Ena Murray Keur 4. Ena Murray
Daar is nog iets wat jy liewer van die begin af moet besef. Die De Ridders ken nie so iets soos egskeiding nie. Dus, jy is eenmaal met Deon getroud. Dit sal jy bly. Hoe gouer jy dus leer om jou by ons en ons standaarde aan te pas, hoe beter vir ons almal.”
Dis ’n bleek en peinsende Salome wat heelwat later terugkeer huis toe. Een ding weet sy – Hendrik Jansen het gelyk: Dis ’n geslote kring waaruit ons moet bly as ons ons siele wil behou. Dis wat hy gesê het. Net … met blinde oë het sy daardie kring binnegedring en Calvyn de Ridder sal haar dwing om haar aan te pas, al is alles binne-in haar in opstand teen die eise wat hy stel. Hendrik Jansen is reg. Sy gaan haar siel verloor hier op Babilon. En daar is geen uitkomkans nie. Sy is reeds gewaarsku. Die De Ridders ken nie so iets soos egskeiding nie.
Sy wil net by die onderpunt van die vrugteboord uitstap toe sy stemme hoor. Dis nie dat sy doelbewus wil afluister nie, maar daar is ’n teësin in haar om op hierdie oomblik mense raak te loop. Deur die groen lower herken sy die stem.
“Dit was gisteraand, Ria. Hoe gouer jy gisteraand uit jou gedagtes kry asof dit nooit gebeur het nie, hoe beter.”
“Maar hoe kan jy so wees, Hendrik?” Ria se stem klink byna paniekerig, smekend. “Het dit dan vir jou niks beteken nie …”
“Jy weet so goed soos ek wat dit vir my beteken het.” Die voorman se stem is hees, gedemp. “Dit was soos ’n krummel brood vir ’n honger man, soos ’n beker water vir ’n dorstige. En dis verkeerd. ’n Mens voed nie ’n verhongerde man met krummels nie. Jy gee ook nie ’n enkel beker water aan ’n man wat vergaan van dors nie. Dan liewer niks nie. Dan liewer sterf van honger en dors as om hom op daardie manier aan die lewe te hou. Dis wreed. Dis sadisties.”
“Hendrik!”
“Ek is jammer.” Sy stem is skielik weer sag. “Ek gooi dit nie teen jou kop nie. Maar ek sien nie kans vir sulke dinge nie, Ria. Ek haat marteling van enige aard. Ek is op stuk van sake ook ’n mens, al is ek ’n ronde nul in die oë van Babilon se mense. Moet my asseblief nie weer alleen opsoek nie. Moenie my dwing om onbeskof teenoor jou te wees en jou onnodig seer te maak nie. Dis die laaste ding op aarde wat ek wil doen, maar as dit nie anders kan nie …” ’n Snik laat sy sin kort afbreek, en dan hoor Salome sy swaar voetstappe haastig wegstap.
Dis ’n hele ruk stil voordat Salome dit waag om te voorskyn te kom. Die twee meisies se oë ontmoet en dan draai Ria haar kop vinnig weg.
“Geen wonder jy hardloop van ons af weg nie. Ons is ’n sieklike spul hier op Babilon. Ek weet nie hoe jy, wat van buite af hier inkom, dit kan uithou nie. Ek behoort al daaraan gewoond te wees, en tog is daar tye … dae soos vandag …”
Salome neem stil langs haar op die walletjie plaas en slaan haar arms om haar opgetrekte knieë. Dan vra sy aarselend: “Hoekom is hy … so … so bitter, so hard?”
“Van wie praat jy?”
Salome sug. “Van wie anders as die baas van Babilon?”
“Calvyn?” Dit lyk asof Ria ook eers aarsel en dan skielik tot ’n besluit kom. “Salome, as Calvyn moet weet dat ek jou hierdie dinge vertel, sal hy iets oorkom. Dis dinge wat verbode is op Babilon. Maar miskien sal dit beter wees as jy daarvan weet; dan sal jy hom beter kan begryp. Al kan jy hom dan nie altyd vergewe vir sy houding nie, sal jy dit makliker kan verduur. Calvyn is nie ’n maklike mens nie. Daar kom dae … soos vandag … dat ek hom ook haat, hom verwens in my siel. Maar ander tye het ek hom selfs lief, is daar oomblikke wat ek hom jammer kan kry …”
Salome kyk haar vas aan. “Ek sal dit waardeer as jy my vertel, Ria. Ek erken ek vind dit … e … moeilik om hom te verstaan, om die hele opset hier op Babilon te verstaan.”
Ria knik. “Ja, ek glo dit goed. Wel, Calvyn se ma is dood met sy geboorte. Pa was daarna nooit weer dieselfde nie, so is ek vertel. Hy het net heeltemal verbitterd geword, ’n wrok teen die lewe begin koester, en hoewel ek in my hart glo dat hy dit nie doelbewus gedoen het nie, het hy dit in groot mate op Calvyn uitgehaal. Calvyn het nooit iets soos sagtheid en teerheid en liefde as kind geken nie. ’n Paar jaar later is Pa met my ma getroud. Dit was vir Calvyn geen verbetering nie. Jy ken self vir Ma. Ek hoef jou niks verder daaroor te vertel nie. Eintlik het dinge vir Calvyn versleg met hierdie tweede huwelik van Pa, veral ná Deon se geboorte. Deon is Ma se oogappel. En toe het Calvyn gaan trou …”
“Calvyn? Was Calvyn getroud?” Salome staar haar skoonsuster verslae aan.
“Ja. Het jy nie geweet nie?”
Salome laat haar ooglede vinnig sak. “Nee. Niemand het my vertel nie. Ek hoor dit nou die eerste keer. Wat … wat het van sy vrou geword?”
“Dit verbaas my nie dat niemand jou vertel het nie. Dis iets waaroor daar nie gepraat word nie. Sy is dood … binne twee jaar ná hul huwelik.”
“Wat het dan gebeur?”
“Sy het verongeluk.” Ria aarsel eers en gaan voort: “Ek dink ek moet jou maar al die fyner besonderhede van dié nagmerrie vertel. Jy is nou een van die familie. Wat meer is, die hele omgewing weet dit. Die een of ander tyd sal jy dit wel hoor … met stertjies en al. Calvyn is benede sy stand getroud. Dinge wou maar van die begin af nie vlot nie. Sy was ’n pragtige meisie, maar … goedkoop.”
Sy sien die ongeloof in Salome se oë en skud haar kop. “Dis waar. Calvyn is nie die eerste man wat deur ’n mooi gesig en liggaam betower is en later moes vasstel dat hy eintlik met ’n mooi, leë dop getroud is nie. Ek het destyds baie jammer gevoel vir hom. Hy was maar drie en twintig, en juis omdat hy so in homself gekeer was en so min kontak met ander mense gehad het, was hy ’n maklike prooi vir Jessie.” Sy lag grimmig. “Toevallig dat haar naam werklik Jesebel was, nè? Dan ook, glo ek, was een van die redes die feit dat Calvyn – honger vir liefde sedert sy vroegste kinderjare – klatergoud vir die egte aangesien het toe daar skielik iemand kom wat aandag aan hom gee en ’n ophef van hom maak. Agterna, sommer kort ná sy huwelik, moes hy agterkom dat dit geen liefde was wat Jessie so op hom uitgestort het nie, maar ’n sug na status en mag en rykdom – dié dinge wat sy nog nooit in háár lewe gehad het nie. Maar sy het haar teen Pa en Ma vasgeloop. Sy het gedink dat my ouers van die plaas af sou padgee ná hul huwelik, maar sy het haar fout gou agtergekom. Toe het sy hulle begin tart.”
Ria sug. “Dit was ’n vreeslike tyd daardie. Hier was nog nooit baie liefde op Babilon nie, maar daardie tyd … En vir alles wat Jessie gedoen het, moes Calvyn die spit afbyt by Ma en Pa en ook by die res van die gemeenskap. Soos ek gesê het, hy was maar altyd ’n introvert, maar gedurende daardie tyd het hy heeltemal in homself gekeer en hard en koud soos klip geword. Hy het Pa se verskriklike trots geërf, en dit moet vir hom seker onhoudbaar gewees het om magteloos te sien hoe sy vrou te kere gaan en geen geleentheid laat verbygaan om die De Ridders skande en skade aan te doen nie. Verwyte van Pa en Ma se kant was daar meer as genoeg, en hy kon hom nie teen hulle verweer nie, want alles wat hulle gesê het, was waar.”
“Maar wat het sy gedoen?” vra Salome, terwyl skok soos ’n lamheid in haar lê.
“Vra liewer wat het sy nié gedoen het nie,” antwoord Ria bitter. “Sy het geflankeer en te kere gegaan met al wat broek dra, maak nie saak wie of wat hy was nie. Haar gedrag op partytjies was sodanig dat Calvyn later net geweier het om haar te vergesel, en menige nag het sy nie eens ná partytjies huis toe gekom nie. Dan was sy maar altyd baie onverfynd, en haar maniere, haar taal, álles was ongepoleerd, eintlik skurf. Dis iets waaraan nie een van ons gewoond kon raak nie, en wat elke keer soos ’n mes deur jou gesny het wanneer jy saam met haar in geselskap verkeer het.”
“Hoe het sy verongeluk?”
Ria se gesig raak geslote, haar oë ontwykend.
“Dit was een aand ná ’n partytjie. Sy het natuurlik weer alleen gegaan, soos gewoonlik. Sy was dronk, ook soos gewoonlik. Op pad terug het die ongeluk plaasgevind. Sy is op slag dood.” Daar heers ’n oomblik stilte. Dan klink Ria se stem weer gedemp op: “Hendrik … Hendrik Jansen was by haar in die motor. Hy het net ligte beserings opgedoen.”
Salome se kop ruk omhoog. Die manier waarop Ria dit sê, spreek