouers ongeërg en staan geluidloos op. Hoekom sal sy te diep wil delf na die oorsaak as sy die eerste keer in maande met vrede in haar gemoed wakker word en selfs gelukkig voel? En dan … sy kan nie wag om by die koeistalle te kom nie. Hoe sou dit vanmôre met Daisy en haar kalfie gaan?
Dis nog sommer vroegoggend toe sy by die een staldeur inglip, en Daisy lig haar kop vinnig van die krip af op toe sy die vreemdeling gewaar. Dan is dit asof daar herkenning in die diepbruin oë kom, en Salome stap glimlaggend nader.
“Môre, mevrou Daisy. Jy is darem seker bly dis nie gisteroggend dié tyd nie, nè?” lag sy en streel die blinkgladde vel. Haar oë blink sag en vol vreugde op die kalfie wat haar met onskuldige oë staan en aankyk. Salome kan haarself nie keer nie: sy slaan haar arms om die kalfie se nek en druk haar gesig styf teen die voorkoppie aan, terwyl sy die warm asem van die diertjie teen haar hals voel.
Die oë wat haar vanuit die staldeur betrag, trek peinsend saam. Dan stap die man nader.
“Goeiemôre, mevrou. Ek is Jansen … Hendrik Jansen, die voorman. Ek wil jou gelukwens met wat jy gister gedoen het. Selfs meneer De Ridder kon sy ingenomenheid nie wegsteek toe hy my vanoggend daarvan vertel het nie. Ek is jammer dat jy so alleen moes sukkel, maar toe ek op die dorp kom, het meneer De Ridder my verlof gegee om die middag af te neem. As ek geweet het …”
Salome kom orent en lag terwyl sy haar hand spontaan uitsteek. Dit word ná ’n oomblik van aarseling geneem.
“Nou is ek bly julle was almal weg, want anders sou ek nie vanoggend ’n versie ryker gewees het nie! Het Calvyn jou vertel? Hy het my die kalfie gegee, en is sy nie pragtig nie, ounooi!” Sy kyk weer terug na hom. “Ek is bly om jou te ontmoet, meneer Jansen. Ek is sommer net Salome. Los maar gerus die formaliteit! Daisy lyk heeltemal goed vanmôre, nè?”
Hy glimlag ook spontaan.
“Uitstekend! En die kalfie is ’n klein kampioen. Is jy baie lief vir diere?”
“O ja. Ek het op ’n plaas grootgeword. Maar hierdie kalfie is die eerste diertjie wat ek besit, wat werklik myne is.” Dis stralende oë wat na hom kyk. “Die eerste dingetjie ook wat werklik myne is op Babilon.”
Sy