Ena Murray Keur 4. Ena Murray

Ena Murray Keur 4 - Ena Murray


Скачать книгу
voor hom afkyk, en toe sy ná ’n vrolike groet van hom af wegstap, gaan hy in die staldeur staan en kyk haar agterna. Diep binne-in hom woed ’n skielike opstand en hartseer. Hy ken hulle so goed – die De Ridders van Babilon. Hy weet so goed wat met hierdie stralende vroutjie van vanoggend gaan gebeur. Iemand so mooi en jonk, teer en opreg soos Salome de Ridder sal gebreek word tot ’n verbitterde en ontnugterde vrou, en hy wéét dit gaan kom. Opstand ofte nie, daaraan sal hy niks kan doen nie. Watter mag het ’n blote plaasvoorman teen ’n De Ridder? En wat ’n jammerte dat iets moois en goeds soos hierdie fyn vroutjie vermors moet word op mense soos die De Ridders. Hulle sal bo-oor haar loop, op haar trap totdat daar niks meer oor sal wees van die mooi siel wat hy netnou in haar blou oë gesien het nie. Pêrels voor die swyne …

      Hendrik Jansen, ’n man in sy vroeë dertigerjare, korterig, stewig gebou, met muisvaal hare en die wysheid en lewenskennis van ’n seun wat swaar grootgeword het, stap weg om met sy dagtaak voort te gaan, terwyl Salome terugstap na die plek waar sy hoort, of veronderstel is om te hoort: die groot ou herehuis van Babilon. Die plaasvoorman se vriendelike grys oë is peinsend saamgetrek en sien nie die man raak wat hom fronsend vanuit ’n ander staldeur staan en beskou nie.

      Die vreemde vrede en geluk waarmee Salome vanoggend opgestaan het, is van korte duur. Dit verdwyn soos mis voor die son die oomblik toe haar man sy verskyning maak. Deon kan net nie uitgesels raak oor Wanda Wolfaardt nie. Salome luister fronsend, en dit bring ’n geringe mate van vertroosting toe sy sien dat ook Ria haar broer verward aankyk en dat daar ’n ergerlike frons tussen Calvyn se oë verskyn. Dis net sy ma wat stralend en vol belangstelling luister na haar seun se vertelling van die vorige aand se visbraaiery, en hom aanpor om nog meer te vertel. Die res gaan swyend voort met hul ontbyt, totdat Calvyn dit blykbaar nie meer kan uithou nie.

      “Ek kan nie verstaan hoekom jy vanoggend skielik so gaande oor Wanda is nie. Julle het saam grootgeword en jy ken haar so goed soos jou eie suster. Jy het al honderde kere met haar gedans en voorheen nog nie een keer daaroor in ekstase geraak nie.” Sy stem is ysig. “As ek reg onthou, het jy nie te veel van haar gehou net voordat jy van Babilon af verdwyn het nie.”

      ’n Rooi gloed gly oor Deon se wange en hy gluur sy halfbroer openlik aan. Wanneer sal Calvyn leer om te onthou dat hy nie meer ’n seuntjie is om so aangespreek te word nie? Sy oë blits uitdagend.

      “Wanda het baie verander in die paar maande dat ek weg was. Sy het meer … e … volwasse geraak. En julle, jy en Ma, het haar destyds so in my keel afgedruk dat ek haar nie voor my oë kon verdra nie. En sy het beslis die afgelope tyd goed leer dans. Sy dans eenvoudig wonderlik.”

      “Sy het glo danslesse oorsee geneem toe sy nou oor was,” voeg Ria by, maar dis of Calvyn haar nie eens hoor nie. Sy stem is snydend:

      “En terwyl jy Wanda Wolfaardt opnuut ontdek, het dit nie by jou opgekom dat jy ’n vrou het en dat sy saam met jou daar moes wees nie?”

      “Calvyn! Ek …”

      “Stil, Ma! Ek kan my verdedig. Ek is nie meer ’n seuntjie nie,” laat Deon bars hoor. Sy oë blits terug na die bopunt van die tafel. “Ek het haar gevra of sy wou saamgaan en sy wou nie. Ek en Wanda is ou vriende, soos jy self gesê het. Salome weet dit. Gelukkig is sy nog nie so agterdogtig en altyd gereed om net die verkeerde van my te glo soos jy nie. Bloot omdat ek gesê het Wanda het ’n oulike meisie geword en dat sy wonderlik dans, beteken nie dat daar nou ’n verhouding tussen ons aan die gang is nie.” Die skeptiese lig in Calvyn se oë laat hom verwoed voorttier: “Jy glo my al weer nie? Vra haar. Toe, vra haar of ek haar nie gesoebat het om saam te gaan nie.”

      Salome sit lamgeslaan te midde van ’n volbloedrusie aan die ontbyttafel. Maar wat haar die meeste lamslaan, is Deon se houding, sy blatante leuens en sy vermetelheid om te verwag dat sy dit moet bevestig. Hy weet so goed soos sy dat sy uitdaging aan Calvyn ’n bluf is, maar soos altyd is hy so seker van haar dat hy nie ’n oomblik twyfel dat sy hom ook nou sal ondersteun nie. Diep binne-in haar het die vrede en geluk van die oggend plek gemaak vir ’n dowwe pyn. Is dit die man met wie ek getrou het? wonder sy verslae. Hierdie onvolwasse seuntjie wat hom sonder aarseling met leuens sal verontskuldig?

      Sy voel Calvyn se blik op haar en dit is net trots wat haar haar ken laat oplig en sy oë laat ontmoet. Nie een van hierdie ander drie De Ridders moet weet dat dit nie so is soos wat Deon wil voorgee nie. Êrens vandaan haal sy die krag en moed om Calvyn in die oë te kyk, daardie oë wat so diep kan kyk, en sy hoor haar eie stem kalm, so vreemd kalm sê: “Ek weet nie waaroor die bohaai gaan nie. Ek is nie ’n sosiale mens nie. En gelukkig is ek nie jaloers van geaardheid nie.”

      Sy vra verskoning, staan op en verdwyn by die deur uit. Sy moet net wegkom van al daardie oë – van Deon s’n wat met heimlike vermaak glinster, van haar skoonma s’n wat hard en vyandig blink, van Ria s’n waarin sy die jammerte so duidelik kon herken, en veral van Calvyn s’n, wat so peinsend en onleesbaar op haar gerig is en haar die meeste van almal ontstel.

      Salome stap sommer blindelings by die huis uit, net om weg te kom, onbewus van die trane op haar wange wat die oggendson weerkaats. Sy huil nie omdat sy nog eens ’n nuwe faset in haar man se karakter ontdek het nie, ’n faset wat haar met haar ingebore eerlikheid afstoot en haar hart nog meer van teleurstelling en ontnugtering laat pyn. Van nou af is daar niks meer in Deon wat sy kan ontdek wat haar verder sal skok nie, omdat sy eindelik daardie punt bereik het waar sy nugter na haar man kyk en hom sien soos hy is.

      Wat haar wel laat huil, is die ontnugtering in haarself, die feit dat haar eie oordeel haar so in die steek kon laat dat sy verblind geraak het deur die valse front wat Deon voorgehou het. Binne-in haar is ’n kommer wat aan wanhoop begin grens wanneer sy na die toekoms kyk – en dit net donker voor haar is.

      Sy kyk al ’n hele rukkie in die peinsende, simpatieke oë van Hendrik Jansen voordat dit tot haar deurdring. Soos ’n kind vee sy met die rugkant van haar hand die nattigheid vinnig van haar wange af, en terwyl haar oë nikssiende na die koelte van die vrugteboord om hulle kyk, hoor sy die voorman sug.

      “Dit was ’n fout, Salome.”

      Sy kyk terug na hom, vraend, en haar hart keer om toe sy die jammerte en begrip in sy oë lees.

      “Ria het my gisteraand vertel wie jy is, of was – ’n voorman se dogter, ’n mens van my stand, soos die De Ridders van Babilon ons klassifiseer – en daarom het ek die vrymoedigheid om so reguit met jou te praat, as jy my sal vergewe. Moet ek voortgaan of moet ek liewer stilbly?”

      “Nee, Hendrik, gaan voort. Soos jy gesê het, ons praat dieselfde taal, ’n ander taal as die De Ridders. Praat en sê my wat ek kan doen.”

      “Ek wens ek kon jou raad gee, maar …” Weer sug hy diep, en hierdie keer is dit sý oë wat na die koelte van die bome wegdwaal. “Maar ek het nie eens raad vir myself nie. Ek weet net dat dit ’n fout is, ’n groot fout dat mense soos ek en jy ooit kan hoop om in die kring van Babilon in te dring en te dink dat ons daarin opgeneem sal word en daarin gelukkig sal wees. Dis ’n geslote kring waaruit ons moet bly as ons ons siele wil behou.”

      Die innige jammerte in sy oë toe hy weer na haar kyk, laat haar hart pyn. “Ek is jammer. Dit kan jou geen troos bied nie. Maar as jy ooit ’n skouer nodig het om op te huil, iemand teenoor wie jy kan uitpraat en wat vir seker sal verstaan, onthou dan vir my, die voorman. Ek sal verstaan, Salome.”

      Hy buk vinnig af, laat sy lippe saggies in ’n troosgebaar aan haar voorkop raak en stap weg. Sy kyk hom agterna totdat hy in die groen lower van die vrugteboord wegraak.

      Haar hart ruk tot stilstand toe sy omdraai. Hier kort agter haar, sy gesig soos graniet, sy oë glasig van hardheid, staan Calvyn. Sy sissende stem laat ’n koue straal van vrees deur haar gaan.

      “Daar is een ding wat jy baie goed moet verstaan, Salome. Jy is nou ’n De Ridder. Of jy dit wil wees of nie, jy is. En jy sal jou soos ’n De Ridder gedra, en dit beteken onder meer dat die voorman nie jou maat en geselskap is nie. Verstaan ons twee mekaar goed? As ek julle weer op so ’n intieme voet betrap, sal jy en Hendrik Jansen jammer wees.”

      Sy staan hom net en aankyk, maar wat hy in haar oë lees, laat sy blik nog verder verhard en bring


Скачать книгу